Gewoonlik word dié vertakking van die literatuur saamgegroepeer met KINDERLITERATUUR – ten onregte. As lg. ‘n selfstandige, eiesoortige deel van die literatuur is, dan is jeugliteratuur dit ook. Tussen kind en tiener bestaan sulke ingrypende verskille dat dit vanselfsprekend ook ‘n neerslag sal vind in hulle leesstof. Aanbieding en benadering van stof, omvang, keuse van temas, inkleding en inherente lewensbeskouing maak van jeugliteratuur iets wesenlik anders, hoewel daar by die grens tussen kind en tiener op elf/twaalf wel oorvleueling moontlik is.
Terwyl die kind se selfgenoegsaamheid, sy afgerondheid, gereflekteer word in sy boeke, reik die jeugdige steeds vooruit na volwassenheid; daarom word jeugliteratuur ook oorgangsliteratuur genoem. Dit staan nader aan volwasse werke as aan kinderboeke. In ‘n sekere sin is dit op die oomblik nog ‘n onvolledige vertakking van die literatuur, want poësie en DRAMA spesifiek vir die jongmens geskryf, bestaan slegs by hoë uitsondering. Werke in dié genres wat vir volwassenes geskryf is, maar ook toeganklik is vir ‘n jonger generasie, word in skole gebruik of andersins deur jeugdiges gelees.
Histories beskou loop die ontwikkeling van die jeugboek parallel met dié van die kinderboek. In die eeue voor die uitvinding van die boekdrukkuns luister jeugdiges eweneens na oorvertelde FABELS, ALLEGORIEë, MITES en ook BALLADES. Vanaf die 15e eeu is boeke vir hulle as amper-volwassenes meer toeganklik as vir kinders en word hulle ook nie soveel onderwerp aan volwassenes se drang om te leer en te stig nie. Aangesien hulle nie as aparte groep geïdentifiseer word nie, word geen aandag aan hul leesbehoeftes geskenk nie; ‘n toedrag van sake wat in die 17e eeu voortduur, toe hulle moontlik self in groter mate as volwassenes plesier kon geput het uit die PIKARESKE ROMANS wat die drang na avontuur bevredig, en die Arkadiese romans met hulle geïdealiseerde liefdesintriges. Terwyl kinders Don Quijote sou “gelees” het ter wille van die avontuurlike elemente daarin, sou jongmense veel kon begryp van die botsing van syn en skyn wat hierdie boek die voorloper van die moderne roman gemaak het. In die 18e eeu kon hulle genot put uit Mellville se Moby Dick en Swift se satire in Gulliver’s Travels waardeer, terwyl kinders slegs deur die situasies bekoor is.
Die 19e eeu bring Treasure Island vir sowel kinders as tieners, hoewel die KARAKTERS veral by laasgenoemdes aansluit. Mark Twain gebruik pertinent jeugdige karakters in Huckleberry Finn, en in navolging van dié boeke verskyn ook ander avontuurverhale met jeugdiges in die fokus. In die gees van die sosiale romans van die tyd word ook boeke gepubliseer waarin jongmense bitter swaar kry maar oplaas deur die toeval begunstig word.
Hoewel die 20e eeu geleidelik meer begrip bring t.o.v. tieners as ‘n aparte groep, word dié lewensfase nie so intensief bestudeer soos die kindertyd nie en kry jeugboeke nie besondere aandag voor die helfte van die eeu nie. Veral vanaf die sestigerjare word stilistiese en vormlike moontlikhede sterker ontgin.
In Suid-Afrika is dit G.R. von Wielligh wat vir die eerste jeugverhaal sorg: Jacob Platjie, wat tussen 1896 en 1906 as vervolgverhaal onder die skuilnaam Hans Kaapnaar in Ons klyntji verskyn. Maar hoewel die Damara Platjie ‘n jeugdige is, tree hy hoofsaaklik op as luisteraar na vertellings en is hy slegs hier en daar handelend – hy is ‘n baie vlak gekonsipieerde karakter. Die werk word in 1918 in boekvorm uitgegee. In 1922 verskyn Ghwennie Bameveld van dieselfde skrywer met ‘n blanke dogter as hoofkarakter; aanvanklik is sy nog ‘n kind, later ‘n jongmeisie, en die verhaal is bedoel “in die besonder vir jong meisies”. Dis niks meer nie as ‘n onoortuigende avontuurverhaal sonder letterkundige verdienste.
