(Gepubliseer Maart 2024)
Die konseptuele metafoorteorie (ook bekend as die kognitiewe metafoorteorie) is een van die invloed-rykste linguistiese teorieë wat ten tyde van die kognitiewe wending in die twintigste eeu ontwikkel is.
Die kognitiewe wending is sedert die jare vyftig van die vorige eeu geweldig invloedryk – veral in die geesteswetenskappe, maar rekenaarwetenskap, kunsmatige intelligensie en inligtingswetenskappe in die algemeen het ook ’n noemenswaardige rol gespeel. Miller (2003) kenskets dit so:
Cognitive science is a child of the 1950s, the product of a time when psychology, anthropology and linguistics were redefining themselves and computer science and neuroscience as disciplines were coming into existence (Miller, 2003:141).
Die los groepering van vakgebiede wat hieruit voortgespruit het, staan bekend as kognitiewe wetenskappe. Met dié nuwe aanpak is ondersoek tussen die volgende vakgebiede onderneem: (eksperimentele) sielkunde, filosofie, antropologie, linguistiek, rekenaarwetenskap en kunsmatige intelligensie en die navorsing word onder andere ondersteun deur neurowetenskaplike werk oor die brein en die verstand.
Die kognitiewe wetenskappe volg ’n interdissiplinêre benadering tot die bestudering van gedagtes, die organisering van die verstand (of denke, “mind”) en intelligente gedrag. Algaande word meer terreine, soos literêre teorie, ekonomie, evolusie en religie hierdeur ontsluit. Die aantrekkingskrag van hierdie wetenskaplike benadering lê in die moontlikhede wat dit bied om die vermoëns van die menslike verstand en die strukturele en funksionele realisering daarvan in die menslike brein te ontdek.
Samewerking tussen verskillende dissiplines in die geestes- en ander wetenskappe was en is steeds een van die uitstaande kenmerke en ook winste van die kognitiewe wending. Die kognitiewe linguistiek kan ook onder hierdie breë wetenskaplike benadering tuisgebring word.
Dirven & Paprotté (1985:viii) beskryf die kognitiewe linguistiek as ’n benadering wat nie ’n onderskeid tref tussen die kategorieë wat deur taal onderskei word en dié wat deur die algemeen menslike vermoë tot abstraksie en beeldvorming (imagistic representation) opgerig word nie. Die kognitiewe linguistiek verbind sig tot ’n paar fundamentele aannames waarvan die kognitiewe verbintenis een is: “a commitment to make one’s account of human language accord with what is generally known as the mind and the brain, from other disciplines as well as our own” (Lakoff, 1990:40).
Die kognitiewe linguistiek val uiteen in twee groot ondersoeksgebiede: kognitiewe semantiek en kognitiewe benaderings tot grammatika. Omdat taal veelvuldige kennis- en ervaringsvelde oproep (Langacker, 1987:5) kan taal die lens wees waardeur kognitiewe fenomene bestudeer kan word. ’n Basiese aanname van die kognitiewe linguistiek is die oortuiging dat taal sekere fundamentele beginsels en eienskappe van menslike kognisie reflekteer (Evans & Green, 2006:5). Volgens Evans et al. (2007:2) het kognitiewe linguistiekteorieë genoegsaam gesofistikeerd en gedetailleerd geword om toetsbare voorspellings te kan maak deur die breë verskeidenheid van konvergerende metodes en getuienis uit die kognitiewe wetenskappe te gebruik
Kognitiewe semantiek
Die kognitiewe semantiek spruit voort uit die oortuiging dat die betekenis van woorde en taaluitdrukkings direk verband hou met kognitiewe prosesse van die menslike brein. Die vakgebied is dus ten nouste gemoeid met die ondersoek na die verband tussen (menslike) ervaring, die konseptuele sisteem en die semantiese struktuur wat deur taal geënkodeer word. Die volgende belangike teorieë, benaderings en ondersoeksterreine word onder andere almal in die kognitiewe semantiek gehuisves: raamsemantiek, prototipeteorie, beeldskemateorie, ensiklopediese semantiek, kategorisering en geïdealiseerde kognitiewe modelle, die konseptuele metafoorteorie, metonimiese denke, denkruimtes (“mental spaces”) en konseptule integrasie. Kognitiewe meganismes soos kategorisering, metafoor en metonimie word veral ondersoek om ’n dieper begrip te ontwikkel van die wyse waarop taal menslike kognisie weerspieël.
