SARKASME

Sarkasme (Gr.: sarkasmos: afgelei van sarkazein, wat letterlik beteken: om vleis op dierlike wyse te verskeur) is ‘n bytende, fel spottende en dikwels honende uitlating. Dit is altyd persoonlik en is bedoel om seer te maak.

Sarkasme maak soms van die IRONIE as tegniese middel gebruik, maar waar sarkasme altyd skerp, bitter van toon en kwaadaardig is, hoef ironie dit nie te wees nie. In ‘n stelling waar die teenoorgestelde gesê word as wat bedoel word: “Koos, jy is bo alle twyfel geniaal”, kan die spreker, deur behoorlike intonasie juis te kenne gee dat Koos onnosel is. Waar die effek van ironie altyd geleë is in dubbelsinnigheid – “agter elke sin (skuil) ‘n ander/ heimliker betekenis” (Van Wyk Louw) – kan sarkasme ook direk wees.

Sarkasme, ook al genoem “the lowest form of wit”, is growwer as ironie – dit ken geen mildheid nie en is ‘n stomp, ongevoelige literêre instrument.

Peter Blum se “bitsige mondwerk” in sy satiriese “Rooinekke op Hermanus” sou as voorbeeld van sarkasme kon dien: hierdie “seksie” (=Rooinekke) .word beskryf as “onwilde, ongewilde/ vasgemeerde, aarde-agterhaalde ryks-/ arende, pensioentrekkers op ou roem,/… hartstog-verleerde, wrok-onbegrypende/ sege-moeg, effens ge-affronteerde/ see-afkykers, agterland-afgekeerdes wat/ hoegenaamd niks nie brandelik begeer”.

In Germanicus (N.P. van Wyk Louw) bevat die volgende dialooggedeelte van Tiberius ‘n voorbeeld van sarkasme. Hy spreek Plancina aan nadat sy teenoor Livia onthul het dat haar man Piso “die spier van verraad” is: “Ag, so. Die nuwe soort Romeinse vrou/ wat Caesar stel bokant haar eie man!/ (Vir Livia) so lief het hulle reeds vir ons – jy praat/ van ‘ons’ vir die rooi Caesars, moeder, lief,/ dat vroue teen hul mans keer.”

In N.P. van Wyk Louw se kritiese geskrifte is daar ook voorbeelde van sarkasme. (Vergelyk praatjies 7, 8, 9 in Rondom eie werk en “Mooi prosa”, in Lojale verset.)

In/deur sy woordkeuse in die volgende strofe in “Hongarye: November 1956” (Tristia) maak Van Wyk Louw ‘n direkte, aggressiewe, bytende, honende aanval op die dekadente Vrye Westerse wêreld – hier verteenwoordig deur Britse diplomate – se reaksie op die Hongaarse tragedie:

Die speel met ritmes die kry end. Die “kre-eer”
van ‘n eie wêreld, dié kry end:
daar borrel net ‘n sliert magjarebloed
in die cocktail van ‘n mister (Eton?) Eden –
(dié met die tande in vooruitgeskowe stellings:
— óns dra nie almal hemel in ons tande! —
voorversiering vir ‘n baie mooi manshoed;
ouer, impotente Joseph Chamberlaintjie,
ouer, maar versigtig, nog rampokkerig genoeg)
en die bloed die krul en vorm “mooi” patrone
óm die kersie: (Begin skud dan!) rooi is mooi.

En in Lina Spies se gedig “By die dood van N.P. van Wyk Louw” (Digby vergenoeg) blyk haar onversluierde verontwaardiging oor die Afrikaanse koerante se destydse hantering van die dood van Van Wyk Louw, wat “die siel van my volk” was:

Die land se grootste digter sterf
en op die koerant se voorblad staan:
All Black is giftig
maar Bokke self nie sleg nie.
Die gees van my land is ‘n voetbal.

Die bedoeling én teiken van hierdie sarkastiese kommentaar word in die slotvers direk gekommunikeer.

 

Bibliografie

Johl, J. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Louw, N.P. van Wyk. 1965. Mooi prosa. In: Louw, N.P. van Wyk. Lojale verset: kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Praatjie no. 7. In: Louw, N.P. van Wyk. Random eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Praatjie no. 8. In: Louw, N.P. van Wyk. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Praatjie no. 9. In: Louw, N.P. van Wyk. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Spies, L. 1971. Digby vergenoeg. Kaapstad: Human & Rousseau.

 
Réna Pretorius