RESEPSIETEORIE

In die wydste sin van die woord kan die term Resepsieteorie gebruik word vir alle rigtings in die literatuurstudie wat gemoeid is met die resepsie van literêre werke deur die leser. Hierby sou dan ook PSIGOLOGIESE en sosiologiese studies ingesluit kon word. In enger sin is die term sinoniem met die sg. Resepsie-estetika wat teen die laat sestigerjare in Wes-Duitsland bekend gestel is. Die grondleggers hiervan is Hans Robert Jauss en Wolfgang Iser, albei lede van die Konstanzskool. Die Resepsie-estetika kan egter eweneens nie as ‘n eenduidige, afgebakende benadering beskou word nie; veel eerder is dit ‘n oorkoepelende begrip wat ‘n verskeidenheid metodes insluit.

Daar sal vervolgens dus oorsigtelik aangedui word wat die aanloop tot die benadering was, watter kernbegrippe sentraal daarin staan en watter ander moderne literatuuropvattings die nouste by die Resepsieteorie aansluit.

Uit Roman Jakobson (1960) se kommunikasiemodel vir verbale (d.w.s. uit taal bestaande) kommunikasie kan die volgende eenvoudige skema vir die literêre kommunikasieproses afgelei word:

literêre   
outeur        leser
teks

Gedurende die afgelope honderd jaar het elk van hierdie drie komponente afwisselend die sentrale plek in literatuurwetenskaplike ondersoek ingeneem. Gedurende die tweede helfte van die 19e eeu is die OUTEUR en sy psige, as voor-die-hand-liggende “oorsaak” van die literêre kunswerk, onder invloed van die POSITIVISME se oorsaak-en-gevolgbenadering as uitgangspunte geneem. Die BIOGRAFISME het hoogty gevier en die Literatuurwetenskap is ongeveer gelykgestel aan LITERATUURGESKIEDENIS. Die ondersoeker se rol as histories gesitueerde leser moes egter volledig verbloem word deur sy “objektiwiteit”. In reaksie op hierdie siening van die TEKS as dokument het ‘n klemverskuiwing plaasgevind sodat die teks vervolgens gedurende die eerste sewentig jaar van hierdie eeu as ‘n OUTONOME entiteit gesien is; as ‘n monument wat sy tydlose essensie in ‘n monoloog aan lesers van alle tye openbaar. Die RUSSIESE FORMALISME en die NEW CRITICISM was die belangrikste eksponente van die outonomiebenadering, wat die teks sowel as die ondersoeker as ahistories beskou het.

Die Resepsieteorie sou die teks postuleer as TEKEN wat funksioneer binne ‘n histories bepaalde kommunikatiewe stelsel, met besondere klem op die leser as ontvanger van die boodskap van die teks en op die leesproses. Hierdie insigte het ‘n geleidelike aanloop gehad via die vroeë psigologiese benadering, L.A. Richards, die Russiese Formalisme, verskeie literatuurwetenskaplikes wat vroeg reeds die aandag begin rig het op ‘n LESER (bv. die mock reader van Walker Gibson), en veral die Praagse STRUKTURALISTE (Jan Mukařovský e.a.). Op die verworwenhede van Mukařovský en die Poolse fenomenoloog Roman Ingarden het Jauss en Iser voortgebou in die ontwikkeling van die Resepsie-estetika.

Om die Resepsie-estetika noukeurig te definieer is haas onmoontlik vanweë die komplekse aard daarvan. Segers (1974: 392) omskryf dit as ‘n literatuurwetenskaplike stroming wat die literêre teks ondersoek “vanuit de lezersreakties die naar aanleiding van deze tekst gegeven worden. De werkhypothese hierbij luidt, dat de lezer in de eerste (zo men wil laatste) instantie beslist of een bepaalde tekst al dan niet literair is”. “Literêrheid” is dan ook ‘n saak waarmee resepsie-estetici ten nouste gemoeid is.

