Tennessee Williams noem sy toneelstuk The Glass Menagerie ‘n “memory play”. Dis moeilik om vas te stel of Williams dié term gemunt het, en of dit reeds in omloop was in teaterkringe toe hy sy stuk geskryf het. Selfs vandag soek jy vergeefs na dié term in letterkunde-woordeboeke, alhoewel dit gereeld in teaterartikels en -resensies opduik. Resensente en die publiek skyn spontaan te verstaan wat daarmee bedoel word, nl. ‘n stuk waarin ‘n VERTELLER-cum-KARAKTER terugkyk op ‘n tydperk in sy lewe, meestal sy jeug en adolessensie.
Die herinneringspel is ‘n stekelrige sub-genre. Dit kan bv. tot ‘n swelg in eie emosies lei. Onthou is die operatiewe woord, en kom dikwels voor reeds in die titel van ‘n herinneringspel; maar daar moet selektief onthou word. Die skrywer moet hom vra of sy herinnerings ook universele geldigheid het. Het sy spel dan dié dimensie, en word dit toneelmatig sterk aangebied, het hy ‘n kans op ‘n wenner.
Die geslaagde herinneringspel hou ‘n byna hipnotiese bekoring vir ‘n gehoor in, soos sekere glansvoorbeelde in die repertorium telkens herbevestig. Enkele voorbeelde: Under Milk Wood van Dylan Thomas; Blue Remembered Hills van Dennis Potter; Brighton Beach Memoirs en Biloxi Blues van Neil Simon; Our Town van Thornton Wilder; die televisiereeks oor die familie Walton; I Remember Mama van John van Druten, en talle ander.
Die klassieke herinneringspel in Afrikaans is natuurlik Kanna hy kô hystoe van Adam Small.
Die herinneringspel het ‘n uitgesproke literêre karakter. Dikwels is die vertellende karakter ‘n skrywer wat terugkyk op ‘n vormingstydperk in sy lewe. Hy kyk terug met “passion recollected in tranquility”; met nostalgie getemper deur HUMOR en IRONIE. Die jong Walton van die TV-reeks is ‘n skrywer-in-wording; die jong seun en later jong man van Brighton Beach Memoirs en Biloxi Blues eweneens. En Richard Rive, skrywer, kamoefleer hom nie in ‘Buckingham Palace’ District Six nie: hy staan van die eerste oomblik af geanker in sy stuk. Hy kyk lank, rug na die gehoor, na Tafelberg, voor hy hom omdraai en ons in sy eie persoon, naamlik Richard Rive, aanspreek. En dadelik begin hy reminisseer oor sy jeug in Distrik Ses “in die skadu van ou Tafelberg”.
Dylan Thomas, daarenteen, in Under Milk Wood, versteek homself in die persoon van die “bard” van die gemeenskap, Rev. Eli Jenkinson, en in twee naamlose vertellers.
Die uiterlike verteller in ‘n opvoering kan so maklik ‘n illusieverstoorder word. Hoekom aanvaar ‘n gehoor die verteller in ‘n herinneringspel dan so geredelik? Die eerste verklaring is dat hy nie ‘n BUITESTAANDER is nie, maar ‘n karakter in die stuk. Hy bring nie die handeling tot stilstand nie, maar voer dit verder, en gee dit ‘n psigiese dimensie. En hy verteenwoordig die spanningselement in die stuk.
Spanning, in die herinneringspel, lê nie eintlik in groot, dramatiese gebeure nie. Dit lê in die spanning tussen toe en nou, en dié spanning word volledig beheer deur die verteller-karakter. Hy hou ons bewus daarvan dat die tonele wat hulle voor ons afspeel eintlik geaktiveerde verlede tyd is. Daar word dikwels gesê dat dit altyd nou op die verhoog is, maar dis ‘n bietjie simplisties gesien. Die “terugflits” – en wat is die herinneringspel anders as ‘n reeks terugflitse voorsien van kommentaar? — wil hê dat ons besef dat wat hom nóú voor ons oë afspeel tot die verlede behoort (vgl. FLITS).
Terugskouende PERSPEKTIEF word op ‘n oorspronklike en uiters treffende manier onderstreep in Blue Remembered Hills. Dié stuk handel oor ‘n klompie kinders wat in ‘n bos op die buiterand van Londen speel terwyl die Tweede Wêreldoorlog hom buite hul klein kinderwêreldjie afspeel. Dié dubbele “spel”, d.w.s. van kinders en van oorlogvoerende grootmense, is ewe wreed, want ook die kinders is aandadig aan moord. Die skrywer van Blue Remembered Hills eis dat die kinders in sy stuk deur volwassenes gespeel word. Hierdeur verkry hy ‘n distansiëringseffek. Ons bly deurentyd bewus daarvan dat ‘n volwassene ‘n jeugepisode onthou; andersyds kry ons ook ‘n toekomsperspektief: die kind van vandag is die grootmens van môre. (En die grootmens van môre kan dalk net so “primitief” wees soos die kind van vandag.)
In Blue Remembered Hills is daar ‘n bewustelike visuele versteuring van proporsie en skaal. Die bome op die verhoog is bv. enorm groot, soos hulle vir kinders sou lyk. Ook hierdie greep aktiveer verlede tyd, want as kind voel jy jou verdwerg deur die geweldige wêreld om en bo jou.
Die moeilikste opgaaf van ‘n herinneringspel-skrywer is stellig om ‘n gesonde balans tussen “showing” en “telling” te handhaaf. In teorie is demonstrasie (“showing”) die ideaal wat deur toneelskrywers nagestreef word, met vertelling tot die minimum beperk; maar hierdie opset word willens en wetens omvergewerp deur die literêre eise van die herinneringspel.
Die skrywer van ‘n herinneringspel probeer nie net ‘n verlede behou nie. Hy verduidelik dié verlede aan homself; plaas ou ervarings en emosies in perspektief. En só word sy onthou algaande talle mense se onthou, tot onthou ‘n kollektiewe belewenis word: óú vreugdes en óú pyn saamgedink tot sin en patroon.
As term bestaan herinneringspel nie in standaardbronne (glossariums/leksikons) nie, maar die skrywer beskou dit as ‘n definitiewe sub-genre.
Hennie Aucamp