PERSONIFIKASIE

Personifikasie (Gr.: prosopopoeia) is ‘n vorm van BEELDSPRAAK waarin lewende eienskappe aan ‘n lewelose voorwerp of abstraksie toegedig word of wanneer diere of plante vermenslik word, bv.: “Nu huilt de winter in mijn hart” en “Die uurwerk kantel”. In Baudelaire se gedig “La geante” word die hele natuur as ‘n reusin gesien. Die volgende uit Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! is personifikasie: “Die oog van die kamera konsentreer met ‘n teleskopiese lens deur sy gapende bek op die dartelende kleintongetjie van Gert Garries.” Uitdrukkings soos “die deur wil nie oopgaan nie” dui ook op ‘n personifikasie, omdat slegs lewende wesens oor ‘n wil beskik. Personifikasie blyk in baie tale ook uit die gebruik van die geslag, omdat daar via die lidwoorde wat die manlike en vroulike aandui lewende eienskappe aan voorwerpe toegesê word, bv. “le livre”, “die Sonne” en “de tafel”. In Afrikaans skemer iets daarvan deur in die gebruik om na voorwerpe as “hy” te verwys.

Personifikasie kan plaasvind deur die gebruik van ‘n werkwoord, bv. “en de bosschen met teer getuur voorovergebogen”, deur ‘n bepaling, bv. in “La geante” waar iets uit die natuur voorgestel word as “ses terrible jeux”, of deur ‘n aanspreekvorm, bv. “Klinkt helder op gebeeldhouwde sonnetten”. Die personifikasie kan ook uit die hele konteks blyk, bv. in Elckerlijc waar konkrete dinge soos geld en besittings as persone voorgestel word. (Vgl. ALLEGORIE.)

Personifikasie en METAFORIEK hou met mekaar verband en kan nie altyd van mekaar geskei en onderskei word nie. ‘n Vers soos “Nu huilt de winter in mijn hart” is ‘n metafoor, want dit sê eintlik dat ‘n toestand wat ‘n ooreenkoms met die kilte van die winter toon, in my hart heers. So ook: “Concevait chaque jour des enfants monstreux” — daar staan in der waarheid dat die natuur ‘n proses soos ‘n geboorte deurgaan sodat natuurdinge te voorskyn kom wat soos monsteragtige kinders lyk.

Personifikasie hou verder verband met die allegorie, want ‘n allegorie beskryf iets onder die beeld van iets anders, bv. in die geval van Elckerlijc waar geld as ‘n persoon voorgestel word. Dit is egter terselfdertyd ‘n personifikasie.

Personifikasie kom ook voor wanneer ‘n mens voorkeur gee aan een voorwerp maar ‘n ander jou afkeer uitlok, bv. ‘n klein boekie is “aandoenliker” of “lieftalliger” as ‘n groot boek. Die voorwerpe “werken op ons in”, dit gaan om ‘n “activeren” van ‘n persoonsverhouding tussen mens en ding, aldus Kazemier (1970: 454) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur.

Anna-Marie le Roux

Raadpleeg ook:

Knapp, S. 1985. Personification and the Sublime: Milton to Coleridge. Harvard: Harvard University Press.

Kurtz, B.E. 1984. With human aspect: Studies in European personification allegory with special reference to the Hispanic contribution. Dissertation Abstracts International, 44(11).