STORIEGRAMMATIKA

Die idee van ‘n grammatika vir verhale kan teruggevoer word tot by Propp (1971) en sy navolgers soos Bremond (1977), Greimas (1971) en Todorov (1977). Ook die werk van Tomaševskij (1965) en Jolles (1956) kan gesien word as pogings om die struktuur en werking van verhale te beskryf soos wat ‘n grammatika die struktuur en werking van ‘n taal beskryf. Teun van Dijk se teksgrammatika beskryf die taalkundige en literêre eienskappe van bepaalde soorte TEKSTE om nie net die struktuur en werking binne ‘n teks te kan analiseer nie, maar ook om die onderskeid tussen soorte tekste te weerspieël. Sy teksgrammatika sou dus ‘n verhaalgrammatika en tipologiese onderskeidinge insluit (Van Dijk, 1976a, 1976b).

Die vertaling en gevolglike herontdekking van Propp se morfologiese analise van honderd Russiese sprokies in 1956, en die ontwikkeling van die transformasioneel generatiewe grammatika in dieselfde tydperk, was belangrike prikkels in die ontwikkeling van die storiegrammatikas in Amerika. Die sg. story grammar waaroor dit hier gaan, is basies ‘n Amerikaanse produk.

Die wetenskaplikes wat hulle met die ontwikkeling van storiegrammatikas besig hou, wil slegs die verhalende deel van ‘n teks beskryf om sodoende die struktuur en die werking van stories te kan ontleed.

Hulle werk net met stories en bemoei hulle glad nie met die verhouding tussen stories en ander soorte tekste nie, ook nie met die verhouding tussen die storiedeel van die teks en ander elemente of aspekte van die teks nie. Die terrein van ondersoek word dus vereng, en abstrakte dinge soos die artistieke aard en gehalte van ‘n verhalende teks vind geen plek in hierdie konkrete en pragmatiese soort ondersoek van stories nie. ‘n Mens kan hier slegs van stories en storiegrammatikas praat, want slegs daardie elemente van ‘n teks wat ‘n reeks opeenvolgende gebeurtenisse beskryf, word in die storiegrammatika betrek.

Chomsky se transformasioneel generatiewe grammatika het ‘n groot invloed op die ontwikkeling van die storiegrammatikas in Amerika (De Beaugrande, 1982: 386―387). Waar Van Dijk (1976a) ‘n verhaal as ‘n TAALHANDELING beskou en darem nog van die ander variante elemente in die kommunikasiesituasie kennis neem, is die opstellers van die storiegrammatikas, a.g.v. die navolging van Chomsky se linguistiese werkwyse, baie meer beperk en rigied in hulle analise van stories.

Van Chomsky kom die idee om ‘n grammatika op te stel wat reëls aanbied waardeur basiese eenhede of frases (strings) beskryf kan word en waardeur die basiese eenhede in ‘n omkeerbare proses getransformeer kan word na meer komplekse strukture. Die grammatika is vir Chomsky (De Beaugrande, 1982: 386) “a statement of the integrative processes and generalized patterns imposed upon the specific acts that constitute an utterance” en die grammatikale reëls is “selective mechanisms involved in the production of a particular utterance”. Die grammatika gee ‘n sinvolle strukturele beskrywing van die taalstrukture, maar wil geen verklarings van die taalverskynsel as sodanig of die betrokke menslike gedragspatrone gee nie. Hierdie siening lei tot een van die belangrikste probleme van formele grammatikas – die doel is ‘n formele weergawe van menslike taal, maar dikwels word dit ‘n suiwer analitiese tegniek waarin data gemanipuleer en geklassifiseer word. Dit is en bly ‘n probleem om ‘n formele grammatika te versoen met menslike vermoëns, omdat grammatikas deduktief werk en rondom formele definisies gebou word, terwyl studies van menslike vermoëns slegs deur induksie en m.b.v. empiriese demonstrasies gedoen kan word (De Beaugrande, 1982: 387).

Volgens De Beaugrande (1982: 387) moet daar in die teorie van storiegrammatikas oor twee sentrale sake uitsluitsel gegee word:

“First, we must consider whether a grammar can and should imply or assert the independence of structure from content … Second, we must consider whether formal rules are justifiable only if they claim to represent the structure-building operations carried out by human processors.” Die eerste probleem gaan daaroor dat ‘n grammatika vanselfsprekend bestaan uit ‘n stel kategorieë waarvolgens elemente geklassifiseer kan word, en uit ‘n stel reëls waarvolgens elemente georden word. Die vraag is of hierdie kategorieë en reëls gedefinieer kan word in terme van inhoud, en of sulke definisies sal verskil van definisies in terme van struktuur. As, in die tweede geval, die mens as die prosesseerder van die stories gesien word, sal die storiegrammatika voortdurend aangevul moet word soos wat die empiriese data vermeerder deur die ontstaan van nuwe stories.

