GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS

Die onderskeiding tussen verskillende vlakke van “bestaan” van ‘n TEKS (spesifiek in ‘n artistieke verhalende teks) het sy oor sprong by die RUSSIESE FORMALISTE in die begrippe FABULA EN SJUŽET. Hoewel die Anglo-Amerikaanse literêre teorie met die terme story en PLOT gewerk het (Forster, 1978: 42 e.v., 87 e.v.; Wellek & Warren, 1976: 212 e.v.; Crane, 1952: 621) en die Duitse literatuurwetenskaplikes met Geschichte en Fabel (=plot) (Kayser, 1971: 77; Lämmert, 1968: 24-26), het hierdie terme binne die intrinsieke benadering tot die literêre werk slegs aspekte van die verhalende werk as geheel aangedui en nooit na verskillende verhoudinge tussen tekselemente en verskillende vlakke van be­tekenis van ‘n teks verwys nie.

 

Die Russiese terme is telkens as basis gebruik om die verskillende vlakke van bestaan en betekenis van ‘n teks te omskryf. Hierdie onderskeiding tussen teksvlakke in ‘n verhalende teks is in die STRUKTURALISTIESE en SEMIOTIESE literatuurwetenskap baie verfyn en noukeurig omskryf, hoewel al die omskrywinge en definisies nie altyd ooreenstem nie (vgl. Lotman, 1977: 231 e.v.; Barthes, 1977: 88; Todorov; 1977: 108-119).

 

Die Franse strukturalis, Gérard Genette (1980), wat hom spesi­fiek met die NARRATOLOGIE besig hou, gee ‘n duidelike en sistematiese uiteensetting van drie vlakke waarop die verhalende teks geanaliseer kan word, waar sy onderskeiding groei uit die begrippe SIGNIFIANT EN SIGNIFIÉ.

 

Die storie of geskiedenis (histoire) is die verhalende inhoud van die DISKOERS, die betekende; dit waarna verwys word. Die narrative of verhaal (récit) is die verhalende teks, die betekenaar, terwyl narrating of vertelling (narration) die vertelakt self en die FIKTIEWE situasie aandui.

 

Die histoire lê op die vlak van die signifié (soos Todorov ook histoire gebruik) en die récit (Todorov se discours) is die signifiant.

 

Rimmon-Kenan (1983) gaan ook van Genette se onderskeiding tussen histoire, récit en narration uit. Histoire noem sy die storie, en dit het met die gebeure in die verhaal te make. Récit noem sy die teks, en dit het met die verbale aanbieding van die gebeure te make. Narration noem sy die vertelling (narration in Engels), en dit het met die vertelakt of skryfakt te make.

 

Ander literatuurwetenskaplikes wat ook tussen verskillende teks­vlakke onderskei, is bv. Barthes (1977: 79-124) wat van die vlak van die funksies (gebeurtenisse), die vlak van handeling (waarop AKTANTE funksioneer) en die vlak van vertelling praat, Van Dijk (1972: 306 e.v.) wat van MIKROSTRUKTURE EN MAKROSTRUKTURE in ‘n teks praat en Doležel (1972: 55-90) wat van die motifeemvlak, die vlak van die motiefstruktuur en die vlak van die motieftekstuur praat (vgl. MOTIEF). Bremond (1977) en Greimas (1971) se werk lê net op die vlak van die geskiedenis (fabula), soos ook Todorov se analise van die vlak van Tededele en die vlak van proposisies (Todorov, 1977:108-119). Todorov (1977: 224) sien die oorgaan na die vlak van artistieke vormgewing (die récit of verhaal) as ‘n transformasie. Mieke Bal bou voort op Genette se onderskeidings as sy van geskiedenis, verhaal en teks praat.

