Die ridderroman (ridderepiek/ridderverhaal) is ‘n MIDDELEEUSE verhaal wat handel oor die avonture van ridders. Dié GENRE het aan die einde van die 11e eeu in Frankryk ontstaan.
Die ridderroman is aanvanklik in versvorm (PAARRYM) geskryf, maar later in prosavorm. (Vgl. ROMAN.) Die CHANSON de geste, ook Frankiese of Karelroman genoem, is die oudste genre in die ridderroman. Die ridderroman het tot aan die einde van die 16e eeu gewild gebly. Die oudste ridderroman. La chanson de Roland (Roelantslied), dateer uit ongeveer 1080. Karel ende Elegast, een van die beroemdstes, het ongeveer 1250 ontstaan.
Die ontwikkeling van die ridderroman kan in twee fases verdeel word, nl. die voorhoofse (heroïese) EPIEK (waartoe die Roelantslied behoort) en die hoofse (galante) EPIEK. Dié ontwikkeling hang ten nouste saam met die ontwikkeling van die sosiale status van die ridderstand. Gedurende die vroeë Middeleeue het die ridder weinig sosiale aansien gehad. In oorlogtyd moes hy sy landheer (leenheer, vasal) te hulp snel en hy moes te alle tye sorg dat die landheer se kasteel of fort behoorlik weerbaar was. In ruil daarvoor kon hy grond besit. Die ridderromans uit hierdie tyd vertel van die ridder se krag en durf, maar ook van sy ruheid en dikwels wreedheid teenoor vroue. Die ridders was in hierdie tyd in der waarheid taamlik onverfynd. Die ridderroman van die voorhoofse epiek het sy wortels in die Frankiese kultuur en word daarom ook die Frankiese of Karelromans genoem.
Gedurende die 12e eeu het Wes-Europa op materiële gebied vooruitgegaan en in samehang daarmee het die status van die ridderstand gestyg. Hierdie ontwikkeling word in die ridderroman weerspieël. Ridderromans uit hierdie tyd word die hoofse ridderroman genoem. Die ridders word nou as fyn beskaafde mense uitgebeeld. Hulle dapperheid word steeds op idealiserende wyse beklemtoon, maar in teenstelling met die ridder van die voorhoofse ridderroman word die ridders nou as minder brutaal uitgebeeld; die vrou word nou met baie respek behandel. ‘n Ridder stel homself in diens van ‘n vrou — dit is die sg. hoofse liefde. ‘n Ridder aanvaar ‘n queeste (sending of soektog, bv. na die heilige graal of swewende skaakbord) waartydens hy onreg moet bestry of wreek. Sy stryd is dikwels teen die bonatuurlike. As gevolg van die queeste kom die swerwende of dolende ridder dikwels in die ridderroman voor.
Verder speel die FANTASIE ‘n belangrike rol in die ridderroman, daarom kry ‘n mens dikwels swewende skaakborde (vgl. Louis Couperus se roman Hetzwevende schaakbord), magiese swaarde en ander fantastiese gebeure in die verhale.
Die ridderroman het sy bloeitydperk in die tweede helfte van die 12e eeu en in die 13e eeu beleef. Tigges & Van Elslander (1972: 279), in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, beskou die ridderroman as ‘n vorm van ontsnappingsliteratuur “aanvanklijk voor de elite, die er haar eigen ideaalbeeld als een soort alibi voor de realiteit in gereflecteerd ziet, later — en vooral wanneer de boekdrukkunst een grotere verspreiding mogelijk maakt — voor een ieder die uit zijn eigen, al te prozaïsche werkelijkheid wenst te ontsnappen naar de wonderen van een geheel andere wereld, met name die der nooit feitelijk bestaan hebbende ‘Gouden Tijd'”.
Die hoofse ridderroman kan op grond van die herkoms van die stof wat daarin behandel word in drie groepe verdeel word, nl. die Klassieke ridderroman, die Brits-Keltiese ridderroman (waaronder die Arthurromans, die Graalromans en die Amadisromans gereken word) en die Oosterse ridderroman.