Wanneer Lakoff in Women, Fire and Dangerous Things (1987) beskryf hoe mense kennis organiseer, verwys hy na abstrakte modelle in die verstand wat hy Geïdealiseerde Kognitiewe Modelle noem. Kategoriestrukture en prototipes is volgens hom ’n neweproduk van sulke kennisorganisering. Seminale outeurs soos Lakoff, Johnson, Turner, Kövecses en Fauconnier moet verkieslik deeglik bestudeer word om ’n beter greep te kry op menslike kognisie soos wat kognitiewe (taal)wetenskaplikes dit verstaan.
Oor die belang van kategorisering en rame word volstaan met die volgende opsomming deur Kövecses (2005:141):
Much of our knowledge about the world comes from the categories we have. Categories are mentally represented as frames, schemas, or models […]. The terminology is varied […] but the idea behind it is roughly the same. We can use the following working definition of frames: A frame is a structured mental representation of a coherent organization of human experience.
Die konseptuele metafoorteorie moet verstaan word teen die agtergrond van bostaande inleiding.
Metafoor
Die manier waarop metafoor verstaan word in die kognitiewe semantiek is wesenlik anders as voorheen. Taal (en dus ook metaforiese uitdrukkings in taal) word verstaan in die konteks van kognisie in die algemeen en metafoor word gesien as ’n belangrike meganisme van konseptualisering.
Conceptual Metaphor Theory rests on three essential propositions: first, the view that metaphor is a cognitive phenomenon, rather than a purely lexical one; second, the view that metaphor should be analysed as a mapping between two domains; and three, the notion that linguistic semantics is experientially grounded (Geeraerts, 2010:204).
So beskou, is die konseptuele metafoor1 een van die kragtigste instrumente wat ons begrip van die wêreld om en in ons vorm. Met die siening dat metafoor nie primêr ’n talige fenomeen is nie, word sekere vorige tradisionele filosofiese of literêre metafoorteorieë verwerp. Soos wat Van der Merwe (2021:19 e.v.) aantoon, was daar wel retorici en filosowe wat die tradisionele siening van metafoor teëgestaan het. Sy verwys na I.A. Richards en die filosowe Max Black en Paul Ricoeur. Die beskouings van Black en Ricoeur gee, binne die raamwerk van die interaksieteorie, wel erkenning aan die kognitiewe aard van die metafoor. (Maar kyk Metafoor. Vergelyk ook Kittay (1987) in dié verband.)
Die 1979-publikasie van Metaphor and Thought (Ortony, 1979) was meer bepaald ’n belangrike wegbereider vir die nuwe teorie in wording. Lakoff en Johnson, 1980, gee ook erkenning in hulle voorwoord aan gespreksgenote en die idees van ander wetenskaplikes en Lakoff (1993:269) noem, in die tweede uitgawe van Metaphor and Thought, spesifiek Michael Reddy se referaat uit 1979, “The Conduit Metaphor”, waar metafoor primêr konseptueel en konvensioneel verstaan word.
In die kognitiewe benadering word metafore beskou as gegrond in (beliggaamde) ervaring, afhanklik van en bepaal deur kulturele kodes.
