NUWE MATERIALISME

(Gepubliseer Februarie 2025)

Relke (1999:322-33) waarsku dat hierdie fundamentalisme nie net lei tot ‘n verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan nie, maar dat, waar teks en tekstualiteit so sterk op die voorgrond gestel word, die materialiteit van die mens en omringende wêreld baie min of geen aandag ontvang nie. Relke argumenteer dat “the reintegration of material embodiment into theories of culture opens up the possibility of exploring the limitations of current discourse theory and literary criticism”.

Een van die sleutelaspekte van die materiële draai, oftewel die ommekeer in die guns van materialiteit, is dus die skerp reaksie teen die neiging in die postmoderne en poststrukturalistiese denke om die wêreld te dematerialiseer tot linguistiese en sosiale konstruksies, in die geloof dat die werklikheid en kultuur ’n sisteem van tekens is, oftewel ’n struktuur wat op taal gebaseer is (Iovino & Oppermann, 2012:76). Barad (2003:801) formuleer die kritiek teen die radikale tendense in postmoderne en poststrukturele denke baie duidelik:

Language has been granted too much power. The linguistic turn, the semiotic turn, the interpretative turn, the cultural turn: it seems that at every turn lately every “thing” – even materiality – is turned into a matter of language or some other form of cultural representation.

Ook plaaslik vind hierdie kritiek steun in die kringe van Afrikaanse ekokritiek. Smith (2014:756) voer aan: “Representasie en die produksie van kennis hang saam met die materialiteit van dit wat geken word […]. Ons bekom nie kennis deur buite die wêreld te staan nie; ons weet omdat ons ván die wêreld is.” Hiermee vind Smith aansluiting by die argumente teen die skeiding tussen objek en die voorstelling daarvan deur middel van taal, en veral teen die oppergesag van taal bo die materiële objek self, waardeur die inherente werking van die materialiteit ondermyn is. “Taal is belangrik; kultuur is belangrik; diskoers is belangrik. Maar hoe het dit gebeur dat taal meer betroubaar geword het as materie, dat wat ons oor iets sê meer betroubaar is as die fisiese saak self?” (Smith, 2014:756). Met hierdie vraag beklemtoon Smith, soos ook Barad (2003:802), die waarskuwing wat Friedrich Nietzsche lank tevore uitgespreek het teen die foutiewe tendens om linguistiese strukture toe te laat om die vorm van en ons begrip van die wêreld te bepaal. Die idee dat die menslike en die niemenslike oor inherente eienskappe besit wat uitbeelding (in taal) voorafgaan, word deur Barad (2003:802) benadruk as ’n metafisiese vooronderstelling wat ten grondslag van die teorie van uitbeelding lê.

Ekokritici wat die ommekeer in die guns van materialiteit aanhang, bepleit dus ’n wegkeer van die uitsluitlik vertekstualiseerde werklikheidsbeskouing om weer die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid te erken, asook hoe die materiële realiteit beide menslike en niemenslike dimensies van die lewe beïnvloed (Glotfelty, 1996:xxiv; Barad, 2003:802).

Binne die teoretiese raamwerke van die Nuwe Materialisme en Objekgeoriënteerde Ontologie waarin die materiële ommeswaai sterk neerslag vind, geld die uitgangspunt dat die natuur nie as ’n passiewe sosiale konstruksie beskou word nie. Dit word beskryf as ’n bemiddelende krag wat interaksie met en verandering van ander elemente en materie, insluitende die mens, teweeg kan bring (Bennett, 2010:xvi; Ioviono, 2012:135). Serpil Oppermann (2013:72) stel dit só:

The new materialists perceive nature as an active, signifying force; an agent in its own terms […]. Being thus liberated from its previous conceptualizations as a blank, silent resource for the exploits of culture […] nature is discussed as a significant participatory force field in the entanglement of meaning and matter.

Die oortuiging geld dat “the reintegration of material embodiment into theories of culture opens up the possibility of exploring the limitations of current discourse theory and literary criticism”. Relke (1999:288–9) som hierdie oortuiging op: “Matter matters. I […] became convinced that what’s missing in Foucault, Lacan, and Derrida – founding fathers of postmodernist theory – is a structured system other than the system of signs.”

