BLITSVERKOPER (LITERêRE)

Die term blitsverkoper (bestseller) het sy oorsprong in Amerika. Daar bestaan geen algemeen aanvaarde omskrywing van die begrip nie. Soms word na nog ongepubliseerde boeke as blits­verkopers verwys; dit kan ook na ‘n bepaalde kategorie boeke of die outeurs daarvan verwys. Alice P. Hackett (1956: 2) beskou die boeke wat op die Amerikaanse blitsverkoperlyste verskyn as blitsverkopers. F.L. Mott (1960: 7) sê dat ‘n boek ‘n blitsverkoper is wanneer die verkope daarvan gelyk is aan “one percent of the total population of continental United States for the decade in which the book was published”. Sutherland (1981: 6) gebruik die term blitsverkoper soos volg: “… I would contend that bestsellers are usefully approached by an examination of the apparatus which produces them (bestseller lists, the publishing industry, publici­ty), an apparatus which is called here, for convenience, ‘best-sellerism’ … For me … the contemporary fiction bestseller is, more often than not, a fastselling book which never achieves the respectable middleage of steady demand”. Sutherland heg nie – soos talle kritici – ‘n negatiewe konnotasie aan die begrip nie.

In Lexicon van literaire termen omskryf Van Gorp et al. (1986: 47) ‘n blitsverkoper soos volg: “Boek, zowel fiction als non-fiction, dat gedurende een bepaalde periode een hoog verkoopcijfer bereikt in verhouding tot andere boeken en tot de potentiële lezerskring van een taalgebied. De bestseller meet a.h.w. de smaak van de gemiddelde lezer. Gewoonlijk worden de volgende elementen in een bepaalde dosering voorgeschoteld: span­ning, sentiment, sex, sensatie en informatie. Daarnaast kunnen uiterlijke factoren zoals verfilming, publiciteit en moment van publicatie het verkoopcijfer gevoelig opdrijven. Na de hoge verkoopspiek raakt een bestseller meestal in het vergeetboek, maar hij kan ook voortleven als steadyseller”.

‘n Blitsverkoper kan literêre waarde hê, maar die term word dikwels in ‘n pejoratiewe sin gebruik: “It evokes the notion that more people read bad books than good books, and the suggestion, both. snobbish and misleading, that almost any well-selling book must be of inferior quality (unless the author is at least dead as Dick­ens or Tolstoy)” (Cockburn, 1972: 17). Burgess (1971: 20) beskou dit as ‘n uitsondering wanneer “the best book and the bestseller coincide”. Ook Brice Matthieussent (1978: 7) koppel ‘n negatiewe betekenis aan die term. As gevolg hiervan beskou die literatuurkritiek dit as benede sy waardigheid om blitsverkopers te bespreek; om dieselfde rede hou skrywers dikwels nie daarvan dat hulle as skrywers van blitsverkopers beskou word nie.

In die lig van die bostaande is dit noodsaaklik om ‘n onderskeid te tref tussen ‘n blitsverkoper en ‘n literêre blitsverkoper. Literêre  blitsverkoper verwys na fiksionele tekste (gewoonlik prosa) (vgl. FIKSIE) wat ‘n sekere aantal herdrukke binne ‘n bepaalde tyd beleef het en wat vertaal kan wees (dit is nie absoluut noodsaaklik nie). Aangesien die getal eksemplare verskil alvorens ‘n werk as ‘n blitsverkoper beskou kan word, word die herdrukke en nie die aantal kopieë nie as maatstaf gebruik.

Verder word die literêre blitsverkoper ook nie, soos die gewone blitsverkoper, gekenmerk deur ‘n bepaalde aantal elemente wat in “een bepaalde dosering voorgeschoteld” word nie. ‘n Literêre blitsverkoper besit wel literêre waarde en geen pejoratiewe bybetekenis word aan die term geheg nie. Literêre blitsverkopers is van die gevalle waar “the best book and the bestseller coin­cide” (Burgess, 1971: 20).

