VERANDERING (LITERêRE)

Verander literatuur ooit? kan mens vra. Immers, soos T.S. Eliot (1932) dit gestel het, “the whole of the literature of Europe … has a simultaneous existence and composes a simultaneous order”. Wellek (1963: 50) konstrueer sy konsep van evolusie na analogie van die menslike bewussyn vir wie hede, verlede en toekoms feitlik gelyk is. Dit is ‘n illusie wat maklik gekoester kan word waar mens vandag, danksy moderne reproduksie- en druktegnieke, alle dokumente, artefakte en monumente van die verlede as ‘t ware op jou boekrakke kan hê. Hulle is vir jou “teenwoordig”, en niemand bekommer hom daaroor of hulle met eietydse kategorieë kenbaar is of nie. Bowendien leef daar vandag meer mense as in al die tye voor ons tesame. Daarom is die betekenis van geskiedenis tereg problematies. As literatuur beskou word as die bewussynsinhoud van die beskouer, ‘n soort repertoire waaruit hy kan kies wat hy nodig het, is die vraag na die verandering van literatuur ‘n pseudo-vraag. ‘n Vrugbare opvatting van literêre verandering moet uit hierdie impasse uitbreek.

 

Die Ilias en Magersfontein, o Magersfontein! langs mekaar op die boekrak mag oënskynlik nie veel verskil nie, maar dan lees jy die Ilias in sy “present meaning” en sonder sy “past significance” (Weimann, 1977: 49). Selfs om die twee te vergelyk, sou vir die Grieke geen sin gemaak het nie omdat hulle nie ‘n kategorie *roman gehad het waarin Magersfontein sou kon pas nie. Omgekeerd is ons begrip daktiel nie dieselfde as die Griekse nie, bloot omdat hulle skanderingstelsel op lengte- en nie op kragaksent berus het nie. En al vind ons met ons moderne teorieë dieselfde narratiewe tegnieke in beide werke, wil dit nog nie sê dat dit in die Ilias vir die Griekse publiek iets beteken het nie, ook nie eens dat hulle daarvan bewus was nie. Dit kon ‘n heel ander funksie in die Griekse literêre SISTEEM gehad het.

 

Natuurlik het die twee werke in twee gans verskillende kontekste ontstaan. Die Ilias is aanvanklik in direkte kontak met die gehoor geskep en voorgedra in ‘n tradisie van mondelinge vertellings. (Vgl. MONDELINGE LITERATUUR.) Die moderne skrywer, ‘n romantiese enkeling, sit alleen in sy studeerkamer en skryf, bes moontlik op ‘n elektroniese rekenaar en rig sy boeke aan ‘n hipotetiese gehoor. Deur die skryfproses word die TEKS losgemaak van die skrywer en gaan dit ‘n selfstandige bestaan voer. En eenmaal gepubliseer, is die boek uitgelewer aan ekonomiese magte, word dit ‘n verbruikersproduk, dikwels geskryf vir die oomblik of die mode.

 

Dit is dus nodig dat mens baie sterk bewus moet wees van die historisiteit van die werk self, van sy produksie en RESEPSIEPROSESSE, én van die begrippe (modelle) waarmee hy benader word. Die driedeling EPIEK – LIRIEK – DRAMATIEK kom bv. nie by Aristoteles voor nie, al word dit dikwels na hom teruggevoer: dit is ‘n produk van die 18e eeu (vgl. Genette, 1979). Die begrip LITERATUUR self (‘n reeks dubbelsinnighede wat opgang gemaak het (Escarpit, 1970: 272)), is eweneens ‘n produk van die 18e eeu. Die krisis waarin die sg. interpretatiewe skole hulle tans bevind, is deels toe te skryf aan ‘n verwerping van die literatuuropvattings wat uit die SIMBOLISME voortgespruit en “totale samehang” en “dieper betekenis” beklemtoon het. Literêre verandering is nie ‘n eenvoudige literêr-immanente ontwikkeling nie, ook nie sonder meer die resultaat van sosiale veranderinge nie, maar ‘n komplekse proses waarin estetiese, ideologiese en sosiale faktore ‘n rol speel en wat bowenal nie ‘n reglynige of kontinue proses is nie, maar ‘n proses wat gate en spronge maak.

 

Opvattings oor literêre verandering gaan terug minstens tot by Plato (Cratylus) en Aristoteles (Poëtika, hfst. 4). Aristoteles is in klassieke tye nagevolg, ook tydens die RENAISSANCE en die KLASSISISME, en eers in die 18e eeu is weer belangrike bydraes op dié gebied gelewer, o.a. deur Vico en Rousseau. Literêre verandering is hoofsaaklik as analoog aan organiese prosesse soos groei, bloei en verval beskou. Dit impliseer gestadige, kontinue vooruitgang, onafwendbare verval. Die ontwikkeling is volkome voorafbepaal; die individu speel daarin geen rol nie.

