BYBELLITERATUUR (AARD VAN VERHALENDE)

Bybelliteratuur deel in die algemeen ‘n sakrale beskouing van tyd, ruimte en oorsaaklikheid. Daarom speel God en heilige plekke daarin ‘n belangrike rol en word bonatuurlike verskynsels soos wonders, epifanieë en teofanieë, as normaal veronderstel. ‘n Uitsondering is heel laat Ou-Testamentiese vertellings, soos Rut en Ester, waar mythus van goddelike ingryping agter ‘n pseudo-mythus van menslike beplanning verberg word. Die rol van die Godkarakter wissel van voorbeskikkend (1 Sam. 24:1), en mede-bepalend – soos in die uittogverhaal (Eks. 1-15) – tot bloot reaktief (vgl. Gen. 3:1-4:17) of passief (Rut, Ester), terwyl die menslike karakters se rol omgekeerd eweredig aan dié van God is. Die “rolverdeling” hang af van die tyd en godsdienstige tradisie waarin die verhaal ontstaan het (bv. Efraimities of Judees), die rol van die outeur in die samelewing, bv. priester (Gen. 1), hofskrywer (1 Sam. 9-2 Sam. 5), pro- of anti-monargis (vgl. 1 Sam. 8 en 12), en die funksie wat die verhaal in die samelewing moes vervul, bv. fundering van ‘n feesgeleentheid (vgl. Eks. 12), begronding van ‘n dinastie of heiligdom (bv. 2 Sam. 6; 2 Sam. 11-2 Kon. 4), kritiek op sosiale ordes (1 Kon. 17-2 Kon. 2; Lukas), die evaluering van ‘n politieke orde (1-2 Konings), die herstrukturering van die gemeenskap (bv. Esra, Nehemia, Kronieke), die legitimasie van ‘n persoon of denkrigting (bv. Rut, Jona, Matteus, Handelinge), ens.

Die literatuur is dus nie in eerste instansie estetiese literatuur nie, maar oorwegend “betrokke” godsdienstig-propagandistiese of -polemiese werke uit ‘n patriargale samelewing, wat perspektiewe of argumente in die vorm van vertellings aanbied. Daarom gebruik dié werke meestal derdepersoonsvertellings (vgl. egter Nehemia), is hulle vertellers (aan hedendaagse Westerse kriteria gemeet), meestal alwetend en opdringerig (vgl. Rigt. 2:12; 4:1; 6:1; 10:6; 1 Kon. 11:4; 14:22; 15:11; Joh. 6:71; 8:27; 11:33-38; 21:19), die aantal karakters in verhale gering en die intriges redelik ongekompliseerd. Dit gaan egter nie om verbruiksliteratuur nie. Die meeste verhale is struktureel en stilisties fyn geweef (bv. Jona, Markus) met die hoogtepunt oorwegend in die middel van die verhaal, en kan (volgens klassieke kriteria) realisties (Eks. 1-12), romanties (Gen. 12-25), pikaresk (Gen. 25:16-35:29), satiries (Gen. 25: 19-34) of fantasties (Rigt. 9:8-15) ingeklee wees. Die seleksie en aanbieding van stof vertraag of versnel die verteltyd en manipuleer die perspektief op die vertelde tyd (vgl. 2 Sam. 6 met 1 Kron. 15:1-16:43; Mark. 14:12-15:47 met Joh. 13:1-19:42). Karakters van “spanningsverhale” kan rond wees (bv. Dawid in Samuel, Jesus in Lukas) en dié in “filosofiese” vertellings plat (Adam en Eva, Abel, Jesus in Johannes), terwyl hulle – afhangende van die tipe intrige – komiese (bv. Absolom in 2 Sam. 15, die vrou in Joh. 4), ironiese (Salomo in 1 Kon. 4:29-34; 2 Kon. 11:1-11), tragiese (Saul, Simson, Jona, Petrus) of patetiese (Job, Iskariot) ontwikkeling kan deurmaak.

Botsings tussen ‘n sakrale verhaalwêreld en ‘n gesekulariseerde leserswêreld, asook spanning tussen verhale wat oor dieselfde gebeure, tema of persoon handel, maar uit verskillende tye en/of botsende perspektiewe ontstaan of verskillende sosiale funksies gehad het, maar nogtans tot een vertelling verwerk (bv. die Uittogverhaal) of saamgebundel is (bv. Gen. 1 en 2; Eksodus en Deuteronomium; Konings en Kronieke; die vier Evangelies), word in rasionalistiese interpretasies deur ontmitologisering en diachroniese analise, in idealistiese interpretasies deur dogmatisme en struktuuranalise, en in materialistiese interpretasies deur ideologiekritiek oorkom. Dié botsings en spannings kan egter ook tot ‘n vrugbare onderlinge dekonstruktiewe gesprek gebring word. (Vgl. OU-TESTAMENTIESE LITERATUUR en NUWE-TESTAMENTIESE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Bosman, H.L. & Loader, J.A. (reds.). 1987. Vertellers van die Ou Testament. Kaapstad: Tafelberg.

Deist, F.E. & Vorster, W.S. (reds.). 1986. Woorde wat verkom. Kaapstad: Tafelberg.

Keet, O. 1978. The Symbolism of the Biblical Word. New York: Seabury.

Potgieter, J.H. 1989. ‘n Narratologiese ondersoek van die boek Jona. D.D.-tesis, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Ryken, L. 1980. The Literature of the Bible. Grand Rapids: Zondervan.

Sandmell, S. 1974. The Enjoyment of Scripture. New York: Oxford University Press.

Thompson, L.L. 1978. Introducing the Bible: A More Fantastic Country. Englewood Cliffs: Prentice Hall.

Vorster, W.S. 1983. Wat is ‘n evangelie? Pretoria: N.G. Kerk-boekhandel.

 

F.E. Deist