REALISME

Die Realisme in die literatuur het betrekking op ‘n waarheidsgetroue, ongeïdealiseerde uitbeelding van die werklikheid waarby die hier en nou van leser en skepper (kunstenaar) ‘n sentrale plek inneem. Die Realisme staan teenoor die geïdealiseerde uitbeelding van die ROMANTIEK. Breed gesien, beperk die Realisme hom natuurlik nie tot die literatuur nie; dit het ook betrekking op die beeldende kunste. Die Realisme in die literatuur is afhanklik van die geskrewe woord, terwyl dit in die beeldende kunste om die hantering van die penseel of die beitel gaan.

Volstrekte objektiwiteit en dus absolute Realisme is ‘n illusie. ‘n Realistiese uitbeelding hang saam met die aard van die kuns waarin dit gaan om die spanning tussen die werklikheid en die artistieke uitdrukkingsmoontlikhede en middele. Die relatiwiteit van die Realisme kan geïllustreer word aan die talle variante wat daarvan bestaan. So word verwys na die kritiese Realisme, die durasionale Realisme, die dinamiese Realisme, die eksterne Realisme, die fantastiese Realisme, die MAGIESE REALISME, die formele Realisme, die naïewe Realisme, die rasionele Realisme, die naturalistiese Realisme, die objektiewe Realisme (Schippers-De Leeuw, 1979: 10) en die sosialistiese Realisme. (Vgl. MARXISME EN DIE LITERATUUR.)

Die problematiek rondom dié uitbeelding van die werklikheid in die kuns dateer vanuit die verre verlede. Aristoteles het hom al daarmee besig gehou. Hy het die konkrete werklikheid as die beginpunt van alle artistieke kreatiwiteit gesien.

Dit wat nie natuurgetrou nageboots is nie, het nie aan die norme van kuns beantwoord nie. Dit hang weer saam met die eeue-oue beginsel van die imitatio en MIMESIS. Met hierdie opvatting het Aristoteles wel daarmee rekening gehou dat ‘n kunstenaar selekteer en in sy kunswerk ‘n gerekonstrueerde werklikheid tot stand bring binne ‘n artistieke struktuur en dus nie ‘n volle werklikheid nie.

In die Middeleeue het die problematiek van die Realisme soos geponeer deur o.a. Aristoteles minder op die voorgrond getree. Die belangrike “werklikhede” of waarhede was die onsienbare dinge, nl. God, hemel en hel. Dit was hooftemas in die kuns, in die literêre sowel as in die beeldende kunste. Hierby moet dadelik vermeld word dat geen tydperk in die kuns hermeties is nie en dat daar ook in die Middeleeue realistiese tendense in die kuns voorkom. Die Realisme was toe in mengvorm aanwesig — hier kan ‘n mens alleen al dink aan die DIERE-EPOS Van den Vos Reinaerde of die skilderye van Pieter Brueghel.

Daar het deur die eeue verskillende beweegredes bestaan vir die benutting van die werklikheid in die kuns.

Die Realisme was allereers ‘n heftige reaksie op die KLASSISISME wat veral van die 17e eeu af in Frankryk posgevat het. Die Beginsels van die Klassisisme, o.a. geformuleer deur Boileau in 1674, is arealisties of byna antirealisties.

Die natuur word in die klassisistiese kuns weergegee nie soos dit is nie, maar soos dit in die ideaalste omstandighede moet lyk. Die menslike rede, nie sy hartstogte nie, speel die toonaangewende rol. Op basis van die Grieks-Klassieke en Romeins-Klassieke voorbeelde is teruggegryp na die onverbiddelike eenhede van TYD, plek en handeling, eenhede wat soms ‘n gedwonge effek gehad het en wat as sodanig verwyder van die Realisme is. (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE.) Die klassisis het voorts prys gestel op hoë morele standaarde, die gewone omgangstaal vermy en as karakters die hoë adellikes benut. Die opvallende is dat die Klassisisme hom veral gemanifesteer het in die drama, terwyl die opkoms van die Realisme gepaard gegaan het met die opkoms van die ROMAN, seker omdat die roman hom — vanweë sy omvang — by uitstek leen tot ‘n uitgebreide realistiese uitbeelding.

Waar die Realisme in die poësie voorkom, geskied dit veral in die meer epiese poësie, hoewel ‘n mens by ‘n digter soos Martinus Nijhoff juis in sy mees liriese ontboesemings ‘n sterk realistiese tendens aantref.

