POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR

Sowel Freud se seminale analise van Hamlet se Oidipuskompleks as Bonaparte se identifisering van psigiese afwykings by Poe, illustreer die klassieke Freudiaanse kritiek se fokus op die Id of die biologiese drange en die manifestasie van onderdrukte begeertes in die vorm van psigiese afwykinge in die skrywers of die karakters in 'n literêre werk. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) Die post-Freudiaanse kritiek fokus daarenteen op die Ego, wat die instinktiewe drifte of drange van die Id reguleer en opponeer. Dit is begryplik dat die ego-psigologiese benaderings nie sal saamstem met die Freudiaanse nosie dat kuns ontstaan uit 'n neurotiese wens van die kinderjare nie. In benaderings waar die Ego beklemtoon word, word eerder gestel dat die plesier van artistieke aktiwiteit voortspruit uit 'n gekontroleerde spel waarin materiaal uit die kinderjare verander word in iets wat op 'n gemeenskaplike basis gedeel kan word.

 

Die fokus verskuif dus t.o.v. kreatiwiteit vanaf die ondermynende drange van die Id na die beherende moontlikhede van die Ego. Alhoewel die analogie tussen droom en kuns behoue bly, gaan dit nie nou meer om onbewuste wense wat geartikuleer wil word nie, maar wel om die manier waarop onbewuste wense deur die voorbewuste verander word. Deur hierdie fokus op voorbewuste prosesse, tref die ego-psigologie 'n analogie tussen die beweging van psigiese energie onder kontrole van die Ego en die spel van taal binne 'n kulturele konteks. Dit het tot gevolg dat formele artistieke middele wat meerduidigheid in die hand werk eerder as die inhoud beklemtoon word.

 

Vanaf 'n klem op formele middele in die TEKS verskuif die aandag later na die reaksie van 'n leser of lesers op 'n literêre werk. Waar die id-psigologie hoofsaaklik op die outeur gerig was, probeer die ego-psigologie om die reaksie van die leser te analiseer. Vanaf die wens-vullende fantasie van die outeur word beweeg na die gedeelde wens-vervullende fantasie van die outeur en die leser.

 

'n Psigoanalitiese benadering van leserreaksies word veral deur die Amerikaner Norman Holland beoefen. Aanvanklik is Holland (1968) se posisie baie na aan dié van Freud in sy opstel "Creative writers and day-dreaming": die bron van plesier wat die leser uit die literatuur put, is afgelei van die transformasie van die onbewuste wense en vrese in kultureel aanvaarbare betekenisse. In 'n latere studie (Holland, 1980) sien hy nie meer die teks as 'n vaste entiteit nie maar stel hy dat 'n teks nie gedefinieer kan word sonder inagneming van die verskillende lesings daarvan nie. Die reaksies van die leser is essensieel 'n soeke na sekerheid en 'n afweer van angs. Hierdie sekerheid word dan verkry as die leser 'n veilige fantasie in die werk projekteer. "The reader 'transacts' with the work, eliciting modes of adaptation and defence which are effective for him alone, since they will be those which arise from his own identity theme" (Wright, 1984: 65). Die transaksie tussen leser en teks het vier stadia: die leser se aanvanklike benadering tot die teks ("verwagting"), sy keuse van wat hy inneem (wyse van "verdediging"), sy projeksie van wensvervullings (karakteristieke "fantasie") en die vertaling daarvan in temas ("transformasie"). (Vgl. ook LESERROL en LESERTIPES.)

 

'n Ander belangrike ontwikkeling ná Freud is die opvattings van Jung m.b.t. die argetipiese simbole en die kollektiewe onbewuste.

 

Die argetipiese kritiek bepleit die bestaan van universele simbole, wat nie spesifiek verbonde is aan òf die individu òf sy onmiddellike kulturele omgewing nie. Die universiteit van argetipiese simbole onderskei hulleself van Freud se "tipiese simbole" wat geïnterpreteer moes word binne 'n spesifieke kulturele konteks.

 

Carl Gustav Jung (1875—1961) sien die konsep van die self as die kern van die menslike persoonlikheid, wat die geheel van alle psigiese prosesse, bewus sowel as onbewus, bevat. Die drome en fantasieë van sy pasiënte kom nie slegs voort uit hulle onbewuste instinktiewe wense nie, maar spruit ook uit 'n gemeenskaplike skat van "primordiale beelde" of "oerbeelde" wat oor kultuurgrense heen van meet af aan deur mense waargeneem is. Op grond van hierdie gemeenskaplike erfenis word dit duidelik waarom sekere motiewe en legendes dwarsdeur die wêreld in identiese vorme herhaal word.

 

Interpretasie berus dus nie vir Jung (soos vir Freud) op hoe taal via verdigting en verplasing of verskuiwing werk nie, maar op watter manier simbole beteken via die reekse waarin primordiale beelde voorkom. In die literêre kritiek het argetipiese simbole o.a. neerslag gevind in die werk van Northrop Frye (1957), wat tekste indeel volgens 'n klassifikasiesisteem waarin o.m. simbole en MITES prominent figureer.

 

Die resente vernuwing in die psigoanalitiese literatuurkritiek sentreer rondom die werk van die Franse psigoanalis Jacques Lacan (1901—1981), wat enersyds die belangstelling in die onbewuste à la Freud opnuut aanwakker en wat andersyds Freud se teorie oor die onbewuste ingrypend herformuleer. Vir Lacan is die onbewuste meer as die bron van primitiewe of primale (primal) instinkte wat op 'n willekeurige manier aan idees en beelde verbind is; dit is nie net gestruktureer soos taal nie, maar is terselfdertyd 'n produk van taal.

 

Ten einde die hegte verwantskap tussen die onbewuste en taal in Lacan se opvattinge te verstaan, is dit nodig om sy uiteensetting van die verskillende stadia van ontwikkeling van die subjek na te gaan. Dit begin by geboorte en beweeg dan vanaf die spieëlstadium na die toegang tot taal, die ontwikkeling van begeerte en die Oidipuskompleks. 'n Sentrale nosie in hierdie ontwikkeling is die konsep van verlies van die self ("self-loss") of gemis ("lack"); inderdaad is dit so dat die Lacaniaanse subjek feitlik geheel en al gedefinieer kan word in terme van gemis of tekort.