 

Haar definisies is eenvoudig en baie duidelik: “Binnen het bestek van dit boek is een tekst een eindig, gestruktureerd geheel van taaltekens. Een verhalende tekst is een tekst waarin een instantie een verhaal vertelt. Een verhaal is een op een bepaalde wijze gepresenteerde geschiedenis. Een geschiedenis is een serie logisch en chronologisch aan elkaar verbonden gebeurtenissen, die worden veroorzaakt of ondergaan door ‘acteurs’. Een gebeurtenis is de overgang van een toestand naar een andere toestand. Acteurs zijn instanties die handeling verrichten. Ze zijn niet noodzakelijk menselijk. Handelen is een gebeurtenis veroorzaken” (Bal, 1980: 13-14).

 

‘n Teks is dus nie dieselfde as ‘n verhaal nie, en ‘n verhaal is ook nie dieselfde as ‘n geskiedenis nie. Daar bestaan, teoreties gesproke, drie lae in ‘n verhalende teks, waarvan slegs die teks (in ‘n boek op papier geskryf in ink) werklik fisies bestaan. Selfs hierdie teks moet eers gelees word om te kan bestaan as teks, terwyl verhaal en geskiedenis in en deur die leserservaring gerekonstrueer word. Bal werk hier nie met mondelinge tekste of tekste in ander media nie, hoewel die terme ook daarvoor gebruik kan word, maar slegs met geskrewe verhalende taaltekste.

 

Bal (1980: 16-17) onderskei tussen elemente en aspekte in ‘n verhalende teks. Die geskiedenis bestaan uit gebeurtenisse, akteurs, tyd en plek, en hierdie onderdele van die geskiedenis is die elemente van die teks. Deur ‘n reeks bewerkinge word die inhoud van die geskiedenis met bepaalde “kleur” en eiesoortigheid toebedeel sodat ‘n bepaalde verhaal ontstaan, en die eiesoortige kenmerke van ‘n bepaalde verhaal is die aspekte. Die aspekte sluit in volgorde, RITME, frekwensie, personasies, RUIMTE en FOKALISASIE, soos hierdie dinge in ‘n bepaalde teks gerealiseer word.

 

Die geskiedenis bestaan uit objekte (handelende akteurs, wat met dinge – voorwerpe – werk, op plekke) en prosesse (wat ontwikkeling, verandering en opeenvolging impliseer). Die onder­dele van die geskiedenis is gebeurtenisse, akteurs, tyd en plek. Die geskiedenis word dikwels ook die storie genoem.

 

Die elemente van die geskiedenis word op ‘n bepaalde wyse georden en verwerk om ‘n verhaal te vorm. Die bewerkinge waardeur die basiese gegewens van die geskiedenis omvorm word om ‘n bepaalde effek in die verhaal te bereik, word deur Bal (1980: 16) soos volg beskryf: “De hier beschreven ordeningsprincipes hebben een hypothetische status, en dienen om een hogere graad van raffinement in het materiaal beschrijfbaar te maken.”

 

Bal (1980: 16) beskryf ses bewerkinge:

(a)    Die gebeurtenisse word in ‘n volgorde gerangskik, wat van die chronologiese volgorde kan verskil.

(b)   Die tydsduur wat aan die verskillende elemente afgestaan word, word vasgestel t.o.v. die tydsduur wat hulle in die ge­skiedenis ingeneem het.

(c)    Die akteurs word met onderskeidende eienskappe toebedeel. Hulle word geïndividualiseer en verander na KARAKTERS (per­sonasies).

(d)   Die plekke waar die gebeurtenisse afspeel, kry onderskei­dende eienskappe en word funksioneel deel van die verhaal as die ruimte.

(e)    Naas die noodsaaklike verhoudinge tussen die elemente van die geskiedenis soos hierbo beskryf, word daar na willekeur ander verhoudinge tussen elemente ingevoer, bv. simboliese of verwysende verhoudinge.

(f)   Daar word ‘n keuse gemaak tussen verskillende moontlike gesigspunte waaruit die elemente aangebied kan word.

