EINFACHE FORMEN

Die teorie van die Einfache Formen is ontwikkel deur André Jolles en is volledig uiteengesit in die boek Einfache Formen wat in 1929 verskyn het. Hierdie klassieke werk met sy morfologiese benadering word beskou as ‘n voorloper van sommige latere formalistiese en strukturalistiese VERTAALTEORIEë en word deur verskeie toonaangewende literatuurwetenskaplikes bespreek en gekommentarieer, bv. Wolfgang Kayser (1971: 350), en ook mense soos Ducrot en Todorov, Genette, Hempfer, Poser en Scholes (vgl. Beekman, 1983: 329-344). (Vgl. RUSSIESE FORMALISME en STRUKTURALISME.)

Jolles ondersoek sekere “taalstrukture” wat hy “eenvoudige vorme” noem. Hy huldig die opvatting dat hierdie eenvoudige vorme as’t ware op sigself, sonder die toedoen van ‘n digter of kunstenaar, in die taal tot stand kom, dat hulle uit die taal self groei. Hy onderskei nege sulke eenvoudige vorme, nl. die LEGENDE, die SAGA, die MITE, die RAAISEL, die SPREUK, die KASUS, die memorabile, die SPROKIE en die grap. Hy ondersoek voorbeelde van elke vorm om uit te vind hoe so ‘n vorm tot stand kom en watter eienskappe die vorm vertoon. Hy werk dus nie met konkrete tekselemente of tekssegmente nie, maar met die betekeniseenhede wat in die eenvoudige vorme onderskei kan word. ‘n Mens kan dus beweer dat hy nie net na die formele of oppervlakkige kenmerke van die eenvoudige vorme kyk nie, maar dat hy hierdie vorme karakteriseer op grond van DIEPTESTRUKTURE wat hy aan die geestesaktiwiteite en geestesbehoeftes van die gemeenskap koppel.

In ‘n vroeëre bundel opstelle Bezieling en vorm (1923) verwys Jolles reeds terloops na die idee van “eenvoudige vorme”, maar in Einfache Formen gee hy ‘n uitvoerige uiteensetting van sy teorie.

Jolles beklemtoon dat hy in Einfache Formen ‘n morfologiese ontleding doen. Anders as Propp wat met konkrete tekselemente werk en so die struktuur van die sprokie ondersoek, kyk Jolles na onderliggende betekeniseenhede wat ooreenstem in verskillende taalkonstruksies en literêre werke en hy probeer vasstel hoe lite­ratuur ontwikkel rondom hierdie ooreenstemmende betekeniseen­hede. Hy wil as ‘t ware die pad vanaf taal tot kunswerk bestudeer. Wanneer, waar en hoe is taal nie meer net “teken” nie, maar ook geskape (herskape) beeld of betekenisvolle gestalte: dit gaan vir Jolles om die uiteindelike betekenis van die vorme van die lite­ratuur. Die opgawe vir sy morfologiese studie is om te kan aantoon waarop die “gestalte” (die bouvorm) van die literêre soorte dui (Jolles, 1956: 5).

By die ontstaan van die eenvoudige vorme is daar ‘n taalverskynsel aan die werk wat nie afhanklik van een persoon of ‘n gemeen­skap of ‘n bepaalde volk is nie. Dit is iets wat in alle gemeenskappe, onder alle groepe mense voorkom en volgens Jolles dus iets wat universeel menslik is. Dit is ‘n proses wat bo en buite die individu plaasvind, maar wat die mens (via die taal) as medium gebruik.

Jolles ontwikkel die begrippe waarmee hy werk uit sy siening van taal as ‘n menslike werksaamheid. Hy glo dat alle menslike werksaamheid drie fasette vertoon, wat hy met die beelde van boer, handwerker en priester voorstel. Die boer bewerk die natuur wat as ‘n ongeordende ruwe gegewe ordening vereis. Die hand­werker of kunstenaar verwerk en herskep die produk wat die boer aan die natuur ontworstel het tot iets kunstigs. Maar elke handeling het betekenis en is sinvol, en die priesterarbeid is daardie aktiwiteit wat die betekenis uitlig en aandui. Handelinge soos die vermoë om dinge te genereer, die vermoë om hierdie dinge artistiek te herskep of te omskep en die uiteindelike vermoë tot betekenisaanduiding, d.w.s. die vermoë om betekenis aan dinge toe te dig, is handelinge wat ‘n gemeenskap tot ‘n funksionerende gemeenskap saambind, wat die gemeenskap as gemeenskap bevestig (Jolles, 1956: 9).

