RYM

In die VERSLEER is rym (Oud-Fr.: rime; Gr.: rhuthmos: afgemete beweging of tyd, vandaar die Engelse spelling rhyme, sedert 1600) die klankooreenkoms tussen bv. ‘n lettergreep of lettergrepe van twee of meer woorde. Volmaakte rym vereis dat die ooreenkoms moet bestaan tussen die klinker en daaropvolgende klank(e) van geaksentueerde lettergrepe van korresponderende woorde, terwyl die klank(e) wat die rymende klinkers voorafgaan, verskillend moet wees. Kat en mat vorm ‘n volmaakte rym omdat die medeklinkers ‘k’ en ‘m’ van mekaar verskil. Ook mat en benat vorm ‘n volmaakte rym, terwyl dit met not en benat nie die geval is nie.

Die rym funksioneer veral in die poësie, maar word ook soms hoorbaar in die prosa en tree dikwels op in RAAISELS, segswyses en spreekwoorde: geld wat stom is, maak reg wat krom is; die oggendstond het goud in die mond; Oos Wes, tuis bes, ens. Die rym verleen aan hierdie gesegdes ‘n sekere slaankrag, heg hulle vas in die geheue en maak van hulle gevleuelde woorde.

Hoewel die rym so nou saamhang met die poësie, is dit nie ‘n sine qua non van die poësie nie. Oor die eeue heen was rymlose verse glad nie ‘n uitsondering nie. (Vgl. VERS LIBRE.) As konstituerende element van reël en STROFE speel dit egter ‘n baie belangrike rol in die Westerse poësie, en in ‘n taal soos Frans is die rym, naas die sillabetal, ‘n wesenstrek van die vers.

Hierbo was sprake van ‘n volmaakte rym. Dit impliseer dat daar ook onvolmaakte ryme bestaan. In werklikheid word daar nog veel meer rymonderskeidings gemaak -– onderskeidings wat eerstens die aard van die rym, tweedens sy posisie in die versreël en derdens sy posisie in die strofe raak.

Wat die aard van die rym betref, word daar van manlike of staande rym gepraat as daar na die rymende lettergrepe in die betrokke woorde geen verdere lettergrepe volg nie (oud x goud, man x beman). Naas manlike rym kry ons vroulike of slepende rym en glydende rym al na gelang daar twee of drie rymende lettergrepe in die saak betrokke raak. Bome en drome vorm ‘n vroulike, lamtietie en damtietie ‘n glydende rym. Rykrym of gelyke rym kom tot stand wanneer die klank wat die rymende klinkers voorafgaan ook ooreenstem (damp x verdamp, kamp x bekamp).

Wanneer twee pare lettergrepe in verskillende woorde (soms ook in een woord, soos bv. vyand x bystand) op mekaar rym, praat ons van dubbelrym, soos in die volgende reëls van Boutens: “Nietmeer hoop ik uit dit schemerduister licht:/Al de heemlen sloten achter uw vervluchten luister dicht.”

Die rym laat hom veral aan die einde van ‘n VERSREëL geld: eindrym. Wanneer die aanvangswoorde van versreëls op mekaar rym, word van beginrym gepraat. En rym ‘n woord aan die einde van ‘n reël op een aan die begin van daardie reël, heet dit binnerym. Soos daar dubbeleindrym bestaan, sou mens ook dubbelbeginrym en dubbelbinnerym kan kry.

Wat die posisie van die rym in die strofe betref: as twee woorde aan die einde van twee onmiddellik op mekaar volgende reëls rym, heet dit paarrym (aa), maar wanneer die eindrym in alternatiewe reëls voorkom, heet dit inhakrym of kruisrym (abab). Die rymrangskikking abba heet omarmende rym, aaa slagrym, abcb gebroke rym en abaabcbccb verslingerde rym.

Tot dusver het dit oor volkome rym gegaan. Indien slegs die medeklinkers of die klinkers van twee lettergrepe ooreenstem, het ons ‘n vorm van halfrym of onvolkome rym. As alleen die klinkers ooreenstem, heet dit assonansie (jas x lat, huil x ruit). Kom slegs die medeklinkers (gewoonlik is dit die beginkonsonante van woorde) ooreen, heet dit alliterasie: “waar die venster/’n Gulde balk van louter luister inlaat”.

Dit spreek vanself dat die rymstrewe tot allerlei poëtiese wanpraktyke aanleiding kan gee. Alle woorde bied nie ewe veel rymmoontlikhede nie, en as die digter dan teen elke prys ‘n rymwoord wil of moet vind, kan dit gebeur dat hy met ongemotiveerde inversies of een of ander vorm van taaldwang vorendag kom of ‘n rymwoord gebruik wat heeltemal uit die toon val of wat die sfeer en stemming van die gedig versteur. Die rym kry dan iets opsetliks. Dit word rymdwang. Dit kan ook gebeur dat die rym in ‘n soort spel ontaard, iets wat meermale in tye van poëtiese insinking voorkom, soos bv. die REDERYKERSTYD in Nederland. Geen wonder nie dat daar soms na swak poësie as rymelary verwys word. Die rym kan maklik in klinkklank ontaard as dit nie langer buite die klankidentiteit om ‘n funksie het nie. Vandaar dat Walter Scott opgemerk het: “Rhyme which is a handcuff to an inferior poet, he who is master of his art wears as a bracelet.”

