Swart Suid-Afrikaanse literatuur bevat ‘n indrukwekkende mondelinge tradisie wat in estetiese skoonheid en simboliese verwikkeldheid vergelykbaar is met die rykste volksliteratuur ter wêreld. Hierbenewens het moderne geskrewe swart literatuur op die vasteland van Afrika, in die 19e eeu in die Oos-Kaap onder Xhosa-sprekendes begin. Voeg hierby die besondere vroeë prestasie van Thomas Mofolo, wat met sy roman Chaka, oorspronklik in Sotho geskryf, reeds in die eerste kwart van die 20e eeu ‘n werk van wêreldstatuur lewer, dan mag dit voorkom asof die ontwikkeling van inheemse literatuur ongehinderd in Suid-Afrika floreer. Nadere ondersoek onthul egter ‘n meer gekompliseerde realiteit. Byvoorbeeld, die feit dat daar in publikasies soos hierdie spesifiek ruimte afgestaan word aan die kategorie “swart literatuur” behoort die leser se aandag te vestig op die problematiese rassebeskouinge wat feitlik alle plaaslike literêre DISKOERS onderlê. Hierdie diskoers met sy hiërargiese, uitsluitende, marginaliserende en repressiewe imperatiewe werk meermale in sy mees negatiewe dinamika in op die produksie, interpretasie en EVALUERING van inheemse swart literatuur.
Die literêre korpus wat onder die term “swart” geklassifiseer kan word, strek oor ‘n verskeidenheid tale, etniese groepe en al die gevestigde, sowel as onbekende literêre GENRES. Die verwarring en wanvoorstellinge wat selfs met goeie bedoelings in die verband kan ontstaan, noodsaak dat daar van meet af klaarheid verkry moet word oor die sleutelbegrip “swart” en die literêr-tematiese sowel as sosio-kulturele implikasies daarvan vir die literatuur wat hier onder die loep geneem word.
Die kleurverwysing “swart” word hier, in aansluiting by Richard Rive (1982: 12), nie as ‘n etniese of rassekategorie gebruik nie maar as ‘n sosio-politiese konsep. Dit identifiseer al die bevolkingsgroepe wat deur statutêre diskriminasie stemreg in Suid-Afrika geheel en al ontsê is: Dit sluit ook groepe in, soos die Indiër- en bruingemeenskappe, wat onderworpe is aan rassediskriminasie en wat in die tagtigerjare ondergeskikte en beperkte toegang tot aspekte van politieke besluitneming binne ‘n gesegregeerde staatsbestel gegun is. Anders gestel, “swart” omvat die hele Suid-Afrikaanse bevolking met uitsondering van die polities bevoorregte seksie wat as “blank” geklassifiseer word. Literêr gesien, sluit dit die orale en geskrewe taalkunswerke in van die San- en Koikoitale sowel as Xhosa, Zulu, Tswana, Noord- en Suid-Sotho, Swazi, Venda en Tsonga. Werke in Engels en Afrikaans deur lede van die swart gemeenskappe word ook hierby ingesluit. Hierdie wye inheemse spektrum, aangedui deur taal, word verder aangevul deur die skryfwerk van uitgeweke swart Suid-Afrikaners.
Die implikasies van hierdie breë, dog ironies beperkte benadering is nie ‘n voortsetting of ‘n variasie van die bekrompe IDEOLOGIE en praktyk van rasseskeiding wat sedert die vyftigerjare op die Suid-Afrikaanse samelewing afgedwing is nie. Dit is ook nie ‘n reproduksie of bestendiging van die kulturele afkamping en hiërargiese patrone, met die gebruiklike onderliggende rassisme wat uit behoudende oorde op die Suid-Afrikaanse letterkunde van toepassing gemaak word nie. Dit is veel eerder ‘n eerste stap in die rigting van ‘n meer inklusiewe benadering tot die Suid-Afrikaanse letterkunde as ‘n geheel. Om klem te lê op swart literatuur, is volgens Njabulo Ndebele (1989: 19), ‘n manier om die totaliteit te suggereer, wat deur vooroordeel, repressie en selektiewe bevoorregting verwaarlosing van die literatuur van die meerderheid tot gevolg gehad het. Derhalwe word die begrip swart so omvattend as moontlik toegepas.
Die basis vir hierdie inklusiwiteit, soos aangedui deur Couzens en White (1984), is verder opgesluit in die postulaat dat Suid-Afrikaners, ongeag bestaande rasse-onderskeidings en hul korrelerende ongelykhede, ‘n gemeenskaplike ekonomiese en geo-politiese konteks het. Dit impliseer dat daar heelwat oorvleuelings en kontraste tussen die literature in die verskillende tale voorkom wat dui op ‘n immanente koherensie. Die raamwerk hiervan is reeds uitgestippel in onlangse meertalige poësiebundels soos SA in Poësie/SA in Poetry (1989) saamgestel deur Johan van Wyk, Pieter Conradie en Nik Konstandaras, asook The Penguin Book of Southern African Verse (1989) geredigeer deur Stephen Gray.
Die samehang wat hier ter sprake is, spruit nie slegs uit die gemeenskaplike konteks en die verbandhoudende temas nie, maar ook uit die onderlinge verwantskappe van die inheemse tale en die feit dat swart skrywers ook werk in Afrikaans en Engels lewer. As verder in ag geneem word dat blankes die eerste dramas in Sotho en Xhosa geskryf het, en in baie gevalle ten nouste betrokke was by die ontstaan van swart geskrewe literatuur, dan is die streng skeiding tussen “wit” en “swart” literatuur in Suid-Afrika ietwat absurd.
Die kritiese verantwoordelikheid wat ‘n ondersoek van swart literatuur dus in die verband veronderstel, word deur Njabulo Ndebele (1986: 52) so verwoord: “Any work that attempts to reveal and study the contribution of Africans to the complex history of South Africa is, by definition subversive. The official history of repression cultivates silence and distortion in this area. Anyone setting out to map this contribution should be aware of the enormity of his or her responsibility. What is needed is the work of radical restoration, not just information but also the most profound revelation of meaning.”
Hoewel hierdie inset weens ruimte nie naastenby aan die hoë eise wat hierbo gestel is kan voldoen nie, is die uitgangspunt nietemin om, op selektiewe dog verteenwoordigende wyse, die aard en ontwikkeling van swart literatuur uit te kaart in verhouding tot die historiese, kulturele en literêre kontekste waarmee dit verweef is. Hierdie taak kan bespoedig word deur ‘n oorname, aanpassing en uitbreiding van Rive (1982: 12) se gedeeltelike periodisering van swart literatuur vanaf 1228 tot in die laat sewentigerjare. Deur weg te doen met Rive se tendens om op lukrake wyse literêre skole te identifiseer en om Engels te bevoorreg, sal daar ruimte geskep word vir ontwikkelings voor die ontstaan van geskrewe literatuur in die vroeë 19e eeu, asook vir tendense in die onlangse tagtigerjare. Hieruit kom die volgende PERIODISERING tot stand:
- Die tradisionele *mondelinge literatuur.
- Die ontstaan van ‘n geskrewe literatuur: 1820—1920.
- Die vroeë stedelike literatuur: 1920—1942.
- Die vroeë protes- en revolusionêre literatuur: 1942—1970.
- Die latere protes- en swartbewussynsliteratuur: 1970—1982.
- Die onlangse werkers- en weerstandsliteratuur: 1985 tot hede.
Die voorgestelde periodisering is hoogstens ‘n handige raamwerk en nie ‘n finale selfgenoegsame en rigiede indeling nie. Omdat daar hier, soos in alle literature, oorvleuelings en ‘n kontinuïteit van temas aangetref word, is sodanige periodisering altyd tentatief. Die verskynsel van temas wat tot ‘n bepaalde historiese konteks hoort, maar eers heelwat later in druk verskyn, is ‘n verdere rede waarom chronologiese indelings handig maar voorlopig is. Die literêre produksie wat binne hierdie raamwerk val, word in die oorsig beperk tot die skeppende literatuur met slegs tersaaklike verwysings na ander literatuur.
Die breë ontwikkeling van swart literatuur kan saamgevat word in vier hooftendense, nl.: ‘n mondelinge pre-industriële landelike literatuur; die ontstaan van ‘n Christelike moralistiese geskrewe literatuur; wat gaandeweg ontwikkel in ‘n letterkunde wat in die teken van verstedeliking sowel as reaksie en protes teen sosio-politiese verdrukking staan; en uiteindelik ‘n radikale herdefinisie as ‘n vorm van weerstandsliteratuur met ‘n nasionalistiese en nie-rassige perspektief.
Hierdie ontwikkelings in swart literatuur sluit ten nouste aan by die breë historiese ontwikkeling van Suid-Afrika. Dit kan uitgestippel word in terme van die opeenvolgende fases van sosio-ekonomiese transformasies in die geskiedenis van die land. Breed gestel korrespondeer hierdie transformasies met twee globale eras. Aan die een kant, ‘n pre-koloniale era wat gekenmerk word deur ‘n voor-kapitalistiese landelike nomadiese, pastorale en kommunale selfonderhoudende ekonomie waarin stamgemeenskappe in wisselende toestande van vrede en botsing oor leefruimte verkeer. Aan die ander kant, ‘n koloniale era gekenmerk deur ‘n reeks substadia wat die volgende behels: eerstens, Europese konkurrensie en blanke nedersetting; tweedens, die vestiging van ‘n kapitalistiese landbou-ekonomie wat die basis lê vir die ontwikkeling van die derde en huidige fese van industriële ekonomie. Hoewel die ontwikkeling nie eweredig oor die aangesig van die hele samelewing plaasgevind het nie, is dit nietemin gevorm deur ‘n dialektiek van ras-, klas- en geslagskontradiksies en -konflikte wat uitgeworstel is in alle lewensfere insluitende kulturele produksie en literatuur.
Die temporale ontvouing van die Suid-Afrikaanse sosio-kulturele formasie word, volgens Giliomee en Schlemmer (1989: 1), vanaf die vroegste tye van Hollandse nedersetting, in die middel van die 17e eeu, gekenmerk deur patrone van blanke dominasie en bevoorregting ten koste van die opstandige inheemse bevolking. Dié dinamika word gerugsteun deur variërende segregasiebeskouings wat met verloop van tyd in die oorvleuelende ras- en klashiërargieë van apartheid uitkristalliseer. Hoewel die konflikgeskiedenis ingeskryf is in die meeste van die literatuur wat hier bespreek word, maak die verhouding tussen die histories-materiële determinante en die literêre werke nie ‘n kru, meganistiese *paradigma van oorsaak en gevolg uit nie, maar ‘n komplekse dialektiek wat gekenmerk word deur prosesse van simboliese konflik, kontradiksie en sintese.
