SEEM

Die term seem vorm deel van die elementêre struktuur van betekenis in Greimas se strukturele semantiek. Greimas sluit aan by die werkwyse en uitgangspunte van Saussure en Jakobson, wat onderskei tussen die SIGNIFIANT, ‘n element of teken of groep elemente wat as betekenaar die verskynsel van betekenis moontlik maak, en die signifié, die betekende, dit waarna die betekenaar verwys. Die signifiant en die signifié bepaal mekaar, en die wedersydse betrokkenheid van teken en betekende noem Greimas (1971: 6) die ensemble signifiant: Ihwe (Greimas, 1971: 6) vertaal hierdie begrip met Bedeutungsganzes, om die “totaliteit” van betekenis wat daarin opgesluit lê weer te gee.

Die betekenaar + betekende is dus ‘n betekeniskompleks.

Greimas (1971: 13) aanvaar dat ‘n mens oor ‘n inherente taalvermoë beskik. Hierdie taalvermoë omvat die taalsisteem (die langue in Saussure se terme) en stel die mens in staat om betekeniskomplekse te kan onderskei, verstaan en gebruik. Die begrip betekenis hang vir Greimas nou saam met die bewuswees van teenstellings en onderskeidinge op die beginsel van binêre opposisies. Die mens kan onderskeidinge en teenstellings waarneem en d.m.v. hierdie soort waarneming neem die wêreld vorm en betekenis aan (Greimas, 1971: 13). Waarneming van onderskeidings of teenstellings impliseer dat ‘n mens van minstens twee gelyktydig aanwesige termes – objets bewus is en dat daar ‘n bepaalde verhouding tussen die twee terme bestaan. ‘n Term (‘n teken) in isolasie kan dus nie werklik betekenis dra nie, en die verhouding tussen twee teenoormekaarstaande terme bring die betekenis van albei tot stand.

Vir die elementêre struktuur van betekenis is dit nodig dat daar tussen twee terme ‘n gemeenskaplike faktor bestaan, maar daar moet ook ‘n onderskeid tussen hulle gemaak kan word. Die verhouding tussen twee terme het dus ‘n konjunktiewe en ‘n disjunktiewe aspek: [b] en [p] is albei bilabiale eksplosiewe, maar [b] is stemhebbend en [p] is stemloos. Hierdie verhouding noem Greimas die elementêre struktuur van betekenis, en betekenisvolle eenhede moet op die vlak van hierdie struktuur gesoek word en nie in geïsoleerde of enkele elemente nie. Die taal is nie ‘n sisteem van tekens nie, maar ‘n versameling betekenisstrukture. Hierdie betekenisstrukture kom tot stand d.m.v. die verbande of verhoudinge tussen tekens. Die teken word dus noukeurig bepaal deur die verhoudinge waarin hy staan en dit is hierdie aanspraak op noukeurigheid wat deur die POST-STRUKTURALISME gekritiseer word (Greimas, 1971: 15).

Die noemer wat die gemeenskaplikheid van twee terme aandui, noem Greimas (1971: 15) die semantiese as (S), en hy stel die verhouding (r) tussen twee terme A en B só in ‘n formule voor: A r(S) B.

Die betekenisonderskeiding kan egter verder gekwalifiseer word en S kan as S1 of S2 aangedui word.
A r(S) B: meisie r(geslag) seun
A(S1) r B(S2): meisie (vroulik) r seun (manlik)

Hierdie onderskeidende “betekeniselemente” het Jakobson traits distinctifs (distinctive features, distinktiewe kenmerke) genoem, en dit is volgens Greimas (1971: 17) dieselfde as Saussure se elements differentiels (Saussure, 1960: 121).

Greimas noem die betekenisonderskeidende element ‘n seem. Die begrip lekseem, wat die objektiewe betekenis van ‘n teken (die algemene saak of sake waarna die woord as teken verwys) aandui, hoort dus glad nie by die omskrywing en definiëring van die elementêre struktuur van betekenis tuis nie, aangesien ‘n seem ‘n element van baie verskillende lekseme kan wees. Greimas werk ook met die negatiewe aspek van onderskeiding – die afwesigheid van ‘n bepaalde seem is ook betekenisvol.

Hawkes (1977: 88) verduidelik as volg: “The difference we discern between these basic ‘semes’ involve, at an elementary level, four terms, seen as two opposed pairs, which our ‘structuring’ perception requires us to recognize in the following form: A is opposed to B as -A is to -B. In short, the elementary structure involves recognition and distinction of two aspects of an entity: its opposite and its negation. We see B as the opposite of A and -B as the opposite of -A, but we also see -A as the negation of B.”

Die elementêre struktuur van betekenis van A en B, die teenoorgestelde van A, kan deur die formule A:B: :-A:-B voorgestel word.