 

Die nosie van gemis in die Lacaniaanse opvatting oor die aard en ontwikkeling van die menslike subjek berus volgens Silverman (1983: 152) op veronderstellings soos die volgende: dat die menslike subjek ontstaan uit 'n oorspronklike geheel of eenheid ("whole") wat later gehalveer is, en dat sy bestaan gedomineer word deur die begeerte om sy vermiste aanvullende gedeelte ("complement") terug te vind; dat die verdeling wat die subjek ondergaan het, seksueel van aard was — dat, toe dit in die helfte "gesny" ("sliced") is, dit die seksuele tweeslagtigheid verloor het wat dit eens gehad het, en dat dit gevolglik gereduseer is tot die biologiese dimensie van òf 'n man òf 'n vrou; dat heteroseksuele eenheid en voortplanting die enigste oplossing is vir die gemis of tekort wat die subjek moes ondergaan het a.g.v. die seksuele verdeling.

 

Hierdie aannames kan vervolgens ondersoek word in 'n uiteensetting van die subjek vanaf sy suigeling- en kleuterfase tot die stadium waar hy taal verwerf en bewus word van gemis en begeerte.

 

Die eerste tekort in die geskiedenis van die subjek geskied by geboorte en is seksueel van aard — dit het te make met die onmoontlikheid om tegelyk manlik en vroulik te wees. Dit is duidelik dat die nosie van 'n oorspronklike tweeslagtige geheel sentraal is in Lacan se siening; die subjek word gedefinieer in terme van 'n tekort omdat daar uitgegaan word van die veronderstelling dat dit 'n fragment is van iets groter en oerfundamenteel ("primordial"). Die enigste manier waarop die subjek weer vervulling kan vind, is in die heteroseksuele rol wat kultureel van hom verwag word — 'n komplementering van sy eie fragmentasie in die Ander. Silverman (1983: 154) wys in hierdie verband daarop dat Lacan impliseer dat die menslike "natuur" sy logiese uitdrukking vind in die kulturele definisies van "manlik" en "vroulik". In hierdie verband speel die Oidipuskompleks 'n belangrike rol, omdat die subjek eers bewus word van enige gemis na sy toetrede tot die simboliese orde, waar sy gemis dan taalmatig geartikuleer kan word.

 

Die tweede tekort of gemis word na geboorte maar voor die verwerwing van taal deur die subjek ondervind. Aanvanklik onderskei die suigeling nie tussen homself en die moeder nie; hy verkeer in 'n amorfe staat met geen grense tussen gewaarwordinge van genot of plesier nie. Lacan verwys speels na die suigeling in hierdie stadium as l'hommelette, waar sowel die betekenis hommelette (klein man/mensie) as omelette (vormlose massa, na alle kante uitreikende eier) ter sake is. Die verdeling van die subjek begin egter feitlik onmiddellik en die kind gaan 'n "verbeelde" (imaginêre) stadium deur waar hy vir 'n aangevoelde gemis probeer vergoed deur met objekte te identifiseer. Hierdie fase van die imaginêre gaan vooraf aan die simboliese orde, waar die subjek kennis maak met taal en die Oidipale driehoek, maar dit bly ook daarmee saam voortbestaan.

 

Die imaginêre orde word versinnebeeld deur die spieëlstadium, waar die kind met sy spieëlbeeld identifiseer en 'n gewaarwording van heelheid en van 'n ideale volledigheid ervaar. Hierdie aangename ervaring van identifikasie met 'n spieëlbeeld is 'n metaforiese parallel van 'n ongebroke eenheid tussen binne en buite, 'n perfekte kontrole wat onmiddellike bevrediging van begeerte verseker. Die kind se ideale model is in hierdie stadium verder die moeder; die begeerte van die moeder in die sin van sowel die moeder se begeerte as die kind se begeerte na die moeder word deur die kind ervaar. In hierdie pre-linguistiese en pre-Oidipale stadium word nog geen onderdrukking van begeerte ervaar of erken nie, sodat daar vir Lacan nog geen sprake van 'n onbewuste is nie.

 

Eers wanneer die kind geïnisieer word tot die "Simboliese Orde" ervaar hy 'n gewaarwording van leemte of gemis. Die struktuur van taal word gekenmerk deur sosiale wette en taboes bestaande uit die vader se reëls, wette en definisies, waaronder dié van "kind" en "moeder". Die sosiale gebod dat begeerte moet wag, en dat enige eis geformuleer moet word in die inperkende en beperkende woord, bring die breuk tussen bewuste en onbewuste teweeg — 'n onderdrukking wat die las is wat deur die gebruik van taal vereis word.

 

In sy uiteensetting van die strukturering van taal in die simboliese stadium verwys Lacan na De Saussure se verdeling van die linguistiese teken in 'n betekenaar (SIGNIFIANT) en 'n betekende (SIGNIFIÉ). Alhoewel die skakel tussen betekenaar en betekende volkome arbitrêr is, is die kombinasie vir Saussure nietemin verseker sodra dit tot stand kom — die betekenaar en betekende is dan soos twee verskillende kante van 'n stuk papier. De Saussure gebruik die formule s/S waar S die betekenaar en s die betekende voorstel. Vir Lacan is die verbinding tussen betekenaar en betekende egter nie so vas nie. Hy illustreer sy kritiek op Saussure met verwysing na 'n voorbeeld waar wat oënskynlik dieselfde betekende is, 'n "deur", deur twee verskillende betekenaars uiteenlopend in die werklikheid aangedui kan word as verwysende na òf een waarop "dames" òf een waarop "here" aangebring is. Hiermee open daar 'n versteekte gaping tussen betekenaar en betekende, aangesien die manier waarop betekenaars na persone en dinge in die werklikheid verwys, kan verskil na gelang van verskillende sienings van dieselfde betekenaar weens die relatiwiteit van menslike oordele. Lacan keer verder Saussure se formule van die betekenaar en die betekende om deur S (betekenaar) en s (betekende) onderskeidelik bo en onder die lyn te plaas: S/s. Hiermee word enersyds die vader en dominerende betekenaar oor die betekende geïllustreer; andersyds word die plek van die onbewuste METAFORIES aangedui as buite die bereik van die bewuste vlak van taal, buite sig en onopgemerk maar in staat om op onverklaarbare wyse te verskuif.

