BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING

Wellek en Warren (1980) klassifiseer die biografies-psigologistiese benadering saam met die sielkundige, sosiologiese, ideologiese en kunsvergelykende metodes as ‘n ekstrinsieke (d.w.s. teks-eksterne) benadering van die literatuur – in teenstelling met die intrinsieke of ERGOSENTRIESE BENADERING. Dit kan nie ontken word dat hierdie benaderings heelwat lig op die literatuur kan werp, deurdat dit kennis verskaf omtrent die omstandighede waaronder dit ontstaan het nie. Die eksegetiese waarde van sulke studies staan bo verdenking. ‘n Oorsaaklike studie van ‘n literêre teks kan egter nie take soos beskrywing, analise en EVALUERING vervang nie. Op die terrein van die literatuur is oorsaak en gevolg nie direk tot mekaar herleibaar nie: die konkrete produk van die genoemde ekstrinsieke oorsake – die kunswerk – is altyd onvoorspelbaar. Dit is verder verkieslik om ‘n literêre werk te probeer verklaar teen die totale agtergrond van oorsaaklike faktore, eerder as om dit te reduseer tot ‘n enkele oorsaak. ‘n Suiwer biografies-psigologistiese benadering sal dus wen wanneer dit genuanseer word deur ‘n aanvullende ondersoek na psigologiese, ekonomiese, sosiale, politieke, ideologiese, teologiese e.a. faktore wat werksaam kon gewees het by die totstandkoming van ‘n stuk literatuur. (Vgl. egter FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUURPOST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR en IDEOLOGIEKRITIEK.)

Die oorsaak vir die ontstaan van ‘n literêre teks wat die meeste voor die hand lê, is sy skepper, die skrywer. Daarom is ‘n verklaring in terme van die lewe (BIOGRAFIE) en karakter (psigologie) van die skrywer een van die oudste en mees gevestigde metodes van literêre studie. Dié metode het gedurende die twintiger- en dertigerjare hoogty gevier in die Afrikaanse literêre kritiek.

Die biografies-psigologistiese studie van die literatuur moet onderskei word van die “psigologie van literatuur”, wat o.m. die volgende behels: (i) ‘n sielkundige studie van die skrywer as tipe of as individu; (ii) ‘n studie van die kreatiewe proses; en (iii) ‘n ontleding van psigologiese tipes en wetmatighede t.o.v. karakterbeelding in ‘n literêre werk. Eersgenoemde twee is albei legitieme ondersoekterreine van die psigoloog; lg. vorm deel van die literêr-strukturele analise van ‘n teks, wat met die verhouding skrywer-literêre werk niks te doen het nie (vgl. bv. die talle studies oor die wyse waarop die Jungiaanse psigologie neerslag gevind het in die romans van Etienne Leroux).