 

In die 19e eeu is verskillende veranderingsmodelle ontwikkel, soos Hegel se dialektiese progressie en Darwin se evolusieleer, maar die belangrikste bydrae van hierdie eeu is die POSITIVISTIESE literatuurgeskiedenis – ontsaglike feite-arsenale oor alles in en om die literatuur. Taine e.a. bepleit ‘n literatuurgeskiedenis wat tot nasionale literature beperk is en die ontwikkeling van die nasionale gees nagaan. Juis in sekere uitsonderlike individue vind die volksgees, soos uitgedruk in Taine (1864) se beroemde race, milieu en moment, sy mees volmaakte gestalte. Hulle is die draers en voortplanters van die geskiedenis.

 

Gedurende die 19e eeu is die literatuurgeskiedenis geleidelik losgemaak van die universele geskiedenis, maar eers die RUSSIESE FORMALISTE het pertinent ‘n teorie ontwikkel vir immanente literatuurverandering. Die literêre reeks word vir hulle onderskei van ander reekse deur die beginsel van deoutomatisering of VERVREEMDING (“making it strange”): kreatiewe vervorming van die werklikheid, afwyking van die standaardtaal en wysiging van die kunsnorm (Erlich, 1969: 252). Deoutomatisering gee sin aan literêre verandering: die doel van die literatuur is om altyd iets nuuts te skep en verslete vorme sodoende te vervang. Die konsep veronderstel eintlik verandering; daarom kan die Russiese Formaliste tereg as die grondleggers van LITERATUURGESKIEDSKRYWING in die moderne sin beskou word.

 

Literêre verandering vind plaas teen die agtergrond van ‘n literêre sisteem: ‘n versameling literêre norme en vorme in ‘n bepaalde hiërargie gerangskik. Dominante elemente in die hiërargie slyt af en word vervang deur minder dominante elemente. Kortliks kom dit neer op konflik tussen en aflossing van sisteme (Tynjanov, 1969: 401). In hierdie selfaangedrewe proses is daar vir die individu nie meer plek nie: hy is hoogstens ‘n snypunt van kragte buite hom (Erlich, 1969: 253).

 

Die idees van die Russiese Formaliste is deur die Praagse STRUKTURALISTE verder uitgewerk. Naas aktualisering (deoutomatisering) lê Jan Mukařovský ook klem op outomatisering: dinge kan net teen ‘n bepaalde agtergrond (bv. die standaardtaal) op die voorgrond geplaas word. Binne die hiërargie van struktuurelemente lei die dialektiek van aktualisering en outomatisering tot funksieveranderings. Elke literêre sisteem het beperkte moontlikhede, en elke nuwe werk realiseer sommiges daarvan, maar plaas ook sekere nuwe elemente op die voorgrond. Elke skrywer konfronteer die KANON opnuut. Daar is ‘n dialektiek tussen kontinuïteit en vernuwing. Die individu tree in die literêre reeks op as suiwer toeval, die negasie van ontwikkeling, al is hy deur ander reekse gedetermineer. Ook literêre norme is histories bepaal, want wysiging van die funksiehiërargie binne die sisteem beteken ook wysiging van die norm. Die estetiese funksie by Mukařovský is uiteindelik maar ‘n aantal nie-estetiese funksies in ‘n bepaalde hiërargie (Gunther, 1972: 309; kyk ook Mukařovský, 1970, 1977; Galan, 1979).

 

Die literêre werk is vir Mukařovský sowel OUTONOOM as kommunikatief, dus nog ‘n dialektiese spanning. Enersyds is dit nie-referensieel, andersyds verwys dit na die totale konteks van sosiale verskynsels, maar op ‘n indirekte (bv. metaforiese) manier. Die gebeurtenisse in ‘n roman kan bv. FIKSIONEEL wees, maar nie die waardes daarby betrokke nie. Literêre verandering is by Mukařovský dus, kortom, die produk van ‘n dialektiese verhouding tussen die werk en alles wat hom omring (Galan, 1979: 281).

