Antiheld is ‘n term om die tipies ontluisterde heldfiguur in die prosa en drama van die 20e eeu te benoem. Antihelde is egter nie beperk tot die 20e-eeuse literatuur nie; voorlopers is o.m. die helde in Don Quijote (1605) van Cervantes, Tristram Shandy (1759) van Sterne, Grillparzer se Der arme Spielmann (1847) en Büchner se Woyzeck (1879). Selfs die Bybelboek Job en Aischulos se Orestes word as voorbeelde genoem (Hassan, 1959: 295).
Die. betekenis van die begrip antiheld lê in meer as net ‘n teenstelling tot die held. Anti benoem hier eerder iets t.o.v. die statuur van die (eertydse) held, d.i. peuterig, petieterig, klein en onbenullig, onbeholpe, meer as menslik in sy foute en feile, kleinburgerlik; dit ontluister verder die heroïese aktief of indirek by wyse van geïmpliseerde kontras (vergelyk bv. die aanwending van verwysingstegnieke – o.m. die mitiese metode – waar die antiheld opgestel word teenoor die held en sy doen en late gerelativeer word deur die skadu van die held wat oor alles val). Hiermee word die illustere bomenslike figuur nie net geparodieer nie, dit kondig ‘n nuwe held aan: strydig met die oorspronklike, maar met onderskeidende eienskappe wat terug te voer is na ‘n ander verhouding tot die samelewing, asook veranderde filosofiese, EKSISTENSIëLE en metafisiese impulse.
Die term antiheld kom van Chandler (1899) en is aanvanklik gebruik om die pikaro (die protagonis van die Spaanse PIKARESKE ROMAN) te onderskei van die held in die RIDDERROMAN en ROMANSE. Mettertyd het dit iets van ‘n sambreelterm geword: die dwaas, die nar, die skurk, die eksentriek/frats, die BUITESTAANDER, die sondebok, die sonderling, die rebel sonder ‘n rede, die held in die asblik, e.d. is daaronder tuisgebring (Hassan, 1959: 294). Antihelde het dikwels voorgekom in die werk van die Beat-generasie en die sg. ANGRY YOUNG MEN, alhoewel hierdie assosiasie nie moet lei tot ‘n eksklusiewe koppeling daaraan nie.
Die evolusie van die konsep sedert Chandler gee ‘n blik op die veranderde beskouing m.b.t. figure in die prosa en drama gedurende die afgelope aantal dekades. Die MITIESE heldfiguur wat grootliks ‘n oorblyfsel in die literêre werk was, het saam met die argetipiese skurk oorgeskuif na die TRIVIAALLITERATUUR. In die literêre werk verskyn die sg. little man à la Charlie Chaplin as verteenwoordiger van die gewone man. Mislukking het hiermee ‘n deel van sy mondering geword. As ‘n resultaat van die ABSURDE, nihilistiese, versteurde of geobsedeerde hooffigure in literêre werke van hierdie eeu, verskyn ‘n konsep soos die antiheld in toenemende mate en gee dit uitdrukking aan die “teëbeeld (…) van wat die mens sou kón wees, van wat hy behóórt te wees, van wat hy wíl wees” (Brink, 1967: 41).
Die ontheroïsering van die held verloop sedert die ROMANTIEK se premie op individualiteit oor verskeie bepalende fases heen, waaronder die NATURALISME met sy klem op voorafbepaaldheid; die leringe van bv. die Franse eksistensialiste; twee wereldoorloë (en nie minder skrikwekkende streeksoorloë) wat die mens se heersersposisie aftakel en hom bewus maak van sy beperktheid, eindigheid en uitgelewerdheid aan kragte groter as hyself. Die gedesillusioneerdheid wat hiervan die gevolg was, lei tot die verdwyning van die held, die verskyning van onheroïese “helde” en ‘n veranderde verhouding tussen individu en samelewing.
Een van die sterkste relativeringsfaktore is die besef van eie onwaardigheid, onbelangrikheid, eindigheid en beperktheid in die aangesig van die dood as seëvierende vyand van die mens. Die bestaan word hiervolgens ‘n protes teen vernedering deur die dood. Die moderne held word nie deur hierdie bron van sinloosheid bedrieg nie: menslike beperktheid kan op geen wyse getransendeer word nie. Daar is dus ook nie ‘n strewe na grootheid vir hom wat besef “that the truth of being is summed up in the truth of dying” nie (Glicksberg, 1966: 142; vgl. ook pp. 23,32 & 107). Hiervolgens bly net die Sartreaanse voortgang oor as bevestiging van die bestaan ten spyte van alles.