Metaphors We Live By (Lakoff & Johnson, 1980), die grondteks van die konseptuele metafoorteorie, was ’n kantelpunt in die ontwikkeling van literêre, linguistiese en – op ’n meer algemene vlak – kognitiewe studies. Deur die klem te plaas op die besef dat ’n groot deel van die mens se linguistiese uitdrukkings en abstrakte konseptuele domeine deur liggaamlike ervaring gestruktureer word, het die konseptuele metafoorteorie ook ’n uitgesproke beliggaamde perspektief na kognisie gebring.
Kruisdomeinkartering
Kartering word in die konseptuele metafoorteorie verstaan as die sistematiese bymekaarbring van elemente uit twee konseptuele domeine, ’n bron- en doeldomein (of teikendomein). Die konvensionele metaforiese uitdrukkings Die petrolprys styg weer en Haar punte is regtig baie hoog gebruik die brondomein RUIMTELIKE ORIËNTASIE om ’n abstrakte konsep soos die styging in die petrolprys of punte (die doeldomein) moontlik te maak. Die konseptuele metafoor MEER IS OP is moontlik omdat ons weet dat voorwerpe wat op mekaar gestapel word al hoër en meer word. Hierdie sistematiese byeenbring van twee domeine staan bekend as kruisdomeinkartering.
Konseptuele metafore kan verstaan word omdat taalgebruikers die kartering tussen bron- en doel-domeine herken. Hierdie kartering is ’n kognitiewe proses soortgelyk aan analogiese redenering en die vermoë om afleidings te maak, oorsaak en gevolg te verbind, ensovoorts.
Domein
Die begrip domein is een van die basiese teoretiese konstrukte in kognitiewe linguistiek. Langacker (1987:45) stel dit so: “A domain is a structured region of conceptual structure that serves as a frame of reference for locating entities and for establishing and maintaining relationships among them”. Die terme bron– en doeldomeinword algemeen gebruik om konseptuele metafore aan te dui, in die geheuebrug of mnemotegniek waarmee Lakoff en Johnson (1980) begin het: DOELDOMEIN IS / AS BRONDOMEIN.
Brondomeine soos RUIMTE en LIGGAAM is direk afkomstig van ons liggaamlike ervaring, terwyl teikendomeine soos TYD abstrakte en soms baie komplekse domeine is wat staat maak op brondomeine om begryp te word (Evans & Green, 2006:231).
Kövecses (2010:18) verwys na Alice Deignan se Collins Cobuild English Guides 7: Metaphor as die sistematiesste omvattende opname van die algemeenste brondomeine en noem verder dat brondomeine vir metaforiese kartering domeine insluit wat verband hou met die MENSLIKE LIGGAAM (the heart of the problem), DIERE (a sly fox), PLANTE (the fruit of her labour )KOS (he cooked up a story) en KRAGTE (don’t push me!). Die algemeenste teikendomeine sluit konseptuele kategorieë soos EMOSIE (she was deeply moved), MORALITEIT (she resisted the temptation), DENKE (I see your point), MENSLIKE VERHOUDINGS (they built a strong marriage ) en TYD (time flies) in.
Karterings tussen bron- en teikendomeine maak dit moontlik dat ons figuurlike of metaforiese talige uitdrukkings soos die volgende kan herken en verstaan:
- sy herkou lank aan sy antwoord (brondomein: EET, teikendomein: DINK)
- die meeste trone en paleise is uit die bloed van die arm mensdom opgebou (brondomein: BLOED, teikendomein: SWAARKRY of LYDING)
- die vakansie het vinnig verbygegaan (brondomein: BEWEGING, teikendomein: TYD)
- Jerusalem, jy wat gedrink het uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid (Jes 51:17) (brondomein: DRINK, teikendomein: ERVARING VAN LYDING)
Een van die bekende kruisdomeinkarterings uit Metaphors We Live By is LIEFDE IS ’n REIS. Hierdie kartering gebruik ’n reeks ontologiese ooreenkomste tussen die bron- en teikendomein wat in tabelvorm so daaruit kan sien:
Bron: REIS | Kartering | Doel: LIEFDE |
REISIGERS | → | VERLIEFDES |
VOERTUIG | → | LIEFDESVERHOUDING |
REIS | → | GEBEURE IN DIE VERHOUDING |
AFSTAND AFGELÊ | → | VORDERING GEMAAK |
HINDERNISSE TEËGEKOM | → | PROBLEME WAT ERVAAR WORD |
BESLUITE AANGAANDIE RIGTING | → | KEUSES OOR WAT OM TE DOEN |
BESTEMMING VAN DIE REIS | → | DOELWITTE VAN DIE VERHOUDING |
In sy blog illustreer Botha (2016) die kartering tussen bron- en teikendomeine, met LIEFDE as teikendomein. Hy gebruik die bekende liedjie The Rose.:
Some say love, it is a river / that drowns the tender reed.