 

Vodička (1976) bou voort op Mukařovský se opvattings, en ook Jauss (1970) se uitdaging aan die literatuurteorie, waarmee hy die RESEPSIE-ESTETIKA inlui, berus daarop. ‘n Ontwikkeling wat weer nouer by die Russiese Formaliste aansluit, is die polisisteemteorie van Even-Zohar (1979). Hy postuleer dat die literêre reeks ‘n sisteem van verskillende sisteme is tussen ander reekse (bv. die ekonomiese), wat op hulle beurt ook polisisteme is. Elk van die deelsisteme het sy eie dominante elemente (sentrum) en minder dominante elemente (periferie). Verandering vind plaas deurdat “phenomena are driven from the centre to the periphery” en omgekeerd (konversie) (1979: 293). Die verskillende deelsisteme vorm lae wat in kompetisie met mekaar is om die gekanoniseerde (amptelike) laag te word. Binne die amptelike sisteem is nog ‘n tweede proses, analoog aan die eerste, aan die werk. Primêre tipes (vernuwende elemente) slyt af en word voorspelbaar. Dan word hulle sekondêre tipes genoem. Die beginsel van outomatisering is nog steeds aan die werk.

 

As literatuur as ‘n sisteem beskou word, impliseer dit dat daar verskillende sisteme tegelyk bestaan, in verskillende grade van gekanoniseerdheid en van verandering. Naas sinchroniese stratifikasie moet mens dus ook ‘n diachroniese stratifikasie veronderstel: sisteme wat teen verskillende tempo’s verander. Genresisteme, soos die huidige driedeling epiek – liriek – dramatiek, verander betreklik stadig; periodesisteme, bv., weer vinniger. Dit vind alles plaas teen die agtergrond van baie stadige veranderings, soos die verandering in die wyse waarop die mens sy taal gebruik. Frye (1981) onderskei drie soorte mondelinge en skriftelike taalgebruik deur die eeue: hiëroglifies, hiëraties en demoties. ‘n Ander “longue durée” (Braudel) kan wees die verandering van reproduksieprosesse: mondeling, skriftelik, via die drukpers, en via elektroniese middele (McLuhan, 1962). ‘n Sinchroniese snit op ‘n bepaalde tydstip sal dus deur verskillende lae en verskillende sisteme in verskillende stadia van verandering gaan.

(Vgl. ook LITERATUURGESKIEDSKRYWING.)

 

Bibliografïe

 

Eliot, T.S. 1932. Tradition and the individual talent. In: Eliot, T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.

 

Erlich, V. 1969. Russian formalism: History-doctrine. The Hague: Mouton.

 

Escarpit, R. 1970. La definition du terme littérature. In: Escarpit, R. Le littérature et le social. Paris: Flammarion.

 

Even-Zohar, I. 1979. Polysystem theory. Poetics Today, 1(1-2).

 

Frye, N. 1981. Literary history. New Literary History, 12(2).

 

Galan, F.W. 1979. Literary system and systematic change: the Prague School theory of literary history, 1928―48. PMLA, 94.

 

Genette, G. 1979. Introduction à l’architexte. Paris: Seuil.

 

Gunther, H. 1972. Die Konzeption der literarischen Evolution im tschechischen Strukturalismus. In: Ihwe, J. (Hrsg.). Literaturwissenschaft und Linguistik, Band 1. Frankfurt am Main: Athenäum.

 

Jauss, H.R. 1970. Literary history as a challenge to literary theory. New Literary History, 2(1).

 

McLuhan, M. 1962. The Gutenberg Galaxy. London: Routledge & Kegan Paul.

 

Mukařovský, J. 1970. Aesthetic Function, Norm and Value as Social Facts. Michigan: Michigan Slavic Publications.

 

Mukařovský, J. 1977a. The individual and literary development. In: Mukařovský, J. The Word and Verbal Art. New Haven: Yale University Press.

 

Mukařovský, J. 1977b. Kunst als semiotisch feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

 

Taine, H. 1975. Geschichte der englischen Literatur. In: Marsch, E. (Hrsg.). Ueber Literaturgeschichtsschreibung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

 

Tynjanov, J. 1969. Ueber literarische Evolution. In: Striedter, J. (Hrsg.). Texte der russischen Formalisten, Band 1. München: Fink.

 

Vodička, F. 1976. Die Struktur der literarischen Entwicklung. München: Fink.

 

Weimann, R. 1977. Structure and Society in Literary History. London: Lawrence & Wishart.

 

Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.

Raadpleeg ook:

Guillén, C. 1980. On the forms of literary change. In: Kopeczi, B. & Vadja, G.M. (eds). Proceedings of the 8th Congress of the International Comparative Literature Association, I: Three epoch-making literary changes: Renaissance, Enlightenment, Early twentieth century. Stuttgart: Bieber.

 

Hein Viljoen