Komiese ontspanning (comic relief) is ʼn term wat gebruik word vir ʼn komiese episode wat in ʼn ernstige werk ingevoeg word. Dit kan in ʼn roman aangetref word, maar die term word meestal toegepas op ʼn komiese toneel in ʼn ernstige DRAMA of TRAGEDIE. Aanvanklik dien dit om die somberheid van die werk te verlig, maar as die handeling ná die onderbreking weer sy onafwendbare gang hervat, is die kontras met die voorafgaande vrolike toneel des te groter en versterk dit die tragiese indruk. In die Griekse tragedie word enkele komiese tonele aangetref, soos die klag van Orestes se Voedster oor die moeite wat sy gehad het om hom groot te maak in Aischulos se Choeporio, of die beskrywing van Herakles se vraatsugtigheid in Euripides se Alkestis. In die Middeleeuse drama word ernstige en komiese tonele dikwels afgewissel, soos die episode van die skaapstelery in die Wakefield Second Shepherd’s Play; daar kan egter gevra word of dit doelbewus ter wille van komiese ontspanning bygevoeg is. Dit is waarskynlik onder die invloed van hierdie Middeleeuse stukke dat komiese episodes so algemeen in die Elizabethaanse drama voorkom. Soms is dit slegs klugtige tonele wat ter wille van die afwisseling ingevoeg is en nie veel verband met die res van die intrige het nie. In ander gevalle is dit in die handeling geïntegreer sodat dieselfde tema vanuit komiese en tragiese perspektief gesien word; dit word veral by Shakespeare gevind, bv. in die toneel van die grafgrawers in Hamlet of van die dronk portier in Macbeth.
P.J. Conradie