RENAISSANCE
Die intellektuele "herlewing" wat uit die geskiedenis van die wetenskap, filosofie, opvoedkunde en al die kunste van Europa in die 15e eeu blyk, het nie oornag plaasgevind nie; dit was ook nie 'n verskynsel wat tot 'n spesifieke tyd en plek beperk was nie. 'n Herlewing van die belangstelling in wetenskaplike studies en kennis wat op verskillende gebiede elk sy eie literatuur opgelewer het, het herhaaldelik voorgekom in die millennium wat op die val van die Romeinse Ryk gevolg het. Vanaf die hof van Karel die Grote te Aken het 'n "Karolingiese Renaissance" hoofsaaklik onder die invloed van die Engelse geleerde Alcuinus van York uitgegaan. Gedurende die "Ottoniese Renaissance" van die l0e eeu het die Heilige Romeinse Keiser, Otto III, daarvan gedroom om die glorie van die antieke Romeinse Ryk in Rome te herstel. Die literatuur van die "Renaissance van die 12e eeu" het sy oorsprong hoofsaaklik aan die Provensaalse hofhoudings in Frankryk gehad. Dié hofhoudings se invloed — hoofsaaklik in die vorm van RIDDERROMANS in die moedertaal, werke in vers- of prosavorm geïnspireer deur Chrétien de Troyes, die Roman de la rose, die lirieke van die TROEBADOERS en ook nog ander bronne — het geleidelik wyer uitgekring na Duitsland, die Nederlande, Engeland, die noordelike deel van Spanje, Italië en Sicilië.
Twee strominge in die 15e eeu het die intellektuele groei gestimuleer en die verspreiding van nuwe en herontdekte konsepte verhaas: nl. die kennisherlewing wat met die aanvang van die Renaissancistiese *Humanisme in Italië geassosieer word, en die uitvinding van die drukpers in Duitsland teen ongeveer 1440. Die begrip "kennisherlewing" behoort, net soos die term Renaissance, gekwalifiseer te word, omdat die Middeleeuse geleerdes 'n groot korpus van die klassieke Latynse literatuur besit en gekoester het, hoewel hulle in Europa betreklik min van die geskrifte in klassieke Grieks (vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE: GRIEKS-ROMEINSE LITERATUUR) geweet het. Heelwat vergete werke, veral in Grieks, is in die 14e en 15e eeu, vóór en ná die val van Konstantinopel in 1453, herontdek. Dit was egter nie soseer die bekendstelling van hierdie werke in Europa nie as 'n veranderde houding t.o.v. werke wat reeds lank bekend was, sowel as dié wat nuut ontdek is, wat van grondliggende belang was vir die kennisherlewing. Hierdie nuwe benadering raak uiteindelik bekend as "humanisties", afgelei van die dissiplines Studia Humanitatis, die sogenaamde geesteswetenskappe. Dié studierigting word sedert die laat 13e eeu in Italiaanse skole vir retoriek deur studente gekies wat aanhangers van die metode was. Die Italiaanse digter en geleerde, Francesco Petrarca (1304—1374), bekend as die "vader van die Humanisme", kan beskou word as die eerste belangrike verteenwoordiger daarvan. Die humaniste het afwysend gestaan teenoor die Middeleeuse geleerdes se klem op logika en natuurfilosofie en teenoor hulle aandrang (onder die invloed van Augustinus) dat die paganistiese inslag van 'n klassieke werk 'n bron van twyfelagtige waarde vir die Christelike geleerdes sou maak. Die humaniste het die klassieke skrywers beskou as modelle van 'n elegante literêre styl, sowel as bronne van wysheid. Petrarca het volgehou dat geleerdheid gebaseer op die Klassieke 'n onmisbare deel uitgemaak het van 'n ordentlike opvoeding. Een van die belangrikste humanistiese grondmotiewe, wat in baie van die vroeë literatuur van die Renaissance ernstig opgeneem is, en wat dikwels in die latere Renaissance gesatiriseer is, is die waardigheid van die mens en die verheerliking van die menslike verstand. So haal Petrarca in sy brief aan vader Francesco Dionigi, The ascent of mount Ventoux (L'ascensione al Monte Ventoso) (1336) (Le familiari, IV, 1) vir Seneca aan as hy die insigte opsom waartoe hy gekom het t.o.v. die mens se plek in die heelal: "Long since ought I to have learned, even from pagan philosophers, that 'nothing is admirable besides the mind; compared to its greatness nothing is great'." Tog kon Shakespeare se Hamlet (1602), waar hy die laat Renaissancistiese skeptisisme van die Franse filosoof Montaigne weerspieël, spottend uitroep: "What a piece of work...! How noble in reason! How infinite in faculties! ... in action, how like an angel! In apprehension, ... how like a god!... And yet, to me, what is this quintessence of dust? Man delights not me..." (Hamlet II, ii: 299—307).