Die stof van die klassieke ridderroman is ontleen aan SAGES, FABELS en ander verhale uit die Klassieke Oudheid. Voorbeelde van die klassieke ridderroman is die Roman d’Eneas (ong. 1160), wat deur Veldeke verwerk is as die Eneïde (ong. 1189); dit word deur Knuttel (1940: 32) as die oudste oorgelewerde ridderroman beskou; verder Het prieel van Troyen (13e eeu) deur die Brabander Segher Diergodgaf; Paerlement van Troyen (Segher Diergodgaf se verwerking van Benoit de St. Mores se Roman de Troie); Historie van Troyen deur Jacob van Maerlant en Alexanders geesten, ook deur Maerlant.
Die stof vir die Brits-Keltiese ridderroman is ondeen aan die Keltiese kultuur. Die hoofpersone in die verhale is dikwels koning Arthur en sy ridders. Voorbeelde van Brits-Keltiese ridderromans is Conte de la Charette van Chrétien de Troyes — die verhaal het die ridder Lanseloot as hooffiguur; Wolfram von Eschenbach se Parzival (1210) en Gottfried von Strassburg se Tristan (1200).
Die stof vir die Oosterse ridderroman is ontleen aan die Ooste, veral Bisantium, daarom word dit ook soms die Bisantynse roman genoem. Deur middel van die kruistogte het Wes-Europa in aanraking gekom met die Oosterse beskawing, en op hierdie manier het die Oosterse elemente neerslag gevind in die ridderroman. Kenmerkend van die Oosterse ridderroman is die verwerking van Oosterse “sprokie- en sagemotiewe. Die belangrikste ridderromans in hierdie groep is Partonopeus van Blois en Floris ende Blanchefloer (ong. 1150).
‘n Voorbeeld van Engelse ridderpoësie is Chaucer se “The knight’s tale” uit die Canterbury Tales (1390).
Cervantes se Don Quijote (1605) is ‘n parodie op die Middeleeuse ridderroman, met sy valse voorstelling van die werklikheid, valse ideale, sy elitêre en ontsnappingskarakter.
(Vgl. MIDDELEEUSE LITERATUUR.)
Bibliografie
Duinhoven, A.M. 1982. Inleiding tot sy uitgawe van Karel ende Elegast. Den Haag: Nijhoff.
Ker, W.P. 1931. Epic and Romance: Essays on Medieval Literature. London: Macmillan.
Knuttel, J.A.N. 1940. Ridderverhalen uit de Middeleeuwen. Amsterdam: Elsevier.
Knuvelder, G.P.M. 1961/1968. Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.
Mehl, D. 1969. The Middle English Romances of the Thirteenth and Fourteenth Centuries. London: Routledge & Kegan Paul.
Pleij, H. 1984. Het literaire leven in de middeleeuwen. Culemborg: Educaboek.
Prinsen, J. 1916. Handboek tot de Nederlandsche letterkundige geschiedenis. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.
Prisma Pocket 1984. Ridderverhalen. Utrecht: Het Spectrum.
Schofield, W.H. 1925. Chivalry in English Literature: Chaucer, Malory, Spenser and Shakespeare. Cambridge: Harvard University Press.
Raadpleeg ook:
Janssens, J. 1979. Ridderverhalen uit de Middeleeuwen. Amsterdam: Elsevier.
Na ‘n inleiding oor die (soorte) ridderromans en hulle aard volg daar wegwysers by die interpretasie van die opgenome fragmente uit ridderromans asook ‘n beknopte bibliografie by elkeen.
Janssens, J. D. 1985. Koning Artur in de Nederlanden. Middelnederlandse Arturen Graalromans. Utrecht: H & S.
Gaan in op verskillende belangrike agtergronds- en oorsprongsaspekte en bied ook wegwysers by die interpretasie van die spesifieke soorte ridderromans. ‘n Bloemlesing van fragmente uit verskillende romans en ‘n beknopte bibliografie is ook opgeneem.
Janssens, J.D. 1988. Dichter en publiek in creatief samenspel. Over interpretatie van middelnederlandse ridderromans. Leuven: Acco.
Bied boeiende perspektiewe op die studie van die Middelnederlandse literatuur en op die produksie en resepsie van die ridderromans met verwysing na o.m. die soorte voorkennis wat die digters by hulle publiek veronderstel het. Omvattende bibliografie.
Ohlhoff, C.H.F. 1988. Ridderroman. In: Van der Elst, J., Ohlhoff, C.H.F. & Schutte, H.J. (reds.). Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academics.
Anna-Marie Bisschoff