PLAGIAAT

Plagiaat is "letterdiefstal" (Lat.: plagiarus: letterdief, verleier, ontvoerder). Dit behels die onerkende oorname of toe-eiening én weergawe van anderman se geestes- of intellektuele besit (wat oorspronklike idees, styl en vormgewing insluit) met die opset om ander oor die oorspronklike outeurskap daarvan te mislei of in die duister te laat.

 

Plagiaat word algemeen met literatuur geassosieer, maar dit word ook elders aangetref, bv. op vakwetenskaplike terreine soos die literatuurwetenskap en die musiek. Omdat diefstal van geestesbesit ook op ander terreine as net die literatuur voorkom, definieer C.T. Onions plagiaat bv. net as "wrongful appropriation and publication as one's own".

 

Die strafbare aspek van plagiaat word onder die Wet op Outeursregte hanteer. In Suid-Afrika is die oorspronklike wet in 1916 aanvaar en daarna verskeie kere aangepas en uitgebrei om die geestesbesit van die skeppende individu in 'n groter mate te beskerm. Die konsep van geestes- en intellektuele eiendom en die gevolglike beskerming van outeursreg is betreklik jonk: dit het eers in die 19e, maar veral in die 20e eeu op die voorgrond getree.

 

Outeursregte hang baie nou saam met die ontwikkeling van 'n wye verskeidenheid meganiese en elektroniese reproduksietegnieke vanaf die vroeë vorme van die boekdrukkuns tot litografie, fotokopiëring en klank- en video-opnames. Die wetlike beskerming van outeursregte is dus nie alleen gerig op die beskerming van die oorspronklikheid en individualiteit van die outeur nie, maar ook (en veral) op sy reg op 'n verdienste uit sy skepping. Kopiëring kan 'n oortreding van die Wet op Outeursreg (Wet 98 van Í978) wees sonder dat dit plagiaat, 'n verswyging van bron of outeur, is.

 

Die toepassing van die Wet op Outeursreg is gekompliseerd. In die eerste plek is daar sekere grondveronderstellings soos dat idees, ou bronne en bronne waarop die outeursreg vyftig jaar ná die outeur se dood verval, gemeengoed is: hulle word nie kragtens die Wet beskerm nie.

 

Om plagiaat te bewys, moet daar 'n substansiële en letterlike (woordelike) oorname sonder erkenning van die gehele bron of 'n beduidende deel of die unieke kern daarvan wees. Sommige kenners gaan so ver om digterlike MOTIEWE en idees in te sluit, maar soos C.H. Holman in A Handbook to Literature (1981: 332) dit stel: "It is difficult to prove the borrowing of an idea and easy to demonstrate the stealing of a passage." Selfs die los en verspreide oorname van treffende formulerings sal nie as strafbaar beskou word nie: dit is nie substansieel genoeg nie en dit is waarskynlik ook nie onbillike kompetisie vir die bron nie.

 

Ook in die literatuurwetenskap is die begrip plagiaat gekompliseerd. Die omskrywing van die term is dikwels onseker en verwarrend. Sommige definieer dit as herhaling van anderman se woorde, ander as die oorname of nabootsing van 'n skrywer se taal en gedagtes, en nog ander beperk die begrip tot baie spesifieke oornames soos die diefstal van gedetailleerde verhaalplanne van vergete stories. Die meeste is dit egter eens dat, om plagiaat te wees, die oorname moet geskied met bewustelike verswyging van die bron. Von Wilpert (1969) is waarskynlik 'n uitsondering: vir hom, in die Sachwörterbuch der Literatur, is plagiaat ook die onbewuste weergawe van 'n ander se geestesbesit.

 

Daar is heelparty aspekte van 'n bron wat oorgeneem kan word: idees, temas, motiewe, formulerings, komposisionele beginsels, styl, e.d. Wat presies van sulke oornames plagiaat maak, is egter vir verskillende mense verskillende dinge. Vir baie is die feit van herhaling sonder erkenning as sodanig plagiaat. Vir ander kom plagiaat ter sprake slegs wanneer die oorname in die nuwe teks nie op die bron verbeter het nie. John Milton word graag hieroor aangehaal: "Borrowing if it be not bettered by the borrower, among good authors is accounted plagiarie." Vir nog ander het plagiaat te make met die lompheid en opsigtelikheid van die oorname, wat ook maar 'n teken is van 'n "klein talent" wat aan die werk is.