 

In 'n poging om hierdie verskuiwing te verklaar, praat Lacan van 'n interaksie tussen die imaginêre en die simboliese in hulle werking op die werklike ("real"). Die werklike is vir Lacan die gegewe veld van redelose bestaan waaroor die imaginêre en die simboliese strek in hulle kompeterende en terselfdertyd komplementerende pogings tot kontrole: "the symbolic establishing the differences which are such an essential part of cultural existence, and the imaginary making it possible to discover correspondences and homologies" (Silverman, 1983: 157). Die werklike is dan dit waarvoor alle verwysing en handeling relevant is, maar wat slegs hanteer kan word d.m.v. betekenende ("signifying") praktyke.

 

Betekenaars word deur die imaginêre en die simboliese op verskillende maniere waargeneem, sodat daar 'n skeiding tussen bewuste en onbewuste ontstaan. Hierdie dubbele kyk op die betekenaar het meerduidigheid tot gevolg; woorde word op 'n figuurlike wyse in veral metafoor en metonimia gelaai met betekenis. Lacan steun hier op die linguistiese insigte van Roman Jakobson vir wie metafoor en metonimia die hooftipes figuurlike taalgebruik verteenwoordig. Hierdie twee stylfigure is vir Lacan linguistiese formulerings vir die Freudiaanse konsepte van verdigting en verskuiwing: "Unconscious desire can mistake one appearance for another similar to it and be led to substitute one signifier for another; or it can shift from one thing to another found with it, discerned as being more significant for desire, so producing a metonym" (Wright, 1984: 111).

 

Lacan se siening van die verhouding tussen betekenaar en betekende word ingrypend beïnvloed deur hierdie linguistiese formulering van die Freudiaanse konsepte van verdigting en verplasing of verskuiwing in terme van die Jakobsoniaanse onderskeid tussen metafoor en metonimia. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) Muller (1980: 149) wys op die konsekwensies van die gedurige meerduidige werking van hierdie stylfigure vir Lacan se opvatting oor die gedurige (ver)wisseling tussen betekenaar en betekende. Oorspronklike betekenaars skuif na onder die lyn in die grafiese voorstelling S/s wanneer hulle vervang word met nuwe betekenaars, sodat die oorspronklike betekenaars (S'e) die betekendes (s'e) van die vervangende betekenaars word. Op hierdie manier verwys betekenaars nie na objekte of dinge nie, maar altyd na ander betekenaars. Op hierdie manier word dit dan verder moontlik om d.m.v. spraak méér te sê as wat dit eintlik sê: "... the hidden presence of the original signifiers, gone below the bar — that is, having become unconscious through a kind of repression — makes possible the many levels of resonance in speech, based on multiple chains of associated signifiers, whose polyphonic structure Lacan aptly decribes in terms of the staves of a musical score" (Muller, 1980: 149).

Die linguistiese formulering van die Freudiaanse konsepte verdigting en verskuiwing dui natuurlik ook op die noue verwantskap wat tussen taal en die onbewuste veronderstel word. Inderdaad is dit so dat die onbewuste nie net vir Lacan gestruktureer is soos taal nie, maar dat dit eintlik ook eers ontstaan op die moment dat die subjek toegang tot die taal verkry. Gelyktydig met die subjek se toetrede tot die simboliese orde word dit egter self gereduseer tot die status van 'n betekenaar in die veld van die Ander, en die onbewuste is die *diskoers van die Ander. Hierdie verhouding tussen enersyds die subjek as betekenaar en andersyds die onbewuste as die diskoers van die Ander kan verklaar word uit Lacan se definiëring van die subjek in terme van gemis en die gevolglike ontstaan van 'n begeerte na hereniging met die Ander. In die betekenende netwerk van die onbewuste dui elke woord die afwesigheid aan van dit waarvoor dit staan. Sodra 'n begeerte in taal uitgedruk word, word die gemis daarvan in die werklikheid terselfdertyd erken. Dit beteken dat die afwesigheid van bevrediging aanvaar moet word, omdat daar 'n aanhoudende uitstel van die subjek plaasvind vanaf een betekenaar na die volgende, sodat die afwesigheid van een slegs vervang kan word met 'n ander wat eweneens op afwesigheid dui.

 

Dit alles hou in dat die subjek met sy toetrede tot taal onderwerp word aan 'n simboliese orde wat sy identiteit en begeertes bepaal: "It will from this point forward participate in the discourse of the Other, and regard itself from the space of the Other" (Silverman, 1983: 172). In hierdie proses is daar 'n eindelose beweging van een betekenaar na 'n ander, want "a signifier is that which represents the subject for another signifier" (Silverman, 1983: 172).

Lacan se opvatting dat die onbewuste gestruktureer is soos taal en dat 'n betekenaar dui op die afwesigheid van 'n begeerde objek, lei tot sy omskrywing van die fallus as 'n betekenaar — dus in diskursiewe eerder as anatomiese terme. In die pre-Oidipale en pre-linguistiese stadium verteenwoordig die fallus dit "what the mother lacks and with which the child identifies in order to be recognized by her as being the totality of her desire, as being that which fills up what is missing in her" (Muller, 1980: 150). In hierdie verbeelde stadium van identifikasie met die begeerte van die moeder het die fallus nog nie die status van 'n betekenaar nie, want onderdrukte begeertes uit die onbewuste word nog nie taalmatig geartikuleer nie. Wanneer die kind egter as 'n sprekende subjek toetree tot die simboliese orde, ondergaan hy simboliese kastrasie van die verbeelde fallus onder die druk van die wette van die vader. Die betekenaar van hierdie wette is die Naam-van-die-Vader wat die oorspronklike betekenaar van die moeder vervang. Hierdie oorspronklike betekenaar is die fallus, wat as verskuifde betekenaar na 'n posisie onder die lyn beweeg en wat daardeur die primêre onderdrukking van onbewuste begeerte vorm.

