TEKS EN KONTEKS

In die literatuurstudie word teks en konteks gebruik teen die agtergrond van ’n geskiedenis van strydende en teenstrydige benaderings en opvattings oor hulle betekenis en verhoudings. Teks kan verwys na die uiterlike manifestasie van ’n manuskrip of boek of na die formele taalaanbod of (in die →poststrukturalisme) na die betekenisuitkoms van ’n leesproses of ’n interpretasie. Konteks kan verwys na die materiële omstandighede wat die totstandkoming van die boek/manuskrip omring of na teksinterne kontekste of na die omringende sosiaal-kulturele omstandighede waarbinne tekste geproduseer en gesirkuleer word.

In die tekskritiek, wat ’n lang assosiasie met manuskrip- en Bybelstudies het, word teks gebruik om na die materiële manifestasie van ’n werk, die manuskrip of boek, te verwys. Binne dié raamwerk behels tekskritiek die sistematiese ontleding en vergelyking van verskillende historiese teksweergawes van bepaalde werke in die afwesigheid van ’n gesertifiseerde oorspronklike teks, met die doel om die gesaghebbendheid en akkuraatheid van ’n spesifieke teks vas te stel. So beskou was en is tekskritiek ’n vorm van historiese, formele kritiek. Tekskritiek is ’n instrument in die redaksionele versorging van kritiese uitgawes van werke wat as handgeskrewe of getikte manuskripte ontstaan het en/of deur verskillende fases van selfverbetering, redaksionele korreksies en/of kopiëring gegaan het. Fredson Bowers (1959:vii) beskryf die taak van die tekskritikus soos volg: “The expertise of the textual critic is taken as applying to four basic situations: (1) the analysis of the characteristics of an extant manuscript; that served as copy for a printed text; (2) the recovery of the characteristics of the lost manuscript; (3) the study of the transmission of a printed text; and (4) the presentation of the established and edited text to the public.”

Vanuit die konteks van die tekskritiek word die kontemporêre tekskritiek en -analise dikwels gekritiseer om dit die onderskeid tussen teks en werk sou ignoreer: teks as die ordening van woorde en punktuasiemerkers op die bladsy en as ’n voertuig vir die oordrag van die taal, die medium van die literêre werk – die werk wat derhalwe ’n abstraksie is. Anders gestel, die literêre werk is ’n taalkunswerk wat uit ’n teks tot stand kom, maar nie self op papier of in ’n elektroniese weergawe van die bladsy bestaan nie. Só beskou, kan teks en werk nie uitruilbaar gebruik word nie, want hulle verwys nie na dieselfde toedrag nie: ’n teks is ’n teks van die materiële of gesimuleerde dokument. Konteks in die tekskritiek behels veral ander teksweergawes en kommentare oor die bepaalde werk. (Vgl. ook →Vorm, inhoud, struktuur; →Artefak en estetiese objek.)

Die meerderheid opvattings oor teks kan onder een van twee groot denkrigtings tuisgebring word. Volgens die een denkrigting word die (literêre) teks gesien as ‘n funksie van een of ander buitetekstuele konteks. Volgens die ander rigting van denke is die literêre teks ‘n selfstandige, →Outonome entiteit. Binne die raamwerk van die lg. denkpatroon is konteks die teks “in die omgewing van” ‘n woord of sin of fragment wat nodig is vir die verstaan van die juiste betekenis van die woord, sin of fragment. Konteks kan derhalwe gebruik word om soveel teksinterne as -eksterne situasies aan te dui.

‘n Kort voëlvlug oor die ontwikkeling van die verskillende denkrigtings oor →tekstualiteit lewer die volgende op:

Onder invloed van die →Realisme en die →Positivisme in die 19de en vroeg 20ste eeu is die literêre teks grotendeels gesien as ‘n “weergawe van die werklikheid”. Konteks het dan gedui op “die sosiale opset waarbinne die literêre werk funksioneer”. Die literatuurbenadering aanvaar dat, sover dit betekenis betref, die literêre werk en sy Umwelt op dieselfde kontinuum lê, deurdat taal ‘n uitdrukking van ‘n kultuur op ‘n gegewe oomblik is en betekenis ‘n funksie van taal. Die “inhoud” of “betekenis” van ‘n spesifieke teks word derhalwe bepaal deur die kulturele en persoonlike konteks waarbinne die werk funksioneer, net soos die woordbetekenis deur hierdie kultureel-persoonlike situasie gereguleer word.

Onder invloed van die ekspressionisme van die →Romantiek is die literêre teks beskou as “‘n uitdrukking van die gewaarwordinge en emosies van die outeur”. In die →biografiese kritiek van die tydperk het die visie en sensibiliteit van die skrywer gefunksioneer as konteks vir die vasstelling van die betekenis van sy/haar werke. Daar is aanvaar dat elke afsonderlike teks ‘n funksie is van daardie “wêreld van betekenisse” wat deur die skrywer se waarnemings, ervarings en opvattings uitgemaak word.