Petrarca self het geglo dat sy uiteindelike beroemdheid sou berus op sy geleerde werke wat in die taal van die geleerdheid, Latyn, geskryf is.
Hy het sy eie Italiaanse liriese poësie met minagting bejeën en beskryf as nugellae vulgares — "beuselagtigheid in die moedertaal''. Maar dit is juis op hierdie werke wat die term PETRARKISME betrekking het. Die idealiserende modus, die topoi, die styl en tegniek van Petrarca se Canzoniere het die Europese digkuns meer as vier eeue lank beïnvloed.
Die afwysende houding wat Petrarca teenoor literatuur in die moedertaal ingeneem het, kontrasteer met die opvatting van Dante Alighieri (1265—1321), wat chronologies en op grond van die kwaliteit van sy werk as die eerste digter van die Italiaanse Renaissance beskou kan word. Soos Petrarca, het Dante Latyn gebruik in sy geleerde werke. Hierdie werke sluit die geskrif De vulgari eloquentia of Oor die digkuns in die moedertaal in. Daarin het Dante Latyn beskryf as 'n kunsmatige taal wat onveranderlik is in teenstelling met die moedertaal wat na willekeur kan verander: humanis beneplacitis — volgens die mens se goeddunke. In teenstelling met die heersende oortuiging van dié tyd, dat die afwykings wat in die algemene gebruikstaal voorgekom het die gevolg van "verwording" en "ontaarding" was, het Dante gemeen dat die gewone omgangstaal edeler as Latyn is omdat dit eie aan die mensras is. Dante het hom gevolglik vanaf 1301 tot aan die einde van sy lewe besig gehou met die skryf van sy Commedia ('n werk wat later deur bewonderaars met die bykomende titel Divina beskryf is) in die Toskaanse dialek van sy geboorteplek, Florence.
Dit is 'n onbegonne taak om binne die bestek van 'n kort oorsig reg te laat geskied aan die EPIESE werk, wat beskou word as een van die grootste in die ganse literatuur. Daar is al beweer dat die Divina Commedia as die opsomming van die MIDDELEEUE beskryf kan word. Dante bied inderdaad 'n soort ensiklopediese oorsig van die Middeleeuse kennis, en hy gebruik terselfdertyd die Middeleeuse ALLEGORIESE modus in sy "geestelike" OUTOBIOGRAFIE, die verhaal van sy reis deur die hel, die vagevuur en die paradys. Hoewel dié werk andersins vry skyn te wees van die uitwerking van die kennisherlewing, het Dante nogtans Vergilius gekies om as gids op te tree in die eerste twee derdes van sy reis en hom boonop aangeprys as sy eie model. Dit is in die gebruik van die moedertaal, die hantering van bepaalde digterlike tegnieke en in sy groot verbeeldingrykheid dat die Commedia na die Renaissance vooruitwys. Die direkte invloed van Dante is duidelik in sommige van die hoofwerke van die Renaissance en dit geld steeds in onverminderende mate in die kuns en literatuur van ons eie tyd. Hierdie invloed geld die epiese werk, Os lusiadas (1572) van die Portugese digter LuÍs de Camões, sowel as die Engelse epiese werk van John Milton, Paradise Lost (1667) en die vernaamste werke van die 20e-eeuse Anglo-Amerikaanse digter T.S. Eliot.