Resente storiegrammatikas gaan dus verder as ‘n blote isolering van eenhede en stel reëls op waarvolgens opeenvolging in reekse geskied. Transformasies en grammatikale reëls speel ‘n belangrike rol, en die probleem van die verhouding tussen struktuur en inhoud word op verskillende maniere opgelos (vgl. De Beaugrande, 1982).

As voorbeeld van ‘n storiegrammatika kan ‘n mens kyk na die werk van Gerald Prince. Prince wil sy grammatika van stories gebruik om stories formeel te beskryf, om die aard van stories beter te verstaan, om ‘n tipologie van stories op grond van strukturele eienskappe op te stel, om VOLKSVERHALE én gesofistikeerde verhale struktureel te kan ondersoek, om ‘n bydrae te maak tot die analise van dink- en leerprosesse, en uiteindelik om meer te weet van die mens. Prince bly relatief na aan die literatuur, en in sy latere werk inkorporeer hy die storiegrammatika in ‘n NARRATOLOGIESE teorie wat op literêre verhale van toepassing is. Hierteenoor is die doel van baie ander storiegrammatikas eksplisiet nie-literêr, omdat dit vanuit ander wetenskappe ontwikkel en op gebruik in ander wetenskappe gerig is (vgl. Journal of Pragmatics, 6, 1982).

Prince (1973: 5) se oogmerk met die opstel van ‘n grammatika vir stories is soos volg: “In this study I attempt to show that a finite number of explicit rules could account for the structure of all the sets and only the sets which are generally and intuitively recognized as stories.”

So ‘n storiegrammatika moet duidelik wees, dit moet ‘n stel reëls aanbied waardeur stories gegenereer kan word, dit moet op alle verhale, maar ook op alle moontlike verhale van toepassing wees, dit moet volledig wees en dit moet ‘n gebruiker in staat stel om te onderskei tussen dit wat ‘n storie is en dit wat nie ‘n storie is nie.

Prince aanvaar dat alle mense in staat is om stories te vertel, hoewel almal nie goeie stories kan vertel nie. Mense is ook intuïtief daartoe in staat om ‘n storie te herken as ‘n storie, en hierdie vermoë word aangetref by mense van alle volke en tale. Omdat ‘n storie in meer as een medium vertel kan word, is die definisie van ‘n storie nie aan ‘n bepaalde medium gekoppel nie, d.w.s. nog die aard (beeld of klank) nog die vorm (sekere sinne in sekere taal) van die weergawe van ‘n storie speel ‘n rol in die definisie van ‘n storie as sodanig. Omdat ‘n storie oor enige onderwerp kan handel en enige tema kan hê, kan ‘n storie ook nie gedefinieer word as ‘n storie op grond van die betekenis van die storie as geheel nie.

Om ‘n storie te beskryf, te analiseer en te definieer, bekyk Prince die kleinste verhalende eenheid in ‘n storie. So ‘n eenheid word onderskei op grond van die inhoud daarvan, en dit bestaan uit ‘n “string” simbole wat daardie inhoud weergee, bv. “Jan is gelukkig” of “Jan eet ‘n peer”. In sommige stories kan die simbole beelde wees, of prentjies in ‘n strookprent, maar vir ons doel is dit woorde, dus taal.

Enige betekenisvolle simbool of string simbole (in ons geval woorde, dus taalsimbole) word as ‘n eenheid of element van ‘n storie beskou. Proposisies is eenhede, maar ook tydsaanduidings (“toe”, “lank gelede”), verbindingsbegrippe (“en”, “maar”), bywoordelike bepalings (“as gevolg van”), ens. word as eenhede beskou.

‘n Groep of versameling van sulke eenhede is nie noodwendig ‘n storie nie, maar ‘n reeks betekenisvolle eenhede wat bepaalde eienskappe vertoon en volgens sekere patrone gerangskik is, kan intuïtief as ‘n storie herken word, omdat die reëls waarvolgens ‘n storie funksioneer deur mense geïnternaliseer is (as ‘n inherente vermoë en deur die aanleer van algemeen-menslike gedragspatrone). Prince (1973: 15) sê: “A grammar of stories should describe and account for all such groups.”