Sedert Chandler die antiheld benoem het, ontwikkel die konsep tot ‘n splitsing van pikaro en antiheld, gegrond op die onderskeid tussen die Spaanse pikareske romantradisie en ‘n jonger neo-pikareske roman. (Hierdie onderskeid is uitgewerk deur Schleussner, 1969.) In die pikareske roman tree ‘n pikaro as PROTAGONIS op, in die neo-pikareske ‘n antiheld. (In die drama oorheers die antiheld feitlik die moderne teater.)
Schleussner (1969: 170-172) illustreer hoe die grondliggende verhoudingsisteme tussen die pikareske en neo-pikareske romans dieselfde komponente en waardes behou, maar hoe die perspektief verskuif het en die aktiwiteit van die opposisie individu-samelewing omgekeer is. Die basiskomponente behels in albei ‘n samelewing (negatief) en ‘n individu (positief). In die Spaanse pikareske roman is die individu (pikaro) gerig op die samelewing in sy aktiwiteit (skelmery) en word die dekadente samelewing deur (sy) aggressiewe satirisering negatief gekleur. In die neo-pikareske roman verskuif die handelingsmoment na die samelewing, wat ‘n bedreigende mag word vir die passiewe, bevreesde en besluitelose individu (antiheld), wat op ironiese en tragikomiese wyse as moderne heldefiguur in hierdie rol verskyn. So ‘n regulerende samelewingsmag en ‘n uitgelewerde, defensiewe en passiewe individu vorm die grondbestanddele van kosmiese IRONIE. Die individu (antiheld) beleef sy rol (en word meestal ook so gekarakteriseer) as dié van ‘n slagoffer met wie alles gebeur (vgl. Max Delport in Mahala van Chris Barnard). In hierdie opsig is ‘n samelewingsatire (soos in die pikareske roman) uitgeskakel deur die antiheld se negatiewe ervaring van die samelewing as bedreigende en onderwerpende instansie.
Anders as die pikaro wat homself as skelm verwesenlik in wisselwerking met die samelewing, is dit die antiheld se wens om buitestaander te bly. Die antiheld is meer dwaas as skelm, die pikaro meer skelm as dwaas (Schleussner, 1969: 85). Die antiheld isoleer homself ook doelbewus van die samelewing as ‘n defensiewe strategie om sy posisie en integriteit te verdedig. ‘n Belangrike faset hiervan in die literatuur is die vlug-uitweg. Ook deur te vlug (hetsy in fisieke omswerwinge of in toenemende verinnerliking) onderskei die antiheld hom van die pikaro. Dit impliseer ‘n nog geringer heldskap as by die pikaro, maar ook ‘n moderne samelewing (as *antagonis van die antiheld) met groter mag as die eertydse Spaanse (vgl. Schleussner, 1969: 72). Fisieke omswerwinge van figure is eie aan die moderne literatuur. Gekoppel aan die antiheld kom dit ook dikwels voor (vgl. Smuts, 1968) – veral in die werk van Etienne Leroux: o.m. by Colet van Velden (Hilaria), Gysbrecht Edelhart (Die mugu), die uiteraard bewegende speurder Demosthenes H. de Goede (Die derde oog); maar ook by Max Delport in Barnard se Mahala.
Verinnerliking-as-uitvlug is eweseer ‘n watermerk van die jongere literatuur, soos o.m. aantoonbaar is in Max Delport (Mahala), die antiheld in Die rebellie van Lafras Verwey (Barnard), en daardie grootse avatare van die antiheld, die knolskrywer in Isis Isis Isis (Leroux), wat homself in onbenullige alledaagshede definieer en bevestig (vgl. Cloete, 1976). Die voortgaan met die lewe ten spyte van alles hou met die rygtegniek van bestaanshandelinge (eet, drink, sien, vra, vertel) die moontlikheid in van sinvolheid, selfbehoud te midde van die samelewingsbedreiging en selfekspressie ondanks die bedreiging.
‘n Wesenlike onderskeid tussen die pikaro en die antiheld is hiermee aan die bod, dat in die pikareske roman ‘n samelewing-in-krisis voorkom, terwyl in die neo-pikareske roman ‘n individu-in-krisis uitgebeeld word (vgl. Schleussner, 1969: 112-113). Deur John Miles se pikareske roman Donderdag of Woensdag langs Isis Isis Isis of Mahala te lê, blyk dit duidelik.
