EPIEK

In navolging van die klassieke denkers Plato en Aristoteles het dit in die Westerse literatuur tradisie geword om drie hoofgenres te onderskei: die LIRIEK, die DRAMATIEK en die epiek. Aristo­teles veral het op twee soorte woordkuns gefokus: die dramatiek, waarin daar deur verskillende akteurs/sprekers, wat op gelyke vlak binne die stuk staan, taaluitinge gemaak word, en die epiek waar slegs een woordvoerder as VERTELLER optree. Selfs wanneer daar in ‘n verhaal aan verskillende figure spreekbeurte afgestaan word, “ontvang” hulle die “reg” van, en is hulle ondergeskik aan, één oorkoepelende woordvoerder wat as aanbieder, kommentator en interpreteerder oorheers.

Hierdie besondere manier van aanbieding gaan gepaard met ‘n besondere soort onderwerp. In klassieke terme dui epiek op ‘n verhaal waarin grootse figure te midde van uitsonderlike gebeure en in ‘n verhewe vertelstyl uitgebeeld word. Die gebeurelyn ontwikkel eenvoudig en reglynig – alles word afgestem op een sentrale handeling of tema. Die figure kan historiese of mitologiese karakters wees, maar is altyd heroïes voorgestel. Die verteller het die verhaalwêreld vanuit ʼn respekvolle, bewonderende perspektief beskou en sy eie persoonlikheid nie laat deurskemer nie. Oorspronklik het die epiek dan ook baie na aan geskiedskrywing gestaan: albei vorme was ingestel op ‘n geïdealiseerde, luisterryke weergawe van die krisismomente, die heldedade en die kultureelreligieuse gebruike van ‘n volk. Kortliks saamgevat kan die kernelement van die epiek egter gesien word as die VERTELLING van ‘n reeks gebeurtenisse deur ‘n beherende vertellersfiguur.

Aanvanklik is die omskrywing epies byna uitsluitlik van toepas­sing gemaak op verhale in versvorrn. So ‘n gedig is ook ‘n EPOS genoem, en onder die noemer kon twee hoofsoorte onderskei word. Die eerste soort het ontwikkel uit VOLKSVERHALE wat oorspronklik in mondelinge vorm bestaan het. Homeros se Ilias en die Odusseia, asook die Oud-Engelse verhale van Beowulf endie Edda in Oud-Yslands is die bekendste voorbeelde van sulke mon­delinge oorlewerings wat mettertyd opgeteken is. In al die genoemde gevalle word dieselfde basiese patroon sigbaar: ‘n byna bomenslike heldefiguur onderneem talle reise, beleef geweldige avonture en verrig magtige dade. Benewens die verhaallyn word die epos opgebou deur o.a. kleurvolle beskrywings, toesprake en uitbreidings en verwysings na die bonatuurlike.

Die tweede soort is tematies gelyksoortig, hoewel in later eeue variasies wel voorkom. Nou word die mondelinge verhale nie meer verwerk nie maar word die epos doelbewus as literêre werk uit eie ingewing geskep. In die klassieke tye het veral Vergilius en Ovidius sulke epiese gedigte geskryf. Eeue lank het hulle werk as voorbeelde van die epos binne die Westerse literatuur gedien. Die Middeleeue bring op hierdie gebied ‘n stilswye mee, en ons weet vandag eintlik net van gebiede buite Europa (in Persië en Indië veral) waar die epiese vorm toe suksesvol beoefen is.

Sedert die 11e en 12e eeu word ‘n herlewing in die epiek weer sigbaar. Sowel die mondelinge tradisie as die skryf van die literêre of kultuurepos word voortgesit. Die Chanson de Roland (Frans), die Beatrijs (Middelnederlands) en die Duitse Nibelungenlied word dan opgeteken. Met die aanbreek van die Renais­sance kom ook die tweede bloeitydperk van die epiese gedig, veral dan die kultuurepos in Vergiliaanse vorm. Die Italiaanse digters Dante en Petrarca gee hierin die toon aan. Dante se beroemde Divina commedia uit die vroeg 14e eeu laat egter die klem verskuif van die grootse, volksgebonde tema na dié van die persoonlike en individuele strewe. Nog tot die laat 16e eeu word die klassieke epiese vorm in die Romaanse taalgebied beoefen – Ariosto se Orlando furioso (1532) is dalk die bekendste werk. Dit is in Brittanje waar die versepos sy laaste bloei beleef. Spenser skryf tussen 1589 en 1596 sy The Faerie Queene, ‘n didaktiese romanties gerigte epiese werk. Byna ‘n honderd jaar later ver­skyn John Milton se Paradise Lost (1658) en Paradise Regained (1671), waarin die avonture van ‘n besondere mens plek maak vir ‘n beskouing van die lotgevalle van die mens in die algemeen. Die kenmerkende, tradisionele elemente en tegnieke van die epiek word egter ten volle gebruik en ontgin.

