DEKADENSIE

Die woord “dekadensie” is ontleen aan die Latynse de-cadere wat “om te val” beteken. Wanneer iets dus dekadent is, getuig dit van verval. Verder word die term gewoonlik gebruik om te verwys na ‘n periode wat deur verval gekenmerk word. Die verval blyk duidelik wanneer die tydperk van verval met die voorafgaande periode van uitnemendheid vergelyk word. Tydperke wat as periodes van dekadensie beskou word, is o.a. die Hellenistiese tydperk in die Griekse literatuur (300-30 v.C.) asook die tyd­perk in die Latynse literatuur na die dood van keiser Augustus (na 14n.C).

Die tydperk van die Franse SIMBOLISME, d.w.s. die laat 19e eeu, word as ‘n moderne dekadente era beskou. Dit het veral betrekking op die Franse poësie: “The movement emphasized the au­tonomy of art, the need for sensationalism and melodrama, egocentricity, the bizarre, the artificial, art for art’s sake and the superior ‘outsider’ position of the artist vis-à-vis society – particularly middle-class or bourgeois society”, aldus Cuddon (1979:178) in A Dictionary of Literary Terms.

Hierbo is genoem dat ‘n periode wat ‘n hoogtepunt in die geskiedenis vorm, gewoonlik gevolg word deur ‘n periode van verval of dekadensie. Die verval tree gewoonlik aan die einde van ‘n luisterryke periode in, want soos Holman (1972: 147) dit stel in A Hand­book to Literature, “decadent qualities include self-consciousness, a restless curiosity, an oversubtilizing refinement, and often moral perversity”.

 

Dit is o.a. via die “oversubtilizing refinement” wat ‘n verband met die DANDYISME gelê kan word. Die dandyisme getuig van oorverfyning en oordrywing, en dit sluit die literêre styl in. Wan­neer ‘n stadium van oorverfyning bereik word, beteken dit dat iets oordryf word. Enigiets wat oordryf word, bevat ‘n element van dekadensie, omdat dit in die rigting van ‘n instorting werk. Dit beteken dat hervorming nodig is.

 

Die eerste tekens van die dekadensie as literêre verskynsel manifesteer hom in 1888 in Nietzsche se werk Fall Wagner. Dit het algaande ‘n groter verbreiding getoon, sodat die dekadensie teen die einde van die 19e en begin 20e eeu tot uiting gekom het in die werk van ‘n hele aantal skrywers, hoofsaaklik in Frankryk, maar ook in Engeland en Amerika. In Engeland is die verspreiding daarvan bevorder deur die idees wat vroeër tot uiting gekom het in die werk van Walter Pater en in die poësie van Swinburne en Rossetti. Hierdie groep skrywers is dekadente skrywers of de­kadente genoem. Volgens hierdie skrywers moes die kuns hoër as die natuur gestel word: die hoogste skoonheid het vir hulle gelê in dinge wat besig was om te verval of te sterf. Verder het hulle in hulle kuns sowel as in hulle private lewens ‘n aanvallende houding teenoor aanvaarde morele en sosiale waardes ingeneem.

 

Cuddon (1979: 178) noem Charles Baudelaire “the ‘high priest’ of decadence”. Die opvallende is dat hierdie “hoëpriester” van die dekadensie ‘n dandy was. Die dekadent neem ‘n kritiese hou­ding teenoor die werklikheid rondom hom in; die dandy kyk met minagting en meerderwaardigheid na die werklikheid waarin hy beweeg.

Die dandy is gewoonlik kunssinnig – die dekadente skrywer beskou die skoonheid van die kuns as die hoogste skoonheid.

 

Ander Franse wat as dekadente skrywers beskou word, is Paul Verlaine, Arthur Rimbaud, Stephane Mallarmé, Joris Karl Huysmans, August Villiers de l’lsle-Adam, Théophile Gautier, die Deen H. Bang en die Rus Anton Chekhov.

