Die diskursiewe SISTEEMTEORIE is ‘n SEMIOTIES-gerigte literatuurbeskouing wat daarvan uitgaan dat literatuur nie bloot as ‘n willekeurige versameling TEKSTE gesien moet word nie maar eerder as DISKOERSE. Daarom kan literatuur alleen in kontekstuele verband bestudeer word. So ‘n uitgangspunt impliseer dat literatuur in ‘n bepaalde kulturele konteks — as (sub-)sisteem — voortdurend ontwikkel in samehang met ander sisteme bv. sosiale en religieuse sisteme.
Hierdie literatuurbeskouing het uiteraard ook noue verwantskap met ‘n RESEPSIE-gerigte benadering, want Iser (1975) se begrip repertoire verwys na alle relevante kontekstuele aspekte van ‘n teks.
Die diskursiewe sisteemteorie plaas bepaalde tekssoorte binne die ruimer konteks van semiose; van menswees as sodanig. Binne die Suider-Afrikaanse werklikheid word menswees vir die afgelope jare direk of indirek bepaal deur die gewapende konflik — of hierdie konflik gesien word as oorsaak of as gevolg; hetsy jy swart of wit is; selfs ongeag van jou eie IDEOLOGIESE stellinginname. Hierdie gewapende konflik staan van meet af vir die Suid-Afrikaner in die teken van die grens. Dit was inderdaad die grens, as landsgrens, waar die belangrikste militêre kontak oor die afgelope dekades plaasgevind het in die Suider-Afrikaanse konteks. Dit was aanvanklik die Suid-Afrikaanse Polisie wat betrokke was by sg. grensbeskerming; later is hierdie taak deur die Suid-Afrikaanse Weermag oorgeneem met die gevolg dat bykans elke Suid-Afrikaanse jong man vanweë die proses van verpligte militêre diens, grensdiens verrig het. Die “grens” het dus nie alleen ‘n sentrale plek ingeneem in die idiolek van opeenvolgende regerings en in die hele gevarieerde diskoers in die Suider-Afrikaanse konteks nie, die totale Suid-Afrikaanse werklikheid is deur hierdie konsep bepaal. In finale instansie ook vanweë die feit dat hierdie oorlogspoging die Suid-Afrikaanse regering in 1988 twee miljoen Rand per dag gekos het. Boonop was die gevolge van hierdie oorlog bykans daagliks voelbaar – vgl. die aantal self-moordpogings deur weermagmanne (362 in 1985) en ander optredes wat terug te voer is tot die sg. Viëtnam-sindroom. Briewe oor hierdie onderwerp het ook feitlik weekliks in Suid-Afrikaanse koerante en tydskrifte verskyn.
In die Afrikaanse literêre wêreld woed daar die afgelope jare ʼn hewige debat oor die wenslikheid van die term grensliteratuur. In sommige kringe is hierdie term as ‘n modewoord afgemaak wat vanweë die klemplasing op ‘n topografiese gegewe boonop beperkend en selfs inperkend kan fungeer. Daar is andersyds egter ook deur vooraanstaande literatore, soos Elize Botha, beklemtoon dat terme in die literatuurwetenskap nooit die pretensie het om die presisie van bv. chemiese formules na te streef nie. Dat skrywers egter lustig meegedoen het om hierdie term te vestig, word duidelik wanneer ‘n klomp titels half lukraak op ‘n ry geplaas word: Op pad na die grens (J.C. Steyn); ‘n Wêreld sonder grense (Alexander Strachan); Die lewe is ‘n grenshotel (Hennie Aucamp); ‘n Basis oorkant die grens (Louis Krüger); Grensgeval (Hans du Plessis); ens. Dat die term inmiddels ingeburger geraak het, is duidelik wanneer resente publikasies bekyk word. (Vgl. Brink (1986), Liebenberg (1988), Viljoen (1988) en Smuts (1989: 19 e.v.).)