Die twee hoofstellings van die literêre psigologisme is volgens N.P. van Wyk Louw eerstens die oortuiging dat die “mens agter die boek” herkenbaar is uit die werk en tweedens dat die werk verklaar en gewaardeer kan word uit wat van die skrywer se sielelewe en omstandighede bekend is (1975a: 103). Die strukturele kritikus (en die skrywer, volgens Louw) stel belang in die formele bymekaarpas van woorde, frases en sinne (1975a: 100). Die psigologistiese kritikus, daarenteen, soek oorsaaklike verbande tussen die werk en die maker daarvan. Die fout van die radikale (of naïewe) biografies-psigologistiese benadering is dat dit die literêre werk beskou as ‘n helder venster tot die lewe en psige van die outeur. Rialette Wiehahn verduidelik dit so: “Die verband gedig-digter word hier opgeneem as die natuurwetenskaplike verband van oorsaak en gevolg sodat bepaalde gebeurtenisse en ervarings in die digter se lewe as die oorsaak beskou word van die gebeurtenisse en ervarings wat in die vers vasgelê word.” En omgekeerd: “Uitgaande van die gedig (die bekende) word daar dan met sekerheid gevolgtrekkings gemaak oor die lewensloop en emosies (die onbekende) van die mens wat dit geskryf het” (1965: 77). Dit is duidelik dat die biografies-psigologistiese benadering dikwels op ‘n sirkelredenasie berus. So is daar bv. op grond van enkele gedigte van Eugène Marais (o.m. “Winternag”, “Diep rivier” en “Skoppensboer”) deur literêre kritici tot die eensydige gevolgtrekking gekom dat hy ‘n pessimistiese persoonlikheid gehad het (vgl. Cloete, 1963: 6-7). Kannemeyer wys ook op die omgekeerde psigologistiese benadering m.b.t. Marais: “Veral die vroeë dood van sy vrou en die mislukte ekspedisie tydens die Anglo-Boereoorlog is gebruik om Marais se ‘verdonkerde lewensvisie’ te illustreer en hom as ‘n ‘pleitbesorger … van verlore sake’ te sien, in so ‘n mate dat haas alle gedigte in die teken van die oorheersende ‘pessimisme’ geïnterpreteer is” (Kannemeyer, 1978: 223). Tereg sê Cloete en Kannemeyer dan dat so ‘n siening van Marais se werk eensydig is en nie reg laat geskied aan die uitings van lewensblyheid wat wel in sy poësie voorkom nie. Lees ‘n mens ook Leon Rousseau se omvattende biografie oor Marais (Die groot verlange) besef jy watter geskakeerde persoonlikheid hy was. Om hom as ‘n chronies swaarmoedige mens voor te stel is doodgewoon foutief. In hierdie verband merk Wellek en Warren op: “It is not self-evident that a writer needs to be in a tragic mood to write tragedies or that he writes comedies when he feels pleased with life” (1980:76-77). Die idees, gevoelens, deugde en ondeugde van boekkarakters mag ook nie gelykgestel word aan dié van hulle *outeurs nie. Dit geld nie net vir karakters in ‘n drama en roman nie, maar ook vir die “ek” in liriese poësie. Van Wyk Louw formuleer sy prinsipiële beswaar teen die biografies-psigologistiese uitgangspunt soos volg: “En by die uiters ingewikkelde verskynsel wat die kunswerk is – ‘n verskynsel wat so sterk bepaal word deur sy bo-persoonlike formele wette – hoe kan ons hier met sekerheid van die ‘uiting’ af na die ‘gees’ daaragter beweeg? Sal die resultaat wat ons op hierdie manier kry, ooit iets wees wat ‘n mens ten naastenby ‘wetenskaplik’ kan noem?” (1975a: 106).

Die biografies-psigologistiese benadering word skynbaar soms deur skrywers self vir hulle werk opgeëis, veral deur romantiese digters wat volgens eie getuienis openlik oor hulleself en hulle emosies sou skryf. Die bekendste is miskien Wordsworth se uitspraak dat (sy) poësie “the spontaneous overflow of powerful feelings” is. Goethe weer het sy gedigte as ‘n “liriese outobiografie” beskryf. Maar selfs in die geval van subjektiewe, belydende skrywers (want daar is ook die objektiewe skrywers wat besonder gesteld is op die onpersoonlike aard van hulle werk) moet altyd in gedagte gehou word dat ‘n kunswerk ‘n strukturele eenheid is, met ‘n ander verhouding tot die werklikheid as bv. ‘n BRIEF, ‘n dagboek of die MEMOIRES van ‘n skrywer. Ook wanneer ‘n werk elemente bevat wat sonder twyfel as biografies korrek nagespeur kan word, sal die sake sodanig literêr gerangskik en getransformeer wees dat hulle hul spesifieke persoonlike betekenis verloor, algemeen-menslike dimensies aanneem en ‘n integrale onderdeel van die werk word. Al kan D.J. Opperman se digbundel Komas uit ‘n bamboesstok nie anders as teen die agtergrond van sy ernstige siektegeskiedenis gelees word nie, transponeer hy gedurig voor die oë van die leser daardie gegewe doelbewus na die vlak van universeel-menslike ervarings. So bv. word die komas wat hy weens lewerversaking beleef het, voorgestel as ‘n reis na die Ooste in die gedaante van Marco Polo. Daar is min dinge wat so ‘n onuitwisbare indruk op die menslike gees gemaak het as juis gevaarvolle reise na onbekende streke. Hierdie universele gegewe gee ‘n tydlose karakter aan die siekte-ondervinding van ‘n spesifieke, historiese individu.