Prince definieer die basiese eenhede van sy grammatika noukeurig. Hy noem die inhoudseenheid ‘n event, wat ‘n mens by gebrek aan ‘n geskikter woord ‘n gebeurde kan noem.

Prince (1973: 17) omskryf hierdie begrip soos volg: “I shall call event in a story any part of that story which can be expressed by a sentence, where a sentence is taken to be the transform of at least one, but less than two, discrete elementary string.” “Die man sien die seun” is bv. een gebeurde, terwyl “Die seun, wat hier is, is gaaf’ twee gebeurdes aandui, nl. “Die seun is hier” en “Die seun is gaaf.

Gebeurdes word aaneengeskakel deur bindingsfaktore soos “en”, “toe”, “as gevolg van”, “met die resultaat”, ens.

Die volgende belangrike begrip is die minimale storie. Deur te kyk na die inhoudelike verband tussen gebeurdes, die temporele verhouding tussen die sake waarna die gebeurdes verwys en die werklike volgorde van gebeurdes, deur in ag te neem dat ‘n storie altyd die omkering van een of ander gebeurde insluit en dat ‘n storie ‘n einde het, en deur gebeurdes as óf dinamies óf staties (active of stative) te beskryf in ‘n reeks gebeurdes wat intuïtief as ‘n storie herkenbaar is, beskryf Prince (1973: 31) ‘n minimale storie: “A minimal story consists of three conjoined events. The first and third events are stative, the second is active. Furthermore, the third event is the inverse of the first. Finally, the three events are conjoined by three conjunctive features in such a way that (a) the first event precedes the second in time and the second precedes the third, and (b) the second event causes the third.”

Deur elkeen van hierdie begrippe met ‘n simbool aan te dui en deur toevoegings tot die simbole die verhoudinge van chronologie, omkering, kousaliteit of posisie in die storie aan te dui, stel Prince ‘n aantal reëls op wat as formules die moontlikhede van minimale stories aandui. ‘n Minimale storie kan gevolglik deur ‘n diagram bestaande uit simbole voorgestel word, en so ‘n boomdiagram sal dieselfde wees vir alle minimale stories, al verskil die werklike inhoud van die stories.

Die beginsel waarop die diagram werk, moet miskien nader omskryf word. Die minimale storie (M St) word herskryf as M St – E + CCL + E + CCL + E, waar E ‘n gebeurde is en CCL ‘n groepie bindingsfaktore. E, die gebeurde, kan dan verder herskryf word as E stat of E act, en # dui die posisie van die gebeurde aan. Prince (1973: 34―35) gee twaalf sulke reëls, waarvan die eerste vyf algemene strukturele eienskappe weergee en die laaste agt uitdrukkingsreëls is wat aantoon hoe die basiese eenhede in taal uitgedruk kan word.

Waar die minimale storie uit drie gebeurdes opgebou is, ontstaan ‘n eenvoudige kernstorie as daar meer as drie gebeurdes onderskei kan word. In ‘n eenvoudige kernstorie bly die chronologiese volgorde van die gebeurdes behoue. As daar ‘n gebeurdes in ‘n eenvoudige kernstorie voorkom, vorm drie daarvan ‘n minimale storie, wat Prince die verhalende gebeurdes noem. Die verhouding tussen die totale aantal gebeurdes en die minimale storie se drie gebeurdes bepaal die “narrativity” van die storie, d.w.s. as daar tien gebeurdes in ‘n eenvoudige kernverhaal voorkom, is die narratiwiteit laag, want slegs drie is waarlik verhalend. Die aantal statiese of dinamiese gebeurdes gee die storie ‘n oorwegend dinamiese of oorwegend statiese karakter. Prince onderskei ook tussen gebeurdes en episodes. ‘n Episode verwys na ‘n bepaalde temporele stadium van ‘n storie. “Jan is gelukkig en Jan is ryk” is een episode, hoewel daar twee gebeurdes onderskei kan word. Daar word sekere restriksies verduidelik waardeur temporele opeenvolging en die soort en aantal bindingsfaktore beskryf word. Die eenvoudige kernstorie bestaan dus uit “n conjoined episodes, where n ≥ 3 and where any episode consists of one or more events” (Prince, 1973: 45).

Prince (1973: 49―51) beskryf 28 reëls wat geld t.o.v. eenvoudige kernstories, en gee twee boomdiagramme om die struktuur van sulke stories weer te gee.

