Die leesproses is ʼn gesprek tussen die LESER en die literêre TEKS. Op grond van wat hy lees, ontstaan daar sekere vrae by die leser. Hierdie vrae word dikwels deur die literêre teks beantwoord. maar dit hoef nie die geval te wees nie. ʼn Mens kan bv. die volgende narratief hê: “Rooikappie het ʼn mandjie met eetgoed gepak en vir haar ouma gaan kuier.” ʼn Vraag soos: “Watter kleur kouse het Rooikappie gedra?” kan by die leser opkom omdat daar van haar ander klere (rooi kappie) melding gemaak word: die teks self beantwoord egter nie die vraag nie. (Vgl. LESERTIPES.)
Die gesprek tussen die leser en die teks wissel in kompleksiteit van teks tot teks en van leser tot leser. Sommige tekste is makliker interpreteerbaar as ander en een leser kan ʼn bepaalde teks makliker interpreteer as ʼn ander leser om ʼn verskeidenheid redes. bv. omdat hy literêr geskool is. Hierdie verstaanbaarheid van die teks word die interpreteerbaarheidsgraad (legibility) van die teks genoem. Dit hang saam met die DEKODERING van die teks. Anders gestel: die interpreteerbaarheidsgraad van die literêre teks verwys na die wyse waarop die teks hom laat ontrafel.
Hoe meer vrae die leser moet vra om die teks te ontsyfer en hoe meer stukke inligting hy vanuit verskillende stadia van die verhaal byeen moet bring om die teks te interpreteer, hoe moeiliker interpreteerbaar is dit. Hoe minder vrae hy hoef te vra en hoe meer geredelik en gouer die teks antwoorde op die vrae verskaf, hoe makliker interpreteerbaar is dit. ʼn Teks wat kompleks is en nie so geredelik geïnterpreteer word nie. het ʼn laer interpreteerbaarheidsgraad. en andersom. Gerald Prince (1982: 134) vat dit soos volg saam: “The more work (per number of constituents) a text requires in order to be understood, the less legible it is.”
Tekste met ʼn lae interpreteerbaarheidsgraad is bv. dubbelsinnige en meerduidige tekste: tekste wat baie vrae by die leser ontlok en dit baie later in die verhaal eers oplos; tekste waarin bv. IRONIE ʼn groot rol speel en die leser dus ʼn hele aantal vrae moet vra voordat hy vasgestel het wat presies agter die ironiese uiting skuil: elliptiese tekste (tekste wat nalaat om sekere inligting wat van belang is te verskaf); tekste wat irrelevante en onnodige inligting verskaf omdat die leser die inligting moet sif en probeer interpreteer: tekste waarvan verskillende interpretasies moontlik is omdat dit die teks komplekser maak; tekste met verskillende PERSPEKTIEWE en VERTELLERS omdat dit die leser konfronteer met meer inligting wat hy moet verwerk. Speurverhale is bv. tekste wat ʼn lae interpreteerbaarheidsgraad het omdat die teks baie vrae ontlok maar die antwoorde nie dadelik verskaf nie. SPROKIESVERHALE met hulle baie simbole het ook ʼn lae interpreteerbaarheidsgraad omdat die leser verskillende dinge met mekaar moet vereenselwig om die simbole te verklaar. ʼn Werk soos Eline Vere (Louis Couperus) het bv. ʼn hoër as Opwaaiende zomerjurken (Oek de Jong) met sy komplekse STRUKTUUR, omdat die leser in Eline Vere makliker antwoorde op sy vrae kry as in die geval van Oek de Jong se roman.
Die begrip leesbaarheid hang saam met die begrip interpreteerbaarheidsgraad. ʼn Teks met ʼn lae interpreteerbaarheidsgraad is gewoonlik die teks met die hoë leesbaarheid, juis omdat dit ʼn moeilike en stimulerende teks is. ʼn Teks wat die minimum vrae by die leser laat ontstaan en boonop feitlik onmiddellik antwoorde daarop verskaf, kan ʼn leser gou verveel. So ʼn teks is daarom nie baie leesbaar nie. (Vgl. ook RESEPSIETEORIE.)
Bibliografie
Prince. G. 1982. Narratology: The Form and Function of Narrative. Berlin: Mouton.
Anna-Marie Bisschoff