 

Die oorspronklike objek van begeerte uit die verbeelde stadium is dus onderdruk, dit gly tot onder die lyn in die grafiese voorstelling S/s en word daardeur verander in 'n latente betekenaar van begeerte. As die eerste inhoud van primêre onderdrukking funksioneer die fallus as verskuifde betekenaar om ander vervangende betekenaars in 'n soort assosiatiewe ketting in te trek. "Thus original desire is canalized in an articulated labyrinth of signifiers which both promise substitute objects (by making them present in words) and render indestructible the original desire (which is preserved in the signifying chain)" (Muller, 1980: 151).

 

Die siening dat die onbewuste gestruktureer is soos taal en bestaan uit 'n netwerk van betekenaars, verteenwoordig 'n herformulering van Freud se teorie oor onbewuste taaluitinge. Vir Lacan word elke enkele uitdrukking, gesproke of geskrewe, beïnvloed deur die onbewuste. Die onbewuste is dus teenwoordig in álle taaluitinge en nie slegs in drome, woordspelings of figuurlike taalgebruik soos by Freud nie. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

 

Die toepassingsmoontlikhede van 'n Lacaniaanse psigoanalise vir die literatuur kan geïllustreer word met verwysing na Lacan se insiggewende lesings van Shakespeare se Hamlet en Poe se "The purloined letter". Lacan begin sy analise van Hamlet se karakter deur te wys op die feit dat Ophelia 'n sentrale plek in die drama inneem. Voordat hierdie verrassende stelling uiteindelik geverifieer word, word die twee mees bespreekte aspekte van die subjek Hamlet se karakter — sy onvermoë tot optrede en sy uitstel van die vereiste daad — egter eers indringend in psigoanalitiese terme herinterpreteer. Sy onvermoë word toegeskryf aan sy sensitiwiteit vir die begeerte van die Ander en sy uitstel aan die feit dat hy voortdurend optree in die tyd van die Ander.

 

Die feit dat Hamlet se optrede bepaal word deur die wense van die Ander, illustreer vir Lacan die afhanklikheid van die subjek van die betekenaar. Alhoewel Hamlet die subjek en hoofkarakter van die drama is, word sy optrede (of die gebrek daaraan) gedomineer deur die betekenaar van die Moeder as die Ander. Die sentrale vraag word dan: hoe word die begeerte van die moeder gemanifesteer in die perspektief van die subjek, prins Hamlet? Lacan verklaar Hamlet se weifeling om teen Claudius op te tree as 'n toegewing aan sy moeder se seksuele begeerte na die moordenaar van sy vader. Hamlet se eie begeerte — om die dood van sy vader te wreek — word dan afhanklik gestel van die begeerte van die Ander.

 

Behalwe hierdie situasie van afhanklikheid m.b.t. die begeerte van die Ander is Hamlet ook nog voortdurend gesuspendeer in die tyd van die Ander. Dit verklaar bv. waarom hy Claudius nie onmiddellik doodmaak as hy hom in gebed aantref nadat sy skuld duidelik geblyk het uit die toneel van die misdaad wat deur Hamlet opgevoer is nie. Hamlet dink nie vir 'n oomblik daaraan dat sý tyd aangebreek het nie en "whatever may happen later, this is now the hour of the Other, and he suspends his action. Whatever Hamlet may do, he will do it only at the hour of the Other" (Lacan, 1977: 18). Hierdie stelling word gesubstansieer wanneer Hamlet inwillig om aan 'n swaardgeveg deel te neem en sodoende in die strik trap wat die Ander (Claudius en sy vriend Laertes) vir hom gestel het 'n strik wat uitloop op sý uur, want dit lei tot sy eie en Claudius se dood. Selfs dán ontvang Hamlet die instrument van die dood — die vergiftigde swaard — uit die hand van die Ander.

 

Hierdie uiteindelike doodsaksie van Hamlet — wat hy in 'n sekere sin uitvoer ten spyte van homself — word vir Lacan ook nog ingrypend gerig deur die sentrale rol wat Ophelia in die drama speel as objek van Hamlet se begeerte en as 'n manifestasie van sy afhanklikheid van die betekenaar. Hamlet se subjektiwiteit, d.w.s. die wyse waarop hy as subjek gekonstitueer word in die drama, kan trouens vir Lacan (1977: 12) uitgedruk word in terme van die funksie van die betekenaar: "There is a level in the subject on which it can be said that his fate is expressed in terms of a pure signifier, a level at which he is merely the reverseside of a message that is not even his own ... Hamlet is the very image of this level of subjectivity ..." Hamlet se veranderde houding teenoor Ophelia — waar hy haar eers liefgehad het, behandel hy haar later met steeds groter wreedheid en toenemende minagting word vir Lacan verklaarbaar uit die vermenging tussen realiteit en *fantasie. Sowel Hamlet as subjek en Ophelia as objek is op die verbeelde vlak van die fantasie; Ophelia is die objek van begeerte wat die plek inneem van dit waarvan die subjek, simbolies gesien, beroof is. Lacan (1977: 15) vra voorts: "What is it that the subject is deprived of? The phallus, and it is from the phallus that the object gets its function in the fantasy, and from the phallus that desire is constituted with the fantasy as its reference." Lacan se verwysing na die fellus word duideliker wanneer hy verklaar dat Ophelia vir Hamlet 'n veragtelike simbool van vrugbaarheid geword het. Hy verwerp hierdie objek en sal dit nie weer kan terugvind voordat hy homself opoffer in die daad waarin sowel hy as Claudius teen die einde van die drama gedood word nie. In hierdie sin word Ophelia as objek vir Lacan (1977: 23) die "equivalant of, assumes the place of, indeed is the phallus". Ophelia is die fallus wat deur die subjek verwerp word omdat dit 'n simbool is wat op lewe dui. In hierdie sin word die fallus ook 'n betekenaar wat verwys na Hamlet se vervreemding en verlies van die objek van sy begeerte in die werklikheid.

