ESSAY

Gewoonlik word die essay (Fr.: essai; It.: saggio; Sp.: ensayo) beskou as ‘n besondere verskynsel van die Engelse literatuur, meer nog: as een van die mees opvallende prestasies daarvan. Alhoewel die essay in die Angel-Saksiese literatuur ‘n belangrike plek inneem, gaan dit terug op die Fransman Michel de Montaigne se Essais (eerste uitgawe 1580). Die woord stam van Latyn exagium (“bepeinsing”, later “poging”, “proefneming”, “probeerslag”) af en het volgens fonetiese reëls in Oud-Fransessaigeword, met die betekenis van “poging” en “probeerslag”. Hierdie Franse vorm essai bestaan nog vandag in daardie betekenis voort, en dit is juis die rede hoekom dit nie, soos in Engels, as benaming vir die skoolopstelle kon dien nie. Montaigne het die woord vir die eerste keer as boektitel gebruik.

 

Die eerste Engelse vertaling van Montaigne se Essais is versorg deur Daniel Florio in 1603 onder die titel Essayes on morall, politike and militarie discoursess. Reeds in 1597 het Francis Ba­con sy Essayes or counsels civill and moral die lig laat sien, ‘n werk wat by sy eerste uitgawe uit tien en by sy laaste druk in 1652 uit 58 essayes bestaan het. Vanaf daardie tydstip het die essay as genre in Engeland begin hoogty vier, ten spyte van dr. Johnson se beswaar dat dit slegs “an undigested piece” was. Die belangrikste verteenwoordigers is Abraham Cowley se Essays in Prose and Verse (1668), wat duidelik in Montaigne se spore staan, in besonder sy essay “Of myself”, en veral Charles Lamb se The Essays of Elia (1820), wat vandag nog as een van die grootste versamelings essays ná Montaigne beskou word. Die essay het in die Angel-Saksiese literatuur groot populariteit verwerf by sowel die lesers as die skrywers – essays is o.a. deur Matthew Ar­nold, Thomas Carlyle, R.L. Stevenson, Virginia Woolf, en in die V.S.A. deur Ralph Waldo Emerson en George Santayana geskryf. In Frankryk het die ontwikkeling ‘n ander koers ingeslaan: die grootsheid van die Franse voorbeeld het die gebruik van die naam essai aan bande gelê. Wat in Engeland onder die titel essay kon verskyn, moes in Frankryk onder ander opskrifte gedruk word. Voltaire se Essai sur les moeurs et l’esprit des na­tions (1756) is egter ‘n kultuurgeskiedenis van die wêreld in breë trekke.

Voor Willem van der Berg se Die asvaal ou Karoo en ander es­says (1951) is essay as ‘n duidelike Anglisisme nie maklik as boek­titel deur die Afrikaanse skrywers aanvaar nie. Tog het hulle op ‘n taamlike vroeë tydstip essays geskryf, onder die opskrif sketse, as briewe aan die pers of manifeste. Die genre het in N.P. van Wyk Louw se Lojale verset: kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging (1939) en in C.J. Langenhoven se Essays (versamel deur L.C. Bruwer) oortuigende verteenwoordigers gevind. Montaigne het vir hom ‘n medalje laat maak met die opskrif “Que sais-je?” (“wat weet ek nou eintlik?”). Hierdie leuse vorm die grondslag van sy Essais. In sy strewe na vervolmaking van sy eie self deurvors hy alle verskynsels binne sy reikwydte. Hy lewer nie ‘n wetenskaplike betoog nie, maar “gesels soos ‘n gas in die voorkamer van ‘n gekultiveerde huis” (Von Gleichen-Russwurm, 1904). In sy werk het die kulturele erfenis van die Antieke – FABELSANEKDOTES van beroemde konings, wysgere en reisigers, morele GELYKENISSE en sitate uit die antieke literatuur – op ‘n wonderlike wyse met outobiografiese gegewens saamgesmelt. Hierdie elemente speel van­dag nog in essays ‘n groot rol.

Die geweldige rykdom aan essays in alle Westerse tale maak dit moeilik om ‘n deurgaans bruikbare definisie vir die essay te formuleer. Filosofiese gedagtes (soos dié van die Engelse wysgeer David Hume), geskiedkundige opstelle (soos Macaulay se Essays of Criticism and History, 1850) asook literêre en joernalistieke artikels kan onder die essay geklassifiseer word. Hulle uiteenlopende doelstellings en inhoud ten spyt, of hulle hulleself nou essays noem al dan nie, het al hierdie tekste dít gemeen, dat hulle outeurs “sonder vermomming, dikwels in die volle gloed van hulle opinies voor ons te staan kom” (Botha, 1975: 7). Die essay, wat sy eie *diskoers in ware of gespeelde beskeidenheid as ‘n “pro­beerslag” bestempel, kan dus, volgens Boase, gedefinieer word as ‘n kritiese maar persoonlike bespreking in prosa van enige onderwerp, sonder om die betrokke onderwerp uit te put. Sy ver-naamste doelstelling is nie die wetenskaplike betoog nie, maar die besinning en lewenswysheid wat daar uit die lewensverskynsels gehaal kan word.

Bibliografie

 

Boase, A. 1968. The early history of the essay title in France and Britain. In: Ireson, J.C., MacFarlane, I.D. & Rees, G. (eds). Studies in French literature: Presented to H.W. Lawton by Col­leagues, Pupils and Friends. Manchester: Manchester Univer­sity Press.

 

Botha, E. (samest.). 1975. Afrikaanse essayiste. Kaapstad: Hu­man & Rousseau.

 

Gleichen-Russwurm, A. von. 1904. Der Essai. Das literarische Echo, 6(2).

P. Haffter