Die tradisionele mondelinge literatuur
Hierdie literatuur behels poëtiese, narratiewe en dramatiese genres wat algemeen beoefen is deur die verskillende inheemse stamme voor die daarsteling van skryf- en leesvaardighede. Volgens Gerard (1971: 51) is mondelinge kunsvorme die medium van alle intellektuele aktiwiteite in ongeletterde samelewings, aangesien dit die bron van morele, filosofiese, tegnologiese, religieuse, mitologiese, historiese en natuurwetenskaplike kennis van die groep bevat. Die stof wat noodsaaklik is vir die reproduksie en behoud van die gemeenskap word mondeling van een persoon, stam en geslag na die ander oorgedra. Dit is dus belangrik om te onthou dat, nieteenstaande die feit dat die orale periode tegnies gesproke in die derde dekade van die 19e eeu tot ‘n einde kom as Xhosa op skrif gestel word, dit egter nie beteken dat die mondelinge kunsvorme eensklaps van die toneel verdwyn het nie. Inteendeel, hierdie vorm van taalskepping met sy ryk geskiedenis is vandag nog lewenskragtig en wydverspreid in Suid-Afrika. Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan die stadige tempo waarteen die oorgang na geletterdheid plaasvind, weens die ontoereikende onderwysgeriewe en die gevolglik relatiewe lae geletterdheidspeil van die swart bevolking.
Diegene wat literatuur assosieer met geletterdheid en geskrewe tekste, mag vra of dit aanvaarbaar is om mondelinge taalkuns “literatuur” te noem. Jan Knappert (1981) verwys in die verband na “those who have often objected to the term ‘oral literature’ as being a contradiction since literature implies that it should be written down. However, the proponents of oral literature would argue that it is irrelevant whether literature is written down by its authors or by later scholars who have in some cases devised a written form for it. The essence of any literature is that it has artistic value, structured beauty, and in addition is capable of influencing profoundly the community for which it is created. These criteria apply a fortiori to oral literature since its impact on its audience is instantaneous”. (Vgl. MONDELINGE LITERATUUR.)
Die opvatting word ondersteun deur D.T.T. Jabavu (1921: 1), P.D. Beuchat (1967: 3) en veral Daniel Kunene (1971: XI) wat hierdie soepel konsepsie beskou as ‘n bevryding van die begrip “LITERATUUR“. As Jacques Derrida (1976: 7) se dekonstruksie van die onhoudbare evaluatiewe opposisie wat gewoonlik tussen gesproke en geskrewe taal gehandhaaf word, ook hierby in ag geneem word, dan bestaan daar geen substantiewe teoretiese gronde vir die geringskatting van mondelinge literatuur nie. Dit is tog nodig om Chidi Amuta (1989: 32) se waarskuwing te onthou, dat die literatuurstudie in Afrika onder die vaandel van tradisionele estetika moet wegstuur van ahistoriese en geïdealiseerde benaderings wat gewoonlik die spesifieke omstandighede waarin die tradisionele vorms voorgekom en die funksies wat dit vervul, ignoreer.
In aansluiting by Roman Ingarden (1973) se onderskeid tussen die literêre kunswerk en die KONKRETISERING daarvan as estetiese objek (vgl. ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK), meld Kofi Awoonor (1975: 70) dat mondelinge literatuur die volgende behels: “a vast body of literature which can have its total integrity, impact and realization only within the scope of performance, transmission and occasion. The performer of oral literature gives body to the material, formulates it, and realizes it, within regulated and specified occasions”. Dus, hoewel die meeste van die mondelinge literatuur bekend aan literatore en lesers opgeteken is, kan die werk, soos trouens alle uitvoerende kunsvorme, esteties slegs na behore beoordeel word tydens voordrag. In die proses kan die verbale stilistiek, gebare, gesigsuitdrukkings en kinetiese estetika van die mondelinge kunstenaar in verhouding tot die deelname en response van die gehoor bestudeer en ontleed word.
Die basiese mondelinge kunsvorms wat onder byna al die inheemse tale, insluitende die San en Koisan sowel as die Nguni- en Sotho-taalgemeenskappe geïdentifiseer en opgeteken is, kan in die drie hoofgenres, EPIEK, drama en poësie verdeel word. Die epiese of verhalende subgenres omvat towerverhale, dieresages, mitologiese vertellinge, LEGENDES en humoristiese relase. (Vgl. TOORLITERATUUR, SAGE, DIERE-EPOS en MITE.)
Die bekendste verhaalvorms in Xhosa staan bekend as ntsomi, in Suid-Sotho word dit litsomo genoem en in Zulu staan dit bekend as izinganekwane. Harold Scheub (1975) se studie oor die ntsomi wat tradisioneel deur vroue vertel word, bring aan die lig dat die hooftemas van die vertellinge die behoefte aan orde en harmonie in die menslike gemeenskap is. In die verhale vind orde gewoonlik uitdrukking in natuurbeelde terwyl chaos veroorsaak word deur fantastiese diere en monsters. Die vertellings beweeg gewoonlik tussen alledaagse realiteite, die natuur, mitologiese wêrelde en fantasie. Struktureel bestaan die vertellinge uit ‘n kern of tradisionele narratiewe element wat na gelang van die geleentheid en die behoeftes van die verteller en gehoor deur improvisasie uitgebrei en afgerond word.
Wat tradisionele mondelinge drama betref is nie veel bekend nie. Enkele opmerkings, soos die van Robert Kavanagh 1981: ix), dui daarop dat dit ‘n onstabiele hibridiese genre is wat elemente van poësie, vertelling, dans en musiek in ‘n los struktuur bevat. Dit is ‘n geleentheidsgenre by uitstek omdat dit binne die konteks van nomadiese en pastorale gemeenskappe beoefen is as danksegging of besweringsmiddel. Herbert Dhlomo (1936: 232—235) voer in dié verband aan dat die tradisionele drama ‘n vermenging was van die toorgebruike by ritualistiese dankfeeste om ‘n geslaagde oes, jag, klopjag of veldslag te vier. Op die vooraand van soortgelyke belangrike aktiwiteite was drama deel van antisipatoriese besweringsfeeste waarin ritmiese danse, poësievoordragte en sang, tesame met interaksie tussen spelers en die gehoor, gesorg het dat die spel kollektief en partisipatories van aard is. Schapera (1930) wys ook op die feit dat ‘n komplekse vorm van mimiek- en musiekspel onder die San- en Koikoi-stamme beoefen is.
Die poëtiese subvorms behels kort jaglirieke, dansliedjies en religieuse gesange, soos die van die San en die Koikoi, opgeteken deur Bleek en Lloyd (1986) en Schapera (1930). Die konkrete natuurbeelde, klankherhalings en refreinmatigheid wat die inhoud en *vorm van die lirieke domineer, enkodeer die milieu en die ritualistiese funksies van die poësie. Jeff Opland (1983: 146) beweer dat daar volgens beskikbare navorsing, afgesien van elemente en onderdele in prysliedere, geen aanduiding van volwaardige tradisionele epiese poësie in die Nguni-tale is nie. Die EPOS sou eers veel later deur die hedendaagse digter, Masizi Kunene, in Zulu geskep word.
Die poëtiese vorm wat, volgens Lestrade (1937: 295), alom as die hoogste vorm van mondelinge literatuur in Suidelike Afrika beskou word, is die pryslied. Hierdie digvorm is vroeg reeds versamel en sedert die sestigerjare intensief bestudeer. Die belangrikste bydraes in die verband is I. Schapera se Praise Poems of the Tswana Chiefs (1965); T. Cope se Isibongo: Zulu Praise Poems (1968); D.R. Kunene se Heroic Poetry of the Basotho (1971); M. Damane en P.B. Sanders se Lithoko: Sotho Praise Poems (1974); J. Opland se Xhosa Oral Poetry (1983) en D.K. Rycroft en A.D. Ngcobo se The Praises of Dingana (1988).
Die pryslied, wat in Xhosa en Zulu izibongo genoem word en in Sotho bekend staan as lithoko, se Tswana-naam is mabôkô. Dié name dui op die sentrale lofbetuigingsfunksie van die pryslied wat deur professionele lofsangers sowel as gewone lede van die gemeenskap beoefen word. Opland (1983: 33) wys egter daarop dat die benaming eintlik misleidend is omdat die pryslied uit lofbetuigings sowel as versweë en eksplisiete kritiek bestaan. Die opvatting dat die onderwerpe van prysliedere uitsluitlik stamhoofde, leiers en heldefigure is, is ook vroeg reeds deur A.C. Jordan (1957: 60) weerlê met die pittige omskrywing: “the subject of a praise poem may be a nation, a tribe, a clan, a person, an animal, or a lifeless object”. Pogings om die komplekse en heterogene genre monolities en eksklusief aan mans as beoefenaars en onderwerpe van die digvorm te koppel, is deur Elizabeth Gunner (1989: 12—39) finaal ongedaan gemaak deur haar studie oor vroueprysdigters in Zulu.
Die pryslied kan omskryf word as ‘n rymlose strofiese gedig saamgestel uit ‘n reeks METAFORIESE prysverwysings en kritiek wat genealogiese, biografiese, historiese en karakteriserende inligting bevat. Die gegewens wat gewoonlik so verdig word dat buitestaanders ‘n gesofistikeerde taalkennis en kulturele insig benodig om die subtiliteite van gedigte te verstaan, word sintakties gestruktureer d.m.v. parallelismes, chiasmes en skakelings. Omdat tradisionele prysliedere uitsluitlik mondeling gegenereer is, word daar aangeneem dat die skepping daarvan grootliks anoniem en kollektief van aard was. Selfs in die geval van professionele hofsangers is heelwat van die inhoud gebaseer op die algemene verwysings en frases, of soos Ong (1971: 291) dit stel, die “orale formules” wat in die gemeenskap t.o.v. ‘n spesifieke onderwerp in sirkulasie was.
Afgesien van sy kompleksiteit, is die pryslied ook ‘n uiters aanpasbare genre. In opeenvolgende veranderende omstandighede word die inhoud en taalgebruik van die digvorm telkens gewysig om by die konkrete historiese konteks aan te pas. So bv. verkry dit ‘n militaristiese inhoud in tye waar die inheemse stamme met Britse imperialiste of grondhonger Voortrekkers in botsing kom; tydens die kersteningsveldtogte van sendelinge verkry die gedigte ‘n Christelike inhoud; en met verstedeliking en die ontstaan van trekarbeid artikuleer dit die ervarings en stryd van swart werkers. Die konkrete strydgebondenheid van die pryslied is tipies van alle orale kuns. Volgens Walter Ong (1982: 43—44) is oraliteit gewortel in ‘n epistimologie van die mens in stryd met die natuur en konflikverhoudings met medemense. Die soepelheid van die pryslied bring ons by die tweede fase in Suid-Afrikaanse swart literatuur, nl. die ontstaan van ‘n geskrewe literatuur.