 

Eers na Ophelia se dood, wanneer sy 'n onbereikbare objek geword het, kan sy weer eens 'n objek van begeerte vir Hamlet word. In hierdie verband verwys Lacan op 'n uiters insiggewende wyse na die funksie van rou in die drama. Rou bring identifikasie teweeg met die verlore objek wat 'n gat of leemte in die werklike laat. Die rituele rondom rou moet vergoed vir die verlies van die leemte in die werklike. In die geval van Hamlet se vader is die rituele egter nie vervul nie, sodat sy spook moet aantoon dat daar 'n onreg teen hom gepleeg is. Hiermee onthul Lacan 'n verdere dimensie in Hamlet: dit is 'n tragedie van die onderwêreld en die gees herrys a.g.v. 'n onversoenbare misdaad. Vanuit hierdie perspektief word Ophelia se sentrale rol in die drama duidelik: sy word nl. onthul as 'n slagoffer wat geoffer word as boete vir 'n oermisdaad. Dieselfde geld vir die moord op Polonius en die verspotte manier waarop hy aan sy voete rondgetrek word.

 

Die element van rou word ten slotte ook nog verbind aan die feit dat 'n misdaad gepleeg is. Lacan wys daarop dat tot op sekere hoogte die gevalle van rou gesien kan word as gevolge van die oorspronklike misdaad. Dit is dan in hierdie sin dat Hamlet gelees kan word as 'n Oidipale drama, waar 'n oermisdaad gepleeg word. Die verskil tussen Sophokles se Oidipus rex en Shakespeare se Hamlet is egter dat die subjek in die eerste geval onwetend skuldig is aan vadermoord, terwyl die misdaad in Hamlet met voorbedagte rade uitgevoer word en ook van die begin van die drama af bekend is.

 

Dit is duidelik dat Lacan in sy analise van begeerte en die interpretasie daarvan in Hamlet uiteenlopende dinge betrek: vanaf Ophelia as objek tot die fallus, rou en uiteindelik ook die dood. Muller (1980: 147) gee 'n helder samevatting van Lacan se soms moeilik verstaanbare argument en wys daarop dat Hamlet se berugte uitstel tot optrede voortspruit uit sy afhanklikheid van die begeerte van die Ander. Dit berus verder op die feit dat Hamlet (soos ons almal wat subjekte van taal is) onderwerp is aan die betekenaar van hierdie begeerte, nl. die fallus. Ophelia is 'n plaasvervanger vir die fallus as verlore objek, en die Oidipale aard van die drama setel in die herhaalde tema van rou oor die oorspronklike verlore objek, die fallus. In vergelyking met Freud se Oidipale interpretasie van Hamlet (vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR) is Lacan se siening van die funksie van (onderdrukte) begeerte duidelik veel genuanseerder, omdat die fallus die status van 'n betekenaar verkry en ook omdat begeerte gemanifesteer word in o.a. (menslike) objekte, emosies soos rou en ook die dood.

 

In sy seminaar oor Edgar Allan Poe se kortverhaal "The purloined letter", word die dominante funksie van die betekenaar nog eens beklemtoon. Die herhaling van twee toneelmatige aanbiedings Lacan noem die eerste oorspronklik of fundamenteel (primal) en die tweede herhalend — illustreer vir Lacan (1972: 39) die "insistence of the signifying chain". Dié mate waarin die mens se begeerte en dade bepaal word deur sy toetrede tot die simboliese orde as sprekende subjek, word gereflekteer in die manier waarop die subjek se samestelling gedetermineer word deur die betekenaar. Lacan (1972: 40) beoog daarom met sy analise van Poe se kortverhaal "to illustrate ... the truth ... that it is the symbolic order which is constitutive for the subject — by demonstrating in a story the decisive orientation which the subject receives from the itinerary of a signifier".

 

Poe se verhaal draai om 'n inkriminerende brief wat aan 'n hooggeplaaste persoon (vermoedelik die koningin) gerig is en wat daarna twee keer gesteel word: eers deur die minister wat daardeur die koningin in sy mag wil kry en later deur die privaatspeurder Dupin wat daardeur die raaisel van die onvindbaarheid van die brief oplos en terselfdertyd sy mag oor die minister demonstreer. Lacan konsentreer hoofsaaklik op 'n analise van die twee sentrale tonele waartydens die brief van eienaar verwissel. Tydens die eerste toneel in een van die kamers van die koninklike paleis is die deelnemers die koning, die koningin en die minister. In die tweede toneel, in die kamer van die minister, is die deelnemers die polisie, die minister en Dupin. Lacan bestee soveel aandag aan die twee tonele, omdat hy daardeur die funksie van Freudiaanse herhaling en oordeterminering wil belig. Felman (1980: 135) stel dit so: "The trust of Lacan's endeavor, with respect to Poe, is thus to point out — so as to elucidate the nature of Freudian repetition — the way in which the story's plot, its sequence of events (as, for Freud, the sequence of events in a life-story), is entirely contingent on, overdetermined by, a principle of repetition that governs it and inadvertently structures its dramatic and ironic impact." Lacan se analise kan soos volg skematies voorgestel word:

(Not seeing)                   (Not seeing)

KING                           POLICE

 

B                  C             B                   C

QUEEN      MINISTER   MINISTER        DUPIN

(Seeing that(Seeing the  (Seeing that(Seeing the

the other           letter)   the other            letter)

does not see)                does not see)

(Vlgs. Felman, 1980: 136.)