Verder kan die Resepsie-estetika kortweg ook gesien word as die studie van die aard en die moontlikhede van literêre resepsie. Dit is van belang dat die begrip “resepsie” hier in die ruimste sin van die woord opgeneem moet word en wel met die klem op die aktiewe elemente daarin, d.w.s. dit gaan nie bloot om die passiewe ontvangs van die literêre teks nie, maar veral ook om die reproduksie, verwerking, aanpassing, assimilasie en die gestaltegewing of KONKRETISERING daarvan deur die leser.

Van die belangrikste insigte wat die Resepsie-estetika vooruitgeloop het, is Mukařovský se onderskeid tussen die ARTEFAK EN DIE ESTETIESE OBJEK. Die artefak is die materiële estetiese objek wat gefikseer is, bv. die hoeveelheid drukletters op al die bladsye van die teks. Hierteenoor staan die estetiese objek, wat die voorstelling van die artefak is soos dit in die belewing van die leser gestalte aanneem. Die proses waardeur die leser ‘n artefak omsit in ‘n estetiese objek (of dit realiseer) word konkretisering genoem. ‘n Artefak kan derhalwe tot soveel estetiese objekte aanleiding gee as wat daar lesers is. Ook die begrip verhouding — soos dit deur Mukařovský en ander strukturaliste uitgewerk is — het vir die Resepsie-estetika ‘n belangrike vertrekpunt gevorm. Die Strukturalisme gaan nl. van die veronderstelling uit dat ‘n fenomeen nie in isolasie beskryf kan word nie, maar slegs met behulp van die verhoudings wat dit met ander fenomene het. Die histories georiënteerde Resepsieteorie wil juis ook verhoudings ondersoek, d.w.s. sinchroniese sisteme ontdek en ondersoek. Op hierdie wyse kan *sinchronie en *diachronie in die geskiedskrywing met mekaar versoen word.

Dit is veral Jauss wat op hierdie strukturalistiese vertrekpunte voortgebou het. Hy het hom toegespits op die literatuurgeskiedenis, wat na sy mening nie meer bloot gesien kon word as die geskiedenis van literêre tekste, outeurs en genres alleen nie, maar as ‘n proses van produksie en resepsie waardeur ons te wete sou kon kom hoe ‘n teks by sy verskyning ontvang is en watter uitwerking dit later gehad het. Met sy intreerede, Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft (1970), poneer Jauss sewe stellings aan die hand waarvan hy die volgende vraag wil beantwoord: Hoe kan ‘n literatuurgeskiedenis vandag metodies begrond en nuut geskryf word? Hierdie sewe stellings is elk opgebou rondom die begrip *verwagtingshorison, ‘n kernbegrip vir die Resepsie-estetika.

Met verwagtingshorison, ‘n begrip wat van die sosioloog Karl Mannheim oorgeneem is, bedoel Jauss die verwagting wat ‘n leser van ‘n teks het op grond van (1) die betrokke genrenorme wat aan hom bekend is; (2) sy kennis en ervaring van reeds gelese tekste uit dieselfde tydperk; en (3) die teenstelling teks-werklikheid, of die onderskeid tussen die poëtiese en die praktiese funksie van taal. Die twee hoofverwagtingshorisonne wat Jauss onderskei, is dié een wat in die sisteem van die werk self vervat is en die verwagtingshorison van die lewenspraktyk wat deur die leser in die werk ingedra word.

Jauss het die begrip verwagtingshorison gekonstrueer met die doel om die Iiterêre ervaring, d.w.s. die opname en verwerking van literatuur, objektiveerbaar te maak binne ‘n sisteem van verwagtings. Deur rekonstruksies van verskillende tye se verwagtingshorisonne met mekaar te vergelyk, kan die afstand tussen ‘n ouer teks en die hede, die sg. HERMENEUTIESE verskil, oorbrug word sodat nie-kontemporêre werke vir die hede meer verstaanbaar gemaak word.