Eers vanaf die veertigerjare word jeugverhale volop aangetref, maar soos in die geval van kinderboeke uit dié tyd is die gehalte swak. Oor die algemeen is dit koshuis- en avontuurverhale waarin epiese elemente sonder kwaliteit aangewend word. In die vyftigerjare skryf W.A. de Klerk benewens volwasseneromans ook verdienstelike jeugverhale, beter as dié van Mikro wat na sentimentaliteit en karikatuurbeelding neig. Die volgende dekade bring die besef by sommige Sestigers dat tieners ter voorbereiding op die latere lees van volwassenewerke geregtig is op meer as blote oppervlakkige verhale; veral Chris Barnard en Dolf van Niekerk vul die leemte met novelles van gehalte.
Vanaf die later sestiger- en gedurende die sewentigerjare lê die kinderboekskryfsters Hester Heese en veral Elsabe Steenberg, Rona Rupert en Freda Linde hulle ook op geslaagde wyse toe op jeugboeke.
Hoewel alle epiese verhaalsoorte toeganklik is vir die tiener (ROMAN, NOVELLE en KORTKUNS), word veral die novelle geëksploiteer. As karakters word verkieslik jeugdiges gebruik sodat die jongmens hom met so ‘n personasie kan identifiseer; volwassenekarakters word ook gebruik, maar selde kinders. FANTASIE kan op gesofistikeerde wyse nog slaag in ‘n jeugboek maar word min aangetref; in die realiteitsfeer wat algemeen geskep word, pas ‘n geskakeerde hoofkarakter wat neig na positiewe ontwikkeling. Enige ruimte wat oortuigend geteken word, kan slaag. Met TYDHANTERING kan op die bevatlikheidsvlak van die tiener ruim geëksperimenteer word, maar dit gebeur nog min; meestal word voorkeur gegee aan die chronologiese opeenvolging van gebeure. Ook met die PERSPEKTIEF sou meer gedurfd omgegaan kan word – die eerstepersoonsperspektief word wel dikwels geslaagd aangetref.
In navolging van volwassenewerke sedert die sestigerjare, en in reaksie teen die oppervlakkige gebeureverhale, het die neiging ontstaan om die intrige uit jeugverhale te weer. Daardeur word die jeugleser se voorliefde vir en selfs behoefte aan ‘n boeiende verhaalverloop genegeer. ‘n Vervlegting van intrige en diepgang is moontlik ‘n beter én literêr gefundeerde oplossing.
Verset, wat ‘n wesenstrek van die jeug is, vind oral in die wêreld neerslag in tienerliteratuur, by name in BETROKKE en anti-outoritêre werke. In enkele Afrikaanse jeugboeke vorm dit ook die tema of word dit as motief aangetref, bv. in Matoli van Etienne van Heerden.
Met die toename aan begrip omtrent die jeug as aparte en belangrike lesersgroep, behoort dié vertakking van die literatuur uit te brei om nie net meer epiese werke van gehalte in te sluit nie, maar mettertyd ook ‘n eiesoortige woordkuns in die dramatiese en poëtiese genre.
Bibliografie
Bator, R. 1983. Signposts to Criticism of Children’s Literature. Chicago: American Library Association.
Dekkers-Akveld, A.E.M. 1973. Op zoek naar de identiteit van jeugdliteratuur. Levende talen, 302.
Desseur, T. 1980. Ontmoetingen met jeugdlectuur en de studie daarover. Project jeugdlectuur, 12.
Doderer, K. 1977. Kinder-und Jugendliteratur. In: Doderer, K. (Hrsg.). Lexikon der Kinder- und Jugendliteratur, Band II. Weinheim: Beitz.
Ghesquiere, R. 1982. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Leuven: Acco.
Elsabe Steenberg (met redaksionele toevoeging oor Elsabe Steenberg)