Verskeie kritiese metodes wat in die 20ste eeu nog aandag geniet, soos o.m. die mito-poëtiese en die tradisionele psigoanalitiese kritiek (→ Biografies-psigologistiese benadering en →Freudiaanse psigoanalise en literatuur), is as ‘t ware voortsettings van benaderings wat die teks beskou as ‘n funksie van een of ander buitetekstuele konteks wat die raamwerk en grense van die teks se betekenis stel.

In reaksie teen wat ervaar is as ‘n reduksionistiese strewe van die Positivisme en →Historisme het gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu verskillende kritiese metodes ontstaan wat die literêre teks as ‘n selfstandige, selfregulerende, objektief-beskryfbare entiteit of objek beskou. Hierdie eienskappe het die teks te danke aan ‘n insig dat sy medium, die taal, en sy onderwerp, die menslike natuur, tot die openbare domein behoort.
In die metodes van die outonomistiese literatuurbenadering van die →Russiese Formalisme, →New Criticism en die →stilistiek op taalkundige grondslag, staan die taligheid van die teks voorop. In sommige kringe en sekere fases in die geskiedenis van hierdie metodes is selfs pogings aangewend om die taal van die literêre kunswerk in opposisie tot “nie-literêre” taalgebruik te definieer in ‘n poging om die eiesoortigheid van die literêre werk te releveer.

Onderliggend aan die benadering van die literêre teks as taalkunswerk lê ‘n spesifieke taalopvatting. Nie die pre-Saussureaanse opvatting van taal as ‘n versameling eenhede of “woorde” waaraan vaste, onveranderlike “betekenisse” “geheg” is, en wat op ‘n eenvoudige en direkte manier gebruik kan word om ‘n wêreld van onafhanklike bestaande objekte te beskryf nie, m.a.w. nie ‘n “substantiewe” taalbeskouing nie, maar ‘n relasionele opvatting waarvolgens die taalsituasie self – die relasies wat woorde binne die verbale struktuur aangaan – die konteks is waarbinne betekenis gegenereer word.
Omdat die betekenis van ‘n teks volgens hierdie beskouing nie van kennis van die referent – indien daar hoegenaamd na buitetekstuele situasies verwys word – afhanklik is nie, maar deur die taalkonteks self gegenereer (gerig en beperk) word, kan betekenis objektief beskryf word.

In die kritiese benaderings van die 20ste eeu het die aandag grotendeels weggeskuif van histories-formele teksontledings, hoewel dit ’n belangrike instrument bly met die oog op kritiese uitgawes en redaksionele en forensiese kritiek. Probleemgerigte formele benaderings tot teksanalise word wel aangetref in die 20ste-eeuse →stilistiek, ’n dissipline wat na die klassieke retoriek teruggevoer word, maar met wortels in die opvattings van die →Russiese Formalisme en Praagse →Strukturalisme. Die invloed van hierdie bewegings of skole het die Suid-Afrikaanse →Stilistiek op taalkundige grondslag in die vyftigerjare via Nederland bereik. Die taal- en teksopvattinge van hierdie benaderings en van die →New Criticism en →Practical Criticism, tesame met die formele inslag van die stilistiek, het die rigting van die Afrikaanse teksgerigte literatuurkritiek in die daaropvolgende drie dekades bepaal. Twee konsepte was bepalend vir die teksgerigte kritiek: eerstens dat die literêre werk ’n taalkunswerk is en tweedens dat dit ’n outonome entiteit is (→Outonomie van die literêre werk). Die eerste konsep beklemtoon die materiële vergestalting soos die titel van Cleanth Brooks, ’n New Critic, se boek The Well Wrought Urn: Studies in the Structure of Poetry (1947), getuig.

Veral in die poësie, die voorkeurgenre vir stilistiese analises, eis die konkrete taalgebruik spesiale aandag op, onder meer deur afwykings van bepaalde norme of taalgebruikskonvensies of die gebruik van literêre stylfigure (beeldspraak). Omdat die Stilistiek aanvanklik veral aan sulke opvallende formele taalverskynsels aandag gegee het en nie aan die totaliteit van die literêre werk nie, is dit as ’n sub-dissipline van die linguistiek bevorder, en binne dié raamwerk het konteks verwys na die omringende linguistiese en situasionele teks (vgl. hieroor o.m. Michael Halliday, 2002).

