PROSAGEDIG

‘n Prosagedig (Fr.: poème en prose) is ‘n teks wat in prosavorm geskryf of gedruk is maar eienskappe vertoon wat tipies van die poësie is, soos RYM, RITME, ander klankwerking, beeldrykheid en kompaktheid in segging. Geen vaste ritmiese patroon word gevestig nie, maar dit is ook waar van baie gedigte. Die prosagedig moet onderskei word van die VRYE VERS en liriese prosa: die vrye vers is in gedigvorm gedruk en, anders as die liriese prosa, is die prosagedig kort, d.w.s. ongeveer ‘n halwe bladsy tot vier bladsye lank. Die term prosagedig is een van daardie terme wat na willekeur gebruik word om enigiets vanaf “the Bible to a novel by Faulkner” aan te dui, aldus Preminger in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics (1979: 664). Dit moet eintlik net gebruik word “to designate a highly conscious (sometimes even self-conscious) artform” (Preminger, 1979: 664). Die prosagedig oefen ‘n groot invloed uit op die literatuur, want die vrye vers, die BEWUSSYNSTROOMTEGNIEK en die neiging tot die vermenging van GENRES hou verband met die prosagedig.

Aloysius Bertrant se bundel Gaspard de la Nuit: fantasies à la manière de Rembrandt et de Calot (1842) word amptelik beskou as die eerste bundel prosagedigte, maar Maurice de Guérin het enkele jare vantevore reeds prosagedigte geskryf, nl. “Le centaure” en “La bacchante”. Eintlik kan die ontstaan van die prosagedig teruggevoer word na die 18e eeu toe die Akademie in Frankryk streng reëls vir die skryf van poësie neergelê het. Dit het ‘n hele paar digters gefrustreer, want dit het ‘n demper op hulle individualiteit as digters geplaas.

Om hieraan te ontsnap, het hulle hul tot die skryf van prosa gewend. Dié prosa het sterk poëtiese eienskappe vertoon, bv. Télémaque (1699) van Fénelon en Le Temple de Gnide (1725) van Montesquieu. Die oorsprong van die basiese konsep van die prosagedig — poësie in prosavorm of poème en prose — kan egter nóg verder teruggevoer word na die retoriek van die oudheid. Die antieke redenaars het dikwels van METRUM en rym gebruik gemaak om ‘n bepaalde effek te verkry of om die een of ander gedagte te beklemtoon. Die liriese prosagedig het egter sy wortels in die ROMANTIEK; dit was in wese prosatekste wat voorgegee het om poësie te wees. In teenstelling hiermee streef die moderne prosagedig na die gebruik van nuwe poëtiese uitdrukkingsmiddele, dit is nie bloot prosa wat die indruk van poësie skep nie.

In Frankryk het Bertrant se werk ‘n invloed uitgeoefen op Baudelaire en in 1869 verskyn lg. se Petits poèmes en prose. Die prosagedig is ook deur Rimbaud beoefen in Les illuminations (gepubliseer in 1886) en Une saison en enfer (1873). Bertrant se prosagedigte het waarskynlik ook ‘n invloed uitgeoefen op die poësie van die SIMBOLISTE en die SURREALISTE. In Duitsland het Novalis, Hölderlin (Hyperion), Stefan George, Nietzsche (Also sprach Zarathustra) en Rilke prosagedigte geskryf. In Engeland is die prosagedig beoefen deur o.a. Oscar Wilde en T.S. Eliot. In Nederland is die prosagedig tot dusver nog nie grootskaals beoefen nie. Enkele beoefenaars daarvan is J.C. van Schagen, Bert Schierbeek (De blinde zwemmers, 1955) en Hans Andreus (Empedocles de Ander, 1955). In Afrikaans kom die prosagedig voor by Eugène Marais (Dwaalstories), Uys Krige, Jan Rabie (21 en Dakkamer), Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach (bv. “Die boenk” in Katastrofes en Mouroir) en by T.T. Cloete in Die waarheid gelieg. Orgie van André P. Brink is deels ook ‘n prosagedig.

Raadpleeg ook:

Bernard, S. 1959. La poème en prose de Baudelaire jusqu’a nos jours. Paris: Nizet.

Monroe, J. 1987. A Poverty of Objects: The Prose Poem and the Politics of Genre. Ithaca: Cornell University Press.

 
Anna-Marie Bisschoff