Some say love, it is a razor that leaves your soul to bleed.
Some say love , it is a hunger, an endless aching need.
I say love, it is a flower and you, its only seed.
Liefde, wat ’n abstrakte konsep is, word sistematies verstaanbaar gemaak met behulp van brondomeine, wat konkrete, fisiese vergestalings in die werklikheid het (rivier, skeermes, honger, blom). Dit is ‘n kog-nitiewe proses wat die bron- en teikendomeine telkens met mekaar in verband bring.
Beliggaamde ervaring
Die aard van die verhouding tussen konseptuele struktuur en die eksterne wêreld van sensoriese ervaring vorm ’n fundamentele vraag in die kognitiewe semantiek (Evans & Green, 2007:157). In die kognitiewe wetenskappe word aanvaar dat die menslike verstand oor voorkonseptuele wetes beskik wat uit beliggaamde ervaring spruit. Belangstelling in en respek vir “the body in the mind” is een van dié kenmerkende ingesteldhede van nie net kognitiewe semantiek nie, maar kognitiewe linguistiek in die algemeen: “The abundant and systematic presence of metaphor in language, as Steen and Gibbs, 1999: 1 put it, has in particular been explored by departing from the embodied nature of many metaphors” (Taljard & Bosman, 2014:224).
Ons weet iets van ingeslotenheid en ruimte, driedimensionaliteit, swaartekrag, ensovoorts, omdat ons liggame ons sekere dinge oor die werklikheid buite ons laat ervaar en hierdie ervaring lei to kognisie – die vorming van belangrike konsepte in ons brein. Evans & Green (2007:45) verduidelik dat swaartekrag ’n objektiewe kenmerk van die wêreld is, maar meer nog, mense se ervaring van swaartekrag word bepaal deur die aard ons liggame en deur die ekologiese nis wat ons bewoon – ons is byvoorbeeld nie voëls nie.
In die konseptuele metafoorteorie word beliggaamde ervarings soos ’n vinnige hartklop, ’n gevoel van hitte, veral in die gesig en ’n rooi gelaat gebruik om die onderliggende motivering vir metafore soos WOEDE IS HITTE te verskaf. Vergelyk Lakoff (1987), wat in sy gevallestudie oor WOEDE voorbeelde van WOEDE-uitdrukkings soos die volgende gee: You make my blood boil, he was red with anger.
In Afrikaans is daar uitdrukkings soos die volgende: warm word onder die kraag, ’n witwarm humeur, rooi in die gesig, rooi sien, kook van woede, warm word.
Nog ’n belangrike kognitiewe meganisme is beeldskemas.
Beeldskemas
’n Belangrike insig uit die kognitiewe wetenskappe is datkonseptuele metafore gemotiveer word deur beeldskemas – prelinguistiese, abstrakte skemas betreffende ruimte, beweging en ander kernelemente van beliggaaamde menslike ervaring.