Die derde groot digter van die Italiaanse Renaissance was Giovanni Boccaccio (1313—1375). Net soos Petrarca, wat hy grootliks bewonder het, het Boccaccio ook sy eie werke in die moedertaal geringgeskat en van mindere belang geag as sy geleerde werke, wat in Latyn geskryf is. Tog sou sy Italiaanse verhalende werke in vers- en prosavorm uiteindelik meer algemeen aanvaar en waardeer word. Die prosawerk, die Decamerone (wat bestaan uit 'n reeks RAAMVERTELLINGS) en die verhalende gedigte Il filostrato en Il teseida het menige later skrywer beïnvloed. Il filostrato sou dien as die hoofbron vir Geoffrey Chaucer se Middelengelse verhalende gedig Troilus and Criseyde (ca. 1384), een van die groot werke van die laat Middeleeue. Dié werk van Chaucer sou op sy beurt weer die inspirasie wees vir Shakespeare se Troilus and Cressida (ca. 1608), 'n drama wat deurtrek is van die laat Renaissancistiese neiging tot wrange selfondersoek en die siniese bevraagtekening van tradisionele Middeleeuse waardes. Die Decamerone, wat vroeg al in Frans, Spaans, Engels, Duits en Nederlands vertaal is, is waardeer en nageboots, nie net t.o.v. die narratiewe inhoud nie, maar ook t.o.v. die styl en genre. Die styl, gegrond op Boccaccio se bestudering van die Romeinse retoriek, het die werk 'n "klassieke model" gemaak vir die latere Italiaanse prosa (dit word nog steeds in skooluitgawes gebruik), terwyl die populariteit van die werk tot gevolg gehad het dat die meervoudige raamvertelling wyd en syd in omloop gekom het. Hierdie versameting "omraamde" verhale het gedien as bron vir sowel prosa- as digwerke. Dit wissel van Chaucer se Canterbury Tales (ca. 1386—1399) tot die Nederlandse Der minnen hep van Dire Potter uit die vroeë 15e eeu, asook die Franse Contes van Jean de la Fontaine (ca. 1670) en G.E. Lessing se Duitse drama Nathan der Weise (1779), om slegs 'n paar van die talle voorbeelde uit te sonder.
Die naam van die politikus, geskiedkundige en filosoof Niccolo Machiavelli (1469—1527) kan weens die voortreflikheid van sy prosa en die verreikende, hoewel ietwat verdagte, invloed van sy beroemdste werk, Il principe (1532), nie verswyg word nie selfs in 'n beknopte oorsig van die Italiaanse literatuur van die Renaissance. Die literêre karaktertipe bekend as die Machiaval het sy oorsprong in lg. werk gehad. Dit veronderstel 'n hartelose, beginsellose karakter wat slegs deur eiebelang gemotiveer word en kom dikwels in die drama van die Renaissance voor. Die kennisherlewing in Italië het uiteindelik tot uitdrukking gekom in poësie waarin die gawes van die klassieke literatuur geabsorbeer is en waarin terselfdertyd die natuurlike grasie van die moedertaal ontgin is. Die digkuns van die twee groot geleerdes van die 15e eeu, Lorenzo de Medici en Politian (Angelo Poliziano), is goeie voorbeelde hiervan. Die ridderroman van Matteo Boiardo, Orlando innamorato (ca. 1490), het op 'n soortgelyke wyse die klassieke mitologie met die gees van die ridderlikheid deurdrenk. Loduvico Ariosto (1471—1533) het die Orlando furioso geskep as 'n voortsetting van Boiardo se werk. Hierdie werke, sowel as die epos Gerusalemme liberate van Torquato Tasso (ca. 1577), is 'n direkte voortsetting van die Renaissance-epostradisie wat in Milton se Paradise Lost sou kulmineer. 'n Koddige en bekoorlike uitloper van hierdie tradisie het in Spanje 'n ander meesterwerk van die Renaissance opgelewer, nl. 'n prosa-satire op die ridderroman — die Don Quijote van Cervantes (1547—1616).