Die ontstaan van ‘n geskrewe, moralistiese literatuur, 1828—1920
Die vestiging van die skryfkuns in die Oos-Kaap onder Xhosa-sprekendes hou direk verband met die onderlinge struwelinge tussen die Xhosa-stamme en die manipulasie daarvan in die guns van Britse territoriale ekspansionisme in die loop van die 19e eeu. Volgens Gerard (1971:22—29) het die botsing tussen die jong stamhoof Ngqika en sy oom Ndlambe, wat as regent opgetree het tot tyd en wyl Ngqika oud genoeg was om sy amp te vul, daartoe gelei dat lg. sy oom met Britse hulp verslaan het. So is die Kerk van Skotland se eerste sendelinge, wat in 1821 in die Kaap aangekom het, in 1823 onder die volgelinge van Ngqika, in die Tyumevallei gevestig. Hulle kon toe op ‘n sistematiese wyse met ‘n kerstenings- en opvoedingsproses begin.
Maar reeds in 1822 is daar volgens Shepherd (1936: 20) verwysings na ene Ntsikana, die bekeerde raadgewer van Ngqika, se gedig “The Great Hymn”. Die eerste vier verse van die gedig, soos vertaal deur R.H.W. Shepherd lui as volg:
He, the Great God, High in Heaven, Great “I am” of truth the Buckler, Great “I am” of truth the Stronghold, Great “I am in whom truth shelters.”
Die vers word deur A.C. Jordan (1973: 50—51) as die voorteken van geletterdheid onder die inheemse bevolking van Suid-Afrika beskou: “The fact that this Hymn of Praise is the first literary composition ever assigned to individual formulation – thus constituting a bridge between the traditional and the post-traditional – is of great historical significance.” Jordan wys verder daarop dat die gesang die tradisionele beeldspraak, styl en tegnieke van die pryslied by ‘n nuwe Christelike inhoud aanpas. Hierdie verskynsel in Zulu, soos gemanifesteer in die werk van Isaiah Shembe wat Zulu-dansliedjies vir liturgiese doeleindes benut het, is ook deur Gunner (1982) bestudeer. Afgesien van die komponering van sy eie poësie het Nstikane ook die eerste geslag Xhosas aangemoedig om die Christelike geloof te aanvaar en te leer lees en skryf.
Die vestiging van die sendingstasie in Gwali in 1824 en die herbenaming daarvan na Lovedale in 1926 vorm die basis vir die transformasie van die Xhosa-taal en -kultuur. Die eerste publikasie is, volgens Shepherd (1936: 1) aan die einde van 1823 in die vorm van die alfabet deur John Bennie en John Ross gedruk. Swart joernalistiek, wat ‘n groot rol in feitlik al die dominante inheemse tale sou speel en wat sou help met die ontwikkeling van skeppende literatuur, is 1837 met die blad Umshumayeli Indaba (Die prediker se nuus) deur Wesleyaanse sendelinge van stapel gestuur. Dit is in 1844 aangevul met die tydskrif Ikwesi (Oggendster) wat deur die Glasgowse Sendinggenootskap opgerig is en van die vroegste werk deur Xhosa-moedertaalspekers bevat. Soos te verwagte, was die hoofdoel van die uitgewerye die publikasie en verspreiding van Christelike lektuur. Hierdie ontwikkeling lê die patroon vir die oorgang na skrif in feidik al die inheemse tale.
Kerstening en die verspreiding van geletterdheid onder Sotho-sprekendes is in die protektoraat van Lesotho deur die Société des Missions Évangéliques de Paris (Paryse Evangeliese Sendinggenootskap) in 1833 op die uitnodiging van koning Moshweshwe begin. Geletterdheid het, volgens Kunene (1989: 18), teen 1963 reeds so ver versprei dat die koerant Leselinyana la Lesotho (Die liggie van Lesotho), wat vandag nog in sirkulasie is, gestig is. Hoewel Zulu vroeg reeds op skrif gestel is, en die eerste vertaalde uittreksels uit die Bybel in 1846 verskyn het, het volskaalse kulturele penetrasie, volgens Gerard (1971: 182), weens die territoriale hegemonie van die Zulu’s in Natal, eers na 1906 met die mislukking van die Bambatha-rebellie begin. In 1903 is die koerant Ilanga Lose Natal (Die son van Natal) onder redaksie van John Dube opgerig. Al die bladname, met die son of lig as embleem, dui op die mate waarin die Christendom, wat met die lig van God en geletterdheid geassosieer word en ook gekoppel is aan die lig van die rede, die vroeë tydvak in die swart literatuur bepaal het.
Naas Bybelvertalings en die produksie van stigtelike lektuur is heelwat vroeë geskrewe aktiwiteite toegespits op die versameling van inheemse poësie, verhale, FOLKLORE en gesegdes. Voorbeelde van die soort werk wat dikwels deur sendelinge in samewerking met swart moedertaalsprekers, of onafhanklik deur swart skrywers aangepak is, is o.a. Azariele Sekese se Mekhoa ea Basotho le Maele le Litsomo (1893) (Basotho-gewoontes, gesegdes en -vertellinge); Walter Rubusana se Zemk’ Inkomo Magwalandini (1906) (Weg is die vee, julle lafaards); Edouard Jacottet se Listomo tsa Basotho (1910—1911) (Mites en legendes van die Basotho); T.B. Soga se Intlalo KaXhosa (1916) (Xhosa-gesegdes); Solomon Plaatje se Sechuana Proverbs (1916) en Henry Masila Ndawo se Inxenye yen-Tsomi zase Zweni (1920) (‘n Versameling volksvertellinge). Later, in die veertiger- en vyftigerjare, is soortgelyke versamelings van Venda- en Zulu-gesegdes gepubliseer.
In dié tydperk tree daar ‘n beduidende groep vertalers, komponiste, folkloriste, digters en romanskrywers en ook die eerste biografis in Xhosa na vore. Onder hulle tel Tiyo Soga, William Gqoba, John Jabavu en John Bokwe wat Ibali likaNtsikana (Die lewe van Ntsikana) in 1914 gepubliseer het. Hiernaas is Walter Rubusana, Samuel Mqhayi en Mankayi Sontonga ook sleutelfigure.
Laasgenoemde is bekend as die komponis van die volkslied Nkosi Sikelel’ i-Afiika (God seën Afrika). Die eerste skryfster in Xhosa, L. Kakaza, publiseer in 1913 die NOVELLE Intyatyambo yomzi (Die blom in die huis). In Suid-Sotho word die toneel oorheers deur die romanskrywer Thomas Mofolo. Mofolo se voorganger en onderwyser was die folkloris en romanskrywer Azariele Sekese. Die belangrikste van Mofolo se tydgenote was Everitt Segoete wat met sy roman Monono ke moholi, ke mouoane (1910) (Skatte is soos mis, wasem) sorg vir die eerste inheemse werk waarin die tema van swart verstedeliking voorkom. In Zulu is die belangrikste oorgangsfiguur Isaiah Shembe wat Christelike gesange op die patroon van Zulu-dansliedjies komponeer. Die werk van John Dube en verskeie anonieme digters het in die koerant Ilanga Lose Natal verskyn.
Volgens beskikbare navorsing is daar min dramas in die tyd geskryf en gepubliseer. Die genre sou eers in die dertigerjare tot sy reg kom. Afgesien van skryfwerk in die inheemse tale het daar ook, volgens Couzens en Patel (1982: 1—3), Engelse gedigte in sommige van die koerante van die tyd verskyn. Die poësie, soos al die ander skryfwerk, was oorwegend Christelik. Sterk klem is geplaas op die waarde van Westerse opvoeding en geletterdheid. Daar was ook ‘n naïewe optimisme oor die sosio-politieke vooruitgang van swartes onder die leierskap van blankes.
Die invloed van sendelinge op die inheemse swart kultuur was, om dit sagkens te stel, kontradiktories. Afgesien van hulle positiewe rol in die verspreiding van geletterdheid, was hulle opvoedkundige rol gerig deur imperialisme en opvattings van superioriteit. Die teenstrydighede hiervan was veelvoudig. Die belangrikste hiervan is dat dit universele menslikheid verkondig, maar Christelikheid as voorwaarde en belofte vir menslike gelykheid gestel het sonder dat sodanige gelykheid noodwendig op staatkundige of sosiale vlak deurgevoer is. Die onvermydelike minagting en sensuur van die inheemse kultuur het volgens Kunene (1968: 20), aanleiding gegee tot ‘n proses van dekulturalisasie en vervreemding tussen die nuwe geletterde swart elite en hulle gemeenskappe: “The African intellectual who came out of the missionary school was not only literate, but also he was a changed being. He looked about himself and saw nothing but evil. He saw his ‘heathen’ brothers singing and dancing and drinking and loving in pursuit, as they thought of the Good Life, and he shook his head in pity. For suddenly these things had become ugly and sinful… The process of alienation had begun, complex and divisive – Christian and non-Christian drifted apart; worse than that they began to hate each other.” By sommige van die skrywers het daar weens voortgesette diskriminasie mettertyd ‘n kritiese houding teenoor die Christelike geloof en Westerse waardes ontwikkel. ‘n Ondersoek van die vroeë prosa in die drie toonaangewende tale, Suid-Sotho, Xhosa en Zulu, bevestig hierdie tendense.
Thomas Mofolo (1876—1948), seker die begaafdste vroeë prosaïs in Suid-Sotho, se eerste roman Moeti oa Bochabela (Pelgrim na die Ooste) wat in 1907 gepubliseer is, tematiseer die ywer waarmee die eerste skrywers die Christelike geloof geassimileer het. Die verhaal handel oor ‘n jong man wat so gebelg word deur die morele verval, geestelike duisternis en boosheid wat hy om hom waarneem dat hy besluit om op soek te gaan na God. Sy soektog behels ‘n reis deur ‘n dor landskap na die kus waar hy deur drie blankes per skip na Europa geneem word, en later weer na sy tuiste teruggebring word met die besef dat die Christelike waardes en lewensbeskouing die absolute en enigste waarheid is. Hierdie roman is geskoei op die reismotief en allegoriese strekking van John Bunyan se Pilgrim’s Progress, wat toe reeds in Suid-Sotho beskikbaar was. Kunene (1989: 23) wys daarop dat Mofolo Bunyan se morele diktum selfnegerend op sy eie mense toepas: “Once again one must emphasise, in this connection, that in Mofolo’s book, Bunyan’s message: ‘We, humanity, are corrupt’ is replaced by the message: ‘We Basotho, or we Africans are corrupt'”.
In sy tweede roman, Chaka, wat reeds aan die einde van 1909 voltooi en aan die sendingpers by Moria vir publikasie voorgelê is, maar eers in 1925 in druk verskyn, beeld Mofolo die lewe en val van die Zulu-leier, Shaka, uit. Die vertraging in die publikasie van die besonderse roman kan, volgens Gerard (1971: 128—129), toegeskryf word aan die feit dat sommige van die sendelinge in beheer van die pers waar Mofolo as ‘n proefleser gewerk het, die verhaal beskou het as ‘n onaanvaarbare apologie vir en selfs ‘n verheerliking van Zulu-tradisies. Die misverstand het ontstaan ten spyte daarvan dat Mofolo in die werk sterk te velde trek teen toorgebruike, die hubris en die morele degenerasie van sy protagonis. In sy roman Pitseng (1910) herbevestig Mofolo sy nuwe geloof met ‘n ondubbelsinnige verdoeming van poligamie en seksuele losbandigheid by wyse van die uitbeelding van die ideale Christelike huwelik.