Die distinktiewe kenmerke van die literêr blitsverkoper kan bepaal word deur ‘n aantal blitsverkopers literêr-struktureel te analiseer en die gemeenskaplike distinktiewe kenmerke te vergelyk met die gemeenskaplike distinktiewe kenmerke van ‘n aantal literêre nieblitsverkopers. Kriteria wat hier toegepas is, is perspektief (vgl. PERSPEKTIEF IN DIE DRAMATEKS), TYD, RUIMTE, PLOT, karakter (vgl. KARAKTERISERING), tektoniek e.a. aspekte wat van toepassing mag wees. Die gevolgtrekkings waartoe gekom is, kan ook ewe goed van toepassing gemaak word op enige ander KORTVERHAAL, NOVELLE of ROMAN in enige ander Westerse taal. Wanneer die gemeenskaplike literêr-strukturele kenmerke van die literêre blitsverkoper met dié van die literêre nieblitsverkoper vergelyk word, val dit op dat die groot verskil lê by die emosionele spanning, en dus eintlik by die gebeure. Die literêre blits­verkoper vertoon ‘n goeie hantering van die emosionele spanning, terwyl dit nie die geval is by die literêre nieblitsverkopers nie.

Die verkoopsyfers van ‘n werk word bepaal deur die algemene leserspubliek, d.w.s. deur die naïewe leser (vgl. LESERROL). Hy lees nie ‘n roman in die eerste plek ter wille van die interessante perspektief, die goeie hantering van die persoonsbeelding of die verwikkelde tydstruktuur nie, maar ter wille van die inhoud. Die belangrike voorwaardes vir ‘n roman om ‘n hoë verkoopsyfer te behaal, is dat die inhoud boeiend aangebied moet word. Met dié opmerking beland ‘n mens op die gebied van die romanstruktuur. Dit is dus ‘n strukturele aspek wat grootliks tot die literêre blitsverkoperstatus van ‘n roman bydra.

Emosionele spanning hou vanselfsprekend ‘n sekere mate van subjektiwiteit in – nie alle lesers vind dieselfde gebeure spannend nie. Nogtans is daar ‘n aantal algemeen geldende faktore wat die werking van emosionele spanning – en dus boeikrag – bewerkstellig. Enige intense emosie bewerkstellig fel emosionele span­ning: woede, haat, liefde, afsku, wrokkigheid, ontsteltenis, vreugde, smart, bloedstollende en gewelddadige gebeure. Emosionele spanning word ook bevorder deur ‘n ervaring wat van intensiteit getuig: harde, deurdringende geluide soos ‘n geskreeu, iets wat breek of voorwerpe wat bots. Gewaarwordinge wat tot intense emosie lei, bevorder ook emosionele spanning: rusies, afwagting, geheimhouding, verrassings. Verder intensiveer oop (vgl. OOP EN GESLOTE TEKSTE) plekke spanning: plekke waar ‘n skrywer nie alle gebeure in sy verhaal volledig beskryf of beeld nie, maar dit aan sy leser se verbeelding oorlaat om te voltooi. Dit skep afwagting by die leser sodat sy nuuskierigheid geprikkel word; dit bevorder die boeikrag van die roman. Spanning word nie noodwendig deur uiterlike gebeure bewerkstellig nie; ook innerlike handeling kan intense spanning tot gevolg het. Oop plekke ontstaan ook wanneer daar bv. ‘n perspektiefverspringing plaasvind (Opwaaiende zomerjurken (O. de Jong), De Gallische ziekte (Louis Ferron), Hoogmoed en dronkenschap (Alfred Kossmann)). Oop plekke word ook geskep wanneer ‘n neweverhaal met newepersone ontstaan (De Gallische ziekte) of wanneer ‘n roman ‘n diskontinue chronologie het (Een vlucht regenwulpen (Maarten ‘t Hart), Opwaaiende zomerjurken). Deur middel van dié oop plekke ontstaan spanning, maar dit is ‘n strukturele spanning wat nie bydra tot die inhoudelike boeikrag van die roman nie.

Geen roman is geheel en al sonder emosionele spanning nie. Daar is wel romans met ‘n flou emosionele spanning soos De Gallische ziekte en Hoogmoed en dronkenschap. ‘n Emosionele spanningstruktuur moet egter aan bepaalde vereistes voldoen alvorens die werk boeiend is.