Johnson (1987:xiv) definieer ’n beeldskema as ’n herhalende, dinamiese patroon van ons perseptuele interaksies en motoriese programme wat samehang en struktuur aan ons ervaring gee. Baie van ons elementêre ervarings is universeel – om in ’n “houer” soos ’n kamer, byvoorbeeld te wees, om ’n fisieke krag teë te staan, om in die donker te wees. Hierdie ervarings lei tot beeldskemas soos BRON-PAD-DOELWIT wat weer op hulle beurt lei tot konseptuele metafore. Hierdie abstrakte beeldskemas word in figuurlike uitbreidings soos hy het nog ’n lang pad om te gaan voor hy sy doel bereik of iets staan in jou pad opgemerk. Bosman (2020) gebruik onder andere die BRON-PAD-DOEL-skema om Van Wyk Louw se gedig “Groot ode” te ontleed.
Johnson (1987) noem verdere tipiese beeldskemas soos SKAKELS, SIKLUSSE en SKALE.
Metaphors We Live By
George Lakoff en Mark Johnson verander op ’n fundamentele manier in Metaphors We Live By (1980) die manier waarop metafoor voortaan beskou sou word – nie as “a device of the poetic imagination and the rhetorical flourish” soos wat hulle dit so welsprekend stel nie, maar as ’n kragtige konseptuele hulpmiddel: “Our ordinary conceptual system, in terms of which we both think and act, is fundamentally metaphoric in nature” (Lakoff & Johnson, 1980:3).
Hierdie dun boekie kan beskou word as die eerste werklik sistematiese uiteensetting van die konseptuele siening van metafoor. Soos wat Geeraerts (2010: 205 e.v.) aantoon, verskaf Lakoff en Johnson ook vir die eerste maal getuienis (en nie net talige getuienis nie) wat hulle siening staaf. Geeraerts noem die volgende drie tipes getuienis:
Konseptuele metafore vorm patrone wat individuele leksikale items of uitdrukkings te bowe gaan.
TEORIEË EN ARGUMENTE IS GEBOUE
The argument is shaky.
Is that the foundation for your theory?
We need to construct a strong argument for that.
Taalgebruikers verstaan hierdie uitdrukkings omdat hulle die kartering tussen twee domeine verstaan via die konseptualisering in hulle brein. Taalgebruikers beskik verder ook oor kennis van wat ’n gebou is; dat dit beplan word en gebou word; dat die fondament gebrekkig kan wees; dat dit kan ineenstort, ensovoorts.
Twee ander bekende konseptuele metafoorpatrone is LIEFDE IS ’n REIS (Look how far we’ve come; We are at a crossroads; We’ll just have to go our separate ways)en die baie meer prosaïese MEER IS OP / BO; MINDER IS AF / LAER (Die petrolprys styg maand na maand; haar punte is baie hoog; die kwik styg).
Die tweede tipe getuienis wat Lakoff en Johnson aanbied, is dat metafore baie kreatief gebruik kan word – alle metaforiese uitdrukkings is nie bloot konvensioneel of geyk nie, maar nuwes kan bykom. Metaforiese uitdrukkings vorm met ander woorde ’n oop groep uitdrukkings. As teorieë geboue is, kan iemand vorendag kom met ’n uitrukking soos Komplekse teorieë het gewoonlik loodgietersprobleme.
Derdens kom metaforiese patrone ook buite taal voor. ’n Eenvoudige geval is die duim-na-bo-gebaar (wat ook as emotikon beskikbaar is vir taalgebruikers om te benut.
Hierdie drie tipe getuienis was vernuwend en verrassend en het tot hernude belangstelling in metafore gelei. Dit was vernuwend omdat daar nie voorheen op so ’n gedetailleerde wyse moeite gedoen is om die konseptuele aard van metafore met getuienis te staaf nie en verrassend omdat die nuwe denke aangetoon het dat alledaagse, konvensionele uitdrukkings op dieselfde manier ontleed kan word as retoriese en kreatiewe metafore.
Poëtiese metafore
Poëtiese metafore, wat in ’n deelgebied van kognitiewe semantiek, naamlik kognitiewe poëtika, ondersoek word, verskil in belangrikte opsigte van alledaagse, konvensionele metafore. Hulle is dikwels uiters kompleks, soms baie moeilik om te verstaan en hulle lê onverwagse en verrassende verbande tussen domeine.
