SAGE

(Hersien Oktober 2021)

Allereers ter onderskeiding: 'n Saga was oorspronklik 'n lang Oudyslandse verhaal wat in prosavorm vertel is (10de-13de eeu). Dit het oor die Oudnoorse helde gehandel en het oorspronklik tot die orale literatuur behoort. Die skrywer is gewoonlik anoniem. 'n Sage is 'n kort volksvertelling wat ook tot die orale literatuur behoort en na die soveelste oorvertelling anoniem is. Sage en legende is feitlik sinoniem, afgesien daarvan dat 'n legende ook oor 'n heilige kan handel, maar 'n sage nie.

Sage kom uit Oudhoogduits: Saga: was gesagt wird: wat 'n mens sê. Jacob en Wilhelm Grimm het die term gemunt en die genre vorm laat aanneem.

'n Sage is 'n kort volksvertelling wat van aanhoorder tot aanhoorder oorgedra word. Die sage is uiteindelik anoniem wanneer dit soveel keer oorvertel is dat niemand weet wie die verhaal die eerste keer vertel het nie. Die sage is deels gebaseerd op, of hou verband met  'n historiese gebeurtenis. Anders as die mite bevat die sage geen religieuse begronding nie. Waar 'n mens in die sprokie die tyd en die ruimte nie met sekerheid kan bepaal nie, kan jy dit in die sage wel doen. Die besonderhede in die sage word realisties uitgebeeld sodat die gehoor die sage kan glo. Timothy Tangherlini  stel dit só in sy artikel oor die teorie van die sage: “(...) legend tries to reconstruct reality in a believable fashion” (1990: 372). Die sage lyk dus asof dit 'n historiese narratief is omdat dit bv. na verifieerbare geografiese gegewens verwys, sowel as karakters wat geloofbaar is, maar die sage kan nie as histories waar beskou word nie, want “the narrative content itself is not necessarily an actual reflection of historical events”(1990: 379). Daar is dus altyd 'n mate van onsekerheid sodat 'n mens die gebeure nie onvoorwaardelik kan glo nie, maar ook nie summier kan ontken nie.

In hierdie artikel sê Tangherlini ook dat die historiese juistheid van die sage sedert die 1970’s in twyfel getrek word. (Hou bv. in gedagte dat Jennifer Macaire (2018) Plutarchos daarvan verdink dat hy in sy Parallelle lewens (±in die 2de eeu geskryf) 'n paar verdigsels oor Alexander die Grote kwytgeraak het.) Tangherlini se argument berus op die feit dat sages volksvertellings is en nie geskiedskrywing nie: “Simply because it is often performed as ‘true’, the narrative content itself is not necessarily an actual reflection of historical events” (1990: 379). Die sage sentreer rondom 'n enkele gebeurtenis. Dit is dikwels moeilik om hierdie historiese kern te vind, en wanneer 'n mens dit uiteindelik vind, staan die historiese egtheid daarvan onder verdenking. Hy stel daarom voor dat 'n mens liewer na die sage verwys as 'n gehistoriseerde narratief, d.w.s. 'n narratief wat tot geskiedenis gemaak is. Dit beteken dat die geskiedenis ‘in’ die sage nie volkome met die geskiedskrywing van ons bestaanswerklikheid sou klop nie.

'n Sage ontstaan in die volksverbeelding en toon 'n spesifieke tradisionele struktuur. Tangherlini (1990: 374) se opinie is dat die definisie van “tradisie” ook in aanmerking geneem moet word: “In this context, a narrative should be considered in tradition when original authorship is no longer verifiable and transmission [oorvertelling] is still actively taking place (...). Any narrative that has ever been in tradition can be said to be a traditional narrative.”