In Xhosa is die eerste roman, Uhambo luka Gqoboka (Gqoboka se reis), geskryf deur Henry Masila Ndawo, in 1909 gepubliseer. Soos in die geval van Mofolo se eerste roman is dit ‘n allegoriese uitbeelding van die inheemse swart bevolking se reis van heidendom na Christendom. Die eerste beduidende wending is die roman, Ttyala Lamawele (1913—1914) (Die verhoor van die tweelingbroers), geskryf deur die bekende prysdigter, Samuel Mqhayi (1895—1948), ‘n tydgenoot van Mofolo, maar met ‘n sterker vertroue in die tradisionele Xhosa-instansies. In die verhaal probeer hy bewys dat tradisionele stamreg aan Westerse regpleging gelykwaardig is. Sy verhaal staan in skerp kontras met die vroeg-geskrewe maar laat-gepubliseerde Suid-Sotho-verhaal, Bukana ea Tsomo tsa Pitso ea Linortyana le Tseko ea Sefofu le Seritsa (1928) (Die storieboek oor die vergadering van die voëls en die regsgeding tussen Sefofu en Seritsa) geskryf deur Azariele Sekese waarin die feodale agterlikheid van die tradisionele regstelsel bespot en gesatiriseer word.
Die ambivalente houdings jeens die Christendom en tradisionele waardes het deels gespruit uit swart skrywers se besef dat geletterdheid noodsaaklik geword het vir vooruitgang sowel as vir die stryd om selfbehoud. Die tema van ‘n stryd deur literatuur is reeds in die tyd deur I.W.W. Citashe (Couzens & Patel, 1982: 15) geartikuleer in die gedig “‘Your Cattle are Gone”:
Your cattle are gone, my countrymen!
Go rescue them! Go rescue them!
Leave the breechloader alone
And turn to the pen.
Take paper and ink,
For that is your shield!
“Your rights are going!
So pick up your pen.
Load it load it with ink.
Sit on your chair.
Repair not to Hoho,
But fire with your pen.
Hierteenoor ontstaan daar ‘n toenemende ontnugtering onder die swart intelligentsia namate hulle besef dat geletterdheid en onkritiese aanvaarding van die Christendom nie noodwendig die wil tot oorheersing en supremisisme onder die blanke nedersetters sou verander nie. Die hoop op gelyke behandeling, soos belowe in die preke van sendelinge, sou in die 20e eeu finaal ontnugter word. Maar dekades voor dit kon Jonas Ntsiko (Gerard, 1971: 40) reeds skryf:
Some thoughts till now ne’er spoken
Make Shreds of my innermost being;
And the cares and fortunes of my kin
Still journey with me to the grave.
I turn my back on the many shames
That I see from day to day;
It seems we march to our very grave
Encircled by a smiling Gospel.
For what is this Gospel?
And what salvation?
The Shade of a Fabulous ghost
That we try to embrace in vain.
Hierdie twee gedigte vergestalt die keuses wat swart skrywers moes maak in ‘n konteks waarin militêre konkurrensie uiteindelik sou lei tot die algehele politieke ontkenning van die inheemse bevolking met Uniewording in 1910 en kort daarna deur die Swart Grond Wet 27 van 1913 wat die inheemse bevolking van hulle regmatige aandeel aan Suid-Afrikaanse grond ontneem het. Hieruit sou Sol Plaatje (1916) se seminale studie Native Life in South Africa ontstaan. Die reaksie op Uniewording en die grondwetlike uitsluiting van swartes sou verder in 1912 lei tot die stigting van die South African Native National Congress wat in 1923 die African National Congress sou word.
Teen die agtergrond van hierdie gebeure en die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914, sou daar ‘n besliste politisering van swart literatuur plaasvind. Die radikalisering geskied in verhouding tot die waargenome verswakking van die inheemse bevolking se politieke status in die land. Die literatuur wat die eerste geskrewe fase oplewer, is egter ‘n manifestasie van die konflik tussen Westerse en inheemse waardes, dominasie en vryheid, iets wat die Suid-Afrikaanse swart literatuur in veranderde omstandighede in gewysigde vorms sal bybly.
Die vroeë stedelike literatuur, 1920—1942
Die literatuur vanaf 1920 tot en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog word gekenmerk deur tematiese en taaldiversifikasie. In hierdie tydperk kom geskrewe dramas na vore. Die eerste ROMANS in Engels deur swart skrywers sien ook die lig teen ‘n agtergrond van ‘n blanke regering, bestaande uit Hertzog se Nasionale Party en Smuts se Arbeidersparty, wat afgestuur net op ‘n beleid jeens die inheemse bevolking waarin die idee van afsonderlike inheemse kulture sentraal staan: “The new policy,” skryf Smuts (1930: 84), “is to foster an indigenous native culture or system of cultures, and to cease to force the African into alien European moulds.” In kontras hiermee is die klem onder swart mense, soos die naamverandering van die African National Congress in 1923 suggereer, toenemend gerig op eenheid onder en ‘n wegbeweeg van etniese identiteite. Die ontstammingsproses is volgens Harsch (1983: 208) versnel deur die groeiende industrialisasie en verstedeliking van die Suid-Afrikaanse bevolking.
Werk van belang in Xhosa is gelewer deur Gubon Sinxo wat in sy roman Imfene kaDebenza (1927) (Debenza se bobbejaan) die frustrasies van die swart sendinggeskoolde elite tematiseer, en James Jolobe se digbundel Omyezo (1936) (Die boord), wat volgens Vilakazi (1954: 346—348) groter stilistiese en tematiese aansluiting by Europese poëtiese tradisies vind. Die groot werk in Xhosa uit die era, Inqumbo Yeminyanya (Die woede van die voorgeslagte) (1940), is deur A.C. Jordan gelewer. Die sentrale tema van die roman, met sy onthutsende slot waarin die irrasionele triomfeer, is die aard van verandering en die tragiese konflik tussen moderne en tradisionele waardes.
Na ‘n insinking in Suid-Sotho is die digter David Bereng se Lithothokiso tsa Moshoeshoe le tse Ling (1931) (Prysliedere vir Moshweshwe) die enigste substantiewe werk wat in die dertigerjare verskyn. Die eerste roman in Zulu, Insila KaTshaka (Shaka se lyfbediende), geskryf deur John Dube, is in 1933 gepubliseer. Ofskoon die werk tematies teruggryp na Mofolo se Chaka is dit volgens Gerard (1971: 216) uniek in die sin dat die verhaal geheel en al in die konteks van Nguni-tradisies en waardes voltrek word sonder dat die Christendom as die enigste saligmakende of reddende perspektief hoegenaamd betrek word. Dube, in navolging van Bokwe se biografie van Ntsikana, het ook in 1930 ‘n biografie oor die digter Isaiah Shembe gepubliseer.
In 1928 verskyn An African Tragedy van Rolfes Dhlomo waarin hy die vernietigende uitwerking van verstedeliking op swartes moralisties veroordeel sonder om die oorsake van armoede en oënskynlike verval in die konteks van rassediskriminasie te ondersoek. Hoewel dit die eerste gepubliseerde roman deur ‘n swart skrywer in Engels is, is Sol Plaatje, van Tswana-afkoms, se Mhudi (1930) vroeër omdat dit volgens Brain Willan (1984: 349) reeds in 1920 voltooi is. Plaatje, ‘n besonder begaafde individu, was o.a. ‘n stigterslid en ampsdraer van die vroeë ANC. Sy verwikkelde roman ondersoek die territoriale en kulturele botsings sowel as die interafhanklikheid van blankes en inheemse bevolkingsgroepe aan die hand van die Groot Trek. Hoewel die verhaal in die middel van die 18e eeu rondom blanke uitbreiding gesitueer is, is die werk volgens Couzens (1979: 17) ook ‘n implisiete aanval op die onregverdige grondverdeling van 1913.
Die tydperk het ook twee ander figure, sowel as die eerste skryfster in Zulu opgelewer. Rolfes Dhlomo se jonger broer, Herbert Dhlomo, het in 1936 met The Girl who Saved to Kill, wat handel oor die Xhosa-veeslagtingsepisode in die vorige eeu, gesorg vir die eerste drama in Engels deur ‘n swart Suid-Afrikaner. Hy het ook bekendheid verwerf met die lang elegiese gedig A Valley of a Thousand Hills (1941), wat handel oor die Natalse landskap en die swart mense se gedwonge vervreemding daarvan. Dhlomo se skeppende werk, bestaande uit dramas, poësie en kortverhale, is onlangs deur Visser en Couzens (1985) byeengebring.
Die uitstaande figuur in Zulu in hierdie tydperk is Benedict Vilakazi wat in 1935 met sy eerste bundel Inkondlo kaZulu (Zulu-liedere) sorg vir inhoudelike en tegniese verandering, weg van die tradisionele prysliedere en dansliedjies, na ‘n poësie met ‘n hegter versmaat en ‘n strofiese bou saamgebind met uiters geforseerde eindrym. Sy tweede bundel Amal’ezulu (1945) (Zulu-horisonne) is steeds sterk beïnvloed deur Europese tradisies maar toon minder tekens van stilistiese dwang omdat dit in vrye verse geskryf is. Die eerste skryfster in Zulu is Violet Dube wat in 1935 met ‘n bundel verhale Woza Naso (Vertel verder) debuteer. Soos blyk uit die titel, is die verhale verwerkings van tradisionele vertellings.
Drama as formele genre verskyn aanvanklik in Xhosa met UNongqause, geskryf deur ‘n blanke vrou, Mary Waters. Die stuk oor die rol van Nongqause se profesie oor die veeslagting is in 1924 gepubliseer en in 1933 in Johannesburg deur die dramaklub van die Bantu Men’s Social Centre opgevoer. In 1930 in Suid-Sotho verskyn Tracisius, Martelaar van die Heilige Kommunie, geskryf deur die blanke sendeling Odilon Chevrier. Die eerste drama in Zulu, UGududele Namazimuzimu (Gududele en die kannibale), is in 1937 deur Nimrod Ndebele gelewer.
In die evaluasie van die literatuur uit die vroeë geskrewe fase en die eerste stedelike temas kan veral die prosa gekritiseer word op grond van gebrekkige karakterisering. ‘n Oortuigende verdediging deur Gerard (1971: 52) wys daarop dat die oënskynlike swak individualisering verklaarbaar is in terme van die ALLEGORIESE opset van die verhale, wat direk aansluit by beide die EMBLEMATIESE aard van volksvertellinge en die Christelike ideëwêreld wat in die meeste van die verhale opgeneem is. Hy wys verder daarop dat die idee van individualiteit nie voorrang geniet binne ‘n tradisionele gemeenskap nie omdat die klem op kollektiewe of groepsidentiteit val.
