TEKSTUALITEIT

Tekstualiteit (teenoor TEKS) is ‘n konsep wat sentraal staan in die POST-STRUKTURALISTIESE literatuurbeskouing (vgl. POST-STRUKTURALISME). Teenoor die tradisionalistiese opvatting dat die teks ‘n agterhaalbare betekenis(se) het, demonstreer (i.p.v. bewys) post-strukturalistiese kritici dat die teks se betekenis nie finaal vasgepen óf bepaalbaar is nie.

‘n Teks waarin die opvatting van tekstualiteit gedemonstreer word, is Roland Barthes se Le plaisir du texte (The Pleasure of the Text, 1975). Die plesier en ekstase (jouissance) wat die leesaksie verskaf, word in die benadering vooropgestel. In The Pleasure of the Text skryf Barthes soos volg: “Thus, what I enjoy in a narrative is not directly its content or even its structure, but rather the abrasions I impose upon the fine surface: I read on, I skip, I look up, I dip in again. Which has nothing to do with the deep laceration the text of bliss inflicts upon language itself, and not upon the simple temporality of its reading” (1975: 11, 12).

Barthes het aanvanklik in strukture “geglo” en in sy tweede fase het hy STRUKTURALISTIESE tekste geskryf. In ‘n onderhoud verduidelik hy die verskuiwing wat plaasgevind het tussen “Introduction to the structural analysis of narratives” (1966) en S/Z (1974): “In the former text I appealed to a general structure from which would then be derived analyses of contingent texts … I postulated the profit there would be in reconstructing a sort of grammar of narrative, or a logic of narrative, (and at that period, I believed in this possibility of such a grammar – I do not wish to deny it) … In S/Z, I reversed this perspective: there I refused the idea of a model transcendent to several texts (and thus, all the more so, of a model transcendent to every text) in order to postulate … that each text is in some sort its own model, that each text, in other words, must be treated in its difference, “difference” being understood precisely in a Nietzschean or a Derridean sense” (in Heath et al., 1971: 41). Barthes verwerp hier, soos hy duidelik te kenne gee, die idee van ‘n metafisiese model wat bestaansreg gee aan alle tekste.

Geoffrey Hartman (1981: 7) skryf soos volg oor die status van die teks: “If then, the page fractures itself with blank spaces and inserts, it is because God created the world not by the logos but by a slip of the tongue.” Op dieselfde wyse ontdek die leser toevallig betekenis(se) in die teks, is sy lesing dikwels eerder ‘n projeksie van homself, of van die KODES van ‘n bepaalde literatuuropvatting of tydsgees.

Die gebruik van erotiese METAFORE (Barthes bv.) en woordspelings (Hartman bv.) voorveronderstel ‘n bepaalde filosofiese benadering tot die literatuur. Dit is opvallend dat die twee genoemde literatore albei die outoriteite van die kritikus of leser bevraagteken. Hartman (1981: 45, 52) skryf baie speels soos volg hieroor: “Reading should be an errance joyeuse rather than the capitalization of great books by interpretive safeguards (…) we know meaning gets screwed.”

Ook word die grens tussen teks en wêreld geherdefinieer. Jacques Derrida (1976: 158) beskryf dit soos volg: “There is nothing outside the text (Il n’y a pas de hors-texte)”, terwyl Barthes só vroeg as in 1967 in sy Elements of Semiology opgemerk het: “We are much more than in former times … a civilization of the written word” (1967: 10). Die wêreld word dus as ‘n soort teks geïnterpreteer.

Die “maklike” en “vanselfsprekende” grense tussen wêreld/ teks – teks/wêreld word deur genoemde teoretici omgedop. Ten eerste is die “ek” wat die teks benader reeds gevul met ánder tekste: “This ‘I’ which approaches the text is already itself a plurality of other texts, of codes which are infinite, or more precisely, lost (whose origin is lost)” (Barthes, 1974: 10). Julia Kristeva (1969: 146) skryf die volgende: “Iedere teks neem vorm aan as ‘n mosaïek van aanhalings, iedere teks is die absorbering en transformasie van ander tekste” (eie vertaling).

