Wat is eudaimonia?
Algemeen beskou, is die strewe om eudaimonia te beleef, om te floreer of om in ʼn staat van welsyn (“well-being”) te probeer leef, een van die belangrikste dinge waarmee mense hulle besig kan hou (Pawelski & Moores, 2013:1). Eenvoudig gestel, gaan dit hier oor die poging om in verskillende domeine van ʼn mens se bestaan voorspoedig te wees. Hierdie staat van welsyn mag nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, en is gewoonlik afhanklik van hoe gebeure en omstandighede ervaar word. Tog gebeur dit dat welsyn ʼn mens soms ontglip, selfs al is alles “reg” gedoen om voorspoed te verseker (Pawelski & Moores, 2013:1). Dit kan veroorsaak dat dit waaruit persoonlike welsyn moontlik bestaan, uit die oog verloor word.
Emosies wat met tevredenheid en gemoedsrus verband hou, word algemeen met welsyn verbind. Ervaringe wat met die bereiking van ʼn persoonlike doel, ʼn nuwe of dieper verstaan van die wêreld of die self, of inspirasie gepaard gaan, het gewoonlik welsyn tot gevolg. Objektiewe aspekte van die lewe soos fisiese gesondheid, beheer oor jou omgewing, verhoudinge met ander, ʼn ondersteunende gemeenskap en ʼn betekenisvolle werk dra ook hiertoe by (Pawelski & Moores, 2013:1).
Dit is egter ironies dat ʼn mens eers behoorlik bewus raak van welsyn wanneer dit bedreig word; wanneer iets slegs met iemand gebeur, kom die persoon sterker onder die indruk van die voorreg van welsyn. Gevolglik word daar soms meer aandag geskenk aan beskerming téén slegte dinge as om welsyn te geniet, te waardeer en te bevorder (Pawelski & Moores, 2013:2). Pawelski en Moores (2013:3) voer aan dat navorsers wat in eudaimonia geïnteresseerd is, eerder konsentreer op aspekte van menswees wat individue laat gedy as op die dinge wat verkeerd (kan) gaan.
Die Griekse wysgeer Aristoteles was van mening dat ʼn goeie lewe deur eudaimonia gekenmerk word (Pawelski & Moores, 2013:2). Die term eudaimonia al van die tyd van die ou Grieke af na “a condition of human flourishing [that] carried with it connotations of a blessed life” (Pawelski & Moores, 2013:2). Eudaimonia is ʼn saamgestelde woord wat bestaan uit die Griekse woorde eu (goed) en daimon (god, gees, demoon). Eudaimonia kan in Engels vertaal word met “happiness” of “flourishing”. Op sy beurt is “happiness” in Afrikaans vertaalbaar as “geluk” of “geluksaligheid”, sake wat algemeen as belangrike doelwitte in die lewe beskou word. “Geluk” is egter ʼn besonder subjektiewe saak, en boonop abstrak. Daarom is dit raadsaam om eerder aan te sluit by die praktyk in eudaimoniese studies om die term “welsyn” te gebruik. ‘Welsyn’ in hierdie konteks moet verstaan word as wel+syn (soos die Nederlandse zijn), om te wees.
Adam Potkay (2013:xii) verduidelik dat eudaimonia ook inhou dat ʼn individu pertinent besluit, of hulself toelaat, om geluk te beleef, of om te floreer. ʼn Eudaimoniese beskouing van geluk is dus die vermoë, nie noodwendig om te kry wat jy wil hê nie, maar om te verstaan en te leer waardeer wat jy wel het. Potkay (2013:xii) is van mening dat geluk tans beskou word as “an on-going process of weighing conflicting desires and motives, the continuous interpretation and evaluation of a life”. Hierdie interpretatiewe ingesteldheid ten opsigte van die lewe sluit aan by wat die letterkunde by uitstek te bied het en van ons verwag. Die lees van ʼn literêre werk ontwikkel die leser se vaardighede en ervaring in hierdie verband deurdat hy/sy die geleentheid gebied word om self aktief te besluit om die goeie asook die slegte wat in die teks opgevoer word as sodanig te aanvaar, en die lewe daarvolgens te (her)evalueer. Eudaimoniese temas soos deernis, onderliggende verbintenis met alle mense, eko-bewustheid, optimisme, dankbaarheid, verbeelding, verwondering en liefde is net so belangrik in ʼn literêre teks as die kritiese representasie van onderdrukking, konserwatisme, egosentrisme, narsissisme, die bourgeoisie, naïwiteit, neurose, illusie en ydelheid. Temas van kameraderie, deernis, lojaliteit en vriendskap in ʼn literêre teks moet byvoorbeeld met dieselfde belangstelling as neurose, selfsug en ydelheid bestudeer word. Moeilike ervaringe soos om te sterf en om ʼn geliefde te verloor, kan hand aan hand gaan kan met opbouende ervaringe, soos die verkryging van ʼn nuwe (gedeelde) passie of belangstelling, ʼn beter besef van die lewensdoel, die skep van kuns, die vind van vriendskap of die herwaardering daarvan. Pawelski en Moores (2013:39) stel in hierdie verband: “[L]ove and joy are just as mysterious and labyrinthine as are anguish and despair”.