Hoewel die verweer geldig is vir die vroeë skryffase is dit ietwat van ‘n rasionalisering vir ‘n strukturele swakheid, wat met die verstedeliking van swartes en die aanname van individualistiese lewenshoudings, nie in die skryfwerk verdoesel kan word nie. In sy studie oor Herbert Dhlomo as verteenwoordiger van die nuwe stedelike swartes, wys Tim Couzens (1985:17) op die konsep van individualiteit en die waarde wat die swart intellektuele elite daaraan geheg het. Die swakheid in die prosa moet m.i. eerder toegeskryf word aan die feit dat sommige van die romans op historiese stof gebaseer is en ander weer sterk sosiale temas bevat. In albei gevalle was die skrywers didakties-moraliserend ingestel. Dit het daartoe aanleiding gegee dat klem so sterk geplaas is op die kommunikasie van historiese feite of maatskaplike houdings dat die noodsaaklikheid vir subtiele en bevredigende karakterisering meestal uit die oog verloor is.
Die vroeë protes- en revolusionêre literatuur, 1942—1970
Die stedelike temas wat in die vorige periode verskyn, word in die daaropvolgende dekades bestendig en uitgebrei. Hierbenewens verkry dit ‘n sterk protesinslag. Richard Rive (1982: 12), wat deel van die tydvak was, voer aan dat die literatuur, afgesien van die sosiale omstandighede in Suid-Afrika, ook beïnvloed is deur die werk van swart Amerikaanse skrywers soos Richard Wright en Langston Hughes. Dié invloed word ook deur Rive se tydgenoot, Es’kia Mphahlele (1974: 96—122), bevestig.
Tom Lodge (1983) se studie oor die sosio-politieke situasie van die tyd bring aan die lig dat literêre ontwikkelinge plaasvind in ‘n konteks waar die ideologie van wit heerskappy en die institusionalisering van diskriminasie momentum verkry in direkte konflik met die toenemende radikalisering van die swart nasionalisme soos verteenwoordig deur die ANC in die naoorlogsjare. Die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948 en die implementering van die party se ideologie van etniese nasionalisme d.m.v. ‘n reeks apartheidswette, soos die Bevolkingsregistrasie en die Groepsgebiede Wette van 1950, die Wet op Bantoe Onderrig (1953), die Paswette (1958) en die Tuislandbeleid, het in die vyftigerjare ‘n periode van chroniese onrus en massaprotes tot gevolg. Die verbanning van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in 1950, die ANC, sowel as die splintergroep, die Pan Africanist Congress in 1960, en die grootskaalse repressie van swart politieke, arbeids- en kulturele opposisie in die sestigerjare, gee weer daartoe aanleiding dat swart literatuur, wat in die tyd toenemend die vorm van protes teen sosio-politieke verdrukking aanneem, saam met verskeie skrywers verban word. Die letterkunde wat aanvanklik gerig is op liberate blanke lesers wat swartes simpatiek gesind is, vind hierna noodgedwonge ‘n voortsetting in die buiteland waar skrywers soos Es’kia Mphahlele, Peter Abrahams, Alex la Guma, Dennis Brutus, Nat Nakasa, Can Themba, Bloke Modisane, Bessie Head, Mazisi Kunene e.a., in ballingskap leef. In die omstandighede neem die literatuur revolusionêre dimensies aan.
‘n Belangrike aspek van die literêre produksie in dié tyd is die keuse deur skrywers van Engels as medium. Die voorkeur, voer Es’kia Mphahlele (1974: 22) aan, berus op die siening dat Engels as middel kan dien waardeur die etniese verdelings, wat met die taal en kulturele afkampingsbeleid van die nuwe regering op swartes afgedwing is, teengewerk kon word. Engels sou ‘n middel wees om trans-etniese eenheid te bevorder en uit die isolasie van afsonderlikheid te breek. Dit is ironies dat die eerste swart skrywers in Afrikaans juis in die periode waarin streng rasseskeiding in belang van Afrikaners aan swartes opgedring word, verskyn.
Die eerste beduidende werk is gelewer deur die oorgangsfiguur, Peter Abrahams, wat Suid-Afrika reeds in 1939 as lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party verlaat het. Sy eerste werk is ‘n bundel poësie getiteld A Black Man Speaks of Freedom (1940). Hierin artikuleer hy, onder invloed van Langston Hughes, ‘n weersin in rassediskriminasie en ‘n verlange na vryheid en menslike gelykheid. Met Dark Testament (1942), ‘n bundel kortverhale, en die romans Song of the City (1945) en Mine Boy (1946) ondersoek hy aan die hand van sy Marxistiese oortuigings die ekonomiese en politieke oorsake van die armoede en sosio-psigologiese vervreemding van stedelike swartes in dié jare. Piniel Shava (1989: 20) wys daarop dat Abrahams se analitiese benadering sy werk onderskei van die beskrywende en moralistiese praktyke van vorige swart stedelike literatuur. Sy siening dat individuele vryheid belangriker is as politieke emansipasie lei egter tot botsings met die Kommunistiese Party wat sy werk aanval. Hy verlaat die organisasie en artikuleer sy oortuiging dat rasse- en klasseverdelings slegs deur die inherente goedheid van die mens oorbrug en afgeskaf kan word. Sy kontensie dat geregtigheid alleen deur medemenslikheid sal seëvier vind ingang in romans soos The Path of Thunder (1948) en Wild Conquest (1951). Hoewel Abrahams se karakters ‘n duidelike politieke bewuswording ondergaan, vind kritici soos Kenneth Parker (1978: 18—20) en Lewis Nkosi (1981: 47—51) sy siening van menslike verhoudinge onaanvaarbaar sentimenteel.
Es’kia Mphahlele debuteer met Man Must Live and Other Stories (1947) waarin hy skryf oor stedelike swartes se stryd om oorlewing en neigings tot ontvlugting uit armoede en werkloosheid. Met die stigting van die tydskrif Drum in 1951 en ander publikasies soos Fighting Talk en New Age asook die koerante Buntu World en Golden City Post kom daar ‘n opbloei in die kortverhaal, sketse en essays oor die wel en wee van swartes in die oorbevolkte stedelike krotmilieus van woonbuurte soos Sophiatown, Alexandra, Distrik Ses en Newclare. Die verhale verskyn aanvanklik in tydskrifte en koerante en word later op verskillende tye in bundels opgeneem en gepubliseer. Die belangrikste hiervan is Es’kia Mphahlele se The Living and the Dead (1961), Alex La Guma se novelle A Walk in the Night (1962) en Richard Rive se African Songs (1963). Die kortverhale van Richard Rive, Alex La Guma, James Matthews en ‘n blanke skrywer, Alf Wannenburgh, verskyn gesamentlik in Quartet: New Voices from South Africa (1963). Die verhale, essays en verslae van o.a. Can Themba en Nat Nakasa is eers in die sewentigerjare in die buiteland, en uiteindelik na die opheffing van verbannings op hulle werk, in die tagtigerjare in Suid-Afrika vrygestel. In ballingskap produseer Mphahlele ‘n derde bundel kortverhale, In Corner B (1967), en sy eerste roman, The Wanderers (1970).
Die werk van die eerste swart skrywers in Afrikaans sluit in sekere opsigte aan by die algemene preokkupasies van die swart literatuur van die tyd, maar ontbreek met enkele uitsonderings aan die radikale ideologiese diskoers van die periode. S.V. Petersen se bundels gedigte Die enkeling (1944), Die stil kind (1948) en Die kinders van Kain (1960) vermeng die geestelike isolasie van die Dertigers met ‘n selfnegerende rassetematiek waarvoor God verantwoordelik gehou word. Sy roman, As die son onder gaan (1945), sluit aan by Arthur Fula se twee romans, Jôhannie giet die beeld (1954) en Met erbarming, o Here (1957), wat gekenmerk word deur ‘n konserwatiewe morele beheptheid met die verderf van verstedeliking wat teruggryp na die vroeë Christelike swart skrywers en Rolfes Dhlomo se An African Tragedy (1928). Dieselfde geld vir Eddie Domingo se lomp en prekerige Okkies op die Breë Pad (1955).
Hierteenoor vind die swart Afrikaanse digters, P.J. Philander en Adam Small, nouer aansluiting by die swart nasionalistiese diskoers van die tyd. In onderdele van sy eerste bundel Uurglas (1955) en veral Vuurklip (1960), asook Zimbabwe (1968), benut Philander historiese gegewens oor die inheemse bevolking om ‘n visie van opstand en bevryding te artikuleer. Adam Small, daarenteen, debuteer in 1957 met Verse van die liefde waarin hy ‘n siening soortgelyk aan dié van Peter Abrahams artikuleer, nl. dat liefde die oplossing vir alle interpersoonlike en sosiale probleme is. In sy latere bundels, Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963), benut hy die Afrikaans van die Kaapse patois en Bybelse motiewe in gedigte wat die samewerking tussen Staat en Kerk satiriseer en ironies ontmasker.
Met die noodtoestand wat na die Sharpevillekrisis in 1960 afgekondig is en die repressie wat daarop volg, begin swart literatuur die dramatiese gebeure in die samelewing en ervarings van gevangeskap uitbeeld. Richard Rive se roman, Emergency (1964), is ‘n poging om die massaproteste en staatsrepressie sowel as die individuele verantwoordelikheid wat dit impliseer, in die konteks van die Kaap uit te beeld. Dennis Brutus se digbundel Sirens, Knuckles and Boots (1963), wat verskyn terwyl hy in aanhouding is, verwoord soortgelyke temas. Brutus se tronkervaringe op Robbeneiland verskyn later in 1969 onder die titel Letters to Martha, and Other Poems from a South African Prison. Sy poësie word gekenmerk deur ‘n vermenging van politieke en persoonlike temas in kort, sierlose en emosioneel beheerste verse.
Namate swart Suid-Afrikaanse skrywers deur plaaslike omstandighede gedwing is om na die buiteland uit te wyk, ontstaan daar ‘n behoefte om eie belewenisse op te teken. So floreer MEMOIRES en die OUTOBIOGRAFIE as middel van selfdefinisie en as manier om die sosio-politieke omstandighede waarin die self tot sosiale bewuswording kom, aan te stip. In ‘n konteks waarin die visie van volksnasionalisme en die daarmee gepaardgaande verdraaiings en uitwissings eensydig op die res van die samelewing afgedwing word, verkry hierdie genre ‘n spesifieke plek in die swart Suid-Afrikaanse literatuur.