 

Hierdie bewerkinge (wat ooreenstem met die transformasies van ander strukturaliste) bring ‘n mens op die vlak van die verhaal. Om die verhaal te beskryf, moet alle aspekte van die verhaal ondersoek word. Die beskrywing van die aspekte stem in hoofsaak ooreen met wat meestal in die tradisionele verhaalteorie gedoen word.

 

‘n Verhalende teks is ‘n teks waarin ‘n instansie ‘n verhaal vertel. Bal (1980: 124 e.v.) beskryf die teks van ‘n verhaal deur aandag te gee aan die vertelinstansie en die aard van die vertelling.

 

Mieke Bal (1980) behandel sekere verhoudinge tussen die elemente van ‘n verhalende teks as onderdele van die geskiedenis. Hier kan  ‘n verdere verfyning van terme ingevoer word min of meer soos wat Volek (1977) dit gedoen het. Die rede hiervoor is dat verskillende verhoudinge tussen akteurs en handeling of tussen gebeurtenisse as sodanig telkens ‘n mate van abstraksie meebring, sodat hierdie verskillende verhoudinge apart ondersoek kan word.

 

Dit kan soos volg verduidelik word: Die eenvoudigste vlak waarop die teks funksioneer, is die vlak waarop die narratiewe elemente (akteurs, gebeurtenisse, tyd en plek) in verskillende verhoudinge tot mekaar ondersoek kan word. Hierdie vlak kan die vlak van die geskiedenis genoem word. Dit gaan op hierdie vlak om die geskiedenis, waar die geskiedenis bestaan uit die reeks narratiewe elemente. Op hierdie vlak word slegs met die materiaal gewerk en nie met die artistieke aard of aanbieding van die teks as sodanig nie. Die narratiewe elemente staan egter in verskillende verhoudinge tot mekaar, en daar kan verskillende abstraksies gemaak word om telkens ‘n ander stel verhoudinge tussen die narratiewe elemente te ondersoek. Al die verskillende bewerkinge met die narratiewe elemente lê egter op die vlak van die geskiedenis.

 

Die reeks narratiewe elemente, georden volgens die beginsels van chronologie, logika en kousaliteit, kan die storie genoem word. Die term geskiedenis word dan gesien as ‘n omvattender begrip. Wanneer die reeks narratiewe elemente uit die teks geabstraheer word, die gebeurtenisse chronologies gerangskik word en die logiese en kousale verband tussen die gebeurtenisse (soos in die teks gegee) in ag geneem word, die gebeurtenisse en akteurs ge­sien word soos wat hulle in ‘n bepaalde fiktiewe periode van tyd en op ‘n bepaalde fiktiewe plek voorkom, dan is die storie uit die teks geabstraheer. Dit is belangrik dat volgens hierdie definisie die storie slegs bestaan uit konkrete elemente wat in die teks voor­kom.

 

Deur ‘n verdere abstraksie ontstaan die uitgebreide storie, waar­in die basiese raam van die storie aangevul word en ingevul word met bykomende kennis uit die teks en kennis van dinge in die werklikheid. Die uitgebreide storie stel ‘n rekonstruksie voor wat die leser outomaties maak en waarin die leser die gebeurtenisse en akteurs in ‘n deurlopende en kontinue “lewe” sien.

 

Die teleologiese verhoudinge tussen akteurs en gebeurtenisse lê op ‘n derde trap van abstraksie, nl. die trap van die aktansiële verhoudinge (volgens Greimas, 1971, se model). (Vgl. AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL.)

 

Die ondersoek van die handelingsreekse as logiese strukture (in vergelyking met logiese moontlikhede soos in die werklikheid) lê op ‘n vierde trap van abstraksie (vgl. Bremond, 1977, se uiteensetting).

 

Hierdie vier abstraksies lê almal op die vlak van die geskiede­nis. Die geskiedenis is dus die oorkoepelende term wat die storie, die uitgebreide storie, die aktansiële verhoudinge en die logiese handelingsmoontlikhede insluit. Die implikasie is dat alle verhoudinge tussen die narratiewe elemente op die vlak van die ge­skiedenis realiseer en ondersoek kan word.