Die Duitse digter Friedrich Schiller (1759—1805), wat deurgaan vir ‘n Romantikus, kon nie die Realisme en die realistiese met die kuns verenig nie, terwyl ‘n tydgenoot, Friedrich Schiegel (1772—1829), die Realisme as essensieel vir die kuns beskou het.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die Realisme nie net ‘n stroming is wat aan ‘n spesifieke tydperk gebonde is nie. Eers in die 19e eeu het die Realisme ‘n eg Europese periodebegrip geword. ‘n Mengsel van filosofiese, religieuse en wetenskaplike opvattings het gelei tot die manifestasie van die Realisme as stromings in die kuns.

Die radikaalste manifestasie van die Realisme as stroming (ook wel genoem die Formele Realisme) doen hom voor in Frankryk omstreeks die helfte van die vorige eeu. Die Realisme is in Frankryk aanvanklik gepropageer deur ‘n groepie minder bekende outeurs, o.a. Jules Champfleury (1821—1889), met sy essay “Le réalisme” (1857), waarin hy o.m. pleit dat die held in ‘n roman ‘n gewone man moet wees en dit ook stel dat die volk ‘n onuitputlike bron van romanmateriaal kan lewer.

In die twintigtal romans wat hy geskryf het, het hy die daaglikse lewe in ‘n klein dorpie so getrou uitgebeeld dat hy meermale met die gereg gebots het vanweë dié lewensgetrouheid wat mense in die verleentheid gestel het.
Ander bepleiters van die Realisme was Henri Murger (1822—1861) en Louis E.E. Duranty (1833—1880), wat ‘n tydskrif met die naam Réalisme (1856—1857) begin het en waarin Realisme as ‘n literêre term gemunt is. Die opkoms van die Realisme is o.a. filosofies gerugsteun deur die werke van Auguste Comte (1798—1857), wat met sy propagering van die POSITIVISME tegelyk pleit dat die wetenskap hom slegs beperk tot die beskrywing van die gegewe feite in die ervaring, en dat metafisiese begrippe as kragte en oorsake buite die ervaring geen rol in die wetenskapbeoefening — en by implikasie ook in die kuns — mag speel nie. Bydraend tot die opkoms van die Realisme was die bevraagtekening in Europa van die Christendom en Christelike waardes, trouens, van transendentale waardes oor die algemeen.

Ludwig Feuerbach (1804—1872) publiseer in 1841 sy invloedryke werk Das Wesen des Christentums, waarin hy die opvatting huldig dat die teologie niks anders as antropologie is nie. Dit het gelei tot die beklemtoning — ook in die kuns — van die diesseits ten koste van die jenseits.

Historiese gebeurtenisse wat verder bygedra het tot die opkoms van die Realisme was o.a. die Industriële Revolusie en die uitvinding en opkoms van die fotografeerkuns, waarby Louis J.M. Daguerre (1787-1851) ‘n belangrike rol gespeel het.

Die belangrikste literêre eksponente van die Realisme in Frankryk is Gustav Flaubert (1821—1880) met sy beroemde Madame Bovary (1857) waarin die romantiese eintlik geïroniseer word. Daar is na die werk verwys as die tasbare triomf van die literêre Realisme. Flaubert het sy opvatting van die Realisme verwoord in ‘n brief aan George Sand in 1876 waarin hy aan lg. sê dat sy (George Sand) met haar werk in een sprong ten hemel styg en vandaar op die aarde neerdaal, maar “ek, arme drommel, ek sit as’t ware met loodsole aan die aarde vasgeplak…” Flaubert staan daarvoor bekend dat hy grondige navorsing vir sy literêre werke gedoen het en ‘n obsessie gehad het oor die presiese weergawe van die gebeurtenisse wat uit die daaglikse lewe gegryp is.

‘n Ander belangrike literêre figuur in die Realisme van Frankryk is Émile Zola (1840-1902) met sy Roman expérimental (1880), hoewel sy werk sterk naturalistiese trekke vertoon.
Ten slotte kan ‘n mens ook nog na Honoré de Balzac verwys (1799-1850).

In Engeland was die manifestasie van die Realisme nie so radikaal soos in Frankryk nie. Realistiese tendense was lankal in die Engelse literatuur aanwesig van die begin van die Engelse roman af. Dit was aanwesig by Charles Dickens (1812—1970), William M. Thackeray (1811—1863), Thomas Carlyle (1795—1881) e.a. Later het die Realisme wel van Frankryk af oorgewaai, maar daardie Realisme is in England al gou tot NATURALISME en determinisme getransformeer. Dit blyk bv. uit die werke van Thomas Hardy (1840—1928), George A. Moore (1852—1933) en Joseph Conrad (1857—1924). Die twee laasgenoemdes is o.a. juis deur Flaubert, Zola en De Maupassant geïnspireer.

Gebore uit ‘n antiromantiese strewe het die Realisme al vroeg in die 19e eeu in Duitsland opgang gemaak.