Sleutelterme

Materie (“Matter”): Vanuit die denkraamwerke van die genoemde intellektuele bewegings word materie beskou as ’n meervlakkige konsep wat die materialiteit van die menslike liggaam sowel as die natuurlike en nienatuurlike wêreld insluit, lewend en nielewend. Oppermann (2013:71) verwys na “human and nonhuman bodies, organic and inorganic substances and forces”.

Hierdie beskouing veronderstel ’n verstrengeldheid en meervoudige weefsel wat sowel die sosiolinguistiese konstruksies en kulturele verteenwoordiging as die materialiteit van alle dinge insluit. Iovino (2012:136) verhelder die konsep ekokritiese materialiteit:

“(M)aterial” ecocriticism could trace narratives of matter not only as they are re-created by literature and other cultural forms, but also as they emerge in physical configurations, those “viscously porous” interlacements of flesh and symbolic imaginaries. There are many points from which we can start exploring “narratives” about materiality. The body is certainly one of those. Being the “middle place” where matter encounters and enmeshes with the discursive forces of politics, society, technology, identity, the body is the site where matter more clearly performs its narratives.

Bennett (2010:24, 121) bou voort op hierdie idee met die stelling dat die menslike “material self” altyd ineengevleg is met die niemenslike:

One can invoke bacteria colonies in human elbows to show how human subjects are themselves nonhuman […]. One can note that the human immune system depends on parasitic helminth worms for its proper functioning […] to show how human agency is always an assemblage of microbes, animals, metals, chemicals, […] and the like.

Bennett se oortuigings verwoord een van die sterkste teoretiese uitgangspunte van die Objekgeoriënteerde Ontologie, naamlik dat dat alle materie, menslik en niemenslik, interaktief verbind is en dat ons nie enkelvoudige en onafhanklike wesens is nie, maar “made of other things”. Morton (2010a:6) verwys na die suurstof in ons longe, die kos wat ons liggame verbruik; ook na die voorbeeld dat mens byvoorbeeld 98% van sy genome met sjimpansees en 35% daarvan met affodille deel (Morton, 2010a:6). Hy verklaar: “Ecology is profoundly about coexistence” (Morton, 2010b:4).

Agentskap (“agency”/ “agentic power”): Volgens Iovino en Oppermann (2012:79) stel die materiële ekokritiek twee maniere voor om die krag of werking (“agency”) van materie te interpreteer. Ten eerste kan die klem geplaas word op die wyse(s) waarop materie as ’n krag of mag van beïnvloeding beskryf en uitgebeeld word: literêr, kultureel of visueel. Ten tweede kan die aandag val op die verhalende krag van materie om gestaltes of samestellings van betekenis te skep wat saam en in interaksie met menslike lewe bestaan (Oppermann, 2013:79). Iovino (2012:136) onderskei tussen verhaalde materie (“storied matter”), narratiewe wat oor materie (die mag en beïnvloeding daarvan) handel,  en verhalende materie waar die fokus val op materie self wat ‘n aktiewe verhalende rol speel. Die idee van ‘n materie-narratief (“narratives of matter”) dui op die strukturele kompleksiteit van hierdie narratiewe wat handel oor die lewe wat die mens met die nielewende wesens deel, ‘n saamleef van stories en bewussyn van die gedeelde dimensie waarin ons leef (Iovino, 2012:136).

Diana Coole en Samantha Frost (2010:10) vat die Nuwe Materialisme se sleutelinsig omtrent die beïnvloedende mag van materie soos volg saam:

Conceiving matter as possessing its own modes of self-transformation and self- organization, and thus no longer as simply passive or inert, disturbs the conventional sense that agents are exclusively human and possess the cognitive abilities, intentionality, and freedom to make autonomous decisions and the corollary presumption that humans have the right or ability to master nature. Instead, the human species is being relocated within a natural environment whose material forces themselves manifest certain agentic capacities […] Matter is no longer imagined here as a massive, opaque plenitude but is recognized instead as indeterminate, constantly forming and reforming in unexpected ways.