In More Than Cool Reason gebruik Lakoff en Turner (1989:93) David Antin se vertaling van André Breton se surrealistiese gedig ‘Free Union’ as ’n voorbeeld van een tipe poëtiese metafoor, die ooreenkoms-metafoor. Die liriese spreker sien ooreenkomste raak tussen fisieke en ander eienskappe van sy vrou en uiteenlopende sake in die werklikheid of in die verbeelding, soos vuur, weerlig, ’n uurglas, die geur van ’n ster, ensovoorts.
My wife whose hair is a brush fire
Whose thoughts are summer lightning
Whose waist is an hourglass
Whose waist is the waist of an otter caught in the
teeth of a tiger
Whose mouth is a bright cockade with the fragrance
of a star of the first magnitude
Whose teeth leave prints like the tracks of white mice
over snow
Whose tongue is made of amber and polished
glass
Whose tongue is a stabbed wafer
Volgens Lakoff (1993:202) is die veralgemenings wat poëtiese metaforiese uitdrukkings bepaal nie in taal gesetel nie, maar in ons denke – net soos meer konvensionele metafore, is hulle ook karterings tussen konseptuele domeine. Maar anders as wat die geval is by konvensionele metafore, word geykte beeldspraak en verbeeldinglose kartering uitgedaag in poëtiese metafore.
Lakoff en Turner, 1989 toon aan dat lesers figuurlike taalgebruik kan verstaan omdat digters bekende konseptuele instrumente, soos beeldskemas en konseptuele metafore, gebruik: “Because metaphor is a primary tool for understanding our world and our selves, entering into an engagement with powerful poetic metaphors is grappling in an important way with what it means to have a human life” (Lakoff & Turner, 1989:xii).
Hulle bied maniere aan om poëtiese metafore te ontleed deur onder andere voorbeelde uit die groot skat van Engelse poësie te bespreek. Konsepte soos lewe, tyd en dood onderlê dikwels metafore soos GEBOORTE IS AANKOMS, LEWE IS OM HIER TEENWOORDIG TE WEES en DOOD IS VERTREK. Die metafoor LEEFTYD IS ’N DAG word so uitgedaag en bevraagteken deur die digter Catullus (Lakoff & Turner, 1989:69):
Suns can set and return again,
but when our brief light goes out,
there’s one perpetual night to be slept through.
Die mens se lewensfases word konvensioneel aangedui deur die dag-nag-siklus te gebruik (dagbreek is geboorte; die oggend is jeug, middag is ouderdom en nag is dood). In bogenoemde gedig verwys die metafoor nie konvensioneel na die dood as (die laaste) nag nie maar die dood word ’n voortdurende nag wat op die lewe volg (vergelyk die bekende Dylan Thomas reël Do not go gentle into that good night). Van Wyk Louw gebruik die metafoor LEWE /TYD IS JAARGETYE in sy bekende gedig “Vroegherfs” op ’n beeldryke, vars manier.
Nie net poësie kom in More Than Cool Reason aan bod nie, maar ook spreekwoorde in die vorm van kort gedigte in W.S. Merwin se vertalings Asian Figures (Lakoff & Turner, 1989:168-169):
Charcoal
writes everybody’s name
black
Blind
blames the ditch
Any weather
chicken’s
pants are rolled up
Om voorbeelde soos hierdie te kan verstaan, beteken ook dat ons verstaan dat verskillende lewensvorme essensiële eienskappe het wat as THE NATURE OF THINGS beskryf kan word.
Die begrip metaforiese verlenging veronderstel dat onkonvensionele eienskappe van die brondomein op doeldomeine gekarteer word. Die voorbeeld wat Lakoff en Turner, 1989:68, gebruik, is dié van DOOD IS SLAAP uit “Hamlet” van Shakespeare. In ’n verlenging van die DOOD IS SLAAP-metafoor word DROOM uit die brondomein SLAAP op die doeldomein DOOD gekarteer:
To sleep? Perchance to dream! Ay, there’s the rub;
For in that sleep of death what dreams may come?