‘n Verdere belangrike winspunt wat die begrip opgelewer het, is ‘n meer bevredigende antwoord op die vraag na die Iiterêre waarde van die teks. Volgens Jauss is dit bepalend vir die Iiterêre of estetiese waarde van ‘n teks dat daar ‘n afstand (‘n verskil) moet wees tussen die struktuur van die teks en die verwagtingshorison (d.w.s. die somtotaal van al die verwagtingspatrone) van ‘n leser(sgroep) op die tydstip van die verskyning van die teks. Hierdie afstand noem Jauss die estetiese distansie. Indien daar min of geen estetiese distansie is nie en die teks dus geen noemenswaardige horisonverandering van die leser verg nie, nader die betrokke werk die gebied van die TRIVIAALLITERATUUR, wat slegs die leser se vertroude gevoelens en verlangens bevestig en vervul. (Vgl. ESTETIKA VAN IDENTITEIT EN ESTETIKA VAN TEENSTELLING (OPPOSISIE).)

Dit is duidelik dat Jauss, in aansluiting by Mukařovský, aantoon dat die Iiterêre kunswerk enersyds diachronies, m.a.w. binne die resepsiehistoriese reeks waarin dit tuishoort, benader moet word. Andersyds wil hy die teks ook in die sinchroniese deursnit van sy ontstaanstyd situeer ten einde die komplekse Iiterêre sisteem wat op daardie tydstip gegeld het, te kan beskryf. In van sy latere werk het Jauss ook daartoe gekom om die geskiedenis van die kunswerk te verbind met die kultuurgeskiedenis en maatskaplike ontwikkeling sodat Iiterêre ervaring en lewenservaring nader aan mekaar gebring is.

Verskeie punte van kritiek is teen Jauss se uitgangspunte ingebring, bv. deur die MARXISTIESE literatuurteoretici wat aangetoon het dat Jauss by gebrek aan behoorlike sosiologiese differensiasie die lesers van ‘n bepaalde tyd te homogeen sien. Daar is ook probleme met Jauss se oorbeklemtoning van vernuwingskriteria en met die estetiese distansie wat veel meer gekompliseerd is as wat Jauss dit voorgehou het. Hierdie en ander tekortkominge vereis van Jauss en sy volgelinge veral ‘n noukeuriger begripsbepaling. In hierdie verband kan daar verwys word na (bv.) Karl Mandelkow wat die begrip verwagtingshorison nader getipeer het as outeur-, werk- en genreverwagting.

Waar Jauss se resepsiegeskiedenis hoofsaaklik gerig is op die resepsie van tekste deur werklike lesers, is Iser se arbeid eerder toegespits op die WERKING, d.w.s. die wyse waarop die resepsie gerig word deur bepaalde tekseienskappe en -strategieë, wat as ‘n LESERROL in die teks self beslote lê. Die leserrol wat deur Iser ondersoek word, is die sg. implisiete leser, ‘n ideële of hipotetiese leserrol waarin alle tekstuele aanwysings vervat is waardeur die werklike leser te wete kan kom hoe die teks gelees moet word. (Vgl. LESERTIPES.)

In Iser se bekende werk, Die Appellstruklur der Texte (1970), bou hy voort op Ingarden (en Mukařovský) se siening dat daar geen presiese korrelasie is tussen die fenomeen wat in die Iiterêre teks beskryf word en die objekte in die wêreld van die werklike lewe nie. Hierdie eienskap van “onbepaaldheid” of “vaagheid” is eie aan alle Iiterêre tekste en is juis die aspek wat die leser stimuleer om die teks op sy eie individuele manier te konfronteer en te konkretiseer. Ingarden wys daarop dat dié Unbestimmtheit gemanifesteer word in Unbestimmtheitstellen, ‘n term wat by Iser in ‘n genuanseerde vorm voorkom as Leerstellen of “oop plekke”.

Die oop plekke — ook ‘n kernbegrip vir die Resepsie-estetika — vorm die voorwaarde vir ‘n aktiewe leserrol en vir die noodsaaklike kommunikasie tussen leser en teks. Juis wanneer die oop plekke deur die individuele leesaksie van betekenis voorsien word, kom die unieke estetiese objek telkens tot stand. Oop plekke ontstaan onder meer by die oorgang van een vertelsituasie na ‘n ander, wanneer nuwe personasies of handelinge ingevoer word of wanneer iets nie volledig uitgewerk is in ‘n teks nie (bv. ‘n figuur se uiterlike of die verhouding tussen twee personasies).

