PETRARKISME

Die Europese literêre fenomeen bekend as die Petrarkisme het sy ontstaan te danke aan die Italiaanse digter Francesco Petrarca, en in die besonder aan sy werk Il canzoniere wat tussen 1330 en 1365 geskryf is. Hierdie werk, wat eienaardig genoeg deur sy outeur geringgeskat is, bestaan uit 366 gedigte in die Italiaanse volkstaal, wat onderverdeel kan word in 317 sonnette, 29 liedere, nege sestine, sewe ballades en vier madrigale. Die temas van Petrarca se gedigte in die volkstaal is die liefde, die daaropvolgende aanprysing, dan die nabetragting oor die hartseer van die lewe en die skoonheid van Laura, die reis, die politiek, die dood en die ewige waarheid van die Drie-eenheid. In die Petrarkaanse modus is daar ook in ‘n geringe mate ‘n Maria-verering, veral in die slotgedig van die versameling, die lied aan die Maagd. Die Petrarkisme is in hoofsaak ‘n besef van en ‘n instemming met die navolgbaarheid van Petrarca se verbale en strukturele vaardigheid in die SONNETVORM. Hy is nie die uitvinder van die sonnet nie, maar hy het die vorm vir die volgende drie eeue vasgelê as ‘n veertien-reëlige komposisie wat op kontrapuntale wyse onderverdeel is in agt en ses reëls, bekend as die oktaaf en die sestet. Die oktaaf en sestet word weer onderskeidelik verdeel in twee KWATRYNE en twee tersette. Shakespeare verkies om sy sonnette in twaalf en twee reëls te verdeel.

In sy eenvoudigste vorm is die Europese Petrarkisme ‘n misbruik van of ‘n aandrang op die kenmerkende temas en tegnieke van die Petrarkaanse sonnet. De Sanctis het dit tot ‘n saak van konvensionele gekunsteldheid gereduseer, en Croce beskou dit as “a sickness that runs down the centuries”. Die verreikende invloed van hierdie vorm kan beslis nie toegeskryf word aan die Humanisme van sy digterlike grondlegger nie.

Die Petrarkisme boots die verbale kenmerke van die Canzoniere en die Trionfi na, asook die linguistiese vorm, die komplekse beeldspraak, die slim uitgewerkte ritmiese frases en veral sulke vaste teenstellende uitdrukkings (oksimorons) soos “koue vuur”, “soet pyn”, “vriendelike vyand”, “welkome dood” en “lewelose lewe”. Die antitese en chiasmus domineer enkel versreëls en selfs hele strofes, terwyl patroonmatige kontraste en aanhoudende woordspel met die naam Laura, die lourierboom, die wind of the bries (“L’aura”) die norm in die sonnette van Petrarca is.

Dit is dus die groeibodem van die Petrarkisme; maar die nabootsing behels meer as die uiterlike reproduksie van konvensies. Petrarca se liriese inslag het sy nabootsers geleer om die gees van liefde soos hy dit ervaar het uit die eenvoudige sowel as uit die gesogte woord te ontgin. Baie digters kon nie daarin slaag nie, maar dit is beswaarlik Petrarca se skuld. By Petrarca kry ons die eerste dinamiese en ondubbelsinnige poëtiese formulering van die ewige konflik tussen die liefde en al die ander menslike emosies. Hierdie kenmerk is die sterkste impuls in die woordkuns van sy nabootsers. Liefde word verbind met lyding, en dit is onderliggend aan die paradoksale begrip van die voluptas dolendi wat die wese van die Petrarkisme uitmaak. Hierdie begrip wil aan die liefdestryd sowel as die geïdealiseerde liefdesfantasie uitdrukking gee.

Michelangelo en Tasso is die twee Petrarkiste met ‘n oorspronklike stem. Die ander, soos Bonaccorso da Montemagno, Giusto de’ Conti, Poliziano, Lorenzo dei Medici, Sannazzaro, Bojardo, Angelo di Costanzo, Giovanni della Casa, Tansillo, Bernardino Rota, Molza, Annibal Caro, Celio Magno, Gabriele Fiamma en Giambattista Pigna het in die 15e en 16e eeu die gees van die Petrarkisme herken en slegs probeer om variasies en verfynings hierop aan te bring. Sommige van hulle pogings is herleibaar tot wat bekend staan as “die nuwe stilistiese kontrapunt”. Na Tasso word die Petrarkisme epigrammaties, ‘n verstandspel in die CONCEPTISMO van die 17e eeu.

