VERWAGTINGSHORISON

Verwagtingshorison is die literatuurwetenskaplike term wat die literêre en historiese kulturele agtergrond beskryf waarmee lesers tekste benader. Die begrip het deur die RESEPSIE-ESTETIESE literatuurgeskiedenismodel van H.R. Jauss bekend geword, maar moet teen die agtergrond van die vernuwende HERMENEUTIEK van veral H.G. Gadamer gesien word. Omdat metodes noodwendig hul ondersoekobjekte binne hul metodiese raamwerk skep en nie werklik “objektief” is nie, kan hulle geen werklike “verstaan” wees nie. Verstaan is net moontlik as die ondersoeker sy eie instellings (of metodes), sy histories bepaalde konvensies en geprogrammeerde ervaringshorison in die verstaanproses erken en oopstel sodat ‘n versmeltíng van tekstuele en leserhorisonne kan plaasvind. Die metodologiese basis vir hierdie hermeneutiek is die geskiedenis wat gesien word as ‘n dinamiese proses wat in teks- en leserhorison aanwesig is en d.m.v. horisonversmelting verder ontwikkel.

Die verwagtingshorison van lesers bevat daarom gelese literatuur in die vorm van die uitwerking daarvan op hulle.

Met verwagtingshorison verwys Jauss na die etiese, kulturele en literêre konvensies wat as effek van ‘n gemeenskaplike geskiedenis in individuele lesers teenwoordig is. Dit is ‘n ekstratekstuele en ekstra-individuele begripshorison. Ekwivalente konsepte is die “repertorium” (van die informasieteorie), teksnaturalisasie, literêre kompetensies (van die STRUKTURALISME) en KODES (van die SEMIOTIEK).

Jauss se resepsiegeskiedenis postuleer as reaksie op die OUTONOMISTIESE, formalistiese of dogmatiese teksdefinisies, dat die geskiedenis van teksverwerkings of resepsie die eintlike literatuurgeskiedenis is. Kritieke, beskouings, teorieë en ander data dokumenteer die resepsie en maak die historiese en kultureel uiteenlopende verwagtingshorisonne van lesers rekonstrueerbaar.

Die verwagtingshorison kan as basis vir die beskrywing van die teks-leser-verhoudinge gebruik word. Die mate van horison-ooreenstemming of -opheffing en -omvorming bepaal die estetiese distansie tussen teks en leser en is ‘n evaluasiebasis vir literatuur. (Vgl. EVALUERING (LITERêRE).) Historiese, groeps- en ander verskille in die verwagtingshorison verklaar interpretasie- en evaluasieverskille en ‘n rekonstruksie van die verwagtingshorison kan die hermeneutiese afstand dek wat tussen histories verwyderde teks en leser bestaan. Omdat die skrywer self ook leser is en op sy eie leeservaring reageer, kan die verwagtingshorison literêre VERANDERING en ontwikkeling verklaar.

Empiriese en literatuurwetenskaplike leser- en leesprosesnavorsing bevestig die rol van die verwagtingshorison in die verstaanproses. In sy fenomenologies-pragmatiese model van die leesproses dui W. Iser (Warning, 1975) bv. aan dat die horison wat tekste en lesers deel en wat tekselemente is wat lesers geredelik herken, die voorwaarde vir lees is. Tekste evokeer horisonne in lesers as kommunikasiebasis. Die opheffing van die horison dien as motor vir aktiewe betekenisgewing deur die leser.

Met behulp van die verwagtingshorison kan die verband tussen ‘n teks en die betekenisgewende gemeenskap waartoe hy behoort aangedui word. As metode kompeteer dit met literatuursosiologiese (vgl. HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING) en literatuurpsigologiese (vgl. BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING) modelle wat die sosiologiese, politiese of psigologiese werklikheid in tekste probeer beskryf. Dit maak die verhouding tussen literatuur en werklikheid beskryfbaar sonder dat die teks deur “metodes” gereduseer word.

In die praktyk kry die verwagtingshorison, soos ook sy vernaamste toepassing, nl. die resepsiegeskiedenis, beperkte aandag, omdat resepsiedokumentasie gebrekkig onbetroubaar of inkonsekwent is en omdat die spontane resepsie nòg gedokumenteer nòg bevredigend toetsbaar is. Dit gaan ook mank aan die metodologiese fout wat dit wil ophef, omdat dit self ‘n metode is wat spontane literêre effek reduseer. Dit staan in diens van ‘n verestetiserende teksbeskouing wat die wesenlike verskil tussen literatuur en werklikheid en die outonomie van tekste handhaaf.

Benewens Jauss (1970) bied Holub (1984) en Malan (1983) definisies van die verwagtingshorison. Die filosofiese agtergrond word vermeld in Holub (ibid.) en kan nagelees word in Gadamer (1975). Die term repertorium word deur Iser (1976,1979) gebruik en kompetensie deur Culler (1975). Warning (1975; slegs in Duits) se inleiding is baie insiggewend, maar gevorderd. Hoe die verwagtingshorison in die praktyk werk, kan nagegaan word in Segers (1979) en Suleiman en Crossman (1980).

(Vgl. RESEPSIETEORIE.)

 

Bibliografie

Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

Culler, J. 1979. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics
and the Study of Literature. Ithaca: Cornell University Press.

Gadamer, H.G. 1975. Truth and Method. London: Sheed & Ward.

Groeben, N. 1972. Literaturpsychologie: Literaturwissenschaft zwischen Hermeneutik und Empirie. Stuttgart: Kohlhammer.

Grimm, G. 1975. Literatur und Leser: Theorien und Modelle zur Rezeption literarischer Werke. Stuttgart: Reclam.

Holub, R.C. 1984. Reception Theory. London & New York: Methuen.

Jauss, H.R. 1970. Literaturgeschichte als Provokation. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Palmer, R.D. 1969. Hermeneutics: Interpretation Theory in Schleiermacher, Dilthey, Heidegger and Gadamer. Evanston, Ill.: Northwestern University Press.

Suleiman, S. & Crossman, I. (eds). 1980. The Reader in the Text: Essays on Audience and Interpretation. Princeton: Princeton University Press.

Tompkins, J.P. (ed.). 1980. Reader-response-criticism: From Formalism to Post-Structuralism. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Warning, R. (Hrsg.). 1975. Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

 
Marianne de Jong