In die Engelse vertaling van die Afrikaanse grensliteratuur, “Frontier literature”, ontstaan dikwels verwarring met hierdie ingeburgerde begrip in die Engelse en veral Amerikaanse literatuur. Daarvolgens is die grens “the outer edge of the wave – the meeting point between savagery and civilization”, die plek waar die Europeër omvorm word tot Amerikaner. Volgens hierdie NEO-ROMANTIESE visie is die grens die plek waar almal — in die gees van die ware demokrasie — gelyk is. Getrou aan hierdie geromantiseerde siening ontstaan “the myth of the lone frontiersman, the archetypical American hero: ‘rugged, independent, honest, and loyal’ which stems from James Fenimore Cooper’s portrait of Natty Bumppo in The Deerslayer”. Al ooreenkoms wat daar werklik bestaan tussen die Suid-Afrikaanse grensliteratuur en die Amerikaanse Frontier literature, is die feit dat beide hierdie subsisteme so ‘n stel duidelik onderskeibare kenmerke vertoon dat hul later maklik geparodieer kan word. Wat die Amerikaanse tekstipe betref, is Stephen Crane se roman The Bridge comes to Yellow Sky bv. die einde van die sg. “frontier myth”. By Suid-Afrikaanse outeurs tref ons nou reeds die ontmitologisering van hierdie subgenre aan — ‘n procédé wat ‘n mens dikwels meta-genologies sou kon noem omdat hierdie (sub-)genre as sodanig geparodieer word (vgl. bv. Koos Prinsloo se “Grensverhaal” en verhale van Harry Kalmer, 1989).
Brink (1986) wys pertinent daarop dat die grens-konsep in wese vreemd is aan Afrika wat gekenmerk is deur “semi- of pseudo-nomadiese bewegings”. Vir Brink is dit juis tragies dat hierdie vrye beweging en kollektiewe besit deur aanraking met die blanke vernietig is.
Peter Watson het ‘n werk met die titel War on the Mind gepubliseer waarin o.m. aandag gegee word aan die verskillende stadia wat ‘n soldaat deurgaan vanaf sy opname in die weermag totdat hy uiteindelik uitklaar. Hoewel hierdie studie te make het met Amerikaanse soldate in Viëtnam, is die bevindinge daarin vervat ook van toepassing op Suid-Afrikaanse soldate. Dit word nie alleen bevestig deur empiriese ondersoek nie, maar hierdie fases wat Watson ondersoek, vorm ook die belangrikste struktuurelemente van ‘n bekroonde Afrikaanse drama, Môre is ‘n lang dag, waarin ‘n jong Suid-Afrikaner, Deon Opperman, op outentieke wyse verslag doen van ervaringe in die weermag (in ‘n grenssituasie). Hier tref ons al die belangrikste bestanddele van die grensliteratuur aan: dit is literatuur wat direk of indirek verband hou met ʼn situasie van gewapende konflik; die meeste van die sg. grensskrywers het deel gehad aan die grensoorlog self of as soldaat (Strachan; Johan Coetzee; Bertrand Retief), of as kapelaan (Louis Krüger) of as vrou van ‘n kapelaan (Engela van Rooyen) of as joernalis (Elsa Joubert); daar word derhalwe dikwels outentifiserend verslag gedoen uit ‘n situasie en nie oor ‘n situasie nie — daarom oorheers ‘n neo-dokumentêre inslag met verskeie KUNSGREPE uit die NEW JOURNALISM; die grenssituasie kan aanvanklik bloot topologies wees, maar dit verruim bykans altyd (in letterkundige werke) tot ‘n situasie waarin die grens METAFORIES simbool word van die geskeidenheid van mense (Strachan); lewe en dood (Krüger); geslagtelikheid (Prinsloo); BUITESTAANDERSKAP (Van Heerden) en wat selfs op METALINGUALE vlak daarop dui dat woordgrense verskuif sodat antonieme soos goed/kwaad; vriend/vyand; terroris/vryheidsvegter ook sinonieme kan word. Daardeur word uiteraard geïmpliseer dat die grensoorlog ‘n abnormale en a-normale situasie is wat selfs die taal affekteer. Ten slotte is hierdie tipe literatuur verwant aan die sg. Viëtnam-literatuur en kan die ontwikkeling van hierdie sub-sisteem in die Suider-Afrikaanse letterkunde met vrug vergelyk word met sy Amerikaanse pendant.