 

Die taalaktiwiteit vertoon ook hierdie drie fasette wat as orde­ning of bewerking, skepping of herskepping en aanwysing of betekenisuitlegging beskryf kan word. Waar hierdie werksaamheid in die taal plaasvind, geskied dit op tweërlei wyse. In die eerste plek word alles – nuutgegenereerde, herskepte en betekenisvolle dinge – in die taal en deur die taal benoem. In die tweede plek – en hier gaan dit om ‘n meer komplekse en dieperliggende wer­king van taal – benoem die taal nie net nie, maar werk taal ook aktief genererend, herskeppend en betekenisvormend. Op terugwerkende wyse word die gemeenskap gevorm, hervorm en omvorm deur die ordenende en vormende werking van die taal.

 

Alles wat die mens sien en herken en oordink word taal, maar in die proses word die taal self iets wat bewerkend, verwerkend en sinduidend inwerk. Op dié wyse word natuurlike dinge deur die werking van die taal, en deur die werking van die literatuur begryp, verander en vernuwe (Jolles, 1956: 24).

 

Die ontwikkeling van die Einfache Formen verloop volgens Jolles soos volg: in ‘n gemeenskap is daar sekere geestesaktiwiteite aan die werk. Hierdie Geistesbeschäftigungen werk kollektief maar manifesteer in taalkonstruksies van enkelinge wat lede van die gemeenskap is. In die inleiding by die Duitse uitgawe van die Decamerone beskryf Jolles (1956: vii) die Geistesbeschäftigung as “den Geist der sich ihres Innersten bemächtigte, von dem die fortan besessen waren. Dieser Geist war so unabhängig von ihren bisherigen Überzeugungen, so selbständig in seinem Auftreten und Handeln, dass es volkommen gleichgültig war, ob sie ihn vorher gekannt, ja sein Vorhandesein geahnt hatten”. (Die geestesaktiwiteit wat die gemeenskap motiveer, ontstaan dus spontaan, onafhanklik van voorafgaande oortuiginge. Dit funksioneer so selfstandig dat dit irrelevant is of die gemeenskap daarvan bewus is of was of dat hulle selfs die ontwikkeling daarvan vermoed het.)

 

Soos wat die eerste steen van ‘n bouwerk in beginsel die uiteindelike aard van ‘n bouwerk bepaal, so bepaal die basiese taaluiting die taalvorme wat daaruit ontwikkel. Die taalgebaar (Sprachgebärde) ontstaan op natuurlike wyse uit ‘n bepaalde geestesaktiwiteit wat in die gemeenskap werksaam is. Die taalgebaar is ‘n taalkonstruksie wat bepaalde kenmerke vertoon. Sulke taalgebare vorm die eenhede waaruit die eenvoudige vorme bestaan. Bymekaarhorende en ooreenstemmende elemente of eenhede bevind hulself uiteindelik saamgevoeg in ‘n bepaalde kenmerkende kombinasie, waarin die verskillende onderdele by mekaar aansluit, met mekaar verenig en saam groei tot ‘n “eigene Gültigkeit, eigene Bündigkeit besitzt” (Jolles, 1956: 18). Hierdie selfstandige en ongekunstelde vorm noem Jolles ‘n Einfache Form. Wanneer die eenvoudige vorm ‘n spesifieke vorm aanneem, praat Jolles van die verwerklikte eenvoudige vorm, en wanneer ‘n eenvoudige vorm doelbewus as die basis vir ‘n meer gekompliseerde vorm gebruik word, praat hy van kunsvorme of literêre vorme. In die verwerk­likte eenvoudige vorm en die kunsvorm word dit wat as ‘n latente vorm, ‘n potensiële vorm bestaan in die eenvoudige vorm, in ‘n spesifieke vorm aangebied.