 

Die verhaal is die bepaalde artistieke weergawe van die bepaalde geskiedenis (want alle narratiewe verhoudinge is relevant in die verhaal!) in ‘n bepaalde teks. In die verhaal bestaan die narratiewe elemente en ander elemente in getransformeerde vorm as deel van die totale artistieke voorkoms en sin van die verhaal. Wan­neer die vlak van die verhaal ontleed word, gaan dit nie net om wat vertel word nie, maar juis en veral om hoe die vertelde aange­bied word. Vertelde inhoud en aanbiedingswyse staan op die vlak van die verhaal saam in die fokus van die ondersoek.

 

Dit wat aangebied word en die wyse van aanbieding vorm ‘n nuwe artistieke eenheid wat ‘n bepaalde teks uniek maak. Waar chronologie die basiese temporele verhouding in die storie is, word allerlei temporele verhoudinge in die aanbiedingswyse (d.w.s. die verhaal) tot stand gebring. Die blote plek van die geskiedenis word artistiek betekenisvolle ruimte op die vlak van die verhaal, akteurs word karakters, en die chronologiese storielyne word ge­sien as verhaallyne wat struktureel en inhoudelik ‘n groot verskeidenheid van tekselemente betekenisvol saamsnoer.

 

Die uiteindelike artistieke eenheid wat in die konkrete reeks tekstekens bestaan en wat sowel die narratiewe inhoud, die artistieke vormgewing en die linguistiese aard van die vertelakt insluit, realiseer op die vlak van die tekstekstuur. Hierdie begrip sluit in wat Bal teks noem en wat Rimmon-Kenan vertelling noem, maar dit is ook ‘n omvattender begrip. Die teksvlakke is slegs teoreties skeibaar, en gevolglik is alle elemente en aspekte wat op die vlak van die geskiedenis en die vlak van die verhaal funksioneer ook van belang op die vlak van die teks (vgl. Du Plooy, 1986: 293-303, 319-320, 369-370).

 

Hierdie begrippe is hulpmiddels waarmee ‘n teks beskryf kan word en waarmee ‘n gekompliseerde teks geanaliseer kan word. Al die teoretici is egter eenstemmig in dié aanname dat so ‘n analise nie die teks mag verbrokkel nie maar tot ‘n nuwe sintese, tot ‘n bepaalde *interpretasie van ‘n bepaalde teks, moet lei.

(Vgl. ook PLOT.)

 

Bibliografie

 

Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Barthes, R. 1977. Image-Music-Text. Glasgow: Fontana.

Bremond, C. 1977. De logika van de narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Brink, A.P. 1987. Vertelkunde. Pretoria: Academica.

Brooks, P. 1984. Reading for the Plot. Oxford: Clarendon.

Crane, R.S. 1952. Critics and Criticism. Chicago: University of Chicago Press.

 

Doležel, L. 1972. From motifemes to motifs. Poetics, 4.

 

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

 

Forster, E.M. 1927/1978. Aspects of the Novel. Harmondsworth: Penguin.

 

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Kayser, W. 1948/1971. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke.

Lämmert, E. 1968. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzler.

Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. Gail Lenhoff & Ronald Vroom). Michigan: University of Michigan Press.

 

Pavel, T.G. 1986. Fictional Worlds. Cambridge: Harvard Univer­sity Press.

 

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poet­ics. London: Methuen.

 

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

 

Van Dijk, T. 1972. Foundations for typologies of texts. Semiotica, 6.

 

Volek, E. 1977. Die Begriffe “Fabel” und “Sujet” in der modernen Literaturwissenschaft. Poetica, 9.

 

Wellek, R. & Warren, A. 1942/1976. Theory of Literature. Har­mondsworth: Penguin.

Heilna du Plooy