ESTETIKA VAN IDENTITEIT EN ESTETIKA VAN TEENSTELLING (OPPOSISIE)

Struktuurreëls is by die natuurlike taal geoutomatiseer. Slegs wan­neer die reëls oortree word, of die taal nie voldoende beheer word nie, raak die spreker bewus van die strukturele elemente van die taal. In die artistieke sisteme is die reëls nie altyd geoutomatiseer nie; die outeur se reëls en dié van sy publiek is m.a.w. nie een verskynsel nie, maar daar bestaan wel ‘n toestand van identiteit tussen die reëls. Die beginsel wat hierdie artistieke verskynsels ten grondslag lê, word die estetika van identiteit genoem. “Deze berust op de volkomen identificatie van die uitgebeelde levensverschijnselen met aan het publiek reeds bekende en in een systeem van ‘regels’ opgenomen sjablone-modellen (stereotipes)” (Lotman, 1977: 112). Leser en skrywer hanteer dus dieselfde KODE. Hierdie sjabloonmodelle of stereotipes speel ‘n belangrike rol in die oordrag van kennis.

 

By die estetika van identiteit leer die leser ongelyksoortige lewensverskynsels ken deur dit gelyk te stel aan bepaalde logiese modelle. Alle eienskappe wat aan hierdie verskynsels ‘n individuele karakter gee, word weggelaat. Die gevolg is dus ‘n kuns van identifikasiewaarin sekere aspekte herhaal word. Die een verskynsel is dus gelyk of identies aan die ander. Voorbeelde van ‘n artistieke verskynsel waaraan die estetika van identiteit ten grondslag lê, is die tipiese sprokie-aanhef: “Lank, lank gelede …” Die held in avontuurverhale is ‘n ander voorbeeld waar die beginsel van die estetika van identiteit figureer. Hy is gewoonlik ‘n stereotiepe figuur: aantreklik van voorkoms, besonder talentvol en dapper en hy oorwin altyd. Indien hy enige van hierdie reëls oortree, is hy nie meer ‘n tipiese held nie en tree hy anders op as wat daar van hom verwag word. Dit kan dan inderdaad “als een teken van ontbrekend vakmanschap worden opgevat” (Lotman, 1977: 113). TRIVIAALLITERATUUR met sy voorspelbaarheid hoort ook tot die estetika van identiteit. Die estetika van identiteit lê ook die werk van die epigoon ten grondslag, omdat hy ‘n sisteem beheers wat reeds aan die leser bekend is deur sg. sjabloonmodelle.

 

Die estetika van identiteit laat egter ook ruimte vir diversiteit. Die verskynsels wat identies is aan mekaar, moet mekaar afwissel: “Om het mogelijk te maken steeds maar te herhalen: dit is A’, moet het zo zijn, dat A’ afgewisseld wordt met A” en zo tot in het oneindige. De kracht van het artistieke kennen komt hier aan het licht, omdat het abstracte model A door de kunstenaar geïdentificeerd zal worden met de meest onverwachte, voor het niet-artistieke oog volstrekt niet op A gelijkende levensverschijnselen A’, A”, A” enz. De eenvormigheid aan de ene pool der iden­titeit word gecompenseerd door de meest ongebreidelde veelvormigheid aan die andere” (Lotman, 1977: 112). ‘n Mens kan dus aan die een pool “verstarde systemen voor personages, sjužet-schema’s en andere structuurelementen” (Lotman, 1977: 112) kry en aan die ander pool improvisasies. Die voorwaarde is natuurlik dat die pole met mekaar geïdentifiseer moet word.

 

Die estetika van identiteit moet altyd ‘n middel tot kennisoordraging bly. Daarom moet die bepaalde begripsjablone (vasgelegde patrone of stereotipes) kombineer met ‘n “variëteit aan levend materiaal” (Lotman, 1977: 113). So is die held ‘n vasgelegde, stereotiepe samestelling, maar daarbinne moet beweegruimte wees: bv. die avonture wat hy beleef moet van verskeidenheid en oorspronklikheid getuig. Daar moet m.a.w. ruimte vir improvisasie wees.

 

Wanneer die estetika van teenstelling (opposisie) voorkom, het ‘n mens te doen met sisteme “waarvan de aard van de gebezigde code bij de aanvang van de artistieke receptie onbekend is aan het publiek” (Lotman, 1977: 114). Leser en skrywer hanteer dus nie dieselfde kode nie. In hierdie geval kan die leser sy eie kode op die onbekende kode toepas, of hy kan sy eie kode geleidelik prysgee en die nuwe tekstuele kode aanvaar. Die estetika van teen­stelling is dus daarop ingestel om die leser (toeskouer) soveel moontlik te prikkel. Die estetika van identiteit daarenteen prikkel die leser in ‘n geringe mate. By die estetika van identiteit het ‘n mens vereenvoudiging en veralgemening, by die estetika van teenstelling het ‘n mens ‘n komplisering daarvan. Die skrywer gee sy eie, oorspronklike weergawe van wat hy as die waarheid beskou. Alle literêre vernuwing (of: alle vernuwing in die kuns) getuig van die estetika van teenstelling omdat dit ‘n ander beeld van die waarheid bied as die konvensionele. In die Afrikaanse prosa getuig die Sestigers se werk van die estetika van teenstel­ling; in die beeldende kuns geld dit byvoorbeeld t.o.v. Picasso se kubistiese werk. (Vgl. KUBISME.)

 

Die deurbreek van bepaalde reëls – dus die omverwerping van die konvensionele – kan deur die publiek as ‘n skep sonder reëls beskou word, maar soos Lotman (1977: 114) tereg opmerk, is dit nie moontlik om sonder reëls te skep nie. Dit is bloot ‘n vernietiging van die gebruiklike sisteem, maar die prinsipieel geordende aard van die artistieke teks word nog gehoorsaam. Wanneer ‘n skrywer bv. ‘n willekeurige reël uit ‘n tydskrifartikel in sy roman oorneem, maak hy dit tot struktuurelement; hy orden dit dus.

 

Dit is ‘n redelik maklike taak om generatiewe modelle vir die estetika van identiteit saam te stel. Dit is egter geheel en al ‘n ander saak by die estetika van teenstelling. ‘n Mens sou bv. nie bloot alle moontlike variasies van die terza rima kan uitwerk en aan die hand daarvan ‘n nuwe Divina commedia kan skryf nie. Tekste waarin ‘n bepaalde sjabloon deurbreek word, maar waar die sjabloon nie in die teks teenwoordig is nie, lewer weer eiesoortige probleme. Lotman noem Tsjechov se prosa hier as voorbeeld.

 

Die estetika van identiteit en die estetika van teenstelling het verder implikasies vir die EVALUERING van ‘n kunswerk. Die esteti­ka van identiteit bied aan die leser of toeskouer bekende strukture; hy kan dit dus maklik deurgrond. Die estetika van teenstelling bring egter onbekende strukture en skep by die leser dikwels die indruk van anti-artistisiteit.

 

Wanneer ‘n werk voorgee dat dit tot die estetika van teenstelling behoort maar in werklikheid tot die estetika van identiteit behoort, laat dit die leser met die wete dat hy met ‘n werk van minderwaardige gehalte te doen het.

Bibliografie

 

Lotman, J.M. 1977. Teksttypologie en de typologie van de tekst-externe verbanden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap (vert. H. de Zwaan). Baarn: Basisboeken Ambo.

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur. een inleiding tot een nieuwe literatuurbenadering. Baarn: Basisboeken Ambo.

Anna-Marie Bisschoff