 

Om die probleme rondom die begrip plagiaat goed te begryp, en ook die redes waarom die reeds genoemde verklarings van die begrip nie deurgaans steekhou nie, kan dit met verwante begrippe vergelyk word: beïnvloeding (vgl. INVLOED (LITERÊRE)), nabootsing, PARODIE, ontlening en transposisie, ALLEGORIEPASTICHE en epigonisme/navolging. As literêre werkwyses behels hulle almal 'n oorname van die een of ander aard, in 'n mindere of meerdere mate, minder of meer openlik, uit bronne wat vir verskillende lesers minder of meer bekend is, meestal egter altyd met die een of ander literêre doel voor oë.

 

Al hierdie werkwyses is ten nouste verbonde aan 'n literêre TRADISIE, wat al "die kontinuïteit van lewende konstantes" genoem is. Hierdie kontinuïteit, waarin verandering én uitsonderinge geïmpliseer is, vorm op enige moment 'n groot, gemeenskaplike bron (of KODE) van "universele" temas (liefde, dood, lyding, opstand, e.d.), van beproefde of geykte "leë" literêre vorme (SONNET, TRAGEDIE, ens.), van stereotiepe taalgebruik (sommige tipes BEELDSPRAAK) en selfs breë verhaalplanne. Heelwat ooreenkomste tussen werke is te wyte aan die ingeskakeldheid by tradisie en konvensie. Tradisie stel egter nie net die konvensie beskikbaar nie, maar ook die invloedryke meesterwerk wat die daaropvolgende werk van sowel goeie as swak skrywers beïnvloed én wat die konvensie gewoonlik opsigtelik verander. Die goeie kunstenaar verwerk die invloede selfstandig, maar die swakkeres of epigone bly steek in die blote navolging (epigonisme).

 

By teoretici soos Harold Bloom (1973), en veral in die konteks van die POSTMODERNISME, is die gedagte dat elke skrywer geteister word deur die vrees vir beïnvloeding. Die gevoel is dat daar niks nuuts meer is nie, en dat elke skrywer in die skuld is by sy/haar voorgangers. Die skrywer staan dus voor die uitdaging om die reeds bestaande so goed te benut/ontgin dat die model in die skuld sal staan by die nuwe teks, dat die oue nie meer gelees sal word sonder om te verreken wat die nuwe daarmee gedoen het nie. Dit is 'n standpunt wat in die kontemporêre literatuurteorie versterk word deur die idee van INTERTEKSTUALITEIT.

 

Die skeppende werksaamheid binne 'n tradisie, hetsy in blote navolging of in bewuste nabootsing of in pertinente beweging teen 'n tradisie in, word moontlik gemaak deur die vermoë om m.b.v. taal nie alleen na dinge en toedragte in die ervaringswerklikheid te verwys nie, maar (en in die POST-STRUKTURELE konteks verál) ook na gevalle van taalgebruik soos reeds bestaande literatuur. Taalgebruik in reeds bestaande tekste kan ook herhaal ("aangehaal") word.

 

Die verwysings na bronne kan openlik wees by wyse van eiename (titels, skrywers, figure, plekname), opdragte en motto's of bedektelik deur sinspelings. Ook aanhalings, wat as sodanig aangedui word deur aanhalingstekens of kursiewe letterdruk, kan d.m.v. eienaamsverwysings aan 'n bron gekoppel word, hoewel die tipografiese kentekens genoegsame aanduiding is dat daar 'n bron is. Opperman se "Ballade van die grysland" en "Blom van die baaierd" bevat sulke aanhalings wat alleen deur die tipografie as aanhalings herkenbaar is: in die eerste geval word uit Totius se Trekkerswee aangehaal en in die tweede geval word 'n anonieme vertaling van "Liid fan di diamant" in verwerkte vorm aangehaal.

