Hierdie spesifieke verssoort, wat gewoonlik verkeerdelik met Engels free verse, Duits freier Vers, Afrikaans vrye vers vertaal word, is vanaf 1886 deur die Franse digter Gustave Kahn in teoretiese geskrifte voorgestel en daarna deur Jules Laforgue, Emile Verhaeren en Francis Viélé-Griffin in hulle gedigte prakties toegepas. In die oë van hierdie vernuwers was die stadige afbrokkeling van die tradisionele Franse versbou ontoereikend. Die Amerikaner Walt Whitman se Leaves of grass wat Laforgue in 1886 in Frans vertaal het, het hierdie digters tot hulle teorieë oor die vers libre geïnspireer. Die term self is veel ouer. Reeds in die 17e en 18e eeu het Franse digters soos La Fontaine (in sy beroemde Fabels) en André Chénier gedigte in rymende verse van onegalige lengte en sonder stfofes geskryf. Vir hierdie soort vers moet ‘n mens liewer die minder verwarrende term vers mêles (gemengde verse) gebruik.
Met die woord libre (vry) gee die vers libre te kenne dat hy die “slawerny” van die klassieke Franse versbou afgeskud het. Inderdaad was die klassiek poëtologiese voorskrifte baie streng. Slegs die ewetallige verse van tien of van twaalf lettergrepe (die allesoorheersende aleksandryn) is destyds as “digterlik” beskou. Die aleksandryn, met sy gepaarde en afwisselend manlike en vroulike ryme, het die Franse digkuns en drama twee eeue lank oorheers. Sy sterk verssnede of sesuur verdeel die twaalf lettergrepe in twee halfverse (hémistiches), wat egter nie van dieselfde lengte moes wees nie en dus ‘n sekere beweeglikheid toegelaat het. Die klassieke versbou was uitsluitlik op die tel van lettergrepe gegrond; daar was nóg heffings nóg dalings. Hierdie streng metriek is stadig maar seker onttroon, veral deur meesterwerke soos Arthur Rimbaud se Illuminations van 1872 en die plooibaarder verse met ‘n onewe getal lettergrepe (die vers impair) van Paul Verlaine (1844—1896). Op hierdie tydstip kan ‘n mens van die vers libéré (=bevryde vers) praat. (Vgl. ook RYM.)
Die vers libre, soos deur Gustave Kahn gepropageer, is slegs die konsekwente voortsetting van Rimbaud en Verlaine se pogings en toon die volgende eienskappe: (a) die vaste getal lettergrepe val weg; (b) daar is nie meer “gemengde” of ongewone verssoorte nie maar “woordreekse” van enige lengte; (c) die verpligte rym val weg; en (d) alle vaste strukture soos strofes of digvorms word prysgegee; groepe versreëls kan egter tot “paragrawe” saamgevat word. Verder verloor die enjambement (die oorloop van die sin na die volgende versreël) sy betekenis, omdat deur die wegval van lengtebeperkings die sin en die vers weer saamval. Hierdie vryhede maak dit egter noodsaaklik dat die vers libre ritmies noukeurig gevorm word, om hierdie verskillende eenhede as verse voelbaar te maak. In die vers libre het die groepie digters, wat dan ook vers-libristes genoem is, die middel gesien om hul “eie oorspronklike vers te ontwerp en hul eie individuele ritme te be-liggaam, i.p.v. ‘n ou uniform aan te trek” (Gustave Kahn). As skeppers was die vers-libristes nie baie suksesvol nie. Eers in Guillaume Apollinaire se Alcools (1913) en veral Zone (1912) verkry die vers libre artistieke uitdrukkingskrag.
Dit is egter twyfelagtig of die vers libre so absoluut “vry” van die versboutradisie was soos Kahn en sy vriende voorgegee het of soos die lesers gevrees het. Om betekenisvol te wees, moet die vers libre die herinnering aan die ou streng versbou teen wil en dank in sy lesers wakker hou. Daarmee is ‘n sosiologiese aspek aangestip. In ‘n sekere mate is die vers libre ‘n toegewing aan die gesproke taal van die tyd. Hierdie verssoort poog om die gaping tussen digtertaal en lesertaal (gesproke taal) te verklein en die digkuns oop te stel vir tydgenootlike beelde en ritmes.
Die vers libre verteenwoordig dus ‘n goed afgebakende fase in die ontwikkeling van die Franse digkuns, ‘n fase wat tot amper onbeperkte metriese en grafiese vryheid in vandag se poësie gelei het. Terwyl die Engelse free verse op Middeleeuse voorbeelde teruggaan en reeds in die King James-vertaling van die psalms en by Milton sy eerste hoogtepunte bereik het, is die Franse vers libre ‘n ontwikkeling van die 19e eeu. Ezra Pound, T.S. Eliot en D.H. Lawrence se free verse leun egter op die Franse vers libre. Pound gebruik die Franse term om sy gedigte teen sommige kritici te verdedig. Die vers libre was vanaf sy ontstaan die teiken van heftige aanvalle. Selfs so laat as 1966 bestempel Etiemble nog dié verssoort as ” ‘n bedrog”, as ‘n oppervlakkige speletjie van “klein poëtasters” en as “die basterkind van sekondêre onderwys en tipografie”. Die waarheid lê tussenin: ritmies-metriese vernuwings kry hulle bestaansreg eers in die hande van ‘n ware digter.
Bibliografie
Elwert, W.T. 1961/1966. Französische Metrik. München: Hueber.
Etiemble, R. 1966. L’imposture du vers libre. In: Etiemble, R. Poètes ou faiseurs? Paris: Gallimard.
Kahn, G. 1887. Premiers poèmes. Avec une préface sur le vers libre. Paris: Mercure de France.
Morier, H. 1943. Le rythme du vers libre étudié chez Verhaeren, Viélé-Griffin, Henri de Régnier, et ses relations avec le sens. Genève: Editions Académiques. 3 vols.
P. Haffter