FOLKLORE

Die term folklore (Eng.: kennis van die volk) het ‘n wye betekenis. Die Spaanse en Skandinawiese folklore sluit bv. huisvorme, landboupraktyke en tekstielmetodes in; dit is sake wat normaalweg in die gebied van die antropologie val. In Engels het die folk­lore te doen met die mondelinge of geskrewe tradisies en die estetiese uitdrukkingswyses van ‘n volk. Breedweg gesien, het die term betrekking op die tradisionele geestelike kultuurbesit van ‘n volk, bv. LIEDERE, VERTELLINGS, geboorte- en rougebruike, volksmusiek, raaisels, danse, idiome, MITES, LEGENDES, speletjies en bygelowe. Later is dit uitgebrei na materiële aspekte soos woningbou, speelgoed, gereedskap en tradisionele kleredrag.

Die term folklore is in 1846 in Engeland deur W.J. Thomas gebruik as plaasvervangende benaming vir “popular antiquities”. In die praktyk word “volkskunde” en folklore as sinonieme gebruik.

Die folklore het meestal te doen met die vroeë kulturele besit van ‘n volk en dan dikwels van die minder gekultiveerde groepe, maar sommige aspekte daarvan, soos bygelowe en idiome, is ook deel van die kultuur van die moderne tyd, van sowel die minder -as meer gekultiveerde groepe. Dit kan mondeling of ook skriftelik oorgelewer word.

Die folklore het oral spore in die literatuur nagelaat, bv. die liefdestoets in Shakespeare se King Lear, die volksgelowe in Keats se Eve of St. Agnes en Hamlet van Shakespeare wat gebaseer is op ‘n VOLKSVERHAAL.

Sedert die einde van die 18e eeu is die folklore ‘n gewilde bron van navorsing. Die katalisator vir talle studies was Percy se Reliques of Ancient English Poetry (1765). Dit het aanleiding gegee tot ‘n wydverspreide versameling volksliedere, ondersoeke na die oorsprong van volksliedere en die volksliedere self. Ook die VOLKSVERHAAL is aan ondersoeke onderwerp. Vergelyk Shipley (1964: 162) in die Dictionary of World Literature: “Since the latter subject is worldwide in its scope, collecting has increased rapidly and within the last century methods and proper organization have been assiduously cultivated. Perhaps the most im­portant such development has been the Historical-Geographical Method (…)”.

‘n Vraag wat ontstaan, is of die tradisionele literêre verhale ook as folklore beskou moet word, aangesien die folklore gewoonlik mondeling oorgelewer word. Soms ontstaan daar wedersydse beïnvloeding by die literêre en mondelinge verhale, wat die saak verder bemoeilik.

Vanweë die feit dat die folklore grootliks mondeling oorgelewer word, bestaan die gevaar dat dit verlore kan gaan. Daarom doen baie lande baie moeite om dit bv. in argiewe te bewaar.

 

Anna-Marie Bisschoff