Beidler (1982) noem bv. ‘n hele reeks kenmerke van die Viëtnam-literatuur wat ‘n markante ooreenkoms toon met grensliteratuur. Daar is die “nuwe realisme” onderliggend aan Viëtnam-literatuur (p. 64) en die outentisiteit van soveel van die werke (p. 95) wat sterk ooreenstem met die neo-dokumentêre aard van Suid-Afrikaanse grensliteratuur; die aspek van inisiasie wat in soveel van die werke ‘n sentrale rol speel (p. 162) oorheers ook in vele werke in Afrikaans; ook aspekte soos wreedheid en afstomping en swart humor (p. 167) word verbreid aangetref in Afrikaanse werke, hoewel dit seker in ‘n meerdere of mindere mate inherent is aan enige oorlogsliteratuur. Wat wel opval, is die feit dat veral *kortverhale “reveal the unique serviceability of the shorter fictional modes in coming to terms with the sense of episodic randomness and strange fragmentation that so often seemed to characterize one’s vision of the actual experience of the war” (p. 98).
In die Suid-Afrikaanse literatuur val dit ook op dat die jare tagtig veral gekenmerk word deur ‘n opbloei wat die korter prosa betref. André P. Brink het al by geleentheid hom hieroor bekla omdat dit volgens hom ‘n verskraling vir enige literatuur meebring (Brink, 1988: 76). Verklarings vir hierdie tendens sou aanleiding kon gee tot blote spekulasie: in ‘n tyd van oorgang is daar geen tyd vir die lang EPIESE werk nie, korter tekste eggo as ‘t ware die gejaagdheid en fluïditeit van die jare tagtig … Boonop sou beweer kon word dat daar aan die einde van ‘n eeu ‘n tipiese indolensie bestaan, ‘n houding in die literatuur o.a. verbeeld in Couperus se lewensmoeë Lot (Van oude mensen, de dingen die voorbijgaan). Chris Barnard beweer al in 1973 dat die kortverhaal die bespieder is van dinge waarvan ‘n gemeenskap vaagweg bewus is (De Vries, 1989). Die korpus werke wat as grensliteratuur bestempel kan word, bevestig Barnard se diagnose. Hierdie werke word gekenmerk deur die wyse waarop hulle die aktualiteit van oorlog en geweld verken by wyse van momentopnames in joernalistieke verslagstyl.
Grensliteratuur is dus enersyds werke wat verband hou met die landsgrense, maar wil andersyds deur die woord “grens” self juis ‘n doelbewuste verruiming van die begrip daarstel. In die poësie is dit heel waarskynlik ook om ‘n ander rede belangrik: D.J. Opperman word allerweë beskou as die markantste beïnvloeder van die poësie van “Tagtig” en die woord “grens” het ‘n wye omvang in sy poësie. In dié opsig funksioneer dit hier moontlik as INTERTEKSTUELE skakel en derhalwe intersistemiese “verwysing”.
In die bestudering van die sg. grensliteratuur/oorlogsliteratuur binne die Suider-Afrikaanse konteks sal hierdie tekssoort as diskoers dus ook in terme van die PARADIGMATIESE EN SINTAGMATIESE aspekte daarvan ondersoek moet word, nie alleen in terme van die ander sisteme nie, maar ook in terme van hierdie sub-sisteem se relasies met literatuur uit die verlede. Hierdie aspek is tans nog nie voldoende ondersoek nie, maar genoeg bewyse is reeds gevind om hierdie hipotese op ‘n wyer skaal te gaan toets. Die geykte helde-figuur in die Afrikaanse prosatradisie — ook in die Afrikaanse oorlogsliteratuur soos in een van die beroemde romans in Afrikaans, Bart Nel — is ‘n heroïese alleenstaander wat trou bly aan die ideale van sy volk en na ‘n eensame lydensweg ook steeds getrou bly aan homself. Een van die tipiese eksponente van die modeme oorlogsliteratuur in Afrikaans, Alexander Strachan, se hoofpersoon deurgaan bv. ook ‘n proses van inisiasie in sy werk, ’n Wêreld sonder grense, ondervind eweneens huwelikspanning, maar raak bowendien totaal vervreemd van sy volk (hy kom trouens in opstand teen sy eie weermag) en van homself: hy raak ‘n verskeurde, bykans patologiese personasie. Sodoende word gesuggereer dat vandag se blootstelling aan ‘n gewelddadige samelewing onvermydelik die ondergang van die heroïese enkeling beteken. Roos (1985) verwys in hierdie verband na Bart Nel se toespraak voor sy rebellemaats wat in ‘n gewysigde vorm terugkeer in Strachan se slotverhaal “Visioen”. In beide vertellings gaan dit om ‘n rebellie, maar by Van Melle is dit ‘n rebellie teen die weermag ten behoud van die tradisionele waardes van die Afrikaner, terwyl Strachan se rebellie met patriotisme niks te make het nie. Dit is nie die strewe na die uitbou van die Afrikanervolk nie, maar juis die ideaal om oor ‘n eie volk te heers.