Die handelingsmodel van ‘n werk waarin ‘n antiheld optree, is a.g.v. die passiewe aard van die antiheld sentripetaal van aard. Die handelingsimpetus kom m.a.w. nie van die protagonis nie, maar van die newefigure. Die kousale verhouding van newefigure tot die gebeure word gestruktureer in verteleenhede, wat dinamies en kumulatief opbou (vgl. weer eens Isis Isis Isis en Mahala). Die kompleks van handelinge en handelingsinstansies (newefigure) trek saam in die antiheld, wat op hierdie wyse tog in die brandpunt staan/beland. Vanuit hierdie hoek is die beweging van buite af op die antiheld ook struktureel aan te dui. Die PARADOKS van ‘n passiewe en vlugtende instansie in die handelingsentrum is dan ook tiperend van literêre werke met ‘n antiheld as hooffiguur.
Die omvang van die korpus werke met antihelde as hooffigure (in die prosa en drama) noop ‘n mens tot blote opnoem van die belangrikstes met die oog op aanvullende leeswerk. Individuele afwykings van die breë patrone onderliggend aan antihelde bewys die dinamies-evolusionêre aard van die konsep, wat dit al vir soveel dekades die argetipiese figuur van ons tyd gemaak het. Enkele voorbeelde uit die wêreldliteratuur waarteen Afrikaanse eweknieë gelees kan word, is o.m. Ulysses (Joyce), L’étranger (Camus), Lucky Jim (Amis), Herzog (Bellow), Der Prozess (Kafka), Der Steppenwolf (Hesse), Der Mann ohne Eigenschaften (Musil), The Catcher in the Rye (Salinger), Billy Liar (Waterhouse), Die Blechtrommel (Grass); ook van die dramas van Brecht, Frisch, Pirandello, Ionesco, Pinter, Beckett, Anouilh, e.a.
Histories beskou, is Chandler (1899/1961) die basisbron, maar Schleussner (1969) bring belangwekkende nuwe onderskeide tussen antiheld (vgl. ook Hassan (1959) en Wilson (1956/1974) onderskeidelik) en pikaro (vgl. Van Gorp (1978); Heidenreich (1959); Alter (1965); Bjornson (1977); Blackburn (1979); Du Plessis (1985); Guillén (1962); Miller (1967), e.d.). Lees in Brink (1967 & 1974); Cloete (1976); Glicksberg (1966) en Smuts (1968) oor breër agtergronde waarteen die antiheld ontstaan het, asook oor toepassings uit die literatuur waarin antihelde voorkom.
Bibliografie
Alter, R. 1965. Rogue’s Progress; Studies in the Picaresque Novel. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.
Bjornson, R. 1977. The Picaresque Hero in European Fiction. Madison: The University of Wisconsin Press.
Blackburn, A. 1979. The Myth of the Picaro, Continuity and Transformation of the Picaresque Novel 1554-1954. Chapel Hill: University of Carolina Press.
Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad: Academica.
Brink, A.P. 1974. Aspekte van die nuwe drama. Kaapstad: Academica.
Chandler, F.W. 1899/1961. Romances of Roguery: An Episode in the History of the Novel: The Picaresque Novel in Spain. New York: Franklin.
Cloete, T.T. 1976. Die hipertrofie van die ego in Leroux se Isis. Tydskrif vir letterkunde, 14(2).
Du Plessis, J.C.M.D. 1985. Die nie-pikareske pikaro. D.Litt.-tesis, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Glicksberg, C.I. 1966. Modern Literature and the Death of God. The Hague: Nijhoff.
Guillén, C. 1962. Toward a definition of the picaresque. Proceedings of the IIIrd Congress of the International Comparative Literature Association. The Hague.
Hassan, I.H. 1959. Der Antiheld in der modernen englischen und amerikanischen Prosa. In: Heidenreich, H. (Hrsg.). Pikarische Welt: Schriften zum europäischen Schelmenroman. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
Miller, S. 1967. The Picaresque Novel. Cleveland: Case Western Reserve University Press.
Schleussner, B. 1969. Der neopikareske Roman: pikareske Elemente in der Struktur moderner englischer Romane 1950—1960. Bonn: Bouvier.
Smuts, J. P. 1968. Die reisende karakter in die Afrikaanse roman. M. A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Van Gorp, H. 1978. Inleiding tot de picareske verhaalkunst of de wederwaardighede van een anti-genre. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Wilson, C. 1956/1974. The Outsider. London: Pan.
J.H. Johl