Ten tweede is die teks ook nie ‘n “OUTONOME” eenheid nie maar dit sluit intertekstuele relasies met ander tekste – die teks kan selfs die bepaalde genreverwagtings parodieer …

INTERTEKSTUALITEIT is dan ook ‘n konsep wat by elk van hierdie teoretici gevind word. Daar moet vervolgens beklemtoon word dat die konsep vir elk van hierdie skrywers ‘n baie spesifieke betekenis het. Die teks as ‘n intertekstuele “organisme” demonstreer die oneindige moontlikhede van betekenisse. Die konsep is oorspronklik deur Julia Kristeva gedefinieer: “… the text is defined as a translinguistic apparatus that redistributes the order of language by relating communicative speech, which aims to inform directly, to different kinds of anterior or synchronic utterances. The text is therefore a productivity, and this means: first, that its relationship to the language in which it is situated is redistributive (destructive-constructive), and hence can be better approached through logical categories rather than linguistic ones; and second, that it is a permutation of texts (my kursivering), an intertextuality; in the space of a given text, several utterances, taken from other texts, intersect and neutralize one another” (Kristeva, 1980: 36).

Ook dui die begrip vir Kristeva op die onderlinge samehang tussen die verskillende “eenhede” in die teks, terwyl dit vir Derrida, Barthes, Hartman e.a. dui op die teks se verbintenisse met ánder tekste. Daar moet ook beklemtoon word dat die teoretici dikwels hul aannames verander – daarom vind die leser ook teenstrydighede in die verskillende teoretiese tekste.

Kristeva se siening van intertekstualiteit impliseer ‘n dinamiese, produksie-gerigte teksbegrip. Die teks produseer sigself, omdat die skrywer as “bron” net só min aanspraak het op die betekenis van die teks as die leser.

Die teks is/bly die sentrum waarin verskillende taalkodes mekaar ontmoet, en soos Barthes gedemonstreer het in sy beroemde analise van Balzac se “Sarrasine” in S/Z, kán die leser die teks “ontsluit” deur van verskillende kodes gebruik te maak. Die leser kan nietemin nooit ‘n volledige rekonstruksie van die teks maak soos Balzac dit bedoel het nie of soos die lesers in Balzac se tyd dit sou “ontvang” het nie. Die teks dra die geheim van sy “ware” betekenis saam met hom.

Binne die Afrikaanse literatuurkritiek is daar ‘n demonstrasie van tekstualiteit in die werk van Joan Hambidge (1985): in “Die skisofreniese kritikus” word Roland Barthes par Roland Barthes as ‘n roman gelees. Die teks van Barthes word konvensioneel as Roland Barthes se outobiografie gelees. Deur egter die teks ook as roman te lees – op grond van ‘n terloopse kode of aanwysing – word die teks se betekenismoontlikhede vermenigvuldig, word daar eerder op die dans van betekenisse klem gelê as ‘n afgeslote, finale of duidende betekenis.
(Vgl. INTERTEKSTUALITEIT en SEMANALISE.)

 

Bibliografle

Barthes, R. 1967. Elements of Semiology. London: Cape.

Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

Barthes, R. 1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill & Wang.

Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Hambidge, J. 1984. Die bourgeois kritikus. Tydskrif vir letterkunde, 22(1).

Hambidge, J. 1985. Die skisofreniese kritikus. Tydskrifvir letterkunde, 23(1).

Hartman, G. 1981. Saving the Text: Literature/Derrida/Philosophy. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Heath, S., MacCabe, C, & Prendergast, C. 1971. Signs of the Times: Introductory Readings in Textual Semiotics. Cambridge: Granta Press.

Kristeva, J. 1969. Recherchespour une sémanalyse. Paris: Seuil.

Kristeva, J. 1980. Desire in Language: A Semiotic Approach to Literature and Art. New York: Columbia University Press.

Raadpleeg ook:

Fraser, N. 1985/6. On the political and the symbolic: Against the metaphysics of textuality. Boundary 2, 14(1/2).

Harty, E.R. 1985. Text, context, intertext. JLS/TLW, 1(2).

Riffaterre, M. 1988. The mind’s eye: Memory and textuality. Romanic Review, 79(1).

Young, R. 1981/1987. Untying the Text; A Post-structuralist Reader. London & New York: Routledge & Kegan Paul.

 
Joan Hambidge