Rondom die 18e eeu word die bestaan van die klassieke, “suiwer” epiese vorm problematies. Eers kom daar ‘n reaksie teen die tipies heroïese tematiek in die vorm van parodiërende en komiese variasies. Die belangrikste gebeurtenis was egter die verskyning van die ROMAN, en die toenemende oorheersende rol wat dié prosavorm binne die epiese genre sou speel. Versepiek kom in die jare daarna nog wel voor (in die werk van Byron, De Vigny, Lamartine en Hugo in die 19e eeu); selfs onder die Amerikaanse digters (Whitman en later Ezra Pound), en by die moderne Griekse Kazantzakis wat ‘n “nuwe” Odusseia skryf: ‘n epiese gedig van 24 boeke wat die verhaal van Odusseus sy terugkeer vertel. In Afrikaans leef die versepiek voort in Totius se Trekkerswee (1915), Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik (1949).

Die opkoms van die roman, een van die subgenres van die epiek, gee o.a. ook aanleiding daartoe dat die omskrywing ”epies” hedendaags op ‘n ruimer gebied van toepassing is. Die moderne epos verwys vandag na daardie prosawerke waarin heroïese figure, ‘n verhewe styl en ‘n grootse wêreldvisie voorkom. Melville se Moby Dick (1851), Tolstoy se War and Peace (1872), Joyce se Finnegan ‘s Wake, Steinbeck se The Grapes of Wrath van 1939 en Patrick White se Voss, wat net soos Pasternak se Dr Zhivago in 1957 gepubliseer is, is die literêre epiese werke van die hede. Dit was nodig om die omskrywing “literêre” in die voorgaande sin te gebruik, want dit wil voorkom asof die volksverhale, die populêre weergawe van die epiese vorm, vandag op die filmdoek gevind sal word. Dit is veral deur hierdie verhalende medium waar die epiek voortleef in die grootse skaal waarop individuele en nasionale lotsbestemminge geïdealiseerd voorgestel word.

By die onderskeiding van verskillende literêre genres word epiek as versamelnaam vir alle verhalende werke gebruik. In Romaanse tale en Engels word dieselfde begrip hedendaags met die term narration omskryf. In die algemeen beskou, word met dié terme verwys na literêre werke in prosavorm waarin die verhaal deur ‘n verteller aangebied word. Epiese/narratiewe vorme kan egter ook as onderdele in geskiedskrywing, joernalistiek, BIOGRAFIEë en OUTOBIOGRAFIEë verskyn. Soos in die voorgaande paragraaf reeds aangedui, is dit ook al hoe meer die gebruik om die rolprent (maar ook die strokiesprent en die televisieverhaal) as ‘n epiese vorm te beskryf. Die bestaan van die EPIESE drama met die optrede van ‘n vertellersfiguur vorm ook veral sedert die twintigerjare ‘n belangrike faset van die hele epiese spektrum. Binne die ontwikkelingsgeskiedenis van die literêre teorie word die 20e eeu gekenmerk deur ‘n al groter belangstelling vir dié gebied – dié van die *verhaalteorie of die NARRATOLOGIE.

Die versamelnaam epiek verwys na ‘n groot aantal epiese sub-vorme. Hoewel die bestaan van ‘n rigiede onderskeid tussen spesifieke verhaalsoorte deur verskillende literatore bevraagteken word, word die onderstaande terme nog steeds algemeen gebruik om literêre subvorme van die epiek aan te dui:

Die epos, die heldedig, was tot met die laat 17e eeu die belang­rikste vorm van versepiek.