Die invulling van die oop plekke geskied nie bloot intuïtief nie; daar is riglyne in die teks beslote wat bepaal hoe die implisiete leser dit moet doen. Omdat die teks dus steeds rigtinggewend en selfs bepalend is vir die rol wat die leser moet vervul, het Iser se teorie kritiek uitgelok van diegene wat na ‘n duidelike breuk met die teksimmanente rigting gestreef het.

In latere werke (Der impliziete Leser, 1972; Der Akt des Lesens, 1976) ondersoek Iser die werklikheid van die teks en die leser m.b.t. die leesaksie/leeshandeling en die konstituering van betekenis. Hy gaan van die standpunt uit dat fiksie ‘n kommunikasiestruktuur is waarin die teks ‘n bepaalde werking of effek het, terwyl die betekenis deur die leser tot stand gebring moet word. In hierdie werke vind Iser veral aansluiting by die SEMIOTIEK en die TAALHANDELINGSTEORIE.

Die verbintenis tussen verskillende literatuurteoretiese benaderings binne die resepsieteorieprogram word ten beste uiteengesit in die volgende stelling van Mukařovský: “The work of art manifests itself as sign in its inner structure, in its relation to reality, and also in its relation to society, to its creator and its recipients” (aangehaal in Fokkema & Kunne-Ibsch, 1979: 143).

Hieruit blyk die semiotiese, strukturalistiese, historiese, sosiologiese, psigologiese en kommunikatiewe aspekte daarvan sodat dit duidelik word waarom interdissiplinêre ondersoeke vir die Resepsie-estetika van kardinale belang is. So ‘n eksperiment is onder meer gedoen deur ‘n Wes-Duitse ondersoekspan bestaande uit sosioloë, psigoloë en literatuurteoretici (Bauer e.a., 1972).

‘n Belangrike vertakking van die Resepsie-estetika wat naas die tekstuele (Iser) en die historiese (Jauss) rigtings verskyn het, is die empiries-eksperimentele tak met Norbert Groeben as een van die hoofverteenwoordigers. Hierdie rigting werk slegs met lewende lesers en slaag daarin om sommige van die konsekwensies van die Resepsie-estetika deur te voer wat nòg Jauss nòg Iser volledig onder oë kon sien. Die rede vir die sukses van hierdie derde vertakking, wat nie sonder tekortkominge is nie, is dat slegs die werklike leser uitsluitsel kan gee oor die juistheid van opvattinge oor die implisiete leser of die verwagtingshorison.

Uit die stroom van resepsiegerigte publikasies wat gedurende die afgelope vyftien jaar verskyn het, kan net nog vlugtig verwys word na Hannelore Link wie se semiotiese benadering binne die Resepsie-estetika ruimte gemaak het vir die ondersoek van die teks as tekendraer. Amerikaanse resepsieteoretici soos Norman Holland, David Bleich en Walter Michaels ken ‘n veel kleiner rol toe aan die teks (as bv. Iser) en toon aan dat betekenis in die leser se “self geleë is en in die “interpretatiewe strategieë” waaruit dit saamgestel is. Stanley Fish wys ook op die belang van groepe lesers as “interpreterende gemeenskappe” wat gesamentlik betekenis toeken aan Iiterêre tekste. Verskeie lesertipes en -rolle word deur hierdie en ander resepsieteoretici onderskei.

Die Resepsie-estetika se kritici het verskeie tekortkominge in die benadering uitgewys en daar bestaan selfs twyfel of dit werklik die nuwe paradigma in die literatuurwetenskap ingelei het waarop sommige aanspraak gemaak het. Desnieteenstaande moet daar toegegee word dat die Resepsieteorie die aandag daarop gevestig het dat die leser ‘n betekenisvolle en selfs fundamentele rol vervul in die literêre proses.

 

Bibliografie

Bauer, W. etal. 1972. Text und Rezeption: Wirkungsanalyse zeitgenössischer Lyrik am Beispiel des Gedichtes ‘Fadensonnen’ von Paul Celan. Frankfurt: Athenäum.