Die rym kan inderdaad belangrike funksies van ‘n formele én betekenisbepalende aard hê. In digvorme soos die KWATRYN, die SONNET, die Franse BALLADE en die RONDEEL is die rym die bepalende element. In strofiese gedigte vermag die rym veel in die afronding van die strofe tot ‘n strukturele eenheid, en in vaste strofevorme, soos bv. die sg. Chaucerian stanza en die Spenserian stanza in Engels is die rym in hoë mate bepalend.

Verder moet daarop gewys word dat die rym ‘n belangrike faktor is in die bevestiging van die RITME van ‘n versreël.

Meer as een teoretikus (Vestdijk) het ook al daarop gewys dat die rym as die motor van die gedig as ‘t ware die digter se gedagtegang lei en in die gelukkige gevalle ‘n belangrike rymvonds bring wanneer ‘n digter in sy soeke na ‘n geskikte rym op ‘n treffende beeld of siening afkom. ‘n Voorbeeld van so ‘n rymvonds kom voor in die slotreël van die volgende Opperman-kwatryn (“Skuiling”), waar die “vlees en been”, wat ‘n nogal stereotiepe kombinasie is maar wat tog ter wille van die “beenrym” aanvaar moet word, deur die aangrypende siening van die breekbaarheid van die menslike liggaam tot ‘n besondere rym verhef word: “Jy skuil voorlopig in haar veilig teen/die woedes van die weerlig en die reën/maar jy sal aanstons ook besef hoe nietig/ons klein strooisies vlees en been.”

Juis omdat die rym op klankidentiteit berus, kan dit soms ‘n belangrike kontraswerking of dissonante effek hê waar dit woorde van uiteenlopende aard in die rym saamjuk — iets wat meermale bv. in Cloete se werk voorkom, soos in “Vraagteken van die maag” waar anus en angelus, die banale en die sublieme, saamgerym word.

Ook wat die halfryme betref, sal ‘n effektiewe en minder effektiewe aanwending moontlik wees. Soms kan die alliterasie iets van ‘n vernufspel wees. Ander kere kan die klankooreenkoms ‘n belangrike skakel word tussen psigologies-verwante of -kontrasterende woorde, soos in Opperman se “Negester en stedelig” met dié bede aan die slot: “en mag die Suiderkruis en Negesterre witter/as die stedeligte in jou siel bly skitter”.

In die Oud-Germaanse vers het die alliterasie ‘n baie belangrike metries-ritmiese rol gespeel. (Vgl. METRUM.)

Ook die assonansie kan dikwels hoogs effektief funksioneer, soos bv. in Nijhoff se “Awater”, waar die verskillende passasies van die gedig met lank volgehoue assonansies afgebaken word. In ‘n lang gedig soos dié kan volle paarrym op die duur eentonig word, en dan is die halfrym een van die middele wat die digter kan aanwend om die rym enigsins te verdoesel sonder om die struktuurwaarde daarvan op te offer. Nog ‘n middel om die opdringerigheid van die rym te verdof, is die enjambement , wat die gedagtegang en die versbewegings as ‘t ware oor die eindrym been voer – iets wat dikwels in Gorter se Mei en Van Wyk Louw se Raka gebeur. Ook kan die digter nog altyd, indien nodig, by wyse van afwisseling, ‘n onderbetoonde lettergreep in die rymposisie plaas.

Soms kan die afwesigheid van die rym of miskien die geringste suggestie van die rym sinvol en effektief wees, soos in die volgende driereëlige gedig van Van Wyk Louw, waar die teenstelling liefde x haat, goue room x dun weiwater, verlede x hede duidelik opgevang word in die rymteenstelling was x is (wat natuurlik geen rym is nie – tensy ons van grammatikale rym wil praat): “Dat liefde so tot haat kon skif./ Liefde wat tog vol goue room was./ Haat wat sulke dun weiwater is.”

Net so in die volgende Opperman-kwatryn (“In memoriam”) waar die onvolmaakte rym in die slotreël veel doen om die fluisterende Totius-taal ook rymmatig tot werklikheid te maak: “Telkens as hierdie volk van God afdwaal,/ sal hy in Afrika se klip en kaal/ herinner word hoe groot Hy is/ deur die tinktinkietaal van Totius.” Ter wille van dié effek is Opperman bereid om die ideale kwatrynskema prys te gee, en dit in ‘n reeks waarin die gedigte origens almal Persiese KWATRYNE is!