Die eudaimoniese wending
Pawelski en Moores (2013) se versamelteks The Eudaimonic Turn: Well-being in Literary Studies beskryf iets van ʼn nuutgevonde belangstelling in die eudaimoniese in letterkundige verband. Dit gaan hier oor die literêre betekenis wat ʼn teks oordra en hoe die interpretasie daarvan ʼn opbouende invloed op die leser se lewe kan hê. ʼn Eudaimoniese benadering tot ʼn teks plaas die klem op die interaksie tussen teks en leser. Pawelski en Moores (2013) verwys met “the eudaimonic turn” na ʼn breë heroriëntasie in verskeie dissiplines en sektore waarby ʼn té eksklusiewe fokus op (postmodernistiese) onderwerpe soos onbepaaldheid, onsekerheid, sinloosheid, ondeug en feilbaarheid verwerp word in ʼn poging om hierdie dinge te balanseer met ʼn beklemtoning van byvoorbeeld deugsaamheid, krag, florering, potensiaal en betekenis. Pawelski en Moores (2013:37) wys daarop dat sommige kritici, breedweg binne die kader van die poststrukturalisme, van mening is dat ʼn teks nie literêr is as dit nie “donker” en subversief is nie. Volgens hierdie sienswyse is ʼn teks met ʼn meer positiewe strekking of uitstraling nie kompleks genoeg vir ernstige literêre analise nie en word kritiek wat sig daarmee besighou as ongesofistikeerd beskou. Ter illustrasie hiervan wys hulle daarop dat daar ʼn akademiese neiging is om die gekwelde (en donker) werke van digters soos Walt Whitman en Emily Dickinson literêr hoër te ag as hul optimistiese tekste oor skoonheid, liefde en positiewe ontwikkeling (Pawelski & Moores, 2013:37).
In The Eudaimonic Turn: Well-being in Literary Studies (2013) word aangevoer dat dat vakkundiges veral in die afgelope dekade, wat al as die postteorie-era beskryf is, begin besef het dat postmoderne subjektiwiteit nie toereikend is in gesprekke oor ervaringe wat kan lei tot of verband hou met eudaimonia nie. Alternatiewe vorme van kritiek is gesoek wat, afgesien van onderlinge verskille, deel uitmaak van ʼn meer bevestigende hermeneutiese benadering (Pawelski & Moores, 2013:lokteks). Volgens voorstanders vind hierdie wending in ʼn verskeidenheid navorsingsvelde neerslag, onder andere psigoterapie, onderwys, die mediese wetenskap, die ekonomiese wetenskap, politiek en religieuse studies. Die eudaimoniese wending skep opwindende nuwe navorsingsgeleenthede oor eudaimoniese onderwerpe wat by wyse van samewerking tussen verskillende dissiplines onderneem kan word, nie net in die geestes- en sosiale wetenskappe nie, maar ook die natuurwetenskappe.