Metaforiese uitbreiding dui weer op die onkonvensionele uitbreiding van skemas deur gapings op ongewone maniere te vul, anders as wat die geval is met ’n verlenging van die metafoor. Die voorbeeld ter sprake in Lakoff en Turner (1989:67-68) is DOOD IS VERTREK met spesifieke verwysing na Horatius wat die dood beskryf as die eternal exile of the raft. In hierdie voorbeeld word BALLINGSKAP gebruik om die handeling van VERTREK aan te dui. Die vaartuig waarmee vertrek word, die vlot, is onkonvensioneel. Hierdie beeld vul gapings in die konsepte van ballingskap en vertrek – die reisigers is sonder beheer en oorgelewer aan vinnige seestrome en die elemente.
Konseptuele versmelting
In The Way We Think: Conceptual Blending and the Mind’s Hidden Complexities (2002), fokus Fauconnier en Turner (2002), die pioniers van die versmeltingsteorie, op die denkvermoë wat, danksy die proses van konseptuele versmelting, die mensdom in staat gestel het om innoverend te dink en nuwe konsepte en denkpatrone te ontwikkel. “Human beings developed art, science, religion, culture, sophisticated tools, and language” merk hulle in die inleiding tot die boek op. Versmelting verwys na die kognitiewe proses waar verskillende denkruimtes saamsmelt. Die kardinale bydrae van hierdie teorie is die idee van ’n versnitruimte (“blended space”): “(I)n the blended space, knowledge of source and target inputs combines into a coherent information structure that is temporarily activated in the mind of the language user” (Geeraerts, 2010:211). Fauconnier en Turner (2002:291) verduidelik hierdie proses deur die “Grim Reaper” as voorbeeld te gebruik. Die beeld van die skeletagtige, makabere man met sy sekel, wat mense eerder as koring afmaai, is ’n integrasie wat komplekse interaksies van metafoor en metonimie betrek. ’n Hele paar ruimtes word gebruik in die totstandkoming van dié voorstelling van die Dood: (1) ’n ruimte waar ’n menslike wese sterf; (2) ’n ruimte met ’n abstrakte patroon van kousale toutologie waarin ’n sekere soort gebeurtenis veroorsaak word deur ’n abstrakte oorsaaklike element (Dood veroorsaak doodgaan, Slaap veroorsaak slaap);
(3) ’n spasie wat ‘n stereotipiese mensemoordenaar bevat en (4) ‘n spasie waar mense tydens oestyd iets oes. The Grim Reaper self setel konseptueel nie in een van die invoerruimtes nie, maar in ’n versnit, waarvan die struktuur uit al vier die ruimtes geprojekteer word. Geeraerts (2010:212) gee ’n goeie grafiese voorstelling van hierdie proses en wys ook daarop dat die konseptuele integrasiemeganisme nie beperk is tot metafooranalise nie. Dit is eerder ’n algemene prosedure in menslike kognisie.
Sowel die konseptuele metafoorteorie as konseptuele versmelting word in Afrikaanse en Noord-Sotho metafoorstudies as teoretiese raamwerk en analisemeganismes gebruik. Vergelyk onder andere W.F. Botha se webruimte waar sy artikels te vinde is, Pauw, 1996, Venter, 2009, Taljard & Bosman, 2014, Bosman, 2015, 2019, 2020, Bosman & Taljard 2021, Van der Merwe 2021.
Nerina Bosman
Bibliografie
Bosman, N. 2015. EET en DRINK in Afrikaans – ’n leksikaal-semantiese ondersoek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(1), pp.123-145.
Bosman, N. 2019. The cup as metaphor and symbol: A cognitive linguistics perspective. HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 75(3), pp.1-8.