Oor die ontstaan van die rym is daar nie sekerheid nie. Dit het by verskillende volkere waarskynlik op verskillende tye ontstaan, moontlik a.g.v. die bekoring wat klankherhaling vir die oor het, moontlik omdat die mens se gevoel vir balans en ewewig daardeur bevredig word.

By die Grieke en die Romeine het die rym sporadies voorgekom, op plekke miskien heel toevallig. By Vergilius is die volgende voorbeeld aan te toon waar die twee vershelftes van die heksameter rymmatig verbind word (Eclogae 1,3): “Quamvis multa meis // exiret victima saeptis.” (“Al het menige offerdier uit my krale uitgegaan.”)

By ‘n digter soos Ovidius kom dié binnerym heel dikwels voor, bv. in sy Fasti en Tristia, veral dan in die PENTAMETER, maar ook in die HEKSAMETER, soos blyk uit die volgende voorbeeld uit die Ars amatoria (1,59): waar die “sterre” en die “dogters” (nóientjies) so rymmatig gelykgestel word, kan dit, in elk geval by Ovidius, nie toevallig wees nie; ons het hier ‘n bewus aangewende, hoogs funksionele binnerym: “Quot caelum stellas, tot habet tua Roma puellas.” (“Soveel sterre as wat die hemel het, soveel dogters het jou Rome.”)

By Horatius is selfs gepaarde eindrym aan te wys: die pragtige aanvangsreëls van die slot-ode van Boek III: “Exegi monumentum aere perennius/regalique situ pyramidum altius.” (“Ek het ‘n monument opgerig duursamer as brons en hoër as die koninklike bouwerk van die piramides.”)

Voorbeelde van rym is daar dus inderdaad by die Romeine, maar eintlik sou die bewuste beoefening eers later volg. Vestdijk (1950: 87) verskaf hiervoor die volgende rede: “Door het op de achtergrond treden van het strenge metrum verviel toen een van de middelen om de exacte indeling der volzinnen te bewerkstelligen: hier sprong het rijm dus in de bres en nam de functie van het metrum om de versregel in te lijsten of af te ronden over.”

In die Middeleeuse Latynse poësie is ook sporadiese voorbeelde van rym aan te toon. Die vroegste geval wat genoem word, is te vinde in die Instructiones adversus gentium deos (3e eeu) van die Christelike digter Commodianus; ook in die werk van Venantius Fortunatus wat in die 6e eeu Latynse verse aan die Merovingiese hof geskryf het. Meer as een digter van Latynse Christelike LIEDERE het die rym aangewend, en ons kan aanneem dat die erediens, waar dit gaan om sang en die memorisering van woorde, ‘n belangrike rol gespeel het in die vestiging van die rym. Maar ook buite die erediens om sou die rym toenemend die aandag vra. So kry ons bv. die interne rym van die sg. Leoniese vers (glo so genoem na ‘n geestelike digter Leoninus uit die 12e eeu wat die vers beoefen het). As voorbeeld die volgende epitaaf: “Hac sunt in fossa/ Bedae venerabilis ossa.” (“In hierdie graf rus die beendere van die eerbiedwaardige Beda.”)

Mettertyd sou die rym ook in die volkstaal sy intrede doen. As vroegste voorbeeld in Frankryk word genoem die heldedig van Raoul de Combrai (12e eeu), ‘n gedig wat deels van rym gebruik maak. Assonansierym het reeds vroeër en wel in die 9e eeu in Frankryk sy verskyning gemaak.

Die Oergermaanse vers het slegs stafrym geken. Maar in die 9e eeu het die eindrym in Germaans die eerste keer sy verskyning gemaak en wel by Otfrid met sy Evangeliënharmonie. Die vier heffings het hier behoue gebly, maar die alliterasie van die Oergermaanse vers is deur eindrym verdring.

Teen die einde van die 12e eeu was die rym breed gevestig, en hoewel daar later van tyd verset gekom het teen die “tirannie” van die rym, bv. in die 18e eeu onder invloed van die Klassieke, en ook in die 20e eeu, het die rym nooit sy houvas op die poësie heeltemal verloor nie.

 

Bibliografie

Vestdijk, S. 1950. De glanzende kiemcel. ‘s-Graveland: Driehoek.

Raadpleeg ook:

Billey, D. 1984. La nomenclature des rimes. Poetique, 14(57).

Cornulier, B. de 1985. Rime ‘riche’ et fonction de la rime: Le developpement de la rime ‘riche’ chez les romantiques. Litterature, 59.

Harmon, W. 1987. Rhyme in English verse: History, structures, functions. Studies in Philology, 84(4).

Lamping, D. 1985. Probleme der Reimpoetik im 20. Jahrhundert. Wirkendes Wort, 35(5).

Meschonnic, H. & Bedetti, G. 1988. Rhyme and life. Critical Inquiry, 15(1).

Swanepoel, C.B. 1987. Rhyme as a distinctive feature in the Northern-Sotho sonnet. South African Journal of African Languages, 7(3).

 
A.P. Grové