 

In die eerste geval is die koningin in besit van die inkriminerende brief wanneer die koning onverwags die kamer binnekom. Haar enigste uitweg is om die brief oop en bloot met die adres na bo op die tafel neer te sit en verder staat te maak op die koning se onoplettendheid. Wanneer die minister binnekom, herken hy die handskrif op die brief, merk die koningin se verleentheid en die koning se onbewustheid daarvan en slaag daarin om die brief te vervang deur 'n soortgelyke een. Die koningin is magteloos om die diefstal van die brief te verhoed, omdat sy nie die koning se aandag op die brief of die inhoud daarvan wil vestig nie.

 

Tydens die tweede toneel is Dupin op besoek by die minister nadat hy die vorige dag vasgestel het dat die brief opsigtelik tussen ander aan 'n briewerak hang en nie êrens versteek is soos die polisie tydens hulle talle tevergeefse soektogte aangeneem het nie. Soos in die geval van die eerste toneel, slaag Dupin daarin om die brief te verwissel met 'n ander een wat in sy plek gelaat word. Lacan wys op die ooreenkoms tussen die twee tonele ten einde die intersubjektiwiteit van die twee handelinge te beklemtoon. Hy wys daarop dat die twee tonele beskryf kan word in terme van: "... three moments, structuring three glances, borne by three subjects, incarnated each time by different characters: "The first is a glance that sees nothing: the King and the police. The second, a glance which sees that the first sees nothing, deludes itself as to the secrecy of what it hides: the Queen, then the Minister. The third sees that the first two glances leave what should be hidden exposed to whomever would seize it: the Minister, and finally Dupin" (Lacan, 1972: 44).

Wat herhaal word, is dus nie (Freudiaans gesien) slegs 'n psigologiese handeling van een subjek nie, maar wel "three functional positions in a structure which, determining three different viewpoints, embody three different relations to the act of seeing — of seeing, specifically, the purloined letter" (Felman, 1980: 136).

 

Die manier waarop die subjekte mekaar aflos in hulle verskuiwing gedurende die intersubjektiewe herhaling is dan veral van belang. Lacan voer aan dat hulle verskuiwing bepaal word deur die plek wat 'n suiwer betekenaar — die gesteelde brief — inneem in hierdie driehoek. Ten einde die brief te sien as 'n betekenaar, is dit nodig om die woordspeling van brief (Eng.: letter) en letter (in die sin van 'n geskrewe of gedrukte letter van die alfabet) in ag te neem. Volgens Wright (1984: 127) word die "purloined letter" a.g.v. 'n metaforiese verskuiwing "n betekenaar: die manier waarop die brief in die verhaal hanteer word, is soos die manier waarop 'n betekenaar in die wêreld behandel word. In 'n psigoanalitiese lesing van die verhaal word die gesteelde brief 'n metafoor vir die onbewuste en dus 'n betekenaar van onbewuste begeerte. In psigoanalitiese terme uitgedruk, impliseer die manier waarop die subjekte in die driehoeksverhouding deur die verskuiwing van die betekenaar geaffekteer word, "that the displacement of the signifier determines the subjects in their acts, in their destiny, in their refusals, in their blindnesses, in their end and in their fate, their innate gifts and social acquisitions notwithstanding, without regard for character or sex, and that, willingly or not, everything that might be considered the stuff of psychology, kit and caboodle, will follow the path of the signifier" (Lacan, 1972: 60).

 

Dit is duidelik dat Lacan nie net psigoanalitiese konsepte gebruik het om tekstuele aspekte (soos *fokalisasie en herhaling) in Poe se verhaal te belig nie, maar dat die verhaal self volgens Felman (1980: 138) in Lacan se lesing 'n ALLEGORIE van psigoanalise word. Omdat die tweede toneel 'n herhaling van die eerste is, word dit moontlik om die eerste te analiseer in terme van die tweede. Dupin is in die posisie van 'n psigoanalis wat die brief aan die koningin terugbesorg en dus soos in psigoanalise die pasiënt kan genees van 'n simptoom. Die effektiwiteit van die analis hang dan af van die posisie wat hy inneem in die herhaalde struktuur van waar hy 'n meerdere simboliese perspektief het. Felman (1980: 137) se "vertaling" van die driehoeksverhouding in die twee tonele in Lacaniaanse psigoanalitiese terme, kan die verhouding tussen verhaalstruktuur en psigoanalise in Lacan se lesing van Poe se kortverhaal verder belig:

Empirical glance "Realist's imbecility"

 

IMAGINARY delusion    SYMBOLIC perspective

Specular glance
(Dual perspective)       (Triangular perspective)

 

Indien Lacan se tekstuele analise van "The purloined letter" vergelyk word met Bonaparte (1949) se biografiese studie van Poe, word dit onmiddellik duidelik watter voordele 'n HERMENEUTIESE model inhou in vergelyking met 'n medies-analogiese model. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) In Lacan se analise is daar 'n duidelike interaksie en interafhanklikheid tussen psigoanalise en literatuur: Poe se teks dien net soveel om Freud te herinterpreteer as wat Freud se teks dien om Poe te interpreteer. Psigoanalitiese teorie en die literêre teks is wedersyds informatief, sodat Felman (1980: 145) terug opmerk dat die metodologiese posisie nie langer 'n kwessie is van 'n toepassing van psigoanalise op literatuur nie, maar eerder 'n geval van "their interimplication in each other".

 

Die verhouding tussen psigoanalise en literatuur het 'n verandering ondergaan a.g.v. die nuwe ontwikkelinge in die Franse psigoanalise. Die psigoanalitiese denke van Jacques Lacan dwing nie net 'n vernuwing van die basiese konsepte van 'n Freudiaanse psigoanalise af nie, maar verg ook 'n heroorweging van teks- en leserteorieë in die literatuurstudie. Waar die klassieke Freudiaanse kritiek hoofsaaklik gemoeid was met die blootlegging van die neurotiese psige van òf die skrywer (Poe se fiksasie op sy moeder) òf die *karakter (Hamlet se Oidipuskompleks), verskuif die aksent onder die invloed van 'n Lacaniaanse psigoanalise na die werking van die teks en veral ook na die uitwerking van die teks op die leser, wat optree as analis maar wat terselfdertyd die invloede van die teks ondergaan.