Jolles gee aan drie aspekte van die eenvoudige vorme aandag: 1) die verhouding van die basiese taalkonstruksies (Sprachgebärde) tot die eenvoudige vorme; 2) of die realisering van ‘n be­paalde eenvoudige vorm van die taalkonstruksies afhanklik is en die rol van die basiese taalkonstruksies of taalgebare in die ontwikkeling van die kunsvorme; 3) die verskille en ooreenkomste tussen verskillende tale in die totstandkoming van die taalkon­struksies en die ontwikkeling van eenvoudige vorme en kuns­vorme.

 

Wanneer Jolles die nege eenvoudige vorme ontleed, gaan hy telkens na uit watter Geistesbeschäftigung die vorm groei, watter Sprachgebärde daarin ‘n rol speel, hoe die gerealiseerde vorm daar uitsien en ook hoe die kunsvorme daar uitsien.

 

As voorbeeld van die legende kyk hy na die MIDDELEEUSE Christelike legendes. Die Geistesbeschäfiigung waaruit die legendes groei, is die behoefte in ‘n gemeenskap aan ‘n navolgenswaardige voorbeeld, die behoefte aan iemand wat die weg aanwys en, in die geval van hierdie Christelike legendes, wat self die weg is. Die begrippe imitatio (nastrewe), imago (afbeelding) en immutare (sigself verander, iets anders word) kenmerk hierdie gees­tesaktiwiteit. In die legendes is daar bepaalde elemente wat altyd figureer: dinge soos vervolging en marteling, die weerstaan van versoekinge, en as die stryder oorleef en oorwin, praat ‘n stem uit die hemel met hom en word as ‘t ware uit die hemel ‘n hand na hom gereik. Die taalgebaar wys nie net na hierdie sake heen nie, maar word self ‘n betekenisvolle saak.

 

Jolles stel dit duidelik dat daar nie bepaal kan word of taalge­baar of geestesaktiwiteit chronologies eerste kom nie, maar die taalgebare speel ‘n baie belangrike rol in die totstandkoming van die eenvoudige vorm. Onder die “heerskappy” van die geestesaktiwiteit verkry die veelfasettigheid van die syn en die geskiedenis in die taal gestalte. Wanneer daar in die taal konstruksies ontstaan wat tegelyk en onskeibaar betekenis aandui en betekenis skep, praat Jolles van hierdie konstruksies as einfache Formen (Jolles, 1956: 35).

Die taalgebare vorm saam telkens ‘n ander legende. Die “vita van die heilige Georg” (of die “heiligelewe van Georg”) is dus een verwerkliking van die moontlikheid wat in die legende as eenvoudige vorm bestaan. Die verwerklikte vorm groei dus uit die geestesaktiwiteit, maar wanneer dit bestaan, werk dit weer rigtinggewend en vormend in op die gemeenskap, in hierdie geval deurdat die heilige in die legende inderdaad as ‘n rigtinggewer gesien en nagevolg word. Soos dit wat goed is in die heiligelewens gestalte kry in die Christelike Middeleeuse wêreld, so kry die bose ook gestalte in figure soos Faust of die Vlieënde Hol­lander.

 

Die legende behoort inherent tot die wêreld van die imitatio. In die oorwinningsliedere van Pindarus, die Griekse en Egiptiese legendes, die kultusgedigte van die Babiloniërs, Indiërs en Ger­mane en baie “natuurvolke”, vind ‘n mens steeds ooreenkomste t.o.v. “aus einer bestimmten Geistesbeschäftigung verdichteten sprachlichen Gebärden” (Jolles, 1956: 47). Hierdie geestesak­tiwiteit word teruggevind in al die kunswerke wat ‘n bepaalde held as ‘n navolgenswaardige figuur uitbeeld (en word die MODERNISTIESE en POSTMODERNISTIESE ANTIHELD nie ook as navolgenswaardig voorgestel nie?). Dieselfde geestesaktiwiteit leef steeds in die 20e eeu in die verheerliking en ophemeling van ‘n sport-held of filmster of superster of selfs een of ander adellike wat as ‘n imitabile funksioneer.