Transkorporealiteit en intra-aktiwiteit: Die idee dat materie ’n mag van beïnvloeding (agentic power) uitoefen, ook oor die mens, lei tot Bennett (2010:xvi) se beklemtoning van “the agentic contributions of nonhuman forces, operating in nature, in the human and inhuman bodies” en dat “human agency has some echoes in nonhuman nature – to counter the narcissism of humans in charge of the world”. Saam met die idee van materie as vitale krag hoort ook Barad (2003:822) se voorstel dat materie nie as vaste, statiese substansie gesien word nie, maar eerder as substansie in ’n intra-aktiewe staat van wording. Vir Barad is materie “not a thing, but a doing, a congealing of agency […], a stabilizing and destabilizing process of iterative intra-activity”. Die proses van aanhoudende intra-aktiwiteit is verantwoordelik vir die (voort)bestaan van materie en dit beklemtoon “die lewende, wordende, vitale aard van materie” (Smith, 2014:755).

Alaimo neem die term transkorporealiteit (“transcorporeality”), wat Meyer (2015:78) ook as transliggaamlikheid vertaal, in gebruik om begrip vir ons posisie ten opsigte van die wêreld – “the material interconnections of human corporeality with the more-than-human world” (Alaimo, 2010:2) – te vergemaklik. Transkorporealiteit impliseer die volgende: “We’re literally enmeshed in the physical material world. [ … ] (T)here’s no nature that we just act upon. Instead, it’s also acting back upon us, as we are always already the very substance and the stuff of the world that we are changing.” (Alaimo, 2020:139). Sy verbind transliggaamlikheid met “the interchanges and interconnections between various bodily natures”, met “movement across bodies”, en met “the material interconnections of human corporeality with the morethan- human world”. Daarom verwys Donna Haraway (2008:161) na “the partners in infoldings of the flesh”. Iovino (2012:137) verstaan transliggaamlikheid as “the flow of substances across bodies, reconfiguring the boundaries between the self and the environment, as well as between all material substances in material contexts”.

Subjek-objek-verhoudings: Die algemene siening van die natuur as iets daar buite – “in the distance, under the sidewalk […], preferably in the mountain, in the wild” (Morton, 2010b:3) – strook nie met die Objekgeoriënteerde Ontologie se siening van die natuur as ook binne-in die mens nie. Hy beskou mens en natuur as een objek en meen dit is nodig dat ons onsself begin sien as deel van die objek, as die objek self. Ons leef binne-in die objek; ons bevind ons in ’n massiewe, gedurig veranderende objek waarin alle dinge saam bestaan.

Die Objekgeoriënteerde Ontologie beklemtoon ook die ommekering van bepaalde rolle en posisies, spesifiek die rolle van subjek en objek. Die objek kry ’n sentrale posisie; die stel van die mens se bestaan bo dié van niemenslike objekte word verwerp. In hierdie standpunt ten opsigte van die gelykheid in subjek-objekverhoudings word antroposentrisme sterk teengestaan (Morton, 2011a:165).

Die belang van hierdie klemverskuiwing om begrip te skep vir die niemenslike wêreld as ’n lewende, vitale materialiteit waarby die mens interaktief betrokke is, word deur Alaimo (2010:1) onderstreep: “If nature is to matter, we need more potent, more complex understandings of materiality.” Die sin van dié nuwe, “kragtiger” verstaan van materie is dat ’n passiewe geobjektiveerde beskouing van die niemenslike wêreld teengestaan word. Alaimo waarsku dat menslike interaksie met die natuur se lewende en nielewende entiteite tot niet gegaan het; in die plek daarvan is die “begrip” natuur, wat gestroop is van alle lewe en as sodanig ’n leë abstraksie of leë spasie geword het –  beskikbaar vir die mens se eie benutting en om daaraan betekenis toe te ken soos dit die mens pas. In die geloof dat die mens met die ontwikkeling van die natuur waarde daaraan toevoeg, word bygedra tot objektivering en uitbuiting van die “onbetwiste” spasie (Alaimo, 2010:1). Met die Nuwe Materialisme word denkpatrone geskuif: “Matter is not little bits of nature, or a blank slate, surface, or site passively awaiting signification […]”, benadruk Barad (2003:821).

Smith (2014) oordeel dat die noodsaaklike, vars perspektief op die niemenslike en nielewende dinge om ons die mens in staat stel om na die narratief daarvan te luister, om die handelende objek en sy aksies raak te sien, om interaktief en intra-aktief betrokke te wees daarby en die menslike self as deel te sien van die groter geheel van objekte. “Dit vra ’n terugdraai vanaf die uiterste vorme van teoretisiteit om die fisiese ding self agter die taalsimbool in die oë te kyk”, is die slotsom.