Die gebeure in die roman moet van die begin af boeiend wees sodat die leser se belangstelling onmiddellik gewek word. Dit verskaf die motivering om verder te lees. In hierdie opsig skiet De Gallische ziekte en Hoogmoed en dronkenschap te kort. Die eerste tien hoofstukke van De Gallische ziekte getuig van ‘n flou emosionele spanning; die gebeure in Hoogmoed en dronkenschap kom ook te stadig op dreef. ‘n Leser se nuuskierigheid word dus nie gou genoeg geprikkel nie.

Wanneer die leser se aandag van meet af aan gewek word, ont­staan daar by hom ‘n verwagting omtrent die verdere verloop van die gebeure. Hierdie verwagting heet die tekstuele VERWAGTINGSHORISON en word bepaal deur die rol van die implisiete leser (vgl. LESERROL).

Wanneer ‘n leser se verwagting deurbreek word, word die emo­sionele spanning verhoog, omdat ‘n deurbreking van die tekstuele verwagtingshorison gewoonlik deur ‘n onverwagte wending in die gebeure bewerkstellig word, bv. in De kroongetuige (Maarten ‘t Hart), waar Leonie op Jenny se lyk afkom.

Wanneer emosionele spanningslyne “verdwyn” soos in die geval van De Gallisch ziekte en Hoogmoed en dronkenschap, word die emosionele spanning ook benadeel sodat die roman boeikrag inboet en dus nie ‘n potensiële literêre blitsverkoper is nie. In De herfst zal schitterend zijn (Jan Siebelink) toon die emosionele spanningslyn omtrent die remediërende onderwys ‘n insinking, maar die roman is nogtans ‘n literêre blitsverkoper. Wanneer die emo­sionele spanning in hiérdie roman met dié in die literêre nieblitsverkopers vergelyk word, blyk dit dat die twee literêre nieblitsverkopers met ‘n flou emosionele spanning begin, terwyl dit nie die geval is met De herfst zal schitterend zijn nie. Die roman begin spannend; die insinking vind eers heelwat later plaas. Dit beteken dat die leser reeds geboei is en dus sal voortlees ten spyte van die “verdwyning” van die emosionele spanning. In De Gallische ziekte verloor ‘n mens gou belangstelling omdat dit nie lyk of die gebeure na ‘n bepaalde punt toe ontwikkel nie. Hoogmoed en dronkenschap begin redelik spannend, maar die leser verloor gou belangstelling, omdat die emosionele spanning te gou en vir ‘n te lang ruk afneem. Dit beteken dat die gebeure te sta­dig op dreef kom. As gevolg van die swak hantering van die spanning toon die literêre nieblitsverkopers nie baie hegte strukture nie. Te veel “verdwyning” van die emosionele spanningslyne werk die boeikrag ook teen, soos in Hoogmoed en dronkenschap. Soms vorm die gebeure in die roman nie deurlopende spanningslyne nie. Dit beteken nie dat die roman ‘n flou werking in emosionele spanning het nie. Wanneer opeenvolgende tonele soos in Op­waaiende zomerjurken en Rituelen (Cees Nooteboom) van span­ning getuig, is hulle boeiend en word hulle gelees.

Verder moet dit duidelik blyk dat die emosionele spanning in ‘n bepaalde rigting opbou en op ‘n klimaks sal uitloop. Te veel verwikkelings benadeel die boeikrag omdat dit voorkom asof daar na geen bepaalde einddoel gewerk word nie. Dit kom voor in De herfst zal schitterend zijn. In die lig hiervan is dit moeilik te verklaar waarom die roman ‘n literêre blitsverkoper is. Die rede hiervoor moet gesoek word in die feit dat die roman boeiend begin; die “verlies” van emosionele spanning kom – soos gesê – heelwat   later in die roman voor. Verder is die “storie” in De herfst zal schitterend zijn geweldig aktueel, nl. probleme in die huwelik. ‘n Wye leserspubliek kan hulle daarmee identifiseer. In De kroongetuige kom ook baie verwikkelings voor, maar dat die gebeure duidelik in ‘n bepaalde rigting ontwikkel, benadeel nie die emo­sionele spanning nie, maar bevorder dit juis.