Op dieselfde manier kan moderne grensverhale soos Om te awol (Etienne van Heerden) en Klaaglied vir Koos (Lettie Viljoen) geplaas word teen teenhangers in die Afrikaanse literatuur, onderskeidelik Die mugu (Etienne Leroux) waarin buitestaanderskap en vervreemding ook skering en inslag is en Sy kom met die sekelmaan (Hettie Smit) wat seker die bekendste belydenisroman in Afrikaans is. Tussen die moderne poësie oor die oorlogsituasie in Suider-Afrika met sy sinisme en afkeer van geweld en die bekende oorlogspoësie van bv. die Driemanskap, is daar ‘n groot verskil. Dié t.o.v. tematiek (patriotisme bv.) is van die opvallendste.
In die meeste oorsigte van die historiese ontwikkeling van grensliteratuur in Afrikaans (o.a. Roos, 1985; Brink, 1986; Liebenberg, 1988) word Elsa Joubert se Ons wag op die Kaptein (1963) as die vroeë voorloper van hierdie genre beskou. Hoewel dit afspeel op die noordelike grens van Angola, speel dit doelbewus in op die situasie in Suid-Afrika. Dit bly ook een van die min werke binne hierdie (sub)-genre waarin die situasie van die hoofpersoon werklik in religieuse terme verwoord word en die apokaliptiese einde ook moontlike versoening inhou. Dit sou eers veel later weer die sentrale gegewe word in Louis Krüger se voortreflike werk, ‘n Basis oorkant die grens (1984).
Die kernwerke binne hierdie (sub)-genre verskyn in feite binne minder as 15 jaar. Haasbroek se Heupvuur (1974), Roofvis (1975) en Skrikbewind (1976) bevat van die vroegste grensverhale hoewel hulle dikwels afspeel in buurlande. Brutaliteit en wreedheid staan voorop in sy werk en die wyse van vertelling dien as ‘t ware as bloudruk vir ‘n hele geslag skrywers na horn (vgl. in hierdie verband Roos, 1985; De Vries, 1989 en Smuts, 1989). Geweld is haas die trefwoord van die prosa in die jare sewentig (Smuts, 1989: 12) en vind neerslag in werke van bv. John Miles en Welma Odendaal. J.C. Steyn se bundel Op pad na die grens (1976) is egter die volgende belangrike bydrae tot hierdie soort literatuur. Steyn se boek het minder met oorlog te make as met die proses wat daartoe lei/aanleiding gegee het. Die verband tussen oorlogvoering op ons grense en politieke oorsake word ook voortdurend te berde gebring. Reeds hier is die grens waarheen onvermydelik op pad is ook geen eenduidige (topografiese) gegewe meer nie.
Die grensliteratuur as ontspanningsverhaal bloei reeds vir jare voor 1983 toe Etienne van Heerden se My Kubaan opeens die opbloei binne hierdie (sub)-genre inlei. Van Heerden se titelverhaal bly een van die treffendste verwoordings van die uitwerking van geweld op ‘n soldaat. Hierdie tema van die terugkeer na die burgerlike lewe, ewig geskend met die psigologiese en letterlike letsels van die oorlog, word een van die belangrikste LEITMOTIVE binne grensliteratuur. Dit vorm die sentrale gegewe van diverse verhale in Forces’ Favourites (1987), van verskeie verhale van Harry Kalmer, Alexander Strachan, en van die totaal andersoortige roman van Maretha Maartens, Verste grens (1986).
Alexander Strachan se bundel, ‘n Wereld sonder grense (1984), kan bes moontlik beskou word as eksemplaries van grensliteratuur. Dit beskryf die inisiasie van ‘n jong man in die weermagbestaan, derhalwe in die wêreld van geweld. Terselfdertyd word dit egter ook ‘n proses van afstomping en vervreemding sodat hy oplaas totaal gedisoriënteer is. Só word die titel geaktiveer: dit is ‘n wêreld sonder grense tussen goed en kwaad, vyand en vriend, realiteit en waan. In die slotverhaal dien die verwysing na Joseph Conrad se Heart of Darkness juis die doel om deur die intertekstuele skakeling te wys op die gevaar wat aan enige individuasieproses ten grondslag lê. Die ontdekking van die ongekarteerde gedeeltes van Afrika is terselfdertyd, op metaforiese wyse, beeld van Kurz, Conrad se hoofpersoon, se eie onverkende psige: die bose wat verken word, oorweldig later die persoon.
