Divan (Farsi en Turks: dīwān) is ‘n Persiese benaming vir ’n versameling gedigte of prosa afkomstig van één enkele skrywer. Dit kan sy uitgesoekte werke beteken, en soms ook sy hele oeuvre.
Die term is aanvanklik slegs vir ’n algemene register of argief gebruik en toe later vir die staatsinstelling in beheer van finansies (veral van soldate se pensioene), later vir die persoon in beheer, nie noodwendig van finansies nie, en nog later vir die stoel (divan) waarop hy gesit het. Na analogie van sulke finansiële registers het Arabiese geleerdes van die Abbasidiese Kalifaat (750-1258) die werke van Arabiese digters uit die tydperk voor Islam, wat tot dan net mondeling oorgelewer is, bymekaargebring in versamelings wat hulle dīvāns genoem het.
‘n Afbeelding van die voorblad van ‘n divan van die Persiese digter Hafiz
Bron : Amaana.org
Divans is dikwels gerangskik in alfabetiese volgorde, gewoonlik sonder die digter se lang gedigte, die masnavi’s of mathnawi’s. In die meeste divans word die gedigte volgens genre georden met eers die formele odes, dan die strofiese ghaselle en laastens die kwatryne, die rubaiyat. Die eerste gebruik van die term ‘divan’ vir digkuns word toegeskryf aan Abu Abdollāh Rudaki (858-940). In die digkuns het sommige divans beroemd gebly, veral dié van mistieke skrywers soos Hallaj (857-922), NasirKhusraw (1004-1088), Ibn ‘Arabî (1165-1240), Djalâl ud Dîn, bekend as Rûmi (1207-1273), of van Hafiz (1320-1392), die grootste lirikus van die Persiese literatuur. Laasgenoemde het die West-östlicher Divan (1819) van Goethe geïnspireer, die bekendste divan in die Westerse literatuur.
In Frankryk is die term ‘diwan’ in die digkuns reeds vanaf 1697 gebruik. Engelse vertalings van verskeie divans en Edward FitzGerald se Rubaiyat by Omar Khayyam (1859) het met ’n hedonistiese ingesteldheid en rebellie teen die fokus op die hiernamaalse bygedra tot die gewildheid van Oriëntalisme en tot die Fin de Siècle in die 19de eeu. Baerlein se Engelse vertaling van die divan van Abū al-ʻAlāʼ al-Maʻarrī (973-1057) in 1908 het ook in Suid-Afrika invloed uitgeoefen, soos op Uys Krige wat van die gedigte vertaal en meegevoer is deur Abū al-ʻAlāʼ se universele gees en opstandigheid teen sowel kerk as staat (Kannemeyer, 2002). Uit Spaans het Lorca (1898–1936) se Diván del Tamarit (1940) beroemd geword. In Nederland het N. M. Wijnberg sy eie Divan van Chalib (2009) geskryf, geïnspireer deur Mirza Asadullah Baig Khan (1797–1869) se divan met ghaselle oor die liefde. In Afrikaans het A.G. Visser ’n speelse gedig “Oos-westelike divan” (Gedigte, 1925) met ’n Midde-Oosterse agtergrond gepubliseer. Veral Uys Krige het vertalings uit verskillende divans van Abū al-ʻAlāʼ en Lorca gepubliseer, onderskeidelik in Vir die luit en die kitaar (1950) en Verse van Lorca (1987) terwyl Van der Berg (2023) verskeie ghaselle uit Rumi se Dīwān-e Shams-e Tabrizi (divan van Shams van Tabriz) vertaal het.
Dietloff van der Berg
Bibliografie
Baerlein, H. (vert.). 1908. Abu al-Ala al-Maarri: The Diwan of Abu’l-Ala. London: John Murray.
Kannemeyer, J.C. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.
De Blois, F., & Bosworth, C. E. (2017). DĪVĀN. In Encyclopaedia Iranica Online. Brill. https://doi.org/10.1163/2330-4804_EIRO_COM_8431
McAuley, D. E. 2012. Ibn ‘Arabî’s Mystical Poetics. New York: Oxford University Press.
Ormsby, E. (vert.). 2019. Johann von Goethe: West-Eastern Divan. London: Gingko.
Smith, Paul. 2012. Divan of Hafiz. Victoria: Book Heaven.
Van der Berg, D.Z. (vert.). 2023. Rumi: Liefdesverse en aanhalings. Gansbaai: Naledi.