Die opvattings dat konteks ’n teksinterne (en direk-omringende) aangeleentheid is, is verder uitgebou met die uitbreiding van die werksaamhede van die Afrikaanse Stilistiek na ’n metode binne die wyer teksgerigte literatuurkritiek. Dit is in dié konteks dat die tweede konsep, outonomie, ’n belangrike rol gespeel. Volgens die teksgerigte benadering word literêre werke deur die eiesoortige optrede en die organisasie van taal in die teks van die omringende buitetekstuele konteks afgesonder. Die interne verhoudings en betekenisse wat as gevolg van die taalspel tot stand kom, vervang die verwysing na die wêreld. Wat lesers van die outeur of die wêreld (hetsy in ’n sosiale of historiese sin) moet weet om die werk te begryp en die estetiese aspek te beoordeel, word in die teks self gegee. In die ontdekking, deur die leser, van die onderlinge verbande en die transformasie van herkenbare elemente van menslike ervaring binne die teks, kom in die woorde van Brooks (1947) ’n nuwe, soewereine konteks tot stand. So wórd en ís die gedig sy eie konteks. Die onderskeid wat sodoende getref word, is tussen kontekstuele en referensiële diskoers. In latere fases van die teksgerigte kritiek is die term →struktuur gebruik om dié noue verband tussen die literêre teks en die teksimmanente konteks te beskryf. Die verhouding tussen teks en die buitetalige werklikheid is geregistreer in die verhouding tussen struktuur en →literêre verwysing, waar verwysing betrekking het op die verrekening van die literêre en kulturele tradisie met behulp van bepaalde stylgrepe in die werk self.

Konteks in die opsig soos hierbo beskryf, verskil van die opvattings daaroor in ander kritiese benaderings wat sedert die 1930’s tot stand gekom het en wat literêre, maar later ook tekste in die algemeen in samehang of in jukstaposisie met die materiële omstandighede van die omringende wêreld of buitetekstuele konteks beskou. In die benaderings van die historiese, biografiese, argetipiese (of mite-) en marxistiese kritiek, byvoorbeeld, kan die kulturele momente wat die betekenisse van woorde omskryf en begrens, die biografiese besonderhede en oeuvres van skrywers (wat as ’n uitgebreide werk gesien word), mitiese grondtekste onderliggend aan literêre tradisies, asook die geskiedenis waarteen alle tekste geskryf en gelees word, alles onder die term konteks tuisgebring word. Waar dié kontekste binne die raamwerk van die formele teksbenaderings as (agter-) grond waarteen die literêre teks as figuur op die voorgrond tree, beskou sou word, word hulle in hierdie vorme van kritiek inherent deel van die literêre diskoers en die magsverhoudinge wat daarin uitgespeel en geregistreer word. Die opvattinge van Mikhail Bakhtin, Julia Kristeva en Roland Barthes het ’n belangrike rol in hierdie verskuiwing gespeel. Bakhtin se opvattings oor die dialogiese en sosiale aard van taalgebruik en oor meerstemmigheid in literêre tekste (teenoor die eenheid en afgesonderheid van die teks in die formele benaderings) was die vertrekpunt. Ook die insig dat diskoers nooit afgehandel is nie. Barthes se latere insigte sluit hierby aan.

In sy vroeë denke het Barthes (1981) die teks nog as die permanente, materiële inskripsie van ’n werk beskou, ’n weefwerk van woorde, wat só georden is dat dit ’n stabiele en unieke betekenis in die werk tot stand bring. Net soos die klassieke teken ’n geslote eenheid is wat betekenis ‘gevange hou’, so ook die tradisionele teks: “it closes the work, chains it to its letter, rivets it to its signified”. Só beskryf Joachimsen (2011: 83) die werk: “A work is complete, it exists in space, it is wrought by the creative power of the artist, and its meaning is stable across time and culture.” In sy latere beskouings keer Barthes, beïnvloed deur die Derridiaanse konsep différance, die verhouding tussen teks en werk egter om en werp daarmee die opvatting dat elke teks ’n vaste betekenis het omver. In die latere denke is die materiële boek die voltooide werk, terwyl die teks – die spel van betekenaars in ’n boek – in die woorde van Allen (2000: 66), “the disruptive and yet playful force of writing” deur die lesers van die teks ontketen: “A work is a finished object, something computable, which can occupy a physical space (take its place, for example, on the shelves of a library); the text is a methodological field. … ‘The work is held in the hand, the text in language’.” (Barthes, 1981a: 39, in Allen, 2000: 66).