Peter Abrahams (wat reeds lank voor die krisis van die sestigerjare na Engeland vertrek het) lewer die eerste outobiografie van die tyd met die sprekende titel Tell Freedom (1954) waarin sy jeugjare in Suid-Afrika herskep word. Die eerste deel van Es’kia Mphahlele se tweeledige lewensverhaal, die internasionaal gevierde Down Second Avenue, verskyn in 1959. Die tweede deel, Africa my Music (1984), verskyn na sy terugkeer na Suid-Afrika. In 1960 verskyn Alfred Hutchinson se Road to Ghana waarin hy verslag lewer van sy ontsnapping uit Suid-Afrika terwyl hy op ‘n aanklag van hoogverraad verhoorafwagtend was. In 1961 verskyn Chocolates for my Wife, Todd Matshikiza se sardoniese verslag van sy verblyf in Londen tydens die opvoering van King Kong. Bloke Modisane se wrange Blame me on History sien die lig in 1963 asook Noni Jabavu se The Ochre People wat herinneringe en ‘n verslag van ‘n besoek aan Suid-Afrika bevat.
Drama wat, afgesien van die musiekspel, King Kong (1957) met musiek gekomponeer deur Todd Matshikiza, relatief min aandag ontvang het, vaar nie juis beter in die tyd nie. Ten spyte van die Union of South African Artists wat in 1953 deur blankes in samewerking met swartes gestig is om die uitvoerende kunste te bevorder, word slegs enkele dramas gepubliseer. Alf Hutchinson se The Rain Killers (1956) behandel die geykte tema van spanning tussen tradisionele en moderne waardes soos dit afspeel in landelike Swaziland. Lewis Nkosi, wat faam sou verwerf as kritikus en later as romanskrywer met Mating Birds (1986), debuteer met Rhythm of Violence (1964) wat die ideologiese verskille tussen swartes en blankes en die geweld van polisierepressie in die tydperk in ‘n melodrama bestaande uit drie bedrywe voorstel. Die hoogtepunt van swart drama in die tyd is ongetwyfeld Adam Small se Kanna hy kô hystoe (1965). Hiermee lewer hy ‘n werk waarin die histories-relevante gegewens van swart armoede en ballingskap so saamgesnoer word dat ‘n meesterstuk van maatskaplik-betrokke drama met treffende taal- en verhoog virtuositeit tot stand kom.
Richard Rive (1982: 13) benadruk die feit dat die meeste swart skrywers teen 1966 óf die land met eenrigtingvisums verlaat het óf verban is: “… all the writings by Alex La Guma and Dennis Brutus were prescribed by 1966 since the writers were banned persons. Then in the Government Gazette Extraordinary of 1 April 1966, the names of six living writers, living in exile, were published as banned under the Suppression of Communism Act. Thus in addition to the two writers mentioned above, all writings by Mazisi Kunene, Bloke Modisane, Lewis Nkosi, Todd Matshikiza, Es’kia Mphahlele and Can Themba were banned. South African writing in English virtually became white by law”.
Die skrywer wie se oeuvre die eksterne sosio-politieke omstandighede, die interne psigo-ideologiese keuses van die swart bevolking, sowel as die breë tematiese gemoeidheid van die literatuur uit die tydperk en daarna die beste artikuleer, is Alex La Guma (Parker, 1986: 9—10). ‘n Sinopsis van sy werk is voldoende om die stelling te belig: In die novelle, A Walk in the Night (1962), is die hooffiguur ‘n uitgeworpe individu wat sukkel om in die stad te oorleef; in And a Threefold Cord (1964) ontwikkel die hoofkarakter ‘n skerper bewustheid van maatskaplike onreg en die noodsaaklikheid van politieke opstand; in A Stone Country (1967) is die hooffiguur ‘n politieke gevangene wat by die misdadigers saam met hom in die tronk ‘n politieke bewussyn aanwakker wat hulle die waarde van sosio-politieke optrede laat besef; in In the Fog of the Season’s End (1972) raak die gewone man betrokke by die gewapende revolusionêre stryd en in Time of the Butcherbird (1979) kom die hele gemeenskap o.l.v. ‘n vrou in opstand teen verdrukking. Die enigste ander skrywer uit hierdie tydperk met ‘n vergelykbare sensitiwiteit vir die historiese ontvouing van swartes se stryd om emansipasie en verandering, is Peter Abrahams.
‘n Ander noemenswaardige figuur wat in hierdie tydperk na vore tree, is Bessie Head, wat Suid-Afrika in 1964 verlaat het. Sy debuteer met When Rain Clouds Gather (1969). Hier word die voorspelbare verhaallyn, gebaseer op die proses van verstedeliking, omgekeer en die bekende rassekonflik wat die swart literatuur van die tyd oorheers, word anders benader. Dit geskied deur die verhaal van ‘n swart politieke vlugteling wat uit die stad na landelike Botswana vlug. Hy raak daar in ‘n nuwe stryd betrokke en help in dié proses om rassesamewerking in die belang van verandering te bewerkstellig.
Hierdie periode wat oorheers is deur prosa, word, soos binnekort gesien sal word, betekenisvol genoeg afgesluit met poësie. Keorapetse Kgositsile vier sy vryheid in die buiteland met Spirit Unchained (1969). Masizi Kunene se Zulu Poems (1970), wat oorspronklik in Zulu geskryf en in die buiteland in Engelse vertaal is, is ‘n voorteken van die opbloei in poësie wat in die sewentigerjare sou plaasvind.
Die latere protesliteratuur en Swart Bewussyn, 1971—1982
Na die repressie van die sestigerjare en die mislukte binnelandse gewapende stryd van die ANC, heers daar ‘n bedrieglike toestand van sosio-politieke stabiliteit. Dit wil aanvanklik voorkom asof swart mense weens die repressie gepassifiseer is tot aanvaarding van blanke eksklusiwiteit en heerskappy onder die Nasionale Party. Die vinnige groei van die swart stedelike werkersklas en groter getalle swartes wat tersiêre opvoeding begin verkry in ‘n konteks wat nie voldoende voorsiening maak vir hulle politieke en ekonomiese aspirasies nie, sou egter gou daartoe bydra dat hernude onrus teen die middel van die sewentigerjare uitbreek.
Die Swartbewussynsbeweging was toe die kontrahegemoniese perspektief wat die sielkundige en kulturele effekte van verdrukking probeer teenwerk het met ‘n positiewe definisie van swartwees. Dit verwerp beide die paternalisme van blanke liberaliste en die verdrukking van wit supremisiste. Onder leiding van organisasies soos die South African Students Organisation, wat in 1969 op die been gebring is, die Black People’s Convention, gestig in 1972, en die Black Allied Workers’ Union val die klem op swart selfstandigheid, ‘n verwerping van Westerse waardes en kollaborasie met blankes. Op 16 Junie 1976 kom studente in opstand in Soweto oor ‘n besluit om Afrikaans as onderrigmedium in swart skole toe te pas. Die populêre opstand, wat na ander dele van die land versprei het, is met staatsmag onderdruk en in 1977 is alle swart opposisie-organisasies verbied. Op literêre vlak lei die sentimente van swart skrywers in 1981 tot die ontbinding van die Johannesburgse tak van die nie-rassige, internasionale skrywersorganisasie, PEN. In dieselfde jaar word die African Writers’ Association, wat volgens die beginsels van swart selfbestuur gekonstitueer is, gestig en in die daaropvolgende jaar word Skotaville, die eerste swart uitgewery, op soortgelyke beginsels gevestig. Die tydskrifte Classic (wat dateer uit die sestigerjare en in 1976 vervang is deur New Classic), S’ketsh, Staffrider, wat in 1978 op die been gebring is, en in ‘n geringe mate Wietie, wat vir ‘n kort tydjie in 1980 gesirkuleer het, staan sentraal in die ontwikkelings van dié periode.
Die repressie van die sestigerjare het tot gevolg dat die tydperk tussen 1966 en die begin van die nuwe dekade een van relatiewe literêre stilte is. As die eerste werk vroeg in die sewentigerjare in Suid-Afrika verskyn, is dit feitlik geheel en al geamputeer van die voorafgaande era en moet dit in ‘n konteks van staatsensuur, intimidasie en vrees ‘n nuwe begin maak en oorleef. Onder dié omstandighede, meld Nadine Gordimer (1973: 52), is dit geen wonder nie dat die kriptiese vorm van die poësie, wat hipoteties minder blootgestel is aan sensuur prolefereer om gestalte aan die ervarings van swart mense te gee. Binne die bestek van ‘n dekade is daar ‘n fenomenale opbloei in swart poësie en swart kulturele aktiwiteit oor die algemeen.
Hoewel die poësie voor 1976 in omstandighede geskep is waarin die Swart Bewussyn se beginsels van swart selfstandigheid aan die groei was, is veral die plaaslik geproduseerde poësie aan die begin van die sewentigerjare vir eers ‘n voortsetting van die vroeëre protesgenre. Dit verskyn op sporadiese wyse in die tydskrif Classic. Michael Chapman (1982: 11) se tipering van hierdie poësie as “Soweto Poetry” op grond van die reële en simboliese sentraliteit van die swart woonbuurt in die politieke en kulturele gebeure van die tyd, is heftig verwerp deur digters soos Mafika Gwala (1989: 70). Die poësie is nietemin die werk van verdruktes wat hulself aanvanklik tot goedgesinde sowel as vyandiggesinde blankes rig in die hoop op verandering, maar gaandeweg, namate die Swartbewussynsbeweging momentum kry, neem skryfwerk ‘n meer selfgeldende en militante inhoud en toon aan.
In 1971 verskyn Oswald Mtshali se oënskynlik simplistiese tog fyn ironiese en sosiaal-kritiese poësie in die bundel Sounds of a Cowhide Drum. Dit word in 1972 opgevolg deur Wally Serote se Yakhal inkomo (Bulkende beeste) en Tsetlo in 1974. In 1975 publiseer hy No Baby Must Weep. Serote se poësie artikuleer die intense frustrasie, woede en bitterheid van swart jeugdiges sowel as hulle hoop op vryheid en versoening. In 1973 stel James Matthews en Gladys Thomas die bundel Cry Rage saam en in 1974 redigeer Matthews Black Voices Shout waarin die werk van agt digters verskyn. ‘n Ander belangrike versamelbundel wat in 1973 die lig sien, is To Whom it May Concern, saamgestel deur Robert Royston. Soos die ironiese titel aandui is die bundel daarop ingestel om die verdrukkende toestand waaronder swartes leef onder die aandag van “besorgde” lesers te bring. Hiernaas verskyn Sipho Sepamla se Hurry Up to It in 1975 en The Blues is You in Me in 1976. Sepamla, wat naas Serote en later Mafika Gwala ‘n hooffiguur van die tyd is, skryf oorwegend satiriese en sosiaal-bewuste verse met stylaspekte ontleen aan die sinkretiese stedelike spraakpatrone vermeng met jazz- en blues-ritmes om poësie met ‘n buitengewone trefkrag en humor te skep. Adam Small, wat in die jare ‘n toonaangewende eksponent van swart selfemansipasie is, publiseer in 1975 ‘n bundel Engelse kwatryne, Black, Bronze, Beautiful waarin hy die menswaardigheid van swart mense uitbeeld.