In die digterlike tradisie van die Arkadia neig die Petrarkisme intussen tot die pastorale en die akademiese en sentreer dit rondom die konflik tussen die rede en die emosie. By Alfleri word dit versterk en teruggebring tot ‘n oorpeinsing van die volmaakte skoonheid. Hierdie tendens word deur Foscolo en Leopardi hervestig. In sy Zibaldone maak Leopardi melding van die graaf van Chesterfield se kritiek op Petrarca se werk as eentonig en singerig (sing-song). Die herhaling van temas en KUNSGREPE in die werk van Petrarca is inderdaad soms eentonig, maar by die meeste Petrarkiste word dit haas onhoudbaar. Die kenmerkende woordspel, behendige RYMKUNSIES (“kunsryme”), die polisindeton, die vermenging van die klassieke en moderne idioom en die oordadige beskrywings is ‘n slaggat vir die meeste, maar nie vir al die Petrarkaanse nabootsers nie. ‘n Paar Petrarkiste het nuwighede gebring, o.a. Giovanni della Casa, wat die enjambement invoer, waardeur hy ‘n METRIESE struktuur skep wat deur John Milton oorgeneem en in die Engelse tradisie verder ontwikkel sou word.

Gedurende die 16e eeu het die Petrarkisme na ander lande, veral Frankryk, Engeland en Spanje, versprei. Aan die begin het hierdie digters nie soseer, soos in die geval van die Petrarkiste van die 15e eeu, die kritiese teoretikus Bembo as hulle model gehad nie. Tebalteo, maar veral Serafino Aquilano, is deur Franse digters soos Maurice Scève, Philippe Desportes, Clement Marot, Mellin de Saint-Gelais en Engelse digters soos Thomas Wyatt en Henry Surrey nagevolg.

Die metriese struktuur van die Petrarkaanse sonnet het as model vir Franse en Engelse sonnette gedien. Twee metriese vernuwings in die Engelse literatuur is aan die graaf van Surrey te danke. Petrarca se veertien-reëlige sonnet, verdeel in twee kwatryne en twee tersette, het die volgende rymskema gevolg: abba/abba/cdc/cdc of abba/abba/cde/cde. Surrey behou die veertien reëls, maar verdeel dit in drie kwatryne met ‘n afsluitende koeplet: abab/cdcd/efef/gg. Hierdie vorm is deur Shakespeare en al die digters tot by Milton gebruik, en staan bekend as die Elizabethaanse of Shakespeareaanse sonnet.

Tot met Surrey in Engeland en Marot in Frankryk het die digters die Italiaanse Petrarkiste van die 15e eeu nagevolg. Die Franse digters van die Pléiade, Ronsard, Du Bellay, Pontus de Tyard, Baïff, Jodelle, Belleau en Peletier het egter die ryper Petrarkaanse vorm van Bembo nagevolg. Hierdie digters het op hulle beurt weer ‘n groot aantal Engelse digters soos Watson, Sidney, Lodge, Drayton, Constable en Spenser beïnvloed. Die gevolg is dat ‘n mens in Engeland twee Petrarkaanse strominge kry: ‘n “direkte” stroming, begin deur Wyatt en Surrey, wie se sonnette gebaseer is op die oorspronklike Italiaanse model, en ‘n “indirekte” stroming, afkomstig van die Franse Pléiade-groep, met navolgers soos Sidney, Spenser en ander wat dit in Engeland voortgesit het. Die sonnette van Sidney as Astrophel and Stella (1591) volg die rymskema: abba/abba/cdcd/ee, wat nòg Petrarca se skema (abba/abba/cdc/cdc) nòg Surrey se skema (abab/cdcd/efef/gg) is.

‘n Soortgelyke ontwikkeling kom voor by die Spaanse digters. Aan die begin van die 15e eeu het Inigo Lopez de Santillana die Canzoniere direk nageboots. In die 16e eeu volg Boscan en Garcilaso die Petrarkisme van die Napolitaanse digter Sannazaro na. Sannazaro het ‘n aantal dekades voor Bembo met sy eie vorm van nabootsing van Petrarca vorendag gekom (in Arcadia). Hy het dit op die kultus van literêre elegansie en musikale effekte gebaseer. (Vgl. ook RENAISSANCE.)

 

Bibliografie

Baldacci, L. 1974. II Petrarchismo italiano nel Cinquecento. Padova: Liviana.

Bosco, V. 1961. Francesco Petrarca. Bari: Laterza.

Minta, S. 1980. Petrarch and Petrarchism: The English and French Traditions. Manchester: Manchester University Press.

Russo, L. 1958. IIpetrarchismo italiano nel ‘500. Pisa: Libreria Goliardica.

Vianey, J. 1969. Le pétrarquisme en France au XVIe siècle. Genève: Slatkine Reprints.

 
B. Merry