 

Waar die legendes uiting gee aan die mens se behoefte om die ideale leefwyse as voorbeeld te kry, het die sage die realiteit van familiebande, bloedverwantskap en stamverband as onderliggende geestesaktiwiteit, soos dit gevind word in die ou Yslandse SAGAS en ook in ROMANS wat familiegeskiedenisse oor geslagte heen verhaal, bv. De Kapellekensbaan van Boon. Die voorliefde vir en die gewildheid van sepies (vgl. TELEVISIEDRAMA) op die hedendaagse televisie sluit hierby aan. (Die sage is vir Jolles die algemene eenvoudige vorm terwyl die Yslandse sagas die gerea­liseerde eenvoudige vorm is.)

By die mite gaan dit om die mens se vrae i.v.m. die wese van dié dinge wat die mens se lewe en wêreld beheers: dit is die antwoorde op die mens se metafisiese vrae. Hier is sprake van ‘n vraag en ‘n antwoord. Die mens vra dat die wêreld en die ver-skynsels in die wêreld aan hom geopenbaar sal word sodat hy dit kan verstaan. Die mite skakel so ook gewoonlik met die religieuse, die onsienlike en die kultiese. Dit is baie interessant dat die soeke na die waarheid in religie en filosofie dikwels in baie noue verband staan met die literatuur en die kuns. In ons tyd vervul selfs wetenskaplike en politieke geskrifte in hierdie bepaalde geestesbehoefte van die gemeenskap.

 

In die laat 20e eeu is literatuur en filosofie en ideologie haas on­skeibaar soos die DEKONSTRUKSIE enersyds en die klem op BETROKKE LITERATUUR andersyds aantoon.

 

Die raaisel bestaan ook uit ‘n vraag en ‘n antwoord, maar waar die mite die antwoord gee, is die raaisel die vraag. Dit gaan ook om die Geistesbeschäftigung om te weet, maar dit gaan bloot om te weet wat iemand anders reeds weet. Speurverhale is in der waarheid uitgesponne raaisels en die oplossing daarvan, en as literêre soort is speurverhale van die gewildste en talrykste en lewenskragtigste. The Name of the Rose van Eco is hier seker die vanselfsprekende kontemporêre voorbeeld.

Die spreuk maak ‘n bewering of ‘n stelling wat op ‘n bondige manier ‘n ervaring of insig of “waarheid” probeer vaslê of afsluit, juis omdat ervaring in die werklikheid sonder begin of einde is en dus moeilik hanteerbaar en grypbaar. Alle clichés was aanvanklik seker maar spreuke en die kragtige werking van die spreuk is tans baie duidelik in die meeste gemeenskappe. Nie net werk politici met spreuke nie, maar ook agitators, betogers, kunstenaars en akademici. In die advertensiewese is sukses in ‘n groot mate daarvan afhanklik dat die voortreflikheid van ‘n produk in ‘n kernagtige en treffende spreuk beskryf kan word.

Die Kasus vervul in die mens se behoefte om handelinge aan norme te toets. Dit gaan nie hier om ‘n objektiewe of morele of etiese maatstaf nie, maar slegs om die behoefte om ‘n saak aan ‘n ander voorafgaande maar soortgelyke saak te kan toets. Dit gaan dus om vergelyking meer as om reg en verkeerd. Die gebruik in die reg om terug te verwys na vorige sake en die gewildheid van gevallestudies in die wetenskap hou hiermee verband.

 

In die memorabile word ‘n merkwaardige gebeurtenis wat ‘n historiese feit is, weergegee. Dit gaan om geloofwaardigheid en feitelikheid soos wat ‘n mens in ANEKDOTES aantref en wat seker (in een of ander idealistiese oersiening) die basis vorm van beriggewing en nuusverskaffing in die perswese.