Dié opvatting herinner aan T.T. Cloete s’n oor die grondige meerduidigheid van gedigte wat nie bloot op ambivalensie berus nie, maar teruggevoer kan word na die inherente semantiese meerduidigheid van woorde. Terselfdertyd is dit ook meer radikaal. Barthes praat van die stereografiese meervoudigheid van die weef-werk van betekenaars. Hierby inbegrepe is die draad van betekenisuitbreiding, maar ook die ingeweefdheid van die kulturele konteks in elke teks. Trouens, volgens die →Poststrukturalisme, is die sosiale self ook ’n teks. In hierdie verband het De Saussure se relasionele tekenleer, Bakhtin se opvattings oor die dubbelstemmigheid van taaluitinge en heteroglossia, Kristeva se opvattings oor →intertekstualiteit, transformasie en voortdurende semiotiese produksie (signifiasie), saam met Barthes se omkering van die verhouding tussen teks en werk, die ‘doodverklaring’ van die outeur en die opkoms van die leser as produsent van die teks, die grondwerk gelê vir ’n nie-outonomistiese benadering tot tekste gebaseer in teksproduksie en die kritiek van die sosiale teks.

’n Sleutelbegrip in die bogenoemde verband is →tekstualiteit wat die sosiale of die kulturele in die geheel as teks beskou. In die woorde van Allen (2000:36): “… the text is not an individual, isolated object but, rather, a compilation of cultural textuality. Individual text and the cultural text are made from the same textual material and cannot be separated from each other.” In sodanige benaderings kan die teks nie van intertekstualiteit losgedink word nie. Elke teks is terselfdertyd ook ’n interteks: “The source of each text is always another text, but there is always another text before that. No text lies outside the endless play of language, and no text is complete: each exhibits traces or ‘sediments’ of some other text in an endless repetition of originary lack.” (Vgl. H.R. Elam & R. Greene, 2012.)

Die literêre teks, só beskou, as ‘n tydelike organisasie van woorde en uitdrukkings, wat in die leesproses tot stand kom, kan nie aanspraak maak op ’n bevoorregte status nie; dit is bloot een sosiale praktyk tussen talle ander soos Kristeva (1986:87) dit stel: “Developed from and in relation to these modern texts the new semiotic models then turn to the social text, to those social practices of which ‘literature’ is only one unvalorized variant, in order to conceive of them as so many ongoing transformations and/or productions.”

Bronnelys

Allen, Graham. 2000. Intertextuality. Londen: Routledge.

Allen, Graham. 2003. Roland Barthes. Londen: Routledge.

Barthes, Roland. 1981. Theory of the text. In: Young, R. (red.). 1981. pp. 31–47.

Beard, Adrian. 2001. Texts and contexts: introducing literature and language study. Londen: Routledge.

Bowers, F. 1959. Textual and Literary Criticism. Cambridge: Cambridge University Press. DOI: 10.1017/CBO9780511552885.

Brooks, Cleanth. 1947. The Well-Wrought Urn. Mariner Books.

Burke, Michael. 2018. The Routledge handbook of stylistics. New York: Routledge.

Castle, Gregory. 2013. The Literary Theory Handbook. Wiley Blackwell.

Chapman, Raymond. 1989. Linguistics and literature: an introduction to literary stylistics. Londen: W. Arnold.

Elam, H.R. en R. Greene. 2012. “Textuality”. In: Greene, 2012. pp.1429-1430.

Greene, Roland. 2012. The Princeton encyclopedia of poetry and poetics: fourth edition. Princeton: Princeton University Press.

Halliday, Michael. 2002. Linguistic Studies of Text and Discourse.  Continuum International Publishing.

Joachimsen, Kristin. 2011. Identities in transition: the pursuit of Isa. 52:13-53:12. Leiden: Brill.

Kristeva, Julia, Alice Jardine, Thomas Gora, and Leon Samuel Roudiez. 2006. Desire in language: a semiotic approach to literature and art. New York: Columbia University Press.

Kristeva, Julia en Toril Moi. 2002. The Kristeva Reader. Oxford: Blackwell.

Spitzer, Leo. 2016. Linguistics and Literary History: Essays in Stylistics. https://doi.org/10.1515/9781400878109.

Tanselle, G.T. 2012. “Textual Criticism”. In: Greene, Roland. 2012. pp.1426-1429.

Taylor, Talbot J. 1981. Linguistic theory and structural stylistics. Oxford: Pergamon.

Toolan, Michael J. 2013. Language in literature: an introduction to stylistics. http://site.ebrary.com/id/10858732.

Toolan, Michael J. 2017. Language, text and context: essays in stylistics. Londen: Routledge. http://www.tandfebooks.com/isbn/9781315402383.

Van Peer, Will, en J. Renkema. 1984. Pragmatics and stylistics. Leuven: Acco.

Wegner, Paul D. 2006. A student’s guide to textual criticism of the Bible [its history, methods & results]. Downers Grove, Ill: IVP Academic/InterVarsity Press.

Young, Robert. red. 1987. Untying the text: a post-structuralist reader. Boston: Routledge & Kegan Paul.

 

Ronél Johl

(Hersien Augustus 2018)