 

Die werking van die teks word vooropgestel, omdat Lacan Freud se ontdekking van die verband tussen versprekings en die blootlegging van waarheid op 'n bepaalde manier interpreteer. Die Freudiaanse verspreking, d.w.s. dit wat die spreker se bedoeling onderbreek, het volgens Freud dieper en skokkender waarheidseffekte as die bedoelde gedagte. Lacan sê hiervan "that Freud discovered that truth manifests itself in the letter rather than the spirit, that is, in the way things are actually said rather than in their intended meaning" (Gallop, 1984: 303). Vir die analise van literêre tekste beteken dit dat kritici moet let op die styl en die struktuur van 'n literêre werk en nie slegs die teks moet lees vir "inhoud" of idees nie. Op dieselfde manier luister die psigoanalis nie na die pasiënt se hoofargument nie maar eerder na versprekings en onbedoelde openbarings. Die belangrikheid van hierdie Freudiaanse psigoanalitiese metode vir die literatuur lê in Lacan se uitbreiding daarvan as 'n manier om alle diskoers te interpreteer en nie slegs beperk te wees tot die pasiënt se verspreking nie.

 

Psigoanalitiese kennis kan dus gebruik word om die werking van die teks te interpreteer. Soos gesien kon word uit die voorafgaande, het die psigoanalitiese benaderings tot die literatuur 'n interpretatiewe uitgangspunt. Freudiaanse lesings interpreteer literêre tekste om Oidipale komplekse bloot te lê; Lacaniaanse analises konsentreer op die ketting van betekenaars ("signifying chains"). Dit lyk asof die psigoanalise inderdaad 'n kennisdomein is wat ingeligte interpretasies van die literatuur tot gevolg sou kon hê. Die implikasie hiervan is dat die verhouding tussen psigoanalise en literatuur 'n ongelyke is: die psigoanalise is die eintlike kennisdomein en die literatuur slegs 'n objek vir analise.

 

Ten einde hierdie "mag" van die psigoanalise oor die literatuur in perspektief te stel, is dit volgens Gallop (1984: 305) nodig om te let op die verband tussen interpretasie en oordrag: "... as long as interpretation is not accompanied by analysis of transference in reading, the authority of psychoanalysis over literature goes unquestioned." In psigoanalitiese terme uitgedruk, beteken dit dat by 'n interpretatiewe relasie die teks die pasiënt en die literêre kritikus die psigoanalis is. Daarenteen veronderstel 'n relasie van oordrag dat die literêre kritikus in die posisie van die pasiënt verkeer, terwyl die teks 'n bepaalde effek op hom kan hê. Dit is dan onder die invloed van Lacan se omskrywing van die onbewuste as gestruktureer soos taal dat die verskynsel van oordrag belangrik word: "... the phenomena of transference in reading become all-pervasive, the structure of desire in language turning (in the sense of affecting) reader and writer alike" (Wright, 1984: 122). Die onbewuste is egter nie net gestruktureer soos taal nie, maar dit toon juis op 'n spesifieke manier 'n ooreenkoms met literêre taal. Culler (1984) wys in hierdie verband daarop dat die onbewuste gevorm word deur diskursiewe prosesse wat gekenmerk word deur "literêre" strukture:

 

"Whether we are thinking of the level of complexes, with their literary plots, or whether we are thinking of the micrological level of associations and signifying chains, with its explicit literariness, we can note that if the unconscious is structured like a language, the language in question is not just any language but, for example, a language in which the principle of equivalence is projected from the axis of selection into the axis of combination. Jakobson's famous definition of the poetic function of language turns out to apply even more appositely to the structures of the unconscious than to those of literature" (Culler, 1984: 369).

 

Hierdie ooreenkoms tussen prosesse in die onbewuste en strukture in literêre taalgebruik verklaar Lacan se herformulering van die Freudiaanse konsepte verdigting en verskuiwing in terme van die Jakobsoniaanse Onderskeid tussen metafoor en metonimia. (Vgl. FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) Die feit dat Lacan onbewuste prosesse tipeer in terme van dergelike "literêre" verskynsels impliseer dat die literariteit van 'n teks nie genegeer moet word in 'n Lacaniaanse lesing nie.

 

Naas die werking van die teks (in die sin van hoe die teks gestruktureer is) word die uitwerking van die teks op die leser egter belangrik weens Lacan se beklemtoning van die proses van oordrag. "Lacan has made it necessary to recognize that transference is the whole engine of analysis, that interpretation is hardly more than the medium through which the transference is manifested" (Gallop, 1984: 306). Juis omdat die leser beïnvloed word deur die teks, word dit moontlik om die teks te analiseer: oordrag is 'n noodsaaklike voorvereiste vir interpretasie.

Hoe hierdie interaksie tussen teks en leser deur oordrag en herhaling gedetermineer word, word op 'n briljante wyse geïllustreer in Shoshana Felman (1977) se eksploitasie van die Lacaniaanse insigte in 'n herlees van Henry James se kontroversiële verhaal The Turn of the Screw. Die skryfster se uitgangspunt is Lacan se insig in Freud se onwillekeurige reaksie op die "lees" van sy pasiënte se histeriese gesprek: "The gist of Freud's discovery, for Lacan, ... consists not simply of the revelation of a new meaning — the unconscious — but of the discovery of a new way of reading" (Felman, 1977: 118). In so 'n nuwe manier van lees is dit vir die analis onmoontlik om onaangeraak te bly deur die openbaring van onbewuste begeertes van die pasiënt, en dit is vir die leser van 'n (literêre) teks ewe onmoontlik om nie beïnvloed te word deur die werking van die teks nie.