 

Die sprokie gee gestalte aan die mens se naïewe morele en etiese oordele. Dit beskryf hoe die mens graag sou wou sien dat dit in die wêreld gaan. Die sprokie bevat wonderbaarlike gebeurtenisse, die goeie word beloon, die bose gestraf, maar ten diepste berus die bestaan en gewildheid van sprokies daarop dat “es in diesen Erzählungen so zugeht, wie es unsere Empfinden mach in der Welt zugehen müsste” (Jolles, 1956: 200). Dit beteken dat in sprokies dinge verloop soos wat mense graag wil hê dit moet verloop. Die meeste TRIVIAALLITERATUUR wat met mooie en goeie mense en dinge en die gelukkige uitkoms van alle probleme werk, kan uiteindelik as vorme van sprokies bestempel word.

 

Die grap illustreer baie mooi hoe dieselfde geestesaktiwiteit by verskillende volke verskillende vorme en inhoude kan aanneem. Al het elke taal of samelewingsgroep of volk ‘n kenmerkende soort humor (bv. die tipiese Joodse humor) wat in grappe tot uiting kom, het alle grappe dit gemeen dat in die grap ‘n saak of feit of probleem losgemaak, ontknoop, as ‘t ware ontlont word sodat, in welke vorm dit ook al voorkom, dit iets wat gebonde is, vrystel. (Jolles, 1956: 206). Dat die grap ‘n (dikwels futiele) poging is om ‘n kontensieuse of plofbare situasie te ontlont, kan nie misgekyk word nie, en dit is ook ‘n vorm wat onder alle omstandighede gedy. (Vgl. SCHWANK EN WITZ.) Alle vorme van SATIRE, spot en die verskillende vorme van die KOMEDIE sou dan ook hierdie onderliggende geestesaktiwiteit (in meerdere of mindere mate) vertoon.

 

Later in sy lewe was Jolles nie meer so seker daarvan dat daar net nege eenvoudige vorme is nie. Hy het dit oorweeg om ‘n tiende vorm by te voeg, nl. die FABEL, en ook om die tien eenvoudige vorme in twee groepe te rangskik volgens hulle aard, wat of realisties of idealisties is. Skematies voorgestel sou die indeling só lyk:

 

 

Vraag

Stelling

Stilte

Bevel

Wens

Realisties Idealisties

Kasus Mite

Sage Memorabile

Raaisel Grap

Spreuk Legende

Fabel Sprokie

 

Jolles se werk geniet steeds aandag soos blyk uit die studies van Antoine Bodar (1983a en 1983b) en Beekman (1983). Hoewel daar baie kritiek teen die teorie ingebring kan word, o.m. oor die aantal vorme, die vaagheid van iets soos ‘n geestesaktiwiteit, die wyse van redenasie wat Jolles volg en selfs (vanaf die strukturaliste) die gebrek aan ‘n sistematiese stel reëls of transformasies om die ontwikkeling van die eenvoudige vorme te staaf, bly hierdie teorie relevant. Dinge soos die verhouding tussen literatuur en gemeenskap, literêre vormgewing en die ontwikkeling en verandering daarvan, die verhouding taal en literatuur en die verhouding taal en gemeenskap sal in die literatuurwetenskap waarskynlik altyd bestudeer word.

 

Bibliografie

 

Beekman, K. 1983. Enkelvoudige vormen en hun nawerking. Spektator, 12(5).

 

Bodar, A. 1983a. Het verliteratuurde leven van André Jolles. Maatstaf, 8.

 

Bodar, A. 1983b. Negen eenvoudige vormen. Spektator, 13(2).

 

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

 

Elsbree, L. 1982. The Rituals of Life. Port Washington, New York: Kennikat Press.

 

Jolles, A. 1923. Bezieling en vorm. Haarlem: Willink.

 

Jolles, A. 1929/1956. Einfache Formen. Halle (Saale): Max Niemeyer.

 

Kayser, W. 1948/1971. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke.

 

Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. Gail Lenhoff & Ronald Vroom). Michigan: University of Michigan Press.

 

Propp, V. 1968/1971. Morphology of the Folktale. Austin: Univer­sity of Texas Press.

 

Scholes, R. 1974. Structuralism in Literature. New Haven: Yale University Press.

 

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

Heilna du Plooy