Verder blyk dit dat die inhoud van die “storie” as sodanig nie grootliks bydra tot die literêre blitsverkoper-status van ‘n roman nie. Aan die ander kant benadeel moeilike “storie”-elemente soos dié in De Gallische ziekte die gang van die gebeure, omdat ‘n leser wat dit nie begryp nie, dit eers moet naspeur. Indien hy nalaat om dit te doen, gaan iets van die verhaal vir hom verlore. ‘n Leser moet hom ook met die “storie” kan identifiseer, soos die geval is by al die literêre blitsverkopers. In “Bouwval” (uit Bouwval van Frans Kellendonk) gaan dit om oom Joop en tante Carolien se strewe om ‘n beter lewe te lei (hulle wil Oupa se huis betrek omdat dit genoeg ruimte vir hulle as groot gesin bied), asook die kroonprins se begeerte om bevestiging vir sy adellike afkoms te kry. Een vlucht regenwulpen en Opwaaiende zomer­jurken handel o.a. oor Maarten en Edo (die onderskeie hoofpersonae) se jeugjare en hulle soeke na ‘n eie identiteit of aspekte daarvan. De herfst zal schitterend zijn sentreer om die aktuele tema van huweliksprobleme, terwyl De kroongetuige op een vlak ook ‘n huweliksroman is. Rituelen handel sydelings ook oor huweliksprobleme maar gaan hoofsaaklik oor die mens se eensaamheid. Die tema word ook in Een vlucht regenwulpen, Opwaaiende zomerjurken, De herfst zal schitterend zijn en De kroongetuige aangetref. Al die “stories” is aktueel sodat ‘n wye kring lesers hulle daarmee kan identifiseer. ‘n Mens kan dus sê dat hoe universeler die problematiek is wat in die literêre werk aangeraak word, hoe groter is die roman se werklikheidsgehalte; die moontlikheid dat die werk ‘n wye leserskring sal geniet, is dus ook groter.

De Gallische ziekte besit as literêre nieblitsverkoper wel ‘n universele trefkrag; ‘n mens kan jou daarom met Nathanael se stryd identifiseer, maar nie met die wyse waarop dit plaasvind nie. Die roman se werklikheidsgehalte is dus kleiner as dié van die lite­rêre  blitsverkopers. Daar sou dus beweer kon word dat ‘n leser hom met die “storie” in ‘n literêre blitsverkoper identifiseer ter­wyl dit nie die geval is met die literêre nieblitsverkopers nie. Hoogmoed en dronkenschap handel egter oor ‘n aktuele saak, nl. menseverhoudings, al dra die “storie” op sigself nie ‘n universele boodskap oor nie. Daarom is die roman se werklikheidsge­halte groter as dié van De Gallische ziekte. Verder speel eensaamheid – ‘n belangrike tema in literêre blitsverkopers – hier ook ‘n rol. Die belangrike is dat die “stories” van die literêre blits­verkopers op boeiende wyse vertel word terwyl dit nie die geval is met Hoogmoed en dronkenschap nie. Daarom kan gesê word dat ‘n roman wat na literêre blitsverkoper-status streef ‘n “storie” moet vertel waarmee ‘n groot leserspubliek hom kan identifiseer, maar dat dit op boeiende wyse gedoen moet word. Dit handel per slot van rekening steeds oor die hantering van die spanning – en dus die boeikrag – van die werke. Oom Schalk Lourens, die hoofpersoon in Herman Charles Bosman se verhaal “Mafeking Road”, vat bg. saak baie goed saam as hy sê: “For it is not the story that counts. What matters is the way you tell it. The im­portant thing is to know just at what moment you must knock out your pipe on your velskoen, and at what stage of the story you must start talking about the School Committee at Drogevlei. Another necessary thing to know is what part of the story to leave out” (Bosman, 1981: 51). Die “stories” in De Gallische ziekte en Hoogmoed en dronkenschap word nie boeiend genoeg vertel nie, daarom word hulle nie baie gelees nie.