Strachan se werk dra soms bietjie swaar aan die emblematiese omdat hy die hebbelikheid het om telkens op beeldende wyse te verklaar. Ook die té strakke strukturering stempel hierdie werk nog as debuut. Tog is dit ‘n besonder knap werk en ‘n geslaagde gebruik van die moontlikhede wat SIKLIESE skakeling bied. Verskeie van sy verhale in hierdie bundel is so heg geskakel dat enkele niemendalletjies binne die sikliese skakeling tog belangrik is. ‘n Ander belangrike aspek van hierdie werk is die konsentrasie op “stasies” in die lewensgang van ‘n soldaat. Hierdie kernmomente soos afskeid/begrafnis, die ervaring van die dood, besef van eie skuld, moegheid, die besef van die futiliteit van geweld, ens., kom voor in soveel boeke daarna dat daar bykans sprake kan wees van ‘n paradigma onderliggend aan hierdie (sub)-genre.
‘n Volledige opname van hierdie genre is nie moontlik nie. Werke soos Koos Prinsloo se Jonkmanskas (1982) en Die hemel help ons (1987), George Weideman se Tuin van klip en vuur (1983), Gawie Kellerman se Wie de hel het jou vertel? (1988) en Harry Kalmer se Die waarheid en ander stories (1989) verdien egter vermelding. Soms word uit die oog verloor dat daar verskeie voortreflike “grensverhale” bestaan in die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur soos enkele van die romans van John M. Coetzee. Werke met ‘n meer verskuilde boodskap word soms ook genegeer. John Miles se Blaaskans (1983) is hiervan ‘n goeie voorbeeld. Die heel bewuste toespelings daarin op die grenssituasie in Suid-Afrika blyk bv. uit Anker (1987) en Viljoen (1988) wat ook enkele werke van swart Suid-Afrikaners noem wat onder hierdie tekssoort tuishoort.
Liebenberg (1988) wys pertinent daarop dat die grensverhaal vandag self in die stryd staan. Die grensverhaal is dikwels ‘n manier om in die gedaante van sg. FIKSIE, besonderhede te verstrek wat andersins moeilik sou kon geskied binne die beperking van landswette. Roos (1985) noem dit daarom ‘n korrektief op die beriggewing deur die televisie, radio- en koerantberigte.
Wat egter ook dikwels uit die oog verloor word — en in alle oorsigte tot op datum ontbreek — is die omvang én gevarieerde aard van die grensverhaal in ontspanningsliteratuur in Afrikaans. Dit bring ‘n mens noodwendig by ‘n ander onderskeid nl. tussen letterkunde en populêre literatuur (ontspanningsliteratuur). Die (enigsins dogmatiese) afbakening tussen die sg. E(lite)-literatuur en O(ntspannings)-literatuur wat in veral die Duitse literatuurwetenskap gevolg is, kan hier ‘n uitkoms bied.