Die gedagte dat ‘n kunswerk suiwer selfekspressie is, d.w.s. die verslag van persoonlike gevoelens en ervarings, is aantoonbaar vals. Selfs wanneer daar ‘n noue verband tussen die kunswerk en die lewe van die outeur bestaan, beteken dit nie dat die kunswerk ‘n blote afbeelding van die werklikheid is nie. (Vgl. MIMESIS.) Dié benadering ignoreer dikwels heel eenvoudige psigologiese feite. ‘n Kunswerk kan nl. eerder die wensdenkery of droomwêreld van ‘n outeur weerspieël as sy werklike lewe, of dit kan die masker wees waaragter sy ware persoonlikheid skuilgaan. ‘n Suiwer biografies-psigologistiese beskouing laat verder die feit buite rekening dat ‘n nuwe teks altyd die jongste voorbeeld is in ‘n reeks soortgelyke werke. Dit het dus ‘n plek binne ‘n sekere literêre TRADISIE en konvensie. Hierdie benadering vertroebel dus ‘n behoorlike begrip van die literêre proses, aangesien dit die blik op die gang van die literêre tradisie verskuif na die lewensloop van ‘n individu. Verder mag ook nie vergeet word nie dat ‘n kunstenaar die lewe kan ervaar in terme van sy kuns: werklike ervarings word gesien en beleef met die oog op die moontlike gebruik daarvan in ‘n kunswerk. Die aard van sy ervaring word dus gedeeltelik bepaal deur die kunstradisie en ‘n vooropgestelde manier van kyk.

Het ‘n biografies-psigologistiese literatuurbeskouing enige bruikbaarheid? In die suiwer eksegetiese sin wel. Dit kan dus help om sekere duisterhede in die teks (leesversperrings) op te klaar. As die leser nie kennis dra van die feit dat die digter William Rowland blind is nie, sal hy sy gedig “Ek sal dit sê” moeilik begryp (vgl. o.m. die beeld: “… met die was van my hande/ skoon soos motorruite”). Ook kan biografiese kennis omtrent die skrywer lei tot ‘n insigryker en meer gedimensioneerde lesing van ‘n teks. (Let daarop dat in hierdie gevalle die teks sonder sodanige kennis geen leesversperrings oplewer nie.) ‘n Goeie voorbeeld is Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. In dié roman is daar genoeg aanduidings vir die literatuurkenner dat die dagboek- en briefskryfster se onbeantwoorde liefde gerig is op die Dertiger-digter W.E.G. Louw. Deur hierdie streng gesproke buitetekstuele feit te erken en te betrek by die interpretasie van die boek, kan heelwat verwysings na en uitsprake omtrent die Dertigerbeweging in die teks raakgelees word. Terselfdertyd word Hettie Smit se belydenisroman op dié wyse geplaas teen die agtergrond van ‘n belangrike literêre beweging in Afrikaans – ‘n feit wat ook belangrik is vir haar keuse van styl en genre.

Die noodsaaklikheid van biografiese studie vir die literatuurhistorikus is vanselfsprekend en behoef geen beredenering nie. Biografiese en psigologiese gegewens kan egter nooit ‘n rol speel by ‘n kritiese evaluasie nie. Die literêre werk staan (of val) op eie bene en moet as sodanig beoordeel word. Die absolute mate waarin ‘n literêre teks ‘n onafhanklike bestaan van sy maker kan voer, word die beste geïllustreer aan die anonieme volksvers. As voorbeeld kan dien die briljante “Op Hartebeesfontein” van die onbekende Pikkedel.