Bosman, N. 2020. Bewegingswerkwoorde in Van Wyk Louw se poësie. In Johl, R. (red.). 2020. N.P. van Wyk Louw silwer herberg in die sneeu. ’n Huldiging. Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. pp. 144-164.
Bosman, N. & Taljard, E. 2021. A cross-linguistic study of BLOOD metaphors in Afrikaans and Northern Sotho. Language Matters, (52)1, pp. 3-29.
Botha, W.F. 2016. Die metafoor: ’n oorsig. https://vanuitdietaalkunde.blogspot.com/2016/11/. Geraadpleeg: 5 Desember 2023.
Dirven, R. & Paprotté. W. 1985. Introduction. In Paprotté & Dirven (reds.). The ubiquity of metaphor. Metaphor in Language and Thought. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company. pp. vi-xi.
Evans, V. & Green, M. 2006. Cognitive linguistics: An introduction. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Evans, V., Bergen, B. & Zinken, J. (reds.). 2007. The cognitive linguistics enterprise: an overview. In Evans, V., Bergen, B. en Zinken, J. (reds.). 2007. The Cognitive Linguistics reader. London: Equinox, pp. 2-36.
Fauconnier, G. & Turner, M. 2002. The Way We Think: Conceptual Blending and the Mind’s Hidden Complexities. New York: Basic Books.
Geeraerts, D. 2010. Theories of Lexical Semantics. Oxford: Oxford University Press.
Johnson, M. 1987. The body in the mind. The bodily basis of meaning, imagination, and reason. Chicago: The University of Chicago Press.
Kittay, E. 1987. Metaphor: its cognitive force and linguistic structure. Oxford: Oxford University Press.
Kövecses, Z. 2005. A broad view of cognitive linguistics. Acta Linguistica Hungarica, 52(2-3), pp. 135-172.
Kövecses, Z. & Benczes. R. 2010. Metaphor. A Practical Introduction. 2de uitgawe. Oxford: Oxford University Press.
Lakoff, G. 1987. Women, fire, and dangerous things. What categories reveal about the mind. Chicago: The University of Chicago Press.
Lakoff, G. 1990. The invariance hypothesis: is abstract reason based on image schemas? Cognitive Linguistics, 1(1), pp. 39–74.
Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors we live by. Chicago: University of Chicago Press.
Lakoff, G. & Johnson, M. 1999. Philosophy in the Flesh: The Embodied mind and its challenge to Western Thought. New York: Basic Books.
Lakoff, G. & Turner, M. 1989. More than cool reason: A field guide to poetic metaphor. Chicago: University of Chicago Press.
Langacker, Ronald. 1987. Foundations of Cognitive Grammar, Volume I. Stanford, CA: Stanford University Press.
Miller, G.A. 2003. The cognitive revolution: a historical perspective. Trends in Cognitive Sciences, 7(3), pp. 141 -144.
Ortony, A. (red.) 1993. Metaphor and thought. 2de uitgawe. Cambridge: Cambridge University Press.
Pauw, M.A. 1996. Die ouderdommetafoor in die Afrikaanse poesie: ‘n kognitiewe ondersoek. MA. Universiteit van Johannesburg.
Taljard, E. & Bosman, N. 2014. The Semantics of Eating in Afrikaans and Northern Sotho: Cross-linguistic Variation in Metaphor. Metaphor and Symbol, 29(3), pp. 224-245.
Turner, M. 1996. The Literary Mind. Oxford: Oxford University Press.
Van der Merwe, L. 2021. ’n Kognitief-semiotiese verkenning van multimodale metafore in Filmverse I en II. PhD. Universiteit van Pretoria.
Venter, H.E. 2009. Die verhouding tussen verhaal en metafoor in Agaat (Marlene van Niekerk). MA. Noordwes-Universiteit.
- Metonimie is nog een van die kognitiewe instrumente of meganismes in die menslike verstad ↩︎