Die Impressionisme is ‘n skildersrigting wat tussen ongeveer 1870 en 1880 ‘n kortstondige maar fel bloei in Frankryk beleef het. Die vernaamste verteenwoordigers was Degas, Sisley, Renoir, Morisot, Pissaro en Claude Monet, die enigste konsekwente en volhardende impressionis. Hier was ‘n groep skilders wat, hoe hulle ook al onderling in temperament en aanleg verskil het, ingegaan het teen die skilderskonvensies van die tyd en met hulle agt groepuitstallings groot opspraak verwek en selfs ook groot hilariteit en spot uitgelok het.
Hoewel die term Impressionisme n.a.v. Monet se Soleil levant: impression (impressie van ʼn sonsopgang, 1874) deur die spotblad Chiarivari as skeldwoord gemunt is, was die woord glad nie so onvanpas nie en vir die skilders self ‘n aanvaarbare karakteristiek van hulle strewe en werk. Dit was immers hulle doel om die indruk wat die natuur op die gevoelige retina maak, so onmiddellik en direk moontlik, sonder nadenke of interpretasie, op die doek te bring. Daarom het hulle in die opelug geskilder, en daarom het hulle dikwels by herhaling dieselfde toneel geskilder, net in ander klimaatstoestande en onder ‘n ander ligval: hooimiedens, katedrale in die mis, stasies, waterlelies, riviertonele. Belangriker as die objek was vir hulle die lig wat speel oor die objek, die vervlugtigende moment, sodat die skildery ‘n impressie word, ‘n vibrerende weefsel van lig en kleurstippels waar voorwerpe en grense in stemming vervloei.
Die Impressionisme het wel sy voorlopers gehad, bv. die sg. Barbizonners (Corot e.a.) wat ook die onmiddellike natuurstemming in die opelug gesoek het. En tog het Monet en sy medestanders die kunswêreld geskok, en dit om verskillende redes: hulle suiwer skilderinstelling, hulle revolusionêre kleurbenadering, hulle verset teen voorskriftelikheid, hulle afkeer van historiese taferele, hulle suiwer sintuiglike belewing van ‘n wêreld in beweging.
Hoewel die impressioniste elkeen gou sy eie koers gegaan het, was die beweging heilsaam in sy nawerking. Met hierdie beweging het die lig teruggekom in die skilderkuns en is die somber palet verhelder.
Die Impressionisme het in ander lande, met name in Nederland, duidelike spore gelaat. So is daar bv. die Haagse skool (Josef Israels, die Marisse, Mauve en Weissenbruch) met hulle vriendelike stemmingskuns (in teenstelling met die sinneroes van die Franse). Effens later kom die Amsterdamse skool, onder wie Isaäc Israels en veral J.H. Breitner met sy vitale stadsimpressies tuishoort.
Die Impressionisme het hom ook in ander kunsvorme laat geld, bv. in die musiek (Debussy) en veral in die literatuur met skrywers soos die gebroeders Goncourt in Frankryk en Maeterlinck in België. In Nederland was dit veral die prosaïste Van Looy, Aletrino, Van Deyssel en Ary Prins, skrywers by wie die impressionistiese instelling met weinig uitsondering aanleiding gegee het tot stemmingsketse en by wie dit, die skitterende taaleksperimente ten spyt, meermale in eksesse verloop het. In die poësie was Perk en Gorter die belangrikste impressionistiese digters (vgl. veral boek I van Gorter se Mei). Die Impressionisme is deur Gorter in sy eksessiewe vorm in sy sg. Sensitivisme ontwikkel.
Die impressionistiese skrywer wil “skilder met woorde”. Net soos sy skilderskollega is hy die gevoelig-reagerende waarnemer en wil hy die vervlugtigende moment registreer, die spel van lig, kleur en beweging; nie objekte as sodanig nie, maar ‘n toestand in wording, nie idees nie maar stemminge. En daarvoor moet die taal tot bruikbaarheid gedwing word. Vandaar die oormatige gebruik van die adjektief en die verglydende teenwoordige deelwoord, neologismes, vreemde sinswendinge en woordformasies – ʼn proses wat noodwendig die epiese gang van ‘n verhaal moet beïnvloed en in uiterste gevalle, soos soms in die prosa van Van Deyssel of die sensitivistiese verse van Gorter, tot onbegryplikheid lei.
In die Suid-Afrikaanse skilderkuns het die Impressionisme weinig spore gelaat. Net so in die literatuur. Hoogstens kan ons sê dat daar miskien in ‘n “gevoelige” natuuruitbeelding van D.F. Malherbe of CM. van den Heever of in ‘n vroeë gedig van W.E.G. Louw ‘n impressionistiese trekkie te vinde is, maar dan toevallig, nie as bewuste program nie.
Soms word daar ook van impressionistiese kritiek gepraat in gevalle waar ‘n kritikus bloot op “smaak” steun by die uitspreek van literêre of ander kunsoordele, sonder ‘n poging om daardie uitsprake kontroleerbaar te substansieer. Daarvan is tallose voorbeelde, ook in Suid-Afrika, te vind. (Vgl. EKSPRESSIONISME.)
Bibliografie
Brom, G. 1927. Hollandse schilders en schrijvers in de vorige eeuw. Rotterdam: Brussel.
Cheney, S. 1947. The Story of Modern Art. New York: The Viking Press.
Dekker, G. 1933. Die Impressionisme in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: De Bussy.
Dekker, G. 1950. Lodewijk van Deyssel as “skilder”. Pretoria: s.n.
Hammacher, A.M. 1946. Amsterdamsche impressionisten en hun kring. Amsterdam: Meulenhoff.
Lissens, R.F. 1934. Het impressionisme in de Vlaamsche letterkunde. Mechelen: Het Kompas.
Marius, G.H. 1920. De Hollandsche schilderkunst in de negentiende eeuw. Den Haag: Nijhoff.
Pen en Penseel. 1947. Bijzonder nummer van Critisch bulletin. ‘s-Gravenhage: Daamen.
Rewald, J. 1946. History of Impressionism. New York: Museum of Modern Art.
A.P. Grové