Pawelski en Moores (2013) se navorsing is nie bedoel om profeties of voorskriftelik te wees en ʼn volstrek nuwe denkparadigma aan te kondig nie, maar eerder om ʼn klein maar belangrike waarneming te maak oor bogenoemde klemverskuiwings ten opsigte van die onderliggende invalshoeke waaruit letterkundestudie aangepak word. Die eudaimoniese wending, wat die bestudering van letterkunde betref, is klaarblyklik slegs een van verskeie manifestasies van die herbesinning oor hoe daar bevestigend oor literêre tekste geskryf en gelees kan word. Wendell V. Harris (1996) se boek Literary Meaning: Reclaiming the Study of Literature, Michael Wood (2005) se Literature and the Taste of Knowledge, Thomas Vaessens (2009) se De revanche van de roman: Literatuur, autoriteit en engagement, Vaessens en Van Dijk (2011) se Reconsidering the Postmodern: European Literature Beyond Relativism, Peter Swirski (2007) se Of Literature and Knowledge, Andy Mousley (2011) se Towards a New Literary Humanism, Rita Felski se navorsing (sien: postkritiek) in Uses of literature (2008), The Limits of Critique (2015) en Hooked: Art and Attachment (2020) oor is ʼn paar voorbeelde van vele ondersoeke met ʼn vergelykbare ingesteldheid.
Bevestigende benaderings tot literatuurkritiek is allermins nuut. Paul Ricoeur se idee van “productive reference” kan met die eudaimoniese benadering tot die letterkunde in verband gebring word omdat dit ook die leser die geleentheid gee om (her)evaluerend na die lewe te kyk tydens en ná die lees. Ricoeur verduidelik dat ʼn literêre teks nie gewoonweg op reproduktiewe wyse na die werklikheid verwys nie, maar eerder op produktiewe wyse daarmee in gesprek tree deur die leser tydelik van die werklikheid af te sny. In hierdie afgesnyde staat, meen Ricoeur, toets ʼn leser nuwe idees, waardes en maniere van wees in die werklikheid, omdat verbeelding ʼn vrye spel van moontlikhede inhou. Sodoende kan fiksie ʼn her(be)skrywing van die werklikheid word. Die leser kry dus die geleentheid om die teks te lees as opsetlik besig om die “barriers of the obvious” (Ndebele, 1994:53) af te breek sodat nuwe moontlikhede van verstaan verwesenlik kan word. Dit kan ʼn bevrydende ervaring vir die leser wees.
ʼn Eudaimoniese benadering tot letterkunde
Die spesifieke vraag waarmee die studie van eudaimonia binne die veld van letterkunde gemoeid is, is die volgende: hoe kan die omgaan met die letterkunde daartoe bydra om van iemand ʼn gelukkiger (meer florerende) persoon maak? Die eudaimoniese wending in literatuurstudie behels derhalwe die volgende:
- die herevaluering van literêre werke in terme van die positiewe en inspirerende,
- die bestudering en herevaluering van konflikgebaseerde narratiewe en gedigte waarin ʼn karakter ʼn gunstige transformasie ervaar as gevolg van sy of haar swaarkry, en
- die bestudering van daardie ontwrigtende tipe werke wat geen positiewe transformasies aanbied nie, maar wel ʼn positiewe impak op ʼn leser se psige het op grond van die estetiese waarde daarvan (Pawelski & Moores, 2013:47)
In die inleidende gedeelte van Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans (Ester, Van der Merwe & Mulder, 2012:7-8) verduidelik die redakteurs dat die omskepping van lewe tot verhaal “die soek na kousale verbande in die lewe” behels, wat “ʼn fundamentele manier (is) om sin uit […] verskillende lewenservarings te maak”. Daar word algemeen aanvaar dat narratiewe tekste karakters uitbeeld wat as gevolg van slegte omstandighede op positiewe maniere groei ervaar omdat hulle daarin slaag om sin uit hul lewenservarings te maak (Pawelski & Moores, 2013:41). Hierdie tipe groei word deur psigoloë posttraumatiese groei (PTG) genoem en behels dat positiewe transformasie plaasvind omdat die subjek sy prioriteite herrangskik om byvoorbeeld vriendelikheid, regverdigheid, hoop, integriteit en eenvoudige plesier as die belangrikste waardes in die lewe te beskou. PTG kan lei tot lewenswysheid en vorm deel van karaktergroei. Karakters in narratiewe werke kan aan die hand van post-traumatiese groei daarin slaag om sin te maak van die lewe en daardeur eudaimonia beleef.
