Die villanelle (Lat.: villanus: landelik; It.: villano: landelik) is ‘n landelike LIED of herderlied. Dit was veral gewild in die 15e en 16e eeu in Italië. Die villanelle het aanvanklik nie ‘n vaste struktuur gehad nie, maar het meestal bestaan uit vier strofes van agt verse elk en ‘n refrein. In Frankryk is die villanelle deur Jean Passerat in die 16e eeu ingevoer en dit het toe sy vaste struktuur gekry, nl. vyf strofes van drie reëls elk (tersines); die rymskema is aba. Die eerste en die derde vers van die eerste tersine word as refrein gebruik. Die slot word gevorm deur ‘n kwatryn wat met die refreinverse eindig.
In Duitsland het Regnart die villanelle beoefen. In die 19e eeu is dit beoefen deur bv. Leconte de Lisle, Wilde en Pol de Mont (Fladderende vlinders). In die 20e eeu is dit beoefen deur W.H. Auden (Time Will Say Nothing), Dylan Thomas en Gerrit Komrij (“Villanelle van de mistroostige speelman”). In Afrikaans is Eugène Marais se gedig “Hoe gou gaan die jare verby!” geskoei op die lees van die villanelle. In Lady Anne (1989) het Antjie Krog het ‘n “Villanelle vir ‘n verversingspos” geskryf.
Bibliografie
Cloete, T.T. 1968. Eugène N. Marais. Kaapstad: Nasou.
Raadpleeg ook:
McFarland, R.E. 1982a. The contemporary villanelle. Modern Poetry Studies, VII.
McFarland, R.E. 1982b. Victorian villanelle. Victorian Poetry, 20(2).
McFarland, R.E. 1982c. The revival of the villanelle. Romanic Review, 73(2).
Anna-Marie Bisschoff