Die materiële welvaart en die betreklike politieke stabiliteit van Italië en die 14e en 15e eeu het in sowel die literatuur as in die ander kunste en sekere vertakkinge van die wetenskap die groei en ontwikkeling van die gees van die Renaissance gestimuleer. Frankryk, wat tot in 1453 in die Honderdjarige Oorlog vasgevang was, het stadiger tot kulturele herlewing gekom, selfs al het die Franse se literêre prestasies van die 12e eeu die klimaat geskep waarin die vroeë literatuur van die Renaissance in Italië sou floreer. Die Italiaanse invloed op die Franse literatuur het begin om hom op sy beurt te laat geld as die eventuele gevolg van militêre invalle. Van die begin van die 15e eeu af het Franse konings Italië vyf maal binnegeval, en hulle het elke keer, afgesien van ander buit, ook kunswerke saamgebring. Sodoende is 'n waardering vir die literatuur en die leefwyse van die Italiaanse Renaissance in hulle eie land gekweek. Die gees van die Renaissance, soos dit uit Italië oorgeneem is, het sy invloed vanuit die howe van Karel VIII, Lodewyk XII en veral die hofhouding van Frans I laat geld.
Die Humanisme in die Renaissance is in Frankryk met die koms van die Hervorming in verband gebring. Die groot Nederlandse humanis, Desiderius Erasmus (1466—1536), het sy invloed op albei hierdie strominge in Frankryk laat geld. Sy Franse mededinger was die geleerde en humanis, Guillaume Budé (1468—1540). Albei het, met hulle Latynse geskrifte en persoonlike kontak met befaamde Franse geleerdes, 'n verreikende invloed gehad. Johannes Calvyn, die leidende figuur van die Hervorming in Frankryk, het sy Institution de la religion chrétienne (1541) geskryf in 'n styl wat so helder en treffend was dat dit vir hom die titel van "vader van die Franse prosa" verwerf het.
Die Franse prosaliteratuur van die 16e eeu is ook deur twee ander skrywers oorheers, nl. Francois Rabelais (1494—1553) en Michel de Montaigne (1553—1592). Terwyl Calvyn se werk verteenwoordigend was van die aspek van die Renaissance wat betrekking gehad het op godsdienstige hervorming, het die werk van Rabelais uitdrukking gegee aan die paganistiese gees enjoie de vivre van die sekulêre Renaissance, en dié van Montaigne aan die neiging tot rasionele selfondersoek en wetenskaplike denke. Rabelais se *burleske roman Gargantua et Pantagruel en Montaigne se Essais verteenwoordig wel twee totaal verskillende genres, maar is nogtans verteenwoordigend van belangrike aspekte van die Renaissance.
Op die terrein van die digkuns is die prominentste figure Clément Marot (1496—1544), Pierre Ronsard (1524—1585), en die digters van die Pléiade, nl. Joachim du Bellay, Louise Labé en Maurice Scève. Marot is aanvanklik deur Middeleeuse modelle geïnspireer, maar as ryp en volwasse kunstenaar het hy onder die invloed van die Italiaanse poësie gekom. Ronsard en sy volgelinge, wat gedeeltelik van Petrarca afhanklik was vir hulle inspirasie, het die uitwerking van die humanistiese houding t.o.v. die Klassieke in hulle werke vertoon deur die Franse digkuns te ontwikkel in navolging van klassieke modelle. Dieselfde tendens kom voor in die Franse drama van dié tydperk. Etienne Jodelle (1532—1573), een van die digters van die Pléiade, en Alexandre Hardy (1569—1632) verdien hier vermelding. Hierdie neiging het geleidelik tot die opvallende KLASSISISME van die Franse literatuur in die latere Renaissance gelei. Dit was die tyd van die "tugmeester" van die Franse digkuns, Francois de Malherbe (1555—1628), van die prosaïs Jean-Louis de Balzac (1597—1654) en van die dramaturg Pierre Corneille (1606—1684). Hierdie skrywers was die voorlopers van die "Goue Eeu" van die klassieke Franse literatuur in die 17e eeu, wat oorheers is deur die prosa van die filosoof en wetenskaplike Blaise Pascal (1623—1662), die komedies van Moliére (Jean-Baptiste Poquelin, 1622—1673), die tragedies van Jean Racine (1621—1695), en die literêre kritiek (wat neergekom het op 'n vorm van literêre diktatorskap) van Nicolas Boileau (1636—1711).