Lotman het reeds die onderskeid getref tussen ‘n sg. ESTETIKA VAN IDENTITEIT EN ESTETIKA VAN TEENSTELLING (OPPOSISIE). Hoewel hierdie twee estetikas beide voorkom in die Afrikaanse letterkunde, is die situasie in die huidige literêre konteks tans duidelik een waar ‘n estetika van opposisie oorheers op die gebied van E-literatuur. In die geval van grensliteratuur is dit so dat werke wat onder die noemer E-literatuur tuishoort normdeurbrekend is — veral t.o.v. ideologiese norme. Die groot meerderheid werke in hierdie subgenre staan bv. afwysend of in ieder geval neutraal teenoor die Suid-Afrikaanse militêre onderneming aan sy grense. Hiermee gepaard word etiese norme ook deurbreek – veral in die werke waar die grens eerder metafories gehanteer word. Die werk van Koos Prinsloo met sy homoërotiese inslag is hiervan ‘n sprekende voorbeeld. ‘n Belangrike literêre prys is ‘n tyd gelede nie aan sy jongste werk, Die hemel help ons, toegeken nie, juis vanweë die feit dat die destydse Staatspresident daarin beledig word. Die argument dat dit by monde van ‘n fiktiewe karakter gebeur, het geen uitwerking gehad nie veral omdat dit tegelykertyd eties-morele en politieke norme deurbreek het. In die sg. O-literatuur daarenteen, oorheers die patriotiese element en hierdie werk is ook, met geringe uitsondering, normbevestigend. Die situasie is dus tans dat die werke wat as E-literatuur bestempel sou kon word, gepubliseer word in bepaalde (literêre) tydskrifte, deur literêre uitgewers en heel dikwels deur sg. “onafhanklike” uitgewers soos Taurus wat beslag gekry het in ‘n poging om owerheidsensuur te ontduik. Hierdie E-tipe literatuur is veral tot sekere genres beperk, bv.: poësie, prosa (veral kortverhale), DRAMAS en KABARET – almal met ‘n sterk dokumentêre inslag. Die O-literatuur, daarenteen, word veral gepubliseer in gesinstydskrifte wat deur gevestigde regeringsgesinde uitgewers gepubliseer word en bestryk veral die volgende genres: ROMANS, kortverhale, tydskrifstories, briewebundels, ESSAYS en JEUGLITERATUUR.
Uit die voorlopige gegewens, wat berus op ‘n ontleding van ruim 150 verhale, blyk reeds verskeie interessante tendense. Die ontspanningsverhale is merendeels tuis te bring onder die estetika van identiteit: dit bevraagteken weliswaar dikwels die sin van oorlog, maar bevraagtekening word nooit opstand/rebellie nie. In hierdie literatuur fungeer die grens dikwels ook slegs op die agtergrond, maar word selde uitgebrei tot iets metafories. Net soos sy teenhangers in E-literatuur, sit hierdie verhale vol outentisiteit, maar dan veel eerder op die vlak van topografiese gegewens en selfs volkekundige inligting oor bv. die inwoners van Ovambo. Kragwoorde word dikwels versag of weggelaat, (kru) seksuele beskrywings ontbreek feitlik totaal en faksionele verwysings (bv. na persone) word verbloem. Die “sosiolek” (sosiokode — vgl. Fokkema, 1984: 11) wat hieruit te abstraheer is, bevat veelal woorde soos: “trots, waardig, leier, staatmaker, liefde”, ens., terwyl die weergawe van dood/begrafnis, afskeid, ens., radikaal verskil van die E-literatuur. Intertekstuele verwysings na die (Afrikaanse) literatuur kom selde voor, en waar dit wel die geval is, geld dit veral ouer skrywers. Wat interessant is t.o.v. die vertelwyse is dat in E-literatuur die ek-FOKALISASIE oorheers – en dat dit meestal die manlike perspektief weergee. In die ontspanningsliteratuur word heelwat verhale uit die oogpunt van die vrou, die geliefde, die moeder, die vader en selfs die grootouers aangebied. Temas wat (weliswaar verskillend toegepas) in beide sisteme voorkom, is dié van inisiasie, die polariteit van “ons”/ “hulle”, die kontras tussen grens/tuis, die eenheidsgevoel onder die manne, die stoïsynse front in die aangesig van gevaar, verdierliking, ens.
Deurbreking van verwagtings blyk egter ‘n té simplistiese tipologiseringsmiddel te wees. Baie van die verhale in bv. Forces’ Favourites gaan mank aan die tipiese gebreke wat tradisioneel toegedig word aan populêre letterkunde: voorspelbaarheid, oordrywing t.w.v. effek, wit/swart-KARAKTERISERING, ens. Op ‘n interessante wyse word die sirkel so voltooi: hierdie verhale is die pendant van baie van die ontspanningsverhale in die “bevestigende” sisteem — hulle is dus by wyse van spreke die ontspanningsverhale van ‘n konkurrerende (die “kontesterende”) sisteem.
Die verskynsel van grensliteratuur het weliswaar baie kenmerke gemeen met tradisionele oorlogsliteratuur, maar is in sigself ook iets unieks. Die kontoere hiervan sal na alle waarskynlikheid eers na behore getrek kan word na die verloop van dekades en wanneer alle literatuur hieroor beskikbaar is.
Bibliografie
Anker, J. 1987. Die deiktiese ruimte as struktuurmiddel in die Afrikaanse prosa. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Kaapstad, Kaapstad.