Die 28 reëls van eenvoudige kernstories vorm ‘n basiese storiegrammatika wat Prince ‘n grammar, G, noem, maar hulle kan nie die struktuur van alle stories beskryf nie. Wanneer die chronologie versteur word deur terugflitse of vooruitskouings, moet ander reëls bygevoeg word. Sekere belangrike gebeurdes kanselleer ook soms ander minder belangrike gebeurdes of bindingsfaktore uit. Die essensiële gebeurdes is kode-eenhede en vorm die KODE van die storie. Al hierdie eienskappe moet in nuwe bykomende reëls beskryf word, want sulke stories is meer gekompliseer as minimale stories. Prince noem sulke stories eenvoudige stories.

Prince (1973: 63) beskryf ‘n eenvoudige storie as ‘n storie wat nie meer as een minimale storie bevat nie en waarin die gebeurdes nie noodwendig chronologies op mekaar volg nie.

Die reëls wat nodig is om sulke stories mee te beskryf, is transformasies, omdat hulle ‘n verandering in sekere simboolstringe teweegbring. Sulke transformasies is enkelvoudig van aard, en deur die basiese reëls (G) en die transformasies kan enige eenvoudige verhaal beskryf word.

Op dieselfde manier ontleed Prince komplekse stories, ‘n Komplekse storie bestaan uit meer as twee eenvoudige stories. Daar bestaan een of ander verband tussen die eenvoudige stories waaruit die komplekse storie opgebou is. Daar kan bv. een ooreenstemmende verhalende gebeurde in die verskillende eenvoudige stories voorkom, of die eenvoudige stories kan inhoudelik bymekaar pas deurdat die protagonis of die tema ooreenstem. Sulke verbande bewerkstellig binding in die komplekse storie. Daar is egter ander faktore soos die konteks, wat moeilik definieerbaar is, maar wat ‘n groot rol speel in die samehang van die komplekse storie.

Daar bestaan ook verskillende patrone waarvolgens eenvoudige stories verbind word, nl. deur stories lineêr aaneen te skakel, deur stories in mekaar in te bed en deur stories alternerend aan te bied.

Hierdie eienskappe maak dit nodig om nog meer transformasies in die grammatikale reëls in te skryf, en hierdie transformasies word algemene transformasies genoem, omdat hulle op meer as een string simbole (dus meer as een verhalende sin) tegelyk inwerk. Daar kan m.b.v. al hierdie reëls ‘n boomdiagram van ‘n komplekse storie getrek word.

Prince (1973: 84 e.v.) herskryf die storie van Rooikappie volgens sy grammatikale simbole. Daarna rekonstrueer hy die storie uit sy skematiese weergawe. Die resultaat is ‘n storie wat identies is aan die oorspronklike wat informasie en struktuur betref, maar stilisties is die twee weergawes totaal verskillend. Vanselfsprekend word die boomdiagramme wat die stories beskryf, al hoe ingewikkelder soos wat die stories komplekser raak.

(Vir kommentaar op die storiegrammatikas vgl. Du Plooy, 1986: 234―238.)

 

Bibliografie

Bremond, C. 1977. De logika van narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. Tekstboek Algemene literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

De Beaugrande, R. 1982. The story of grammars and the grammar of stories. Journal of pragmatics, 6.

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Jolles, A. 1930/1956. Einfache Formen. Halle: Niemeyer.

Prince, G. 1973. A Grammar of Stories. The Hague: Mouton.

Prince, G. 1982. Narratology: The Form and Functioning of Narrative. New York: Mouton.

Propp, V. 1968/1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

Tomaševskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.

Van Dijk, T.A. 1976a. Philosophy of action and theory of narrative. Poetics, 5.

Van Dijk, T.A. 1976b. Narrative macrostructure. PTL: A Journal for Descriptive Poetics and Theory of Literature, 1.

Raadpleeg ook:

Boueke, D. 1988. ‘Story Grammars’: Zur Diskussion um ein erzahlstrukturelles Konzept und seine Konsequenzen fur die Erzahldidaktik. Wirkendes Wort. Deutsche Sprache und Literatur in Forschung und Lehre, 38(1).

Lee, S. 1984. A Review of Story Grammars. Language Research, 20(3).

Planalp, S. 1986. Scripts, Story Grammars, and Causal Schemas. In: Ellis, D.G. & Donohue, W.A. (eds). Contemporary Issues in Language and Discourse Processes. Hillsdale, NJ: Erlbaum.

 
Heilna du Plooy