 

Hierdie verwysings na of aanhalings uit (oer)bronne of -tekste kan uitgebreid of "deurgevoer" wees soos in die geval van die allegorie, wat as 't ware 'n deurgevoerde verwysing is na 'n soortgelyke struktuur van gebeure en idees; transposisie kan in 'n sekere sin as 'n bewerkte aanhaling van die oorspronklike beskou word. Leroux se werke is bv. sterk allegories ingestel en so ook die van Bertha Smit. Daarteenoor kan Opperman se "Kersliedjie" as transposisie beskou word, waar die oorspronklike Kersverhaal, in die woorde van Ernst Lindenberg (1965: 85) in 'n ander tyd en ruimte oorgeplant word, nl. die hedendaagse Suid-Afrika.

 

Hierdie tipe oorname uit bronne geskied, soos in die geval van die PARODIE waar die nabootsing 'n bewuste speelse of satiriese ontluistering (kritiese herhaling of aanpassing) van die oorspronklike is, met 'n spesifieke doel wat verband hou met die intensie van die nuwe konteks of situasie. Dit is by ontlening, wat totale assimilasie van die oorspronklike op die oog het, waar probleme kan ontstaan. Ontlening is 'n woordelikse oorname uit 'n bron of 'n taamlike noukeurige précis sonder verwysing na of sinspeling op die bron. Dit kan onbewus plaasvind, en omdat geen bron aangedui of gesuggereer word nie, kan die ontlening ook aan lesers verbygaan. Verder kan die ontlening minder of meer uitgebreid wees; dit kan selfs die totale grondstof van die nuwe werk wees. Op hierdie punt word die vraag ter sake: wanneer is of word ontlening plagiaat, d.w.s. onerkende oorname?

 

Algemener geformuleer, kan gevra word: op watter punt is 'n werk wat tradisie- en konvensiegebonde is, skuldig aan onerkende oorname? Om uitsluitsel hieroor te kry, word begrippe soos plagiaat en pastiche teenoor oorspronklikheid gestel.

 

Oorspronklikheid behels dan nie die "nuwe" as sodanig nie, maar dikwels die unieke samekoms van bekende of kenbare dinge, insluitende invloede, konvensies, styl, verwysings, sinspelings, aanhalings, ontlenings; almal dinge wat op een of ander manier verband hou. Hierdie "bekendes" kan deur transformasie in 'n sinvolle, nuwe, prakties gesproke oorspronklike geheel verenig word. In die gevalle van pastiche en plagiaat is daar nie sprake van 'n selfstandige, oorspronklike, nuwe geheel nie. Sowel pastiche as plagiaat is prakties 'n herhaling van die bron sonder om dit funksioneel in 'n nuwe geheel op te neem. Pastiche herhaal meestal uit bewondering, oordrewe aftakeling of 'n onvermoë om iets oorspronkliks uit die bekende stof tot stand te bring, maar sonder om die leser oor die model te mislei.

 

Plagiaat is derhalwe òf onselfstandige werk uit 'n onvermoë om 'n sinvolle sintese te vind binne 'n nuwe konteks (die ontlenings is dus onfunksioneel binne 'n beoogde nuwe geheel), òf 'n doelbewuste verswyging van die bron om te mislei. In dergelike gevalle moet die verswyging van die bron of model die skrywer as verswaring toegereken word. (Vgl. ook INTERTEKSTUALITEIT en TEKSTUALITEIT.)

 

Oor plagiaat kan u verder lees in Cilliers (1980), Holman (1936/1981), Lindley (1952), Paul (1928), en Von Wilpert (1955/1969). Oor beïnvloeding lees Bloom (1973).

 

Bibliografie

 

Bloom, H. 1973. The Anxiety of Influence. New York: Oxford University Press.

 

Cilliers, A.C. 1980. Die verhouding bron : kunswerk. D.Litt. et Phil.-proefskrif, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.

 

Lindenberg, E. 1965. Enkele aspekte van transposisie in die letterkunde. In: Lindenberg, E. Onsydige toets. Kaapstad: Academica.

 

Lindley, A. 1952. Plagiarism and Originality. New York: Harper.

 

Paul, H.M. 1928. Literary Ethics. London: Butterworth.

 

Ronèl Johl