Hiperobjekte en die vreemde vreemdeling: Een van Morton se betekenisvolle insigte is sy beskrywing van die wyse waarop objekte terugtrek en die volle geheel nooit waargeneem kan word nie (2011b:167), terwyl hy hiperobjekte (“hyperobjects”) beskryf as objekte soos aardverwarming of plutonium (wat ’n halflewe van 24 100 jaar het), waarvan die omvang terugtrek deurdat ons dit nie direk kan sien of aanraak nie, of die omvang daarvan menslike begrip te bowe gaan. Dit bestaan, ongeag die mens se onvermoë om dit waar te neem al dan nie, en sal bestaan lank nadat ons nie meer daar is nie. Morton (2011c:80) sê: “Hyperobjects are real objects that are massively distributed in time and space. […]They are so vast, so long lasting, that they defy human time and spatial scales.” Hiperobjekte gaan nie tot niet in ons leeftyd nie en hulle brand nie sonder dat hulle self brand en gifstowwe vrystel nie.

’n Verdere konsep wat Morton ontwikkel is dié van die vreemde vreemdeling (“strange stranger”) wat, saam met die beginsel van terugtrekkende objekte, nog ’n kernelement in die teoretisering van die Objekgeoriënteerde Ontologie vorm (Morton, 2011b:165). Hy verduidelik hierdie konsep só: “Strange stranger names an uncanny, radically unpredictable quality of life-forms. Life-forms recede into strangeness the more we think about them, and whenever they encounter one another – the strangeness is irreducible.” Hy maak ons attent op die noodsaak om die vreemdelingteorie te oorweeg: “Ecological philosophy that does not attend to this strangeness is not thinking coexistence deeply enough.” (Morton, 2011b:165)

Uiteindelik word ons bewus van die wêreld om ons juis wanneer ons op die punt is om dit te verloor; ons ken en herken dit wanneer dit verlore is. Morton (2010a:132) sê in dié verband: “We are becoming aware of the world at the precise moment at which we are ‘destroying’ it – or at any rate, globally reshaping it.” Saam met die besef van wat ons verloor, is ’n bewussyn van prysgawe en verlies; ’n ekologiese ramp kan bykans op dieselfde skaal as ’n oorlogservaring of trauma gelees word. As ons sien watter dinge ons besig is om te verloor, kom ’n proses van terravorming (“terrashaping”) in werking: ons bring objekte na die oppervlak van ons bewussyn en aanvaar verantwoordelikheid vir ons keuses, waardeur ’n nuwe landskap geskep word waarvan ons ’n bewustheid dra (Morton, 2010a:135). Langs die weë van die Objekgeoriënteerde Ontologie is ons besig om ons konsep van wat die aarde is, wat natuur is en wat ons verhouding daarmee is, te hervorm – nie volgens die beperkte visie vanuit ’n klein hoekie van die wêreld nie, maar aan die hand van ’n visie wat die rykdom van die heelal insluit, inbegrepe die sigbare en die onsigbare. Hoe ons omsien na die “vreemde vreemdeling”, na die objek en die hiperobjek, is volgens Morton (2010a:135) die langtermynprobleem waarmee ekologie te kampe het.

Ten slotte

Marijke van der Veen (2014:799) benadruk die feit dat die konsep materialiteit, ten opsigte van die presiese omskrywing en die gebruik daarvan, die afgelope tyd aan die verander is. “[It] has changed from an initial focus on the agency of objects, that is the recognition of material and non-human agency, to a greater emphasis on relationships, networks and meshworks, rather than on the individual agency of either person or object.” Hiermee stem John Robb (2016:505) saam. Hy beskou die eienskap van dinamiese aktiwiteit en beïnvloeding (“agency”) waaroor materie beskik, as altyd relasioneel en konteksgebonde:

[I]t is always defined in the context of a relationship between an agent and a recipient. Hence material things can be agents as long as humans interact meaningfully with them. […] The idea of material agency loses its shock value if we stop treating agency as a zero-sum quantity associated with individual, volitional mastery. It makes perfect sense within a relational view of agency; people act within relationships with things as much as with other individuals and groups.