In ‘n kommunikasiesituasie is elke seem betekenisvol. Uitgaande van die lekseem (die gedefinieerde betekenis in die woordeboek) is daar verskillende interpretasies en betekenisvariasies moontlik t.o.v. die seem in ‘n konteks. Daar is egter volgens Greimas (1971: 38) iets soos ‘n permanente seemkern vir elke lekseem, en hierdie permanente seem-minimum is ‘n invariant. Die betekenisvariante is dus enersyds van die seemkern en andersyds van die konteks afhanklik. Alle variante van ‘n bepaalde seem stem semanties ooreen met die seemkern, maar die semantiese waarde van die variant word deur die konteks bepaal. Die kombinasie van die kontekstuele seem (Cs) en die seemkern (Ns) noem Greimas ‘n semeem (Sm): Ns+Cs=Sm. Die kontekstuele seem word ‘n klasseem genoem en staan nie net in ‘n disjunktiewe en konjunktiewe verhouding tot die seemkern nie, maar is ‘n semantiese variant van die seemkern (Greimas, 1971: 43, 45). ‘n Klasseem kan, afhangende van die konteks, meer as een betekenisvariant van die seemkern oproep, wat beteken dat klasseme meerduidige betekenis kan vertoon. Hierdie feit lei daartoe dat Greimas (1971: 85―86) reekse verwante klasseme sien as die konkrete realisering en manifestering van betekenislae wat variasies van bepaalde seemkerne is. So ‘n betekenisvlak word ‘n isotopie genoem.

Die isotopie is die vaste (“permanente”) klasseembasis wat hiërargies vooropgestel word in ‘n taalteks. Omdat so ‘n reeks klasseme ‘n PARADIGMA tot stand bring, skep dit die moontlikheid vir variasies in spesifieke eenhede in die teks. Die variasies versteur glad nie die isotopie nie, maar bevestig dit juis by wyse van onderskeiding en verskil (Greimas, 1971: 86).

Die seme en klasseme is gedefinieer op grand van die wyse waarop hulle in die kommunikasiesituasie gemanifesteer word. Seme word gevind in lekseme en klasseme in sintaktiese eenhede, waar ‘n sintaktiese eenheid uit ‘n verbinding van minstens twee lekseme bestaan.

Waar die taal op SEMIOTIESE vlak as tekenstelsel geanaliseer kan word en op semantiese vlak betekenisvol is, is die semeem die gemanifesteerde kombinasiepunt van die twee outonome vlakke waarop taal (langage) bestaan.

Vir Greimas is seemanalise op semiotiese vlak die eerste taak van die strukturele semantiek. Die semantiese vlak waarop die seemvariante as klasseme en as sememe gerealiseer word, word dan ook ondersoek.

Hy probeer om twee outonome vlakke van taal (taal as totaliteit, d.w.s. langage) te onderskei en te skei, die semiotiese en die semantiese vlakke. Hierdie twee vlakke is ‘n ineengeskakelde geheel en in die elemente van die geheel val die twee vlakke saam. Die elemente is manifesteringseenhede wat verskeie dimensies konstitueer en terselfdertyd betekenis moontlik maak (Greimas, 1971: 47).

Greimas se seemanalise is deur Hugo (1981) toegepas op Eybers se gedig “Slot” (in Balans, 1962), waarop ‘n hele polemiek gevolg het oor sy interpretasie en die mate waarin daar in die vers “die sagte woord krys soos ‘n honger raaf” sprake kan wees van ‘n versoening van die opposisie tussen man en vrou in die gedig. Hugo se teenstanders was Britz, Conradie en Van Zyl (vgl. Standpunte 159,162, 168 en 171). ‘n Meer onlangse voorbeeld van ‘n seemanalise is Engelbrecht (1986).

 

Bibliografie

Engelbrecht, E. 1986. “Bitterlig”: ‘n struktureel-semantiese analise. In: Senekal, J. (red.). Teks-leser-konteks. Johannesburg: Perskor.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik: autorisierte Übersetzung aus dem Französischen von Jens Ihwe. Braunschweig: Vieweg.

Hawkes, T. 1977. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Hugo, D.J. 1981. Slotsom oor ‘n Eybersgedig. Standpunte, 34(6).

Saussure, F. de. 1960. Course in General Linguistics. London: Owen.

Senekal, J. (red.). 1986. Teks-leser-konteks. Johannesburg: Perskor.

Raadpleeg ook:

Culler, J. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge and Kegan Paul.

Schleifer, R. & Norris, C. 1987. A. J. Greimas and the Nature of Meaning: Linguistics, Semiotics and Discourse Theory. Lincoln: University of Nebraska Press.

 
Heilna du Plooy