Die Engelse literatuur van die Renaissance het sy impetus direk vanaf Italië verkry in die vorm van die Petrarcanisme, wat vroeg in die 16e eeu as 'n hoofstylmiddel in die Engelse digkuns in die werke van sir Thomas Wyatt en die graaf van Surrey begin voorkom. Die Italiaanse invloed het 'n belangrike kenmerk van die Engelse digkuns gebly, veral in die werke van sir Philip Sidney, Edmund Spenser en vele Elizabethaanse sonnetdigters en liriese digters. Soms is dié invloed ook by Shakespeare te bespeur. Anti-Petrarcaanse sowel as Petrarcaanse konvensies kom teen die einde van die 16e eeu voor. Albei vorme is in die oog lopend in die werk van die sg. METAFISIESE DIGTERS van die 17e eeu, veral by John Donne en Andrew Marvell. Die Orlando jurioso van Ariosto en Tasso se Gerusalemme liberata het as bron en model gedien vir Spenser se Faerie Queene (ca. 1590—1596) en Milton se Paradise Lost (1667). Die Humanisme in Engeland is heelwat verskuldig aan Erasmus. Sy hegte vriendskap met geleerdes van die Klassieke, soos sir Thomas Moore en John Colet, het 'n wedersydse beïnvloeding en bevrugting van mekaar se werk tot gevolg gehad. Sowel die politieke en teologiese geskrifte as die poësie van John Milton (1608—1672) het hom as die grootste Christenhumanis van die laat Renaissance openbaar. Die kennisherlewing in Engeland het uit baie belangrike vertalings van klassieke werke geblyk, soos Andrew Golding se vertaling van Ovidius se Metamorphoses (1567), George Chapman se vertaling van Homeros se werke (1598—1616), sowel as die invloedrykste van alle Engelse vertalings van die Renaissance, nl. die King James-Bybel (1611). Klassieke invloed is ook sterk te bespeur in die werk van John Donne (1572—1631) en sy volgelinge van die metafisiese skool. Maar die glorieryke hoogtepunt van die Engelse Renaissance-literatuur is sonder twyfel die DRAMA. Die werke van Christopher Marlowe (1564—1593), William Shakespeare (1564—1616) en Ben Jonson (1572—1637), asook die werke van die minder belangrike dramaturge van die laat 16e en vroeë 17e eeu druk die gees en die heersende denkrigtings van die latere Renaissance met groot helderheid uit.
In Noord-Europa het die Renaissance eerder wetenskaplike werk as literatuur opgelewer, en hier het die Hervorming 'n groot invloed uitgeoefen. Van die Renaissance in Duitsland het die 19e-eeuse historikus J.A. Symonds onomwonde verklaar: "The truth is that the Reformation was the Teutonic Renaissance." Latere historici het hierdie stelling afgemaak as 'n oorvereenvoudiging, maar daar steek tog waarheid in. Die vertaling van die Bybel in Duits (1522—1534) deur die groot hervormer Martin Luther was net so 'n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Duitse literatuur as wat dit in die geskiedenis van die Hervorming was. Erasmus het 'n belangrike invloed op die Humanisme in Duitsland uitgeoefen. Sy Duitse tydgenoot, Johannes Reuchlin (1455—1522), was net so geleerd en byna net so beroemd as hy. Ander leidende humaniste was o.a. Ulrich von Hutten (1488—1523) en Philipp Melanchthon (1497—1560). Die Humanisme het ook die impetus verskaf vir die vertaling van werke uit Latyn, Frans, Italiaans en Duits. Die invloed van die vroeë Italiaanse digkuns van die Renaissance is merkbaar in die werk van 'n klein groepie digters in Heidelberg, waarby Martin Opitz in 1619 aangesluit het. Hy het die teoretikus van die digkuns van die Duitse Renaissance geword, en onder sy invloed is literêre verenigings gestig wat hulle ten doel gestel het om die taal te "suiwer". Hierdie groepe was die voorlopers van die Duitse *Barok. Die digters Simon Dach (1605—1659) en Paul Flemming (1609—1640) en die dramaturg Andreas Gryphius (1616—1664) was van die belangrikste eksponente.