Daar kan egter ook iets goeds kom van ʼn teks waarin ʼn karakter oënskynlik geen (of min) groei ervaar nie, maar onophoudelik swaarkry beleef wat hy sukkel om te hanteer. Die estetiese afstand tussen die leser en dit wat in die fiksionele werklikheid met die karakter gebeur, stel die leser in staat om swaarkry te ervaar sonder dat dit te veel vir hom raak (Pawelski & Moores, 2013:43). Die gevolg kan ook wees dat die leser in staat raak om sy eie omstandighede in ʼn meer positiewe lig te beskou. Pawelski en Moores (2013:44) voer aan dat daar wel eudaimoniese waarde in is om ellende, soos uitgebeeld in kuns, te beleef. ʼn Belangrike eudaimoniese waarde wat volgens Aristoteles deur middel van katarsis na aanleiding van ʼn tragedie veroorsaak word, is medelye (Pawelski & Moores, 2013:44). Verskeie neuroloë is dit eens dat die vermoë om medelye te ervaar, een van die mees gesofistikeerde funksies van die menslike brein is (Pawelski & Moores, 2013:44).
Literatuur kan ook eudaimonia bevorder deur die waardering van ʼn teks as kuns. Die sosiaalwetenskaplike, Marghanita Laski, het waargeneem dat die waardering van kuns of die reaksie op skoonheid tot ʼn soort ekstase kan lei (Pawelski & Moores, 2013:46).
Ingrid Jonker se poësie kan as interessante voorbeeld dien. Onskuld en naïwiteit word gereeld as temas uitgelig in Jonker se poësie, en dit word dan veral beskou binne die konteks van haar tragiese lewe en sterwe. Haar gedigte word hoofsaaklik gelees met ʼn deurlopende gevoel van onheilspellendheid as gevolg van die tragiek wat die leser weet die einde van haar lewe gekenmerk het. Die vraag wat ʼn eudaimoniese benadering sal vra, is of en hoe Jonker se poësie gelees kan word in die lig van die opbouende en die opbeurende aard daarvan, eerder as die neerdrukkende of onheilspellende. Die fokus sal dan moontlik geplaas kan word op die moontlikheid dat die skryfproses vir Jonker terapeuties was, en dat dit dalk ook tot die leser se gevoel van eudaimonia kan bydra om haar poësie in hierdie lig te lees. Selfs met die wete dat haar skryfwerk uiteindelik nie vir haarself uitkoms kon bied nie, is dit dalk vir die leser moontlik om iets opbouends daaruit te neem. Al is dit slegs om medelye te ontwikkel met en insig te verkry in iemand se klaarblyklike stryd met ernstige geestesongesteldheid.
Janien Linde
Bibliografie
Ester, H., Van der Merwe, C. & Mulder, E., (Reds.). 2012. Woordeloos tot verhaal: Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans. Stellenbosch: Sun Press.
Felski, R. 2008. Uses of Literature. Hoboken: Wiley-Blackwell.
Felski, R. 2015. The Limits of Critique. Chicago: University of Chicago Press.
Felski, R. 2020. Hooked: Art and Attachment. Chicago: University of Chicago Press.
Harris, W. 1996. Literary Meaning: Reclaiming the Study of Literature. London: Macmillan.
Mousley, A. 2011. Introduction. In: Mousley, A., ed. Towards a New Literary Humanism. New York: Palgrave Macmillan:1-19.
Ndebele, N.S. 1994. South African Literature and Culture: Rediscovery of the Ordinary. Manchester: Manchester University Press.
Pawelski, J.O. & Moores, D.J., (eds). 2013. The Eudaimonic Turn: Well-being in Literary Studies. Maryland: Fairleigh Dickinson.
Pawelski, J.O. & Moores, D.J. 2013. Introduction. What is the eudaimonic turn and the eudaimonic turn in literary sudies? In: Pawelski, J.O. & Moores, D.J., (eds). The Eudaimonic Turn: Well-being in Literary Studies. Maryland: Fairleigh Dickinson.
Potkay, A. 2013. Foreword. In: Pawelski, J.O. & Moores, D.J., (eds.). The Eudaimonic Turn: Well-being in Literary Studies. Maryland: Fairleigh Dickinson:xi-xiv.
Swirski, P. 2007. Of Literature and Knowledge. London: Routledge.
Timmer, N. 2010. Do You Feel It Too? The Post-Postmodern Syndrome in American Fiction at the Turn of the Millennium. New York: Rodopi.
Vaessens, T. 2011. De revanche van de roman: Literatuur, autoriteit en engagement. Amsterdam: Vantilt.
Vaessens, T. & Van Dijk, Y. 2011. Reconsidering the Postmodern: European Literature Beyond Relativism. Amsterdam: Amsterdam University Press
Wood, M. 2005. Literature and the Taste of Knowledge. Cambridge: Cambridge University Press.