GHAZEL

 

'n Ghazel (Ghasel, Gazel, Gasal) (Arab.: ghazal: weefsel) is 'n Oosterse liefdesgedig of liefdeslied wat vanaf die 8e eeu veral in die Turkse, Arabiese, Persiese, Oerdiese en Afgaanse poësie voorkom. Die lengte van die gedig wissel tussen 6 en 30 verse of 5 en 12 koeplette. Die ghazel begin met 'n rymende koeplet, terwyl al die gelyke versreëls daarna dieselfde rymklank het; die onpaar reëls het geen rymklank nie. Hieruit ontstaan 'n rymskema aabacadaeafagaha. Die digter teken gewoonlik sy naam in die laaste koeplet. Die tema van die ghazel is meestal wyn en die liefde. Dit word dikwels MISTIES geïnterpreteer.

Die ghazel was baie gewild by digters. Twee beroemde Persiese ghazel-digters is Sadi (13e eeu) en Hafiz (14e eeu).

Die ghazel het die Westerse literatuur hoofsaaklik via die Duitse *Romantici, Schlegel, Rückert en Platen (Ghaselen, 1821) binnegekom. Die ghazel kom ook by Goethe voor (in sy West-Östlicher Divan, 1819). Die ghazel het in die Nederlandse literatuur in die 19e eeu voorgekom by J. van Droogenbroeck (Makamen en ghazelen, 1866).

Die volgende ghazel kom voor in Goethe se West-Östlicher Divan uit Das Buch der Liebe. Tipies van die ghazel handel die gedig oor die liefde: "Wunderlichstes Buch der Bücher/ ist das Buch der Liebe/ Aufmerksam hab ich's gelesen:/ Wenig Blätter Freuden,/ Ganze Hefte Leiden:/ Einen Abschnitt macht die Treunnung./ Wiedersehn: ein klein Kapitel,/ Fragmentarisch. Bände Kummers,/ Mit Erklärungen verlängert,/ Endloss, ohne Mass./ O Nisami! - Doch am Ende/ Hast den rechten Weg gefunde,/ Unauflösliches, wer löst es?/ Liebende, sich wiederfindend."

In Afrikaans is daar bv. die ghazel van Breytenbach, nl. "112.27 (Ghaselle)" wat in Lewendood verskyn.

Bibliografie

Ahmad, A. (ed.). 1971. Ghasals of Ghalib. New York: Colum­bia University Press.

 

Anna-Marie Bisschoff