Die Italiaanse Renaissance het sy invloed veral via Frankryk in die Nederlande laat geld in die poësie van Jan van Hout (1542—1609), Jan van der Noot (1539—1595) en Justus de Harduwijn (1582—1636); die werk van Pieter Corneliszoon Hooft (1581—1647) is direk deur Italiaanse modelle beïnvloed. Die belangrikste literatuur van die Renaissance in dié land verskyn egter op die gebied van die geleerdheid, en hier was die oorheersende figuur Erasmus van Rotterdam. Die Latynse geskrifte en die persoonlike teenwoordigheid van hierdie merkwaardige geleerde het die Europese Renaissance deurgedring. Hy het in sy eie land 'n tradisie van kritiese denke gevestig wat later voortgesit is deur die Belg Justus Lipsius (1547—1645), deur Hugo Grotius (1583—1645) en ander geleerdes wat veral verbonde was aan die Universiteit van Leiden, een van die belangrikste noordelike sentra van Renaissance-geleerdheid. Erasmus se Humanisme het ook tot uitdrukking gekom in die werk van digters wat in die moedertaal geskryf is, veral dié van Dirck Coornhert (1522—1590) en Henric Spiegel (1549—1612). Die Barokdramas van die baie belangrike dramaturg Joost van den Vondel (1587—1679) weerspieël die strominge van die Kontra-Reformasie in die Nederlande.
Die Renaissance, met sy herlewing op die gebied van die geleerdheid en sy intellektuele herontwaking, het die kunste en literatuur van die ganse Europa geraak. Verskillende kultuurgroepe het verskillend hierop gereageer. 'n Geldige veralgemening wat gemaak kan word, is dat die impuls wat die kennisherlewing aan die skep van 'n literatuur in die moedertaal verleen het, verantwoordelik was vir sommige van die grootste werke in die geskiedenis van die literatuur.
Bibliografie
Bowra, C.M. 1967. From Virgil to Milton. London: Macmillan.
Brandt Corstius, J.C. 1959. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur. Utrecht: Prisma-Boeken.
Cassirer, E., Kristeller, P.O. & Randall, J.H. Jr. (eds). 1948. The Renaissance Philosophy of Man. Chicago: University of Chicago Press.
Cheadle, B.D. 1978. The 'Form of Goodness' in English Renaissance Literature. English Studies in Africa, 21.
Cochrane, E. (ed.). 1970. The late Italian Renaissance, 1525—1630. London: Macmillan.
Cruickshank, J. (ed.). 1968. French Literature and its Background: the Sixteenth Century. London: Oxford University Press.
Durling, R. 1974. The Ascent of Mount Ventoux and the Crisis of Allegory. Italian Quarterly, 18.
Fichter, A. 1982. Poets Historical: Dynastic Epic in the Renaissance. New Haven: Yale University Press.
Greenblatt, S.J. 1980. Renaissance Self-Fashioning from More to Shakespeare. Chicago: University of Chicago Press.
Gundersheimer, W.L. (ed.). 1969. French Humanism, 1470—1600. London: Macmillan.
Quint, D. 1983. Origins and Originality in Renaissance Literature: Versions of the Source. New Haven: "Vale University Press.
Reynolds, L.D. & Wilson, N.D. 1974. Scribes and Scholars: A Guide to the Transmission of Greek and Latin Literature. Oxford: Clarendon Press.
Robertson, J.G. 1933. A History cf German Literature. Edinburgh: Blackwood.
Whitfield, J.H. 1960. A Short History of Italian Literature. Harmondsworth: Penguin.
Raadpleeg ook:
Klaniczay, T, Kushner, E. & Stegmann, A. (reds.). 1988. L'époque de la Renaissance 1400—1600. Vol. I.L'avènement de l'esprit nouveau (1400—1480). Budapest: Akadémiai Kiadó. Histoire compareé des littératures de langues européennes.
Eugenie R. Freed