Die roman is ‘n lang verhaal in prosavorm waarin die avonture of innerlike belewenisse van karakters aan die individuele leser vertel word. Dié hoofvorm kan op grond van ‘n tematies-strukturele basis ruweg verdeel word in bv. avontuurromans, psigologiese romans, toekomsromans, historiese romans. Op grond van ‘n struktuurtegniese basis kan ook onderskei word tussen ek-romans, briefromans, dagboekromans, ens. (Vgl. ROMAN.)

Die NOVELLE (It.: novella: ‘n storie) is die verhaal waarin op ‘n enkele gebeurtenis binne ‘n strakke, geslote struktuur gekonsentreer word. Die Italiaanse skrywer Boccaccio het met sy Decamerone dié vorm suksesvol beoefen. Later gebruik boweal skrywers uit die Duitse taalgebied dié vorm – dink maar aan Storm, Goethe en Mann. In die Angel-Saksiese taalgebied word soms van ‘n novelettegepraat, met verwysing dan na verhale soos dié van Scott Fitzgerald (The Great Gatsby), Virginia Woolf (Between Acts) en Hemingway (The Old Man and the Sea).

Die KORTVERHAAL – veralgemeen word die lengte van die kortverhaal op minder as 10 000 woorde vasgestel. Die eenheid van verhaalelemente, afgestem op ‘n enkele klimaks, is ‘n sleutelaspek. In verskillende vorme het die kortverhaal ‘n baie lang geskiedenis – die verhale uit die OU TESTAMENT is almal sulke voorbeelde. In die moderne literatuur word Edgar Allen Poe, De Maupas­sant, Zola, Tsjechov en Hawthorne as die bekendste kortverhaalskrywers beskou.

Die CONTE is verwant aan die kortverhaal t.o.v. die struktuur, maar die gebeurelyn is dikwels in die fantastiese gegrond. Hoogs verbeeldingryke, buitengewone verhale word dan vertel. Dit is hoofsaaklik Franse skrywers (vandaar die Franse term) wat die vorm beoefen, maar die verhale van Hamelink sluit hierby aan.

Die KORTKORTVERHAAL: ‘n woordbeperking van tussen 500-1 500 woorde word gewoonlik op dié verhaalsoort ingestel. Die aard en struktuur is heeltemal in ooreenstemming met dié van die kort­verhaal, maar weens die lengteperk word al die verhaalelemente skerper en bondiger ontgin.

Die REISVERHAAL: reiservaringe in ‘n vreemde land vorm gewoonlik die kernaspek van hierdie soort vertelling. Wanneer die klem nie meer op die feitelike aard van die reis val nie maar die simboliese of innerlike toepaslikheid daarvan oorheers, moet die reisverhaal primêr as roman, novelle of een van die ander verhaalvorme beskou en geëvalueer word.

Die SKETS (ontleen aan die tekenkuns waar dit verwys na die hooftrekke van ‘n voorgestelde werk) word in die algemeen gesien as ‘n kort prosastuk wat van staties-beskrywende aard is en waarin die ontwikkeling van karakters of gebeure nie verwag word nie.

Die ESSAY is ‘n prosastuk waarin die skrywer sy beskouinge oor aktuele of algemeen-menslike probleme uiteensit. ‘n Persoonlike toon kwalifiseer die logiese opbou en stilisties versorgde aard van die teks.

Die ANEKDOTE is ‘n kort vertelling van ‘n vreemde of onthullende episode wat onderhoudend aangebied word. Gewoonlik het dit betrekking op ‘n individu of ‘n karakteristieke eienskap van daardie individu met die doel om ‘n bepaalde gesigspunt te ondersteun. Dit is gewoonlik ‘n onderdeel van ‘n groter verhaal gebaseer op feitlike gebeure.

Die EXEMPLUM (voorbeeld) is verwant aan die anekdote omdat dit ook ‘n stelling wil illustreer. Oorspronklik was die bedoeling om ‘n morele les tuis te bring, maar teen die einde van die MIDDELEEUE het dit dikwels ‘n banaal-komiese inslag vertoon.