In die buiteland verskyn die werk van etlike uitgeweke skrywers. Arthur Nortjé se twee nadoodse bundels, Dead Roots en Lonely Against the Light, word in 1973 vrygestel. In dieselfde jaar publiseer Dennis Brutus A Simple Lust. In 1979 sien sy Stubborn Hope en Masizi Kunene se epiese gedig, Emperor Shaka the Great, die lig. Waar Nortjé se poësie geskoei is op die eksistensiële krisis en melancholie van die banneling, verwoord Brutus sy voortgesette strydverhouding met sy vaderland, terwyl Kunene die heroïese verlede van die Shaka-era herskep in epiese poësie wat ‘n vervlegting van tradisionele prysliedere en volksvertellinge behels. Keorapetse Kgositsile, wat aan die einde van die sestigerjare in Amerika gedebuteer het, publiseer ook My name is Afrika (1971) en The Present is a Dangerous Place to Live (1974). In Kgositsile se werk kry die temas van die banneling wat identifiseer met Afrika en sy mense stem.
In 1977 verskyn Mafika Gwala se bundel Jol’iinkomo en die algemene protesinslag word gewysig deur swart mense direk aan te spreek en aggressief die eiewaarde van swartes te artikuleer. Gwala se gedigte daag swartes uit om alle manifestasies van verdrukking te konfronteer en af te skud. Die Swartbewussynsfilosofie wat hierdie standpunt onderlê, word deur Steve Biko (1978:49) as volg omskryf: “Briefly defined, therefore, Black Consciousness is in essence the realisation by the Black man of the need to rally around the cause of their oppression – the blackness of their skin – and to operate as a group in order to rid themselves of the shackles that bind them to perpetual servitude. It seeks to demonstrate the lie that black is an aberration from the ‘normal’ which is white … It seeks to infuse the black community with a new-found pride in themselves, their efforts, their value systems, their culture, their religion and their outlook in life.” Die klem op die waarde van swart mense en die stryd om ‘n positiewe identiteit te skep, is dus die teenpool van die selfnegerende houdings wat sedert die 19e eeu deur sendelinge en opvoedkundige instansies op swartes afgedwing is.
Ook in 1977 publiseer Sepamla The Soweto I Love en James Matthew Pass me a Meatball, Jones. Albei die bundels word verbied. In 1978 verskyn Wally Serote se Behold Mama, Flowers, wat opgedra is aan Steve Biko, die Swartbewussynsleier wat in 1977 in aanhouding sterwe. In 1979 publiseer Ingoapele Madingoane sy populêre anti-koloniale epiese gedig Africa, my beginning, wat aanvanklik verbied is, en debuteer Christopher van Wyk met Its time to go home. In 1982 verskyn twee bloemlesings wat uitsluitlik aan swart poësie gewy is, nl. Voices from Within: Black Poetry from Southern Africa, saamgestel deur Michael Chapman en Achmat Dangor, en The Return of the Amazi Bird: Black South African Poetry 1891—1981, geredigeer deur Tim Couzens en Essop Patel.
In Afrikaans verskyn daar ook beduidende werk deur Adam Small wat in Distrik Ses (1973) gedigte publiseer, vergesel deur foto’s van Chris Jansen oor die sloping van Distrik Ses ingevolge ‘n bepaling van die Groepsgebiedewet. Julian de Witte debuteer in 1977 met Die Koning in die buiteland, ‘n bundel herinneringsgedigte met ‘n sterk streekinslag, betreklik vry van eksplisiete politieke kommentaar. In sy tweede bundel, Verban: Verbinne (1980), versubjektiveer hy aspekte van sosiale vervreemding, rassekonflikte en repressie in fyn gestileerde gedigte. Vernie February, wat jare lank reeds in Nederland leef, publiseer O Snotverdriet in 1979 waarin hy soms op ikonoklastiese wyse aspekte van die Suid-Afrikaanse folklore satiriseer en ook probeer om die elemente te herskep vanuit die verlangende perspektief van ballingskap. Peter Snyders se bundel, ‘n Ordinary Mens (1986), is stilisties ‘n voortsetting van Adam Small se benutting van Kaapse streekstaal maar sonder die fel religieuse satire van sy voorganger. Hierdie produktiwiteit van swart digters in Afrikaans in ‘n tydperk van algemene swart verset teen alle aspekte van Afrikaner-nasionalisme, insluitend Afrikaans, kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat Afrikaans vir die meeste van hierdie digters ‘n moedertaal is. Hulle sosio-psigologiese ervaring daarvan verskil beduidend van ander swartes s’n wat ‘n inheemse taal of Engels as moedertaal het of as skryfmedium verkies.
Afgesien van die opbloei in poësie het die tydvak ook ‘n groei in die drama beleef. Die klem wat die Swartbewussynsbeweging op kultuur gelê het, stimuleer die ontstaan van kultuurgroepe in stedelike gemeenskappe waar kort eenbedrywe geskep word wat in gemeenskapsale, kerke en die paar onafhanklike teaters, soos die Ruimteteater in die Kaap en die Markteater in Johannesburg opgevoer word. In sommige gevalle het swart akteurs en dramaturge, ten spyte van die beginsel van non-kollaborasie van ortodokse Swartbewussynsdenke met blankes meegewerk. Die vennootskap tussen John Kani en Winston Ntshona met Athol Fugard, wat gelei het tot Zizwe Banzi is Dead en The Island, wat in 1974 in druk verskyn, is ‘n voorbeeld hiervan. Hierdie internasionaal bekroonde verhoogstukke, wat ‘n groot invloed sou uitoefen op die inheemse teater, ondersoek die paswette en politieke gevangeskap. In 1978 verskyn M.J. Mtsaka se Not His Pride wat die ervarings en probleme van stedelike swartes dramatiseer. Deur Fatima Dike word twee stukke gepubliseer, The Sacrifice of Kreli (1978), waarin sy die opoffering van die Xhosa-hoofman, Krelie, tydens die Britse koloniale penetrasie in die Oos-Kaap ondersoek, en The First South African (1982), wat die tragiek inherent aan rasseklassifikasie eksploreer. Zakes Mda se vroeë stukke verskyn onder die titel We shall Sing for the Fatherland (1982). Die titelstuk van die bundel is ‘n ironiese uitbeelding van die toestande wat na ‘n revolusie in Suid-Afrika heers. In Egoli, City of Gold (1981) beeld Matsemela Manaka die lot van mynwerkers uit. Die meeste van die dramas wat wel opgevoer is, is nooit gepubliseer nie. ‘n Goeie beeld van die aard, ontwikkeling, bemoeienisse en estetika van die teater in die tyd, kan nietemin verkry word uit Robert Kavanagh se versameling South African People’s Plays (1982).
Die skeppende prosa van die tyd bring nuwe skrywers na vore en bevestig die statuur van figure uit die vorige periode soos Es’kia Mphahlele, Bessie Head, Peter Abrahams en James Matthews. In dié tyd tree Miriam Tlali as ‘n nuwe stem na vore met Muriel at Metropolitan (1975), ‘n outobiografiese roman, en Amandla (1980), met die 1976-opstand as tema. Ahmed Essop debuteer met The Hajji (1978), ‘n bundel humoristiese kortverhale wat die wêreld van Suid-Afrikaanse Indiërs met insig voorstel. Mtutuzeli Mashoba maak sy debuut met ‘n bundel sosiaal-realistiese verhale oor die stedelike en landelike wêreld van swartes onder apartheid, nl. Call me not a Man (1979), wat by verskyning verbied word. Met Mzala (1980) en Children of Soweto (1982) vestig Mbulelo Mzamane homself as a formidabele kortverhaalskrywer en ‘n beduidende romanskrywer wat in staat is om komiese verbeelding met politieke erns te versoen. Achmat Dangor verskyn op die toneel met Waiting for Leila (1980), ‘n novelle oor gefrustreerde liefde te midde van die sloping van Distrik Ses en verhale oor ‘n verskeidenheid ander temas. Die digters Wally Serote en Sipho Sepamla ontluik as romanskrywers, onderskeidelik met To Every Birth its Blood (1981) en A Ride on the Whirlwind (1981).
Om die periode saam te vat, is dit nodig om daarop te wys dat die heersende dampkring van Swart Bewussyn in die tyd nie noodwendig beteken dat al die skrywers ondersteuners van die perspektief was nie, of dat alle werke waarna hier verwys is, die gees adem nie. ‘n Gedetailleerde ondersoek van die verhouding tussen die werke en die tyd is hier nodig. Veralgemenings kan in die verband misleidend, vereenvoudigend en selfs foutief wees.
Onlangse werkers- en weerstandsliteratuur, 1982 tot hede
Die Suid-Afrikaanse samelewing gaan ‘n nuwe fase binne met die vorming van die United Democratic Front in 1983 as teenvoeter vir die Staat se grondwetlike veranderinge. Laasgenoemde veranderinge was daarop gemik om sektore van die swart gemeenskap, nl. bruin mense en Indiërs, in ‘n hiërargiese driekamerparlement, gedomineer deur blankes te plaas. Die meerderheid swartes is daarvan uitgesluit. Die afwatering van ortodokse Verwoerdiaanse apartheid deur die koöptering van geselekteerde swart groepe, het die beginsels en strategiese waarde van eksklusiewe swart solidariteit aansienlik verswak. Die opkoms en groei van die swart vakbondbeweging, met sy klem op ‘n klas- en rasseperspektief, sowel as die groei van die nie-rassige demokratiese perspektief het gelei tot ‘n meer nasionaal inklusiewe benadering. Sowel blanke as swart eksklusiwiteit is deur die nuwe weerstandsbeweging as historiese doodloopstrate beskou. Gekonfronteer met hierdie uitdaging het die Staat met repressie gereageer, maar later besef dat die fundamentele probleme in Suid-Afrika nie daardeur opgelos kan word nie.
Die verwikkelinge het op literêre vlak gelei tot die stigting van die nie-rassige Kongres van Suid-Afrikaanse Skrywers in 1987 (COSAW). Die skrywersorganisasie, wat streektydskrifte in die Kaap, Natal en Transvaal publiseer, is veral daarop ingestel om aan jong skrywers literêre werkswinkels en publikasiegeleenthede te bied. Die groei van die arbeidersbeweging het weer gelei tot die vestiging van kultuurafdelings in vakbonde. Hierdie twee dimensies, nl. die populêre inklusiewe nie-rassige benadering en die werkersperspektief, het ‘n nuwe gees in die literatuur geblaas. Die protesinslag is vervang deur die nosie van weerstand, waarmee daar gepoog is om uit die diverse literêre tradisies ‘n breë Suid-Afrikaanse literatuur te skep waaraan alle Suid-Afrikaners deel kan hê. Op hierdie stadium is die perspektief hoogstens ‘n ideaal omdat die uiteenlopende literêre tradisies meermale in konflik met mekaar verkeer.