Coole en Frost (2010:9) sluit die aspek van relasionaliteit (“relationality”) ook pertinent in by hulle beskrywing van materie as ’n verhoudingsgefundeerde krag of vitaliteit (“ force”, “vitality”), met die verdere eienskappe dat dit ook selfskeppend, produktief en onvoorspelbaar is. Ook Tim Ingold (2007:14) argumenteer: “The environment is a world that continually unfolds in relation to the beings that make a living there. Its reality is not of material objects but for its inhabitants.” Sy slotsom is dat die eienskappe van materie, wanneer dit as die samestellende dele van ’n omgewing beskou word, nie geïnterpreteer kan word as vasgestelde kenmerke van voorwerpe nie, maar bestudeer moet word in verhoudingsverband (“they are rather relational”). Alaimo (2020:138–139) het hier die slotwoord:

While it is important to recognize the catastrophic impacts humanity continues to have on other species and planetary ecologies, thinking in terms of “Man” vs. the world may give us a false sense of power that shields us from considering differential human vulnerability. We are always part of the world we have affected.

Static visual depictions of the Anthropocene position the viewer above and beyond the scene, provide a false sense of separation, while instead, it should be about humans in relation to, and in assemblage with various technologies and other beings [ …] ourselves as immersed within multi-species agencies and interactions.

(Raadpleeg ook Smith, 2015 en Bryant, Srnicek & Harman, 2011.)

Susan Meyer

Susan Smith


Bibliografie

Alaimo, S. 2010. Bodily natures. Science, environment, and the material self. Bloomington: Indiana University Press.

Alaimo, S. 2020. Transcoporeality: An Interview with Stacy Alaimo. Ecozon@, 11(2):137–146.

Barad, K. 2003. Posthumanist performativity: Toward an understanding of how matter comes to matter. Signs. Journal of Women in Culture and Society, 28(30):801–831.

Bennett, J. 2010. Vibrant matter: A political ecology of things. Durham en Londen: Duke University Press.

Bryant, L., Srnicek, N., & Harman, G. reds. 2011. The speculative turn: Continental materialism and realism. Melbourne: Re.Press.

Coole, D. & Frost, S. 2010. Introducing the new materialisms. In: Cool, D. & Frost, S., reds. New Materialisms: Ontology, Agency, and Politics. Durham en Londen: Duke University Press.

Glotfelty, C. 1996. Introduction: Literary Studies in an Age of Environmental Crisis. In: Glotfelty, C & Fromm, H. reds. The ecocriticism reader: Landmarks in literary ecology. Athene: University of Georgia.

Haraway, D. 2008. Otherworldly Conversations, Terrain Topics, Local Terms. In: Alaimo, S. & Hekman S., reds. 2008. Material feminisms. Bloomington en Indianapolis: Indiana University Press.

Ingold, T. 2007. Materials against materiality. Archaeological Dialogues, 14(1):1–16.

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “New Materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–135.

Iovino, S. & Oppermann, S. 2012. Material ecocriticism: Materiality, agency, and models of narrativity. Ecozon@,3(1):75–91.

Meyer, S. 2015. Die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan: aspekte van die nuwe materialisme in Vuurklip van Marié Heese. LitNet Akademies, 12(2):69 –89.

Morton, T. 2010a. Ecology as text, text as ecology. The Oxford Literary Review, 32(1):1–17.

Morton, T. 2010b. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.

Morton, T. 2011a. Here comes everything. The promise of object-orientated ontology. Qui Parle, 19(2):163–90.

Morton, T. 2011c. Zero landscapes in the time of hyperobjects. Graz Architectural Magazine, 7:78–87.

Oppermann, S. 2013. Feminist ecocriticism: The new ecofeminist settlement. Feminismo/s,22:65–88.

Relke, D.M.A. 1999. Greenwor(l)ds. Ecocritical readings of Canadian women’s poetry. Alberta: University of Calgary Press.

Robb, J. 2016. Beyond agency. World Archaeology, 42(4):493–520.

Smith, Susan. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme: ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies 11(2):749–774.

Smith, Susan. 2015. Plek as liggaam en liggaam as plek. Tendense van die nuwe materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog. LitNet Akademies 12(2):1–24.

Van der Veen, M. 2014. The materiality of plants: plant-people entanglements. World Archaeology, 46(5):799–812.