Die MITE (Gr.: mythos: gesproke woord): t.o.v. die epiese genre verwys die term na die verhale oor gode, halfgode en helde uit die oergeskiedenis van ‘n bepaalde kultuur. Die verhale is na ‘n lang mondelinge tradisie gewoonlik in verskillende literêre vorme (epos, TRAGEDIE) vergestalt.

Die SAGE is ‘n verhaal wat mondeling oorgedra is en wat ‘n duidelike historiese element besit. Die konflik tussen die mens en die buitemenslike vorm die kerngegewe en in dié konflikproses is die mens altyd die verloorder.

Die SAGA is ‘n Oud-Yslandse prosaverhaal wat rondom die 13e eeu opgeteken is. Dit het meestal oor familiegeskiedenisse en bloedwraak gehandel. Tans word die term ook gebruik om ‘n ro­man te benoem wat die lewe van ‘n familie oor verskillende geslagte uitbeeld.

Die LEGENDE is oorspronklik ‘n verhaal wat sentreer om religieuse figure en wat dan voorgelees moes word om as voorbeeld te dien. Om so ‘n bepaalde voorbeeldfiguur het dan mettertyd ‘n hele versameling gegewens opgebou wat in ‘n mindere of meerdere mate waar is. Dit kan ook op ‘n historiese of heldefiguur betrekking hê.

Die SPROKIE: daar kan tussen volksprokies en kultuursprokies onderskei word. Albei word gekenmerk deur die samesmelting van ryke fantasie en die alledaagse realiteit. Die volksprokie betrek die hele bonatuurlike wêreld, ontwikkel op ‘n patroonagtige wyse, besit ‘n eenvoudige struktuur en bied meestal ‘n gelukkige einde. Die oorsprong en betekenis van hierdie sprokies bly nog onseker. Daar bestaan egter ook kultuursprokies wat deur ‘n spesifieke skrywer geskep word. Hier is die SATIRIESE of moraliserende eienskappe baie sterk beklemtoon.

Die FABEL is ‘n kort, eenvoudige verhaal (meestal in versvorm) waarin gewoonlik dierekarakters optree. Die doel was om ‘n morele les oor te dra, en sedert die Klassieke tye (Aesopus) tot by die 19e eeu (vanaf La Fontaine tot Vader Cats) was dié verhaalvorm baie gewild.

Die FABLIAU is verwant aan die fabel maar dan met ‘n teenoorgestelde toon. Veral tydens die Middeleeue was die (vulgêre) verhaaltjies op die gebreke van die geestelikes en die burgery toegespits.

Die GELYKENIS is ‘n bedagte verhaal wat uit die alledaagse lewe geneem word. Die gelykenis bestaan veral binne ‘n religieuse konteks (die Nuwe Testament). Die doel daarvan is om een of ander belangrike waarheid of etiese les oor te dra. ‘n Gelykenis verskil van ‘n fabel in dié opsig dat die gebeure in die gelykenis werklik kán plaasvind of plaasgevind het (juis omdat dit aan die alledaagse werklikheid ontleen word). Die gelykenis verskil ook van die ALLEGORIE: nie alle gebeure in ‘n gelykenis het noodwendig ‘n dieper betekenis nie. In Grote Winkler Prins encyclopedie word dit soos volg gedefinieer: die gelykenis “plaatst beeld en werkelijkheid tegenover elkaar, het gaat om één hoofgedachte” (Anon., 1969: 168).

Die PARABEL is verwant aan die gelykenis, maar hier word buiten­gewone gebeure beskryf om sodoende ‘n spesifieke gesigspunt oor te dra. Vertellinge van skrywers soos Kafka, Beckett en Ionesco sluit hierby aan.

 

Die IDILLE (Gr.: eidullion: afbeeldsel) verwys oorspronklik na die gedigte oor die lewe van eenvoudige vissers, herders en boere. Later word dit van toepassing gemaak op alle kuns (poësie, prosa en drama) waarin die eenvoudige lewe geïdealiseer word. Hier­die herderskuns (die herdersroman floreer veral in die 18e eeu) vind ook neerslag in werke soos Van Schendel se Een zwerver verliefd of selfs CM. van den Heever se Somer.

