Die Middeleeuse klug is ʼn “pretentieloos volks toneel”, aldus Van Gorp (1986: 215) in die Lexicon van literaire termen. Die klug is daarop gemik om ʼn “grove schaterlach” (Van Gorp et al., 1986: 215) by die toeskouer te ontlok. Tog bevat die klug “de kern van iets beters” (Van Mierlo, 1946: 139). Dit word gekenmerk deur ʼn natuurlikheid, ʼn “opgewektheid en levendigheid van rede en tegenrede; onmiskenbare, onweerstaanbare humor, in goed gekruide en gekleurde volkstaal” (Van Mierlo, 1946: 139).
Die (Middeleeuse/Middelnederlandse) klug het sy bloeitydperk in die 15e en 16e eeu beleef, hoewel dit ook reeds aan die einde van die 14e eeu voorgekom het. Dit is die clute genoem.
Die (Middeleeuse) klug beeld die meer onverfynde kant van die alledaagse volkslewe uit. Ruwe grappe, vegpartye, die verhouding tussen die geslagte, stande en generasies voer die botoon. Binne hierdie temas word die klem gelê op onmatigheid: ʼn oordrywing van eet, drink, die seksuele, ens. Dit word dikwels op ʼn SATIRIESE wyse uitgebeeld.
Die persone van die Middeleeuse klug is gewoonlik tipes, bv. die bedriegde eggenoot: ʼn mens kry ook die uitbeelding van ʼn aspek uit die lewe van ʼn bepaalde stand.
Die (Middeleeuse) klug is veral beoefen deur die REDERYKERS, en heelwat klugte uit daardie tyd het bewaar gebly, o.a. die klugte van Cornelis Everaert asook die klugte van ʼn paar Rederykerkamers.
In Frankryk is die klug in die 15e eeu die farce (opvulsel) genoem.
Voorbeelde van Middelnederlandse klugte is De bushkenblazer, Nu noch en Hannecken Leckertant. ʼn Latere voorbeeld van ʼn klug gedurende die Renaissance is Bredero se Klucht van de koe (1612).
Bibliografie
Van Mierlo, J. 1940/1946. Beknopt geschiedenis van de Oud- en Middelnederlandse letterkunde. Antwerpen: Standaard-Boekhandel.
Anna-Marie Bisschoff