Felman toon in hierdie verband bv. aan hoe die kritici van James se teks onbewus in hulle kommentaar aspekte van die teks herhaal. Hierdie werking van die teks op die lesers binne en buite die verhaal kan dan toegeskryf word aan die psigoanalitiese verskynsel van oordrag — die leser word deur die teks beïnvloed, sodat "one set of unwitting analysands (the critics) are merely repeating the antics of another set of unwitting analysands (the characters)" (Wright, 1984: 129).

 

James se verhaal speel af in 'n huis op 'n landgoed waar 'n goewernante na die welsyn van twee jong kinders moet omsien in die afwesigheid van hulle vader. Die goewernante is oortuig daarvan dat die geeste van twee vorige bediendes die kinders ten kwade beïnvloed en wil hulle "red" deur hulle te dwing om te erken dat hulle in verbinding is met die twee geeste. Die debat wat deur Felman ondersoek word, sentreer rondom die vraag of die goewernante inderdaad probeer om die kinders van boosheid te red (die geeste bestaan) en of sy hopeloos neuroties is (die geeste is 'n projeksie van haar onderdrukte gevoel vir die afwesige meester).\

 

Felman toon aan hoe die betekenis gedurig uitgestel word, omdat die hoofbetekenaar ("master signifier") die fallus, die skroef, die mas of die meester kan wees en dus in 'n betekenende ketting vasgevang word waar die betekenaars gedurig verskuif: "the phallus (or the screw, or the mast, or the Master), far from incarnating the unambiguous literal meaning behind things, symbolized rather the incessant sliding of signification, the very principle of movement and displacement which on the contrary prevent the chain (or the text) from ever stopping at a final, literal, fixed meaning" (Felman, 1977: 172).

 

Dit gaan vir Felman dan eerder om hoe die verhaal beteken as om wat dit beteken. Die verskillende maniere van sien in die verhaal word omskryf as 'n metafoor vir oordrag en as deel van 'n ketting van sien, lees, interpreteer en kyk deur die oë van die onbewuste, "links by which meaning is transferred and agonized over" (Wright, 1984: 130). Omdat betekenis en kennis gedurig uitgestel word, begin die leser as analis (soos die goewernante as speurder begin) en eindig as 'n pasiënt. In plaas daarvan dat die leser die verhaal begryp, word hyself deur die verhaal aangegryp: "The reading effect is that of the story getting hold of readers, catching them out in a fiction of mastery" (Wright, 1984: 131).

 

Soos uit die vorige gesien kon word, het Lacan se opvattinge belangrike implikasies vir die werking en uitwerking van (literêre) tekste. Die belangrikheid van 'n Lacaniaanse psigoanalise vir teks- en leserteorieë lê in die implikasies daarvan vir die aard en produksie van betekenis: "Lacan holds out to semiology a fascinating theory of how meaning is produced, and to semantics a theory of what lies beyond conventional meaning" (Ragland-Sullivan, 1984: 382). Die grense van konvensionele betekenis word oorskry wanneer dit juis die onbewuste is wat die werking en uitwerking van tekste determineer. Die implikasie van Lacan se opvatting dat die onbewuste gestruktureer is soos (literêre) taal, is dat die doel van taalgebruik gesien word as die "vertaling" van 'n verskuilde maar voelbare ("palpable") gesprek, wat in onbewuste netwerke van betekenis gevind kan word. In hierdie verband is die bron vir die soeke na begrip of betekenis vir Lacan geleë in die begeerte of verlange van die subjek om sy eie onbewuste en onderdrukte boodskappe te ken en te verstaan: "Desire circumscribes all the well-formed ideas that constitute canons of knowledge, opening onto truth rather than meaning" (Ragland-Sullivan, 1984: 385). Die leser se reaksie op (literêre) tekste word hiermee 'n soeke na waarheid, maar die klem op leserreaksies relativeer die analise of interpreteerder se posisie: "the response of the scientific interpreter is just one among many possible responses, and not to be identified with 'the text itself" (Groeben, 1984: 417). Hiermee word die psigoanalitiese teorie van literêre resepsie vergelykbaar met die moderne hermeneutiese en empiriese *Resepsie-estetika, deurdat die metodologiese basis gedurig uitgebrei word — daar word gestel dat die leser 'n betekenis-konstituerende funksie het.

 

Bibliogiafie

Bonaparte, M. 1949. The Life and Works of Edgar Allan Poe. London: Imago.

 

Culler, J. 1984. Textual self consciousness and the textual unconscious. Style, 18(3).

 

Felman, S. 1977. Turning the screw of interpretation. Yale French Studies, 55/56.

 

Felman, S. 1980. On reading poetry: reflections on the limits and possibilities of psychoanalytical approaches. In: Smith, J.T. (ed.). The Literary Freud: Mechanisms of Defense and Poetic Will. New Haven: Yale University Press.

 

Frye, N. 1957. Anatomy of Criticism. Princeton, N.J. : Princeton University Press.

 

Gallop, J. 1984. Lacan and literature: a case for transference. Poetics, 13(4/5).

 

Groeben, N. 1984. Meta-theoretical problems of psychoanalytical interpretation of literature. Poetics, 13(4/5).

 

Holland, N. 1968. The Dynamics of Literary Response. New York: Oxford University Press.

 

Holland, N. 1980. Re-covering "The purloined letter". In: Suleiman, S.R. & Crosman, I. (eds). The Reader in the Text. Princeton, N.J.: Princeton University Press.

 

Lacan, J. 1972. Seminar on "The purloined letter". Yale French Studies, 48.

 

Lacan, J. 1977. Desire and the interpretation of desire in Hamlet. Yale French Studies, 55/56.

 

Muller, J. 1980. Psychosis and mourning in Lacan's Hamlet. New Literary History, 12(1).

 

Ragland-Sullivan, E. 1984. The magnetism between reader and text: Prolegomena to a Lacanian poetics. Poetics, 13(4/5).

 

Silverman, K. 1983. The Subject of Semiotics. New York: Oxford University Press.

 

Wright, E. 1984. Psychoanalytic Criticism. Theory and Practice. London: Methuen. (New Accents.)

 

lna Gräbe