Wanneer literêre blitsverkopers met blitsverkopers vergelyk word, blyk dit dat die gemeenskaplike faktor emosioneel spanningsvolle gebeure is. Die verskil is dat ‘n literêre blitsverkoper van hoogstaande literêre gehalte is. Dit is meestal nie die geval met ‘n blitsverkoper nie. ‘n Literêre blitsverkoper bied sowel leesstof aan die ingewyde (geïnformeerde) as die naïewe leser en het ‘n groter trefkrag as ‘n blitsverkoper.

By al die genoemde aspekte moet die leserspubliek self in gedagte gehou word. Lesers koop ‘n roman sodat dit ‘n blitsverkoper of literêre blitsverkoper word. Hoewel die hantering van die emosionele spanning die hooffaktor is waarom ‘n roman goed verkoop, speel buite-literêre faktore ook ‘n rol. Wanneer ‘n roman bv. die maatskaplike toestand van ‘n land of groep mense weerspieël, sal dit ‘n groot leserskring hê omdat die sake wat in die literêre werk aangeraak word, aktueel is. Dieselfde geld wanneer die gebeure in die roman betrekking het op die politieke omstandighede van ‘n land (soos in ‘n Droë wit seisoen van André P. Brink) of ‘n rassesituasie weerspieël (bv. in Die swerfjare van Poppie Nongena van Elsa Joubert). Maar selfs hierdie sake moet op ‘n boeiende wyse uitgebeeld word en kan daarom weer na die emosionele spanning (dus ‘n strukturele aspek) teruggevoer word.

Die emosionele spanningstruktuur – ‘n literêr-strukturele as­pek – staan in direkte verhouding tot die boeikrag – ‘n niestrukturele aspek – van die roman. Op hierdie wyse ondersteun die strukturele en die niestrukturele mekaar in die skep van ‘n literêre blitsverkoper.

(Vgl. PRAGMATIEK (LITERÊRE).)

Bibliografie

Alkalay-Gut, K. 1984. “Jury of her peers”: the importance of trifles. Studies in Short Fiction, 21(1).

Bosman, H.C. 1981. Mafeking Road. In: Bosman, H.C. The Col­lected Works of Herman Charles Bosman, vol. 1. Johannesburg: Ball.

Burgess, A. 1971. The Novel Now. A Student’s Guide to Con­temporary Fiction. London: Faber & Faber.

Cockburn, C. 1972. Bestseller: The Books that Everyone Read 1900-1939. London: Sidgwick & Jackson.

De Jong, O. 1979/1980. Opwaaiende zomerjurken: roman. Am­sterdam: Meulenhoff.

Ferron, L. 1979. De Gallische ziekte. Amsterdam: De Bezige Bij.

Galen, T. 1989. Zur Erinnerung: ‘Trivialliteratur’ als vertane Chance der Literaturwissenschaft. Wirkendes Wort: Deutsche Sprache in Forschung und Lehre, 39(1).

Hackett, A.P. 1956. 60 Years of Best Sellers: 1895-1955. New York: Bowker.

‘t Hart, M. 1978/1979. Een vlucht regenwulpen: roman. Amster­dam: De Arbeiderspers.

‘t Hart, M. 1983. De kroongetuige: roman. Amsterdam: De Ar­beiderspers.

Kellendonk, F. 1977. Bouwval. In: Kellendonk, F. Bouwval: gevolgd door Achter het licht & De waarheid en mevrouw Kazinczy. Amsterdam: Meulenhoff.

Kossmann, A. 1981. Hoogmoed en dronkenschap: roman. Am­sterdam: Querido.

Matthieussent, B. 1978. Mieux qu’un ‘best-seller’. La quizaine litteraire, 19(285).

Mott, F.L. 1947/1960. Golden Multitudes: the Story of Best Sellers in the United States. New York: Bouwker.

Nooteboom, C. 1980/1981. Rituelen. Amsterdam: De Arbeiders­pers.

Siebelink, J. 1980/1981. De herfst zal schitterend zijn. Amster­dam: Meulenhoff.

Sutherland, J. 1981. Bestsellers: Popular Fiction of the 1970s. Lon­don: Routledge & Kegan Paul.

 

Anna-Marie Bisschoff