Die dikwels gebruikte terme “digtersfiguur” of “skrywerspersoonlikheid” om die herkenbare eendersheid tussen die verskillende werke van een outeur aan te dui, mag nie verwar word met die skrywer as persoon van vlees en bloed nie. “Persoonlikheid” of “figuur” is in sulke gevalle slegs metafore vir die unieke aard van ‘n skrywer se werk. Hierdie onderskeibare kwaliteit word bepaal op grond van die tekste self – op suiwer biografiese en psigologiese gegewens sou dit nie vasstelbaar wees nie. Rialette Wiehahn verduidelik: “In hierdie geval veronderstel die kritikus nie enige verband tussen die gedig en die digter nie, maar hy hou hom in werklikheid alleen met die werk besig. Wat hy wil beskryf, is die ‘wêreld’ van die digter se verse, en wel die bepaalde unieke stempel daarvan wat eie is aan daardie digter sodat sy werk verskil van ander digters s’n en daar ‘n mate van verwantskap tussen verskillende werke van dieselfde digter bestaan” (1965: 77). Die leser van die Afrikaanse poësie weet daarom goed wat bedoel word met die aanduiding “Oppermaniaans”, ook al het hy geen kennis van Opperman se persoon­like lewe nie. Die onderskeid tussen hierdie twee persone word deur Benedetto Croce benoem met die persona poëtica en die persona practical “Die persona poëtica het nie vir hom saamgeval met die biologiese of psigologiese mens nie, tussen die twee begrippe is daar geen wedersydse identiteit of afhanklikheid nie. Deur te skrywe oor die persona poëtica wou hy geen verband na buite toe opstel nie, maar hy wou alleen tot ‘n geheelervaring van en ‘n verdiepte insig in die individuele werk kom” (in Wiehahn, 1965: 78). Daar kan geen prinsipiële beswaar teen hierdie opvatting van “persoonlikheid” in die literatuur ingebring word nie. Tog kan dit verwarring in die hand werk deurdat die kritikus die terminologie van die psigologistiese benadering gebruik. Dit het die voordeel dat dit ‘n sintetiese beeld van ‘n skrywer se hele oeuvre kan skep, hoewel dit sekerlik nie die enigste metode is om tot so ‘n “geheelervaring” te kom nie.

Hoewel die saamstel van ‘n “skrywerspersoonlikheid” wesenlik ‘n beskrywende aktiwiteit is en daarom evaluatief neutraal staan, kan die kritikus tog verlei word om hierdie literêre profiel normatief aan te wend. Rialette Wiehahn (1965: 81) onderskei drie moontlikhede. Die kritikus kan sy voorkeur gee aan ‘n spesifieke soort “persoonlikheid” (bv. gebroke, vitaal, intellektueel, godsdienstig, ens.) omdat hy hom aangetrokke daartoe of ‘n verwantskap daarmee voel, sonder dat sy voorkeur deur artistieke gehalte gerugsteun word, ‘n Tweede moontlikheid is dat ‘n kritikus ‘n swak werk met duidelike strukturele gebreke oorskat, omdat hy die ontroering wat die skrywerpersoonlikheid by hom wek – soos hy hom uit ander werke ken – daarin lees. Derdens is dit moontlik dat die kritikus, nadat hy ‘n bepaalde beeld van ‘n “skrywerper­soonlikheid” gevorm het, in die daaropvolgende werk van dieselfde outeur soek na herkenning en bevestiging van die beeld, en nie in eerste instansie na literêre waarde nie. Selfs al word ruimte gelaat vir verdere ontwikkeling van die “persoonlikheid”, word selde rekening gehou met die moontlikheid van ‘n grondige wysiging van die vasgestelde beeld. Wiehahn vat die saak soos volg saam: “Waar ‘digterpersoonlikheid’ normatief gebruik word, is dit nie alleen ‘n buite-literêre norm nie, maar ook ‘n deur en deur subjektiewe kriterium. Die ‘digterpersoonlikheid’ is nie ‘n objektiewe gegewe wat in een enkele gedig of digbundel van ‘n digter aanwysbaar teenwoordig is nie. Dit is ‘n subjektiewe skepping van die kritikus, wat dit deur seleksie en kombinasie opbou aan die hand van ‘n oeuvre. Die tipering van ‘digterpersoonlikhede’ is dus ‘n beskrywende metode wat veel ruimte laat vir willekeur en dit is hoogs waarskynlik dat die kritikus die ‘persoonlikheid’ in ooreenstemming met sy eie denkbeelde gaan konstrueer” (1965: 82).

(Vgl. ook OUTEUR (EPIEK).)

 

Bibliografie

Cloete, T.T. 1963. Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde, I: Eugène Marais. Kaapstad: Nasou.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 1. Kaapstad: Academica.

Louw, N.P. van Wyk. 1975a. Die ‘mens’ agter die boek. In: Louw, N.P. van Wyk. Swaarte- en ligpunte. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1975b. Oor literêre teorie. In: Louw, N.P. van Wyk. ‘n Wêreld deur glas. Kaapstad: Tafelberg.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1980. Literature and biography. In: Wellek, R. & Warren, A. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.

Wiehahn, R. 1965. Die digterpersoonlikheid. In: Wiehahn, R. Die Afrikaanse poësiekritiek. Kaapstad: Academica.

 

D.J. Hugo