Daar is weinig verskil tussen 'n sage en 'n legende. Volgens Willing en Geldschläger (2018) is die genres feitlik gelyk aanmekaar. Die grootste verskil tussen die twee genres is dat legendes steeds oor heiliges kan handel (maar nie uitsluitlik oor heiliges handel nie) terwyl 'n sage nooit oor 'n heilige handel nie. Die sage word mondeling oorgelewer en handel oor fisieke persone, tye of plekke (Annette Kautt 2012-). In Engels word “sage” met “legend” vertaal. 'n “Sage” is in Engels 'n wyse persoon . Die woord kan ook na die salieplant of 'n spesifieke groen kleur verwys.

Daar bestaan verder 'n verband tussen 'n sage en 'n gerug. Albei hierdie narratiewe genres is geloofbaar en word dikwels as die waarheid voorgehou. Albei sentreer om 'n  enkele gebeurtenis. Die sage sowel as die gerug het te doen met sake van oortuiging. 'n Gerug ontstaan wanneer daar 'n tekort aan amptelike inligting is of daar dubbelsinnigheid ontstaan. Die vals nuus oor die Coronavirus en Covid-19 en die entstowwe daarteen is tipiese gerugte. Sodra 'n gerug nie meer kollektiewe vooroordele of oortuigings weerspieël nie, verdwyn die gerug uit die tradisie. Indien 'n narratiewe gerug hardnekkig bly voortbestaan, verander dit in 'n sage: “Thus, a more suitable characterization is that rumor narrative experiences a hyperactive transmission in a short time span, often within an extremely localized area. Narrative rumor is a transmissionary state of legend — a state which, despite its intensity, does not guarantee longevity” (Tangherlini, 1990: 375).

In 'n sage heers daar permanent  'n spanning tussen ons alledaagse realiteit (die syn) en die buite- of bonatuurlike realiteit (numinosum) . Uit hierdie spanning vloei konflik waarin die gewone sterfling altyd die twispunt verloor. Omdat die hoofkarakter in die sage altyd die onderspit delf, is die sage tragies van aard. Dié literêre genre het dus 'n pessimistiese ondertoon in teenstelling tot die sprokie waar die toon heelwat meer optimisties is. In die Algemeen letterkundig lexicon (2012-) word dit Märchenglück genoem. Dit is die tipiese gelukkige einde van 'n sprokie: “En hulle het lank en gelukkig saamgeleef.” In Engels word dit die “happy ending” genoem.

Die sage het 'n akkommoderende inhoud in dié sin dat die dit inhoudelik 'n groot verskeidenheid toon. Dit is een van die genre se kenmerkende eienskappe omdat dit by elke kultuur en tradisie 'n unieke verskeidenheid eienskappe toon. 'n Namibiese sage sal bv. ander elemente toon as 'n Duitse sage. Vergelyk bv. die sage van die reuseslang vroeër in die suide van Namibië gesien is met die sage van die Lorelei wat met haar sang tot baie vissermanne se ondergang gelei het.

Die sage ontwikkel steeds. In die Romantiek het die kunssage ontstaan wat in die moderne tyd as ou sages beskou word, bv. die vertellings oor die Lorelei. Tans het die sage in die stadsage (urban legend) ontwikkel. Dit word dikwels as 'n anonieme poets d.m.v. e-pos en die sosiale media versprei.

Talle sages handel oor konings en helde, bv. Alexander III van Masedonië, beter bekend as Alexander die Grote. Hy is op 33-jarige leeftyd in Babilon aan onbekende oorsake dood. (Moderne medici vermoed dit was maagkoors of malaria.) ‘n Ander gewilde figuur waaroor talle sages bestaan, is Karel die Grote (Charlemagne; Charles I, 800-814), wat as die eerste Heilige Romeinse Keiser  beskou word. Hierdie sage leef vandag nog voort, soos o.a. blyk uit die feit dat stel die akteur Christopher Lee en Marco Sabiu (Italiaanse musikus en komponis)  in 20210 'n “symphonic metal concept album” oor Charlemagne vry, getitel Charlemagne: By the Sword and the Cross. Die opvolg is in 2013 vrygestel, getitel Charlemagne: The Omens of Death.