Belsey, C. 1980. Critical Practice. London: Methuen.

Buursink, M., Hupperetz, K., Licher, E., De Roo, K. & Schonau, W. 1978. De wetenschap van het lezen: theorie der literaire receptie. Assen: Van Gorcum.

Cloete, T.T., Botha, E. & Malan, C. (reds.). 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.

De Jong, M. 1983. Die blootgestelde leser: Wolfgang Iser se model van die interaksie tussen teks en leser I. Standpunte 19, 36(2).

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Fish, S. 1980. Is there a text in this class? The authority of interpretive communities. Cambridge: Harvard University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1979. Theories of Literature in the Twentieth Century: Structuralism, Marxism, Aesthetics of Reception, Semiotics. London: Hurst.

Grimm, G. (Hrsg.). 1975. Literatur und Leser: Theorien und Modelle zur Rezeption literarischer Werke. Stuttgart: Reclam.

Groeben, N. 1972. Literaturpsychologie. Literaturwissenschaft zwischen Hermeneutik und Empiric Stuttgart: Kohlhammer.

Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic, and Theory of Literature (transl. G. Grabowicz). Evanston: Northwestern University Press.

Iser, W. 1970. Die Appellstruktur der Texte: Unbestimmtheit als Wirkungsbedingung literatischer Prosa. Konstanz: G. Hess.

Iser, W. 1974. The Implied Reader: Patterns of Communication in Prose Fiction from Bunyan to Beckett. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Iser, W. 1978. The Act of Reading: A Theory of Aesthetic Response. London: Routledge & Kegan Paul.

Jakobson, R. 1960. Linguistics and poetics. In: Sebeok, T.A. (ed.). Style in Language. New York: MIT Press.

Jauss, H.R. 1970. Literaturgeschichte als Provocation der Literaturwissenschaft. In: Jauss, H.R. (Hrsg.). Literaturgeschichte als Provocation. Frankfurt: Suhrkamp.

Jauss, H.R. 1982. Toward an Aesthetic of Reception. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Link, H. 1976. Rezeptionforschung. Einführung in Methoden und Probleme. Stuttgart: Kohlhammer.

Malan, C. (red.). 1983. Letterkunde en leser: ‘n inleiding tot lesergerigte literêre ondersoeke. Durban: Butterwofth.

Mukařovský, J. 1977. The World and Verbal Art. New Haven: Yale University Press.

Roodt, P.H. 1982. Verteller/teks/leser: die driehoeksverhouding in Jaarringe. Tydskrif vir letterkunde, 20(3).

Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Segers, R.T. 1974. Literatuurwetenschap en Receptie-esthetika. De nieuwe taalgids, 67.

Segers, R.T. 1978. Receptie-esthetika: grondslagen, theorie en toepassing. Amsterdam: Huis aan de drie grachten.

Segers, R.T. (red.). 1981. Lezen en laten lezen: recent receptie-onderzoek in Nederland en België. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.

Tompkins, J.O. (ed.). 1980. Reader-response Criticism: From Formalism to Post-Structuralism. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Warning, R. 1975. Rezeptionsasthetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

Raadpleeg ook:

Primêre studies, sommige met inleidings, is die volgende: Bauer e.a. (1972), Buursink e.a. (1978), Grimm (1975), Groeben (1972), Iser (1970, 1974 en 1978), Jauss (1970 en 1982), Link (1976), Segers (1974, 1978 en 1981) en Warning (1975). Vir meer oorsigtelike besprekings, verwysings en enkele toepassings van die Resepsieteorie, kyk Belsey (1980), Cloete e.a. (1985), De Jong (1983), Du Plooy (1986), Fokkema & Kunne-Ibsch (1979), Malan (1983), Roodt (1982), Ryan & Van Zyl (1982) en Tompkins (1980). Ander teoretici na wie verwys is, is Fish (1980), Ingarden (1973), Jakobson (1960) en Mukařovský (1977).

 
Mabel A. Rossouw