 

In Engeland het die dekadensie nie so hoogty gevier soos in Frankryk nie, maar dit het tog voorgekom. Oscar Wilde word as ‘n dekadente skrywer beskou; Oscar Wilde was ‘n dandy. ‘n Mens kan dus ‘n besliste verband lê tussen die dekadensie en die dandyisme; dit is nie toevallig dat die dekadente skrywers dikwels ook dandies was nie.

 

Soos die dandyisme nie net beperk gebly het tot die private lewe van die dandy nie, maar hom ook gemanifesteer het in sy werk, so kom die dekadensie ook nie net in die lewenshouding van die dekadente skrywer na vore nie maar ook in sy werk. Cuddon (1979: 178) noem Baudelaire se Les Fleurs du mal die manifes van die dekadensie. ‘n Mens lees reeds in die titel iets van die verval. Ander fiksionele persone wat as tipiese dekadente beskou kan word, is bv. Passereau l’Ecolier (geskep deur Petrus Borel), Poe se Roderick Usher, Huysmans se Des Esseintes en Villiers de l’Isle Adam se personasie Axël d’Auersperg.

 

Oscar Wilde se roman The Picture of Dorian Gray het nie net ‘n dandy as hoofpersoon nie, die werk getuig nie net van dandyisme in styl nie maar terselfdertyd van die dekadente. Dorian Gray is ‘n man wat hom, soos die dekadent, nie steur aan enige etiese of sosiale waardes nie. Hoe dekadent hy regtig is, vertel die portret van hom waarop al sy vergrype gemanifesteer word: “He could see no change, save that in the eyes there was ‘n look of cunning, and in the mouth the curved wrinkle of the hypo­crite. The thing was still loathsome – more loathsome, if pos­sible, than before – and the scarlet dew that spotted the hand seemed brighter and more like blood newly spilt” (Wilde, 1891: 245-256). Ook Wilde se Salomé getuig van dekadensie.

Louis Couperus word nie as ‘n dekadente skrywer beskou nie, maar die dekadente kom wel saam met die dandyisme in sy werk voor. Dit kom seker nêrens beter tot uiting nie as in sy historiese roman De berg van licht. Bassanius, die hoofpersoon, is met sy aandag aan sy klere en juwele en meerderwaardige houding (hy is immers die sonpriester en keiser) in ‘n sin ook ‘n dandy, al het hy lank vóór die dandyisme geleef. De berg van licht verhaal die geleidelike verval van die skitterende sonpriestertjie te Emessa, tot sy ontluisterde moord in die slawelatrines.

 

Die dandyisme en dekadensie kan nie aan mekaar gelyk gestel word nie, maar daar is punte van ooreenstemming; die ooreenkomste word in die volgende sitaat uit die Encyclopedia of Poetry and Poetics (1965: 185) gekursiveer:

“Here the poet tends to be concerned not with ‘the fruit of ex­perience’ but with ‘experience itself’ … and his poems (‘n mens kan ook lees: literêre werk) are likely to reveal a number of the following characteristics: … aestheticism, with stress on ‘art for art’s sake’ in the evocation of exquisite sensations and emotions: scorn of contemporary society and mores; restless curiosity, per­versity, or eccentricity in subject matter; over-emphasis on form, with resultant loss of balance between form and content – or interest in jewel-like ornamentation … erudite or exotic vocabu­lary …” (A.G.E., 1965: 185).

(Vgl. ESTETISISME en DANDYISME.)

 

Bibliografie

 

Olivier, G. 1982. Dekadensie in Louis Couperus se “De berg van licht” (1905). Standpunte, 35(6).

 

Wilde, O. 1891. The Picture of Dorian Gray. London: Simpkin, Marshall, Hamilton & Kent.

 

Raadpleeg ook:

Goedgebuure, J. 1987. Decadentie en literatuur. Amsterdam: Arbeiderspers.

 

Rupert, C. & Steen, G. 1985. Decadentie. Utrecht: Grafiet.

 

Smith, J.M. 1953. Concepts of decadence in nineteenth century French literature. Studies in Philology, 50.

Anna-Marie Bisschoff