Faust is die hoofkarakter in 'n klassieke Duitse sage. Volgens die sage was Faust ‘n ongelukkige geleerde. As gevolg hiervan het hy 'n ooreenkoms met die duiwel (Mefistofeles) aangegaan: Hy sou vir 'n tyd lank ongekende plesier beleef, maar in ruil daarvoor sou die duiwel sy siel kry. Faust is tragies dood en Mefistofeles is seëvierend met sy siel weg hel toe. Faust se storie het as inspirasie vir Charles Gounod vir sy opera Faust gedien. In Afrikaans is dit o.a. herskryf in Anna M Louw se Vos (1999).

Koning Arthur en sy ridders sit in talle vertellings deur die eeue om hulle ronde tafels. In Louis Couperus se verhaal Het zwevende schaakbord (1922) verlaat hulle hulle tafel om na 'n swewende skaakbord te gaan soek. Die legendariese en briljante koning Arthur bestaan hoofsaaklik op grond van oorgelewerde vertellings. Om die sage nóg realistieser te maak, word koning Arthur se woonplek aangedui: Camelot in Groot Brittanje, maar dié kon nog nooit in die werklikheid gevind word nie. Daar kon ook nog nooit bewys word dat die beroemde koning self 'n historiese figuur was nie.  Daar is wel bronne oor die sage van koning Arthur, maar nie bronne oor die historiese koning Arthur nie.

Die sage van die “Vlieënde Hollander” is die verhaal van 'n spookskip. In hierdie sage vertel van die skip wat gedoem is om nooit vas te meer nie, maar die oseane vir ewig te deurkruis. Die sage het waarskynlik in die 17de eeu in die skeepslore ontstaan. Die oudste weergawe van hierdie vertelling dateer uit die laat 18de eeu. Gedurende die 19de en 20ste eeu was daar berigte dat mense die spookagtig gloeiende romp van die skip gesien het. Wanneer 'n ander skip probeer het om met die bemanning van die spookskip kontak te maak, het die bemanning van die “Vlieënde Hollander” probeer om boodskappe land toe te stuur na mense toe wat lankal dood is. Die verhaal van die gedoemde skip was Richard Wagner se inspirasie vir sy opera Der fliegende Holländer  (1843). Hy het self die libretto geskryf.

(Kyk ook Einfache Formen.)

Anna-Marie le Roux

 

Bibliografie

Editors of Encyclopædia Britannica. 2017. Legend. In Encyclopædia Britannica. Chicago: Encyclopædia Britannica.

Formen der Prosa. 2018. Sage. cf.hum.uva.nl/benaderingenlk/.../dui-genres-prosa-midden-PF.htm
(Definisies op hierdie webblad is gebaseer op Luserke-Jaqui, M. 2002. Die Ausführung in die Neuere deutsche Literaturwissenschaft. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.)

Kautt, Annette. 2012-. Sage. In Rossipotti Literaturlexikon.

Literary Devices Editors. 2021. Legend: Examples and Definitions. In LiteraryDevices.net. (Toegang verkry 25 Oktober 2018)

Macaire, Jennifer. 2018. Alexander: the Great. History Extra. (Toegang verkry 14 Oktober 2021).

Micheals, Sean. 2010. Christopher Lee to release ‘symphonic metal’ album. The Guardian, Tue 5 Jan. 2010.

Actor Christopher Lee releases heavy metal album. The Irish Times, 28 May 2013.

Sullivan, R.E. 2018. Charlemagne. In Encyclopædia Britannica. Chicago: Encyclopædia Britannica.

Tangherlini, T.R. 1990. “’It Happened Not too Far From Here…’ A Survey of Legend Theory and Characterization.” Western Folklore, 49(4): 311—390.

Van Bork, G.J. et al. 2012-. Sage. In Algemeen letterkundig lexicon.

Willing, Rebekka & Geldschläger, J. 2018. Sage. In Wortwuchs Literaturlexikon.

1