 

Daar is verskeie ander glossaria waarin algemene beskrywings van maar ook meer spesifieke inligting oor die epiek voorkom, o.a. die van Cuddon (1979), Ducrot & Todorov (1979), Fowler (1973), Shipley (1970) en Van Gorp (1980). Die Grote Winkler Prins Encyclopedie (1969) staan heelwat ruimte af aan ‘n bespreking van die verskillende epiese subvorme. Die epiese genre kom uitgebreid ter sprake in die werk van Booth (1961/1966), Kayser (1948/1968) en Schroder (1967).

 

Meer resente bronne is die van Michael (1986), Seydou (1982/1983) en Herron (1985), terwyl in Zemplenyi (1984) ‘n interessante vergelyking tussen die “romanze” en die epos gemaak word.

 

Bibliografie

 

Anbeek, T. 1977. De schrijver tussen de coulissen. Amsterdam: Polak & Van Gennep.

 

Bal, M. 1978. De theorie van vertellen en verhalen: inleiding in de narratologie. Muiderberg: Coutinho.

 

Booth, W.C. 1961/1966. The Rhetoric of Fiction. Chicago: Chicago University Press.

 

Bronzwaer, W.J.M. 1977. Over het lezen van narratieve teksten. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambo.

 

Chatman, S. 1978/1980. Story and Discourse: Narrative Struc­ture in Fiction and Film. Ithaca: Cornell University Press.

 

De Piere, J. 1974. Verteller en gezichtshoek: een benadering aan de hand van Couperus’ Eline Vere. Spiegel der letteren, 16(2).

 

Friedemann, K. 1965. Die Rolle des Erzählers in der Epik. Darm­stadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

 

Friedman, N. 1967. Point of view in fiction. In: Stevick, P. (ed.). The Theory of the Novel. New York: The Free Press.

 

Guillén, C. 1968. On the concept and metaphor of perspective. In: Nichols, S.G. & Vowles, R.B. (eds). Comparatists at Work: Studies in Comparative Literature. Waltham: Blaisdell.

 

Hamburger, K. 1957. Die Logik der Dichtung. Stuttgart: Klett.

Herron, CO. 1985. The vacillating epic: the dialectic of oppos­ing world views in the expansion of the epic literary genre. Ph.D-thesis, University of Pennsylvania.

 

Kayser, W. 1948/1968. Das sprachliche Kunstwerk: eine Einführung in die Literaturwissenschaft. Bern: Francke.

 

Lotman, J.M. 1975. Point of view in a text. New Literary Histo­ry, 6(2).

 

Lubbock, P. 1947. The Craft of Fiction. New York: Smith.

Maatje, F.C. 1970/1971. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

 

Michael, I. 1986. Epic to romance to novel: problems of genre identification. Bulletin of the John Rylands University Library of Manchester, 68(2).

 

Morrison, S.K. 1961. James’ and Lubbock’s differing points of view. Nineteenth Century Fiction, 5(16).

 

Raban, J. 1968. The Technique of Modern Fiction: Essays in Prac­tical Criticism. London: Arnold.

 

Scholes, R. & Kellog, R. 1966. The Nature of Narrative. New York: Oxford University Press.

 

Schroder, M.Z. 1967. The novel as a genre. In: Stevick, P. (ed.). The Theory of the Novel. New York: The Free Press.

 

Seydou, C. 1982. Comment defenir le genre epique? Un exam­ple: L’Epopee africaine. Journal of Anthropology, 13(1).

 

Seydou, C. & Wright, K. 1983. The African epic: a means for defining the genre. Folklore Forum, 16(1).

 

Servotte, H. 1965. De verteller in de Engelse roman: een studie over romantechniek. Hasselt: Heideland.

 

Stanzel, F.K. 1964. Typische Formen des Romans. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

 

Uspensky, B. 1973. A Poetics of Composition: The Structure of the Artistic Text and Typology of a Compositional Form. Berkeley: University of California Press.

Van Gorp, H. 1970. Het optreden van de verteller in de roman. Hasselt: Heideland.

 

Zemplenyi, F. 1984. Krise im Wunderland: I cinque canti und der Ubergang von der Romanze zum Epos. Acta litteraria Academiae Scientiarum Hungarieae, 26(1-2).

Henriette Roos