‘n Spreuk (Gr.: paroimia, ainos) is ‘n segswyse wat ‘n didaktiese en soms ook ‘n moraliserende of godsdienstige strekking het, bv.: “die mens wik, maar God beskik”. Dit is gewoonlik anoniem van oorsprong. Die spreuk tel ook onder die eenvoudige vorme van die literatuur of die Klein-Dichtung soos Robert Petsch dit genoem het (vgl. Meertens (1974) in Moderne encyclopedic der wereldliteratuur). (Vgl. EINFACHE FORMEN.)
Tower- en wysheidspreuke is van die oudste bestaande spreuke. Die spreuke word gekenmerk deur ‘n ernstige toon. Die spreuke van Salomo in die Bybel kan as wysheidspreuke beskou word. Volgens Preminger (1979: 680) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics, is spreuke van die oudste voorbeelde van poësie in Sanskrit, Hebreeus, die Germaanse en Skandinawiese literatuur.
Spreuke kom sedert die vroegste tye oral in huise voor, bv. op die balke of op gebruiksartikels. Dit word huisspreuke genoem. Weerspreuke voorspel die weer.
Die spreuk is mondeling oorgelewer maar is ook skriftelik bewaar.
Spreuke kan die vorm aanneem van ‘n METAFOOR, teenstelling, woordspel of dit kan in rymvorm wees. Dit word ook dikwels van een taal na ‘n ander oorgedra.
Die spreuk dek ‘n wye verskeidenheid onderwerpe, bv. die weer, rate, bygelowe, die landbou, ens.
In die laat Middeleeue het die Spruchdichtung of spreukpoësie in die Duitse literatuur voorgekom. Dit is gedigte wat uit een strofe bestaan en ‘n didakties-moraliserende en godsdienstige strekking het. Meertens (1974: 185) noem dit ‘n primitiewe vorm van die LEERDIG. Walter von der Vogelweide was ‘n baie produktiewe liriese spreukdigter. Ander bekende liriese spreukdigters is Reinmar von Zweter en Heinrich von Meissen.
Die AFORISME is ‘n vorm van die spreuk. (Vgl. EINFACHE FORMEN.)
Anna-Marie Bisschoff