Aucamp, H. 1977. Die lewe is ‘n grenshotel. Kaapstad: Tafelberg.
Beidler, P.D. 1982. American Literature and the Experience of Vietnam. Athens, Georgia: The University of Georgia Press.
Brink, A.P. 1986. Grensliteratuur. Ongepubliseerde openbare lesing, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.
Brink, A.P. 1988. Die kat uit die boom. De Kat, Sept.
Coetzee, J. 1978. Verby die wit brug. Kaapstad: Human & Rousseau.
Cronjé, J.C. 1989. Die grens as meerduidige gegewe in die kontemporêre Afrikaanse prosa. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Pretoria, Pretoria.
De Vries, A.H. (samest.). 1989. Voornagvlug. ‘n Keur uit die verhale van P.J. Haasbroek met ‘n inleiding deur Abraham H. de Vries. Kaapstad: Human & Rousseau.
Du Plessis, H. 1985. Grensgeval. Kaapstad: Human & Rousseau. Forces’ Favourites. 1987. Emmarentia: Taurus.
Fokkema, D.W. 1984. Literary History, Modernism and Postmodernism. The Harvard University Erasmus Lectures, Spring 1983. Amsterdam: John Benjamins.
Hoffman, D. (ed.). 1979. Harvard Guide to Contemporary American Writing. Cambridge/London: The Belknap Press.
Iser, W. 1975. The reality of Fiction: A functionalist approach to literature. New Literary History, 7(1).
Joubert, E. 1963. Ons wag op die Kaptein. Kaapstad: Tafelberg.
Kalmer, H. 1989. Die waarheid en ander stories. Emmarentia: Taurus.
Kellerman, G. 1988. Wie de hel het jou vertel? Kaapstad: Tafelberg.
Knodt, K.S. 1976. Pursuing the American Dream. New Jersey: Prentice-Hall.
Krüger, L. 1984. ‘n Basis oorkant die grens. Kaapstad: Tafelberg.
Lambert, J. & Van Gorp, H. 1980/1981. Geschiedenis, theorie en systeem: Valse dilemma’s in de literatuurwetenschap. Spectator, 10.
Liebenberg, W. 1988. Die storie van die Grensverhaal. OPTIMA, 36(4).
Miles, J. 1983. Blaaskans — die bewegings van Flip Nel. Emmarentia: Taurus.
Mitchell, T.F. 1978. Meaning is what you do – and how to interpret it: a Firthian view of Pragmatics. Die Neueren Sprache, 77(3-4).
Opperman, D. 1987. Môre is ‘n lang dag en Die Teken. Kaapstad: Tafelberg.
Prinsloo, K. 1987. Die hemel help ons. Emmarentia: Taurus.
Retief, B. 1986. Half boom, half mens. Pretoria: Van Schaik.
Roos, H. 1985. Die grens is inderdaad bereik. De Kat, Mei.
Searle, J.R. 1969. Speech Acts: An Essay in the Philosophy of Language. London: Cambridge University Press.
Smit, H. 1938. Sy kom met die sekelmaan. Kaapstad: Nasionale Pers.
Smuts, J.P. (samest.). 1989. Koker. Kortprosatekste sedert Sestig. Kaapstad: Tafelberg.
Steyn, J.C. 1976. Op pad na die grens. Kaapstad: Tafelberg.
Strachan, A. 1984. ‘n Wêreld sonder grense. Kaapstad: Tafelberg.
Van Coller, H.P. 1988. Border literature. Ongepubliseerde voorlesing, ICLA-kongres, München.
Van Heerden, E. 1983. My Kubaan. Kaapstad: Tafelberg.
Van Heerden, E. 1984. Om te awol. Kaapstad: Tafelberg.
Van Melle, J. 1977. Bart Nel (2e uitg. 18de druk). Pretoria: Van Schaik.
Viljoen, H.M. 1988. Borders and their transgression in recent South African Fiction. Ongepubliseerde voorlesing, ICLA-kongres, München.
Viljoen, L. 1984. Klaaglied vir Koos. Emmarentia: Taurus.
Watson, P. 1980. War on the Mind. London: Hutchinson.
Weideman, G. 1983. Tuin van klip en vuur. Kaapstad: Tafelberg.
Woolfe, T. 1975. The New Journalism. New York: Picador.
H.P. van Coller