In die Nederlandse literatuur het die vroeë 19e eeu weinig realistiese tendense getoon: ‘n mens kan praat van kleinrealisme by Cornelis E. van Koetsveld (1807—1893), Conscience en Nicolaas Beets (1814—1903). Van lg. is veral bekend sy Camera obscura, wat in 1839 onder die skuilnaam Hildebrand verskyn het en sedertdien talle herdrukke (steeds meer uitgebreid) beleef het. Tiperend is die noukeurige beskrywing van die werklikheid en die ironiese ondertoon. Die kleinrealisme ontaard weer in die “huislikheid” wat veral in die poësie van die sg. predikantdigters na vore kom. Eers rondom die Tagtigerbeweging kry mens ‘n sterker manifestasie van die Realisme in veral die prosa — merkwaardig genoeg, want die Tagtigers was tog pure Romantici. Die Realisme kom voor by Lodewijk van Deyssel (1864—1952) met sy, vir daardie tyd, opspraakwekkende roman Een Liefde (1887), maar veral in sy radikale vorm, dié van die Naturalisme, by Marcellus Emants (1848—1923) met sy Een nagelaten betekenis (1894), en by Louis Couperus (1863—1923) met bv. sy Boeken der kleine zielen (1901—1903), met die besonder realistiese uitbeelding van die sg. Haagse koterieë. Ook hier kry ‘n mens egter ‘n vermenging met die Naturalisme.

Die Realisme het in die Afrikaanse literatuur nooit die groot bloei beleef soos in die Europese literature nie, gewoonweg omdat die Realisme nie hier “grootgeword” het nie. Die Afrikaanse literatuur het nog nie bestaan toe die ideologies geïnspireerde Realisme in Europa opgang gemaak het nie. In Afrikaans is daar wel Jochem van Bruggen, J. van Melle en C.M. van den Heever wat in hul werke soms met ‘n brok Realisme na vore kom, maar daardie Realisme is tog dikwels met ‘n stukkie ROMANTIEK vermeng, selfs gekleur met idealisme. Die streng onbevange en selfs meedoënlose blik van die Realisme is selde in dié outeurs se werk aanwesig. Die titel van L.C. Minnaar se proefskrif, Realisme en Romantiek in die prosawerk van C.M. van den Heever (1966), dui eksplisiet aan dat die twee -ismes in mengvorm in die genoemde outeur se oeuvre aanwesig is. ‘n Miskien “ietwat feller” realistiese tendens word aangetref by A.H. Jonker met sy Maskers, wat Jonker self “die eerste Afrikaanse proefneming in die Nuwe Saaklikheid” genoem het (Dekker, 1966: 275).

C.N. van der Merwe (1967) meen dat Jan Rabie se baanbrekende Mens-alleen reeds ‘n beperkte bevryding van die Realisme in die Afriaanse literatuur beteken het. Sy 21 beskou hy as ‘n radikale breuk met die Realisme. Die prosakuns van André P. Brink toon sterk realistiese tendense, maar sy werk is nie ‘n eksponent van die Realisme nie.

 

Bibliografie

Bol-Johansen, H. 1979. Stendhal et la notion de mimesis: 1 Evolution du réalisme dans les romans Stendhaliens. In: Del Litto, V. (red.). Stendhal-Balzac: Réalisme et cinema. Actes du Xle Congrés international Stendhalien, Auxerre, 1976. Grenoble: Presses Universitaires de Grenoble.

Brock, J. 1982. From Aristotelean mimesis to “bourgeois” realism. Poetics, 11.

Dekker, G. 1966. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Demetz, P. 1967. Zur Definition des Realismus. Literatur und Kritik, 2.

Grant, D. 1970/1982. Realism. London: Methuen.

Kohl, S. 1977. Realismus: Theorie und Geschichte. München: Fink.

Martinez-Bonati. 1980. The act of writing fiction. New Literary History, 11(2).

Minnaar, L.C. 1966. Realisme en Romantiek in die prosawerk van C.M. van den Heever. D.Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

Schippers-De Leeuw, W.J.J. 1979. Realisme: de illusie van werkelijkheid in literatuur. Assen: Van Gorcum.

Smith, M. 1985. Tolstoy and the conventions of representation. Renascence: Essays on value in literature, 37(4).

Stern, J.P. 1973. On Realism. London: Routledge & Kegan Paul.

Van den Bergh, H. 1979. De verteller als strateeg. In: Segers, R.T. (red.). Lezen en laten lezen. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Van der Merwe, C.N. 1967. Die wegbreek van die Realisme in die Afrikaanse verhaalkuns. M.A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Wellek, R. 1975. Concepts of criticism. London: Yale University Press.

 
J. van der Elst