Volgens die Rasionalisme is die mens in staat om die werklikheid geheel en al met sy rede te ken. Dit staan in direkte teenstelling tot die empirisisme wat sê dat ‘n mens die werklikheid deur ervaring kan ken. (Vgl. ook POSITIVISME EN LOGIESE POSITIVISME.) Die Rasionalisme beskou die sintuie as onbetroubaar, maar logiese denke getuig van helderheid en akkuraatheid. Aangesien dit gaan om helderheid en betroubaarheid, word daar dikwels van wiskundige metodes gebruik gemaak omdat ‘n mens so die verlangde helderheid en betroubaarheid kan bereik.
Op hierdie wyse kan die basisbeginsels van die werklikheid agterhaal word. Dié beginsels geld as aksiomas en hiervolgens kan ‘n mens natuurwette aflei.
Daar is drie aksiomas wat deur die Rasionalisme aanvaar word, nl.: die mens beskik oor aangebore idees; die mens is in staat om logiese analises en afleidings feilloos te maak en hierdie basisbeginsels weerspieël die diepste struktuur van die werklikheid.
Die eerste spore van die Rasionalisme word by Descartes aangetref. Vir hom was die werklikheid vanuit drie sentrale beginsels verklaarbaar, nl. God, die bewussyn en die stoflike. Die denkende ek of bewussyn kan die materiële natuur leer ken omdat ‘n analise van die stoflike ‘n mens in staat stel om die wette van die meetkunde en meganika te ontdek. Hierdie wette stel ‘n mens weer in staat om die struktuur van die werklikheid te deurgrond. Volgens Vermeersch (1972: 193), in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, is hierdie “mechanistische visie op de stoffelijke natuur … moeilijk te verenigen met de vrijheid en zelfstandigheid die aan het ik wordt toegeschreven”; dit het gelei tot ‘n dualisme tussen gees en materie.
Ander verteenwoordigers van die Rasionalisme is bv. Malebranche, Spinoza en Leibniz. Hulle het Descartes se sisteem breër uitgewerk en ook gepoog om die swak punte daaruit te weer, bv. in Spinoza se Ethica more geometrica demonstrata.
Die eksperiment het ‘n al groter rol begin speel in die Rasionalisme sodat Kant ‘n verswakte vorm van lg. voorgestel het, “waarin de inhouden van de kennis uit de ervaring komen, maar de ordeningsvormen vooraf in het verstand aanwezig zijn” (Vermeersch, 1972: 193).
In Engeland het die Rasionalisme ‘n groot invloed op die religie en die literatuur gehad en die vroeë humaniste het ook klem gelê op die mag van die rasionele. Hulle leerstellinge het egter weinig invloed gehad op die religieuse denke van die tyd totdat dit versterk is deur Newton se wetenskaplike denke. Teen die einde van die 17e eeu was die meeste teoloë van mening dat die belangrikste religieuse leerstellings van die rede en die natuur afgelei kan word. Volgens die meer konserwatiewe rasionaliste soos Newton en John Locke het openbaring ook ‘n belangrike rol gespeel, maar die meer radikale rasionaliste (deïste) het dit verwerp.
Die term Rasionalisme word ook in ‘n wyer sin gebruik en dan in teenstelling tot die irrasionalisme (mistisisme, okkultisme, sentimentalisme en dogmatisme). Alle probleme word volgens hierdie siening deur die rede opgelos.
Die Rasionalisme omvat dus alle denksisteme wat die krag van die rede beklemtoon. Die VERLIGTING van die 18e eeu is ‘n rasionalistiese denksisteem omdat die klem gelê word op die menslike rede.
Raadpleeg ook:
Blumenberg, H. 1973. Der Prozess der theoretischen Neugierde. Frankfurt a.M.: Suhrkamp.
Blumenberg, H. 1974. Säkularisierung und Selbstbehauptung. Frankfurt a.M.: Suhrkamp.
Blumenberg, H. 1976. Aspekte der Spochenschwelle: Cusaner und Nolo Iner. Frankfurt a.M.: Suhrkamp.
Gay, P. 1973. The Enlightenment. An Interpretation. London: Wildwood House.
Gellner, E. 1974. Legitimation of Belief. London: Cambridge University Press.
Grene, M. 1966. The Knower and the Known. London: Faber & Faber.
Kekes, J. 1976. A Justification of Rationality. Albany: State University of New York Press.
Anna-Marie Bisschoff