Die kortverhale Fools and Other Stories (1983) en kritiese werk van Njabulo Ndebele wat in tydskrifte verskyn het en eersdaags gepubliseer gaan word as Rediscovery of the Ordinary, is van groot belang in hierdie konteks. In beide genres onderwerp hy die eksplisiete politieke inhoud van swart skryfwerk aan formele sublimasie, sonder om die humanistiese inslag daarvan oorboord te gooi. Hiernaas verskyn twee belangrike skryfsters in 1987 op die toneel. Uit Engeland debuteer Zoë Wicomb met You Can’t Get Lost in Cape Town, ‘n bundel komplekse herinneringsverhale met ‘n feministiese inslag. Jayapraga Reddy se verhale, waarvan sommige aanvanklik in Staffrider gepubliseer is, word gebundel onder die titel On the Fringe of Dreamtime and Other Stories. Reddy se verhale beeld veral die probleme van Indiërvroue in behoudende milieus uit. ‘n Noemenswaardige ontwikkeling in dié verband is die vestiging van die vroue-uitgewery Seriti sa Sechaba in 1987.
Digters wat in die tyd na vore tree, is Don Mattera met Azanian Love Songs (1983), Achmat Dangor met Bulldozer (1983), Farouk Asvat met A Celebration of Flames (1988), A.W. Oliphant met At the End of the Day (1988), Mzwakhe Mbuli met Before Dawn (1989). Ondanks die uiteenlopende perspektiewe en style, wat wissel van kontemplatiewe poësie, geskryf deur Asvat, tot die mondelinge poësie van Mbuli wat aan duisendes by massavergaderings voorgelees word, is al die digters gemoeid met aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing en die rol van poësie in die proses van verandering.
In 1988 is ‘n feesuitgawe, Ten Years of Staffrider, geredigeer deur A.W. Oliphant en I. Vladislavic, gepubliseer. Dié bundel bied ‘n seleksie van die poësie, prosa, fotografie en kunswerke wat die afgelope dekade in die tydskrif gepubliseer is en belig die deurslaggewende rol wat die tydskrif in die literatuur van die laat-sewentiger ep die tagtigerjare gespeel het. Op die werkersfront is die publikasie van ‘n versameling werkersgedigte, Black Mamba Rising (1986), belangwekkend. Dit bevat gedigte van Nise Malange, Alfred Qubula en Mi Hlatshwayo. Hierdie poësie behels ‘n transformasie van die prysliedere ten einde die revolusionêre aspirasies van werkers en hul organisasies te artikuleer. In aansluiting hierby het die tydskrif Staffrider ‘n spesiale uitgawe aan “Worker Culture” (1989) gewy. Die uitgawe belig veral die poëtiese en dramavorme wat deur werkers beoefen word. Hiernaas publiseer ‘n werker soos Alfred Qabula ‘n outobiografie getitel A Working Life Cruel Beyond Belief (1989) en verskyn daar ‘n biografie van Moses Mayekiso onder die titel Comrade Moss (1989). Die fokus van werkersliteratuur is swart werkers se ervarings van rassediskriminasie, ekonomiese uitbuiting en die ontwikkeling van die vakbondbeweging.
In Afrikaans is daar tekens van ‘n nuwe beweging, onder veral swart digters in die Wes-Kaap, wat poog om ‘n alternatiewe tradisie in Afrikaans daar te stel. Uit die werk wat tot dusver gepubliseer is, lyk dit egter of die nosies van alternatiwiteit nie veel wat beduidend of nuut is opgelewer het nie. Die poësie is, met die uitsondering van Patrick Petersen se Amandla Ngawethu (1985), vasgevang in die herhaling van vorme en houdings wat reeds in ander omstandighede deur voorgangers sterker geartikuleer is.
In die tagtigerjare was daar ook ‘n opbloei in populêre kommersiële drama. Baie van die werk is struktureel gebaseer op die Brechtiaanse episodiese vorm wat vroeër deur Fugard, Kani en Ntshona benut is. Die belangrikste figure hier is Percy Mtwa, Mbongeni Ngema en Maishe Maponya (o.a.) wie se werk versamel is in Woza Afrika! (1986), saamgestel deur Duma Ndlovu. Gcina Mhlope tree in 1988 na vore as ‘n belowende dramaturg met haar bekroonde werk Have you Seen Zandile?
Dit moet uit die oorsig duidelik wees dat swart literatuur omvattend, ryk en geskakeerd is. Die letterkunde is egter nie ‘n afsonderlike entiteit nie en sou vrugbaar vergelyk kan word met die literatuur van blankes. So ‘n vergelykende studie sal aan die lig bring hoe die temas wat in swart literatuur voorkom, verstrengel is met soortgelyke temas in blanke Engelse en Afrikaanse skryfwerk. Saam beskou, behels hierdie dialogiese verhouding die basis van die onderliggende eenheid van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Hierdie oorsig moet, soos aanvanklik genoem is, gesien word as ‘n voortrap in die rigting van ‘n inklusiewe benadering.
Bibliografie
Amuta, C. 1989. The Theory of African Literature: Implications for Practical Criticism. London: Zed Books with the Institute of African Alternatives.
Awoonor, K. 1975. The Breast of the Earth: A Survey of the History, Culture and Literature of Africa South of the Sahara. New York. Anchor Press/Doubleday.
Beuchat, P.D. 1967. Do the Bantoe have a Literature? Johannesburg: ISMA Publications.
Biko, S. 1978. / Write What I Like. London: Heinemann.
Bleek, W.H.I. & Lloyd, L.C. 1986. Specimens of Bushman Folklore. Cape Town: Struik.
Chapman, M. (ed.). 1982. Soweto Poetry. Johannesburg: McGraw-Hill.
Cope, T. 1968. Isibongo: Zulu Praise Poems. Oxford: Oxford University Press.
Couzens, T. 1979. Introduction. In: Plaatje, S. Mhudi. London Heinemann.
Couzens, T. 1985. The New African: A Study of the Life and Times of H.I.E. Dhlomo. Johannesburg: Ravan Press.
Couzens, T. & Patel, E, 1982. Return of the Amazi Bird: Black South African Poetry 1891—1981. Johannesburg: Ravan Press.
Couzens, T. & White, L. (eds). 1984. Literature and Society of South Africa. London: Longman.
Damane, M. & Sanders, P.B. 1974. Lithoko: Sotho Praise Poems. Oxford: Oxford University Press.
Derrida, J. 1976. Of Grammatology (transl. G.C. Spivak). Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Dhlomo, H.I.E. 1936. Drama and the African. In: South African Outlook, LXVI.
Gerard, A. 1971. Four African Literatures: Xhosa, Sotho, Zulu, Amharic. Berkeley: University of California Press.
Giliomee, H. & Schlemmer, L. 1989. From Apartheid to Nation Building. Cape Town: Oxford University Press.
Gordimer, N. 1973. The Black Interpreters: Johannesburg: Spro-Cas/Ravan.
Gunner, E. 1982. New Wine in Old Bottles: Imagery in the Izibongi of the Zulu Zionist Prophet, Isaiah Shembe. Journal of the Anthropological Society of Oxford, 13.
Gunner, E. 1989. Songs of Innocence and Experience: Woman as Composers and Performers of Izibongo, Zulu Praise Poetry. In: Clayton, C. (ed.). Woman and Writing in South Africa: A Critical Anthology. Johannesburg: Heinemann.
Gwala, M. 1989. Towards a national culture (Interview). Staffrider, 8(1).
Harsch, E. 1983. South Africa: White Rule Black Revolt. New York: Monad Press.
Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art (transl. G.G. Grabowicz). Evanston: Northwestern University Press.
Jabavu, D.T.T. 1921. Bantu Literature: Classification and Reviews. Lovedale: Lovedale Press.
Jordan, A.C. 1957. Towards an African Literature. Africa South, 1(4).
Jordan, A.C. 1973. Towards an African Literature: The Emergence of Literary Form in Xhosa. Berkeley: University of California Press.
Kavanagh, R.M. 1981. South African People’s Plays. London:
Heinemann.
Knappert, J. 1981. Namibia: Land and Peoples, Myths and Fabels.
Leiden: E.J. Brill.
Kunene, D.P. 1968. The African Writer’s Response. Africa Today, 15(4).
Kunene, D.P. 1971. Heroic poetry of the Basotho. Oxford: Clarendon Press.
Kunene, D.P. 1989. Thomas Mofolo and the Emergence of Written Sesotho Prose. Johannesburg: Ravan Press.
Lestrade, G.P. 1937. Traditional Literature. In: Schapera, I.S. (ed.). The Bantu Speaking Tribes of South Africa. London: Routledge.
Lodge, T. 1983. Black Politics in South Africa Since 1945. Johannesburg: Ravan Press.
Mphahlele, E. 1974. The African Image. London: Faber & Faber.
Ndebele, N.S. 1986. Changes in the South African Cultural Battlefield. Third World Book Review, 2(1 & 2).
Ndebele, N.S. 1989. The Challenges of the Written Word. In: Campschreur, W. & Divendal, J. (eds). Culture in Another South Africa. London: Zed Books.
Nkosi, L. 1981. Tasks and Masks: Themes and Styles in African Literature. London: Longman.
Ong, W.J. 1971. The Literate Orality of Popular Culture Today. In: Ong, W.J. Rhetoric, Romance, and Technology: Studies in the Interaction of Expression and Culture. New York: Cornell University Press.
Ong, W.J. 1982. Orality and Literacy: The Technologizing of the Word. London: Methuen.
Opland, J. 1983. Xhosa Oral Poetry: Aspects of a Black South African Tradition. Johannesburg: Ravan Press.
Parker, K. 1978. The South African Novel in English. In: Parker, K. (ed.). Essays in Criticism and Society. London: Macmillan.
Parker, K. 1986. Alex’s Walk to Freedom. Third World Book Review, 2(1).
Rive, R. 1982. Books By Black Writers. Staffrider, 5(1).
Rycroft, D.K. & Ngcobo, A.B. 1988. The Praises of Dingana. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter.
Schapera, I. 1930. The Khoisan Peoples of South Africa. London: Routledge & Sons.
Schapera, I. 1965. Praise Poems of the Tswana Chiefs. Oxford: Oxford University Press.
Scheub, H. 1975. The Xhosa “Ntsomi”. Oxford: Oxford University Press.
Shava, P.V. 1989. A People’s Voice: Black South African Writing in the Twentieth Century. London: Zed Books.
Shepherd, R.H.W. 1936. Literature for the South African Bantu. Pretoria: Carnegie Corporation.
Smuts, J. 1930. Africa and Some World Problems. Oxford: Oxford University Press.
Vilakazi, B. 1954. The Oral and Written Literature in Inguni. D.Litt.-thesis, University of the Witwatersrand, Johannesburg.
Visser, N. & Couzens, T. 1985. H.I.E. Dhlomo: Collected Works. Johannesburg: Ravan Press.
Willan, B. 1984. Sol Plaatje: A Biography. Johannesburg: Ravan Press.
Andries Walter Oliphant