TAALHANDELING EN DIE LITERATUUR

Die taalhandelingsteorie (Speech Act theory) het sy oorsprong by J.L. Austin wat in 1955 ‘n reeks lesings by Harvard gehou het. (Austin se speech act is ‘n taalhandeling, nie alleen ‘n spraakhandeling nie, omdat dit, veral m.b.t. die literatuur, ook ‘n geskrewe handeling kan wees.) Dit is een van die jongere taalteorieë wat deur sommige literatuurkundiges gebruik word om die literêre werk se eie aard te probeer verduidelik. Om die toepasbaarheid van hierdie taalteorie op die literatuur te kan bekyk, is ‘n uiteensetting daarvan vooraf nodig.

Austin (1975: 47) onderskei in die eerste plek tussen die konstatief (hy gebruik ook soms die term “statement” as sinoniem) en die performatief, die eintlike taalhandeling: “the ‘performative-constative’ distinction – the distinction between doing and saying”.

Die konstatief-begrip (“saying”) is redelik maklik begrypbaar. Minder deursigtig is die performatief as “an act of speech” (1975: 20). Van die performatief sê Austin: “… it indicates that the issuing of the utterance is the performing of action – it is not normally thought of as just saying something” (1975: 6, 7). (Soms gebruik Austin die term “operative”.) “The uttering of the words is, indeed, usually a, or even the, leading incident in performance of the act …” (1975: 8). Die performatief geskied, soos trouens alle taaluitinge, in ‘n bepaalde konteks; wanneer die skeidsregter by ‘n tenniswedstryd bv. “uit” uitroep, beteken dit kragtens die konteks of kommunikatiewe situasie iets anders as wanneer die huisbaas vir die hond skree “uit”. In lg. geval het ons ‘n tipiese geval van “to say something is to do something; … by saying or in saying something we are doing something” (1975: 12; vgl. ook 91 en 94). “There is something which is at the moment of uttering being done by the person uttering” (1975: 60). “Issuing the utterance is doing something” (1975: 67).

Eksplisiete gevalle van taalhandeling is bv. waar iemand sê: “Ek belowe jou” of “Ek waarsku jou” of “Ek beveel jou”. ‘n Implisiete geval is bv. waar ek sou sê: “Daar is ‘n bul in die kamp”, wat, afhangende van die omstandighede, ‘n blote observasie, ‘n stuk informasie, ‘n konstatief kan wees óf ‘n verborge waarskuwing soos: “bly uit die kamp uit”; ‘n implisiete performatief dus.

Alle uitings of sinne kan nie performatiewe wees nie. Ek kan op beledigende toon aan iemand sê: “Gaan uit”. Dit is ‘n performatief. Maar as ek daarna aan hom sê: “Ek beledig jou”, is lg. nie ‘n beledigende performatief nie, dit is ‘n konstatief. Austin gee voorbeelde om te wys hoe ons kan onderskei tussen uitinge wat “performative”, “half descriptive” en “merely reports” is (1975: 79).

Performative    Half descriptive    Merely a report
I approve         I approve of        I feel approval
I thank             I am grateful       I feel grateful
I apologise        I am sorry          I repent

In die performatief gaan dit nie soos in die konstatief daarom of dit waar of vals is nie. Bewerings (“statements”, konstatiewe) is waar of vals, maar performatiewe is geslaagd of nie (“happy/unhappy”, “felicitous/infelicitous”); toepaslik, effektief, of nie. As ek iemand wat doof is, sou waarsku, is dit bv. oneffektief as performatief (vgl. 1975: 132).

Die performatief word deur Austin verder onderskei in lokutiewe, illokutiewe en perlokutiewe taalhandelinge:

“The performance of a locutionary act” is “the act of ‘saying something'” (1975: 94), bv. deur ‘n vraag te vra, informasie te gee, iets te vertel, ens. Dit is almal lokutiewe (“locutions”). Mens sou kortom kon sê dat álle taaluitinge (spraakuitinge) primer lokutiewe is.

Binne die lokutiewe onderskei Austin verder drie taalhandelinge: “… to say anything is (A.a) always to perform the act of uttering certain noises (a ‘phonetic’ act), and the utterance is a phone; (A.b) always to perform the act of uttering certain vocables or words, i.e. noises of certain types belonging to and as belonging to a certain vocabulary, in a certain construction, i.e. conforming to and as conforming to a certain grammar, with a certain intonation, & c. This act we may call a ‘phatic’ act, and the utterance which is the act of uttering a ‘pheme’ (as distinct from the phememe of linguistic theory); and (A.c) generally to perform the act of using that pheme or its constituents with a certain more or less definite ‘sense’ and a more or less definite ‘reference’ (which together are equivalent to ‘meaning’). This act we may call a ‘rhetic’ act, and the utterance which is the act of uttering a ‘rheme’ ” (1975: 92, 93).

“He said ‘Get out'” (“phatic”) teenoor “‘He told me to get out'” (“rhetic”) (1975: 95). (So iets is dadelik van belang vir die VERTELLERSTEKS EN PERSONETEKS in die literêre werk, vir die vertelwyse in die algemeen.)

‘n “Rhetic act” is altyd ‘n “phonetic act”, maar ons kan nie die stelling omkeer nie, want as ‘n aap geluide maak wat klink soos die bevel “gaan”, is dit nog nie ‘n retiese taalhandeling nie. Ek kan ‘n Latynse sin lees sonder dat ek dit verstaan; dit is dan ‘n fatiese taalhandeling, nie ‘n retiese nie.

Vervolgens die tweede soort taalhandeling, “illocutions”: “… the performance of an ‘illocutionary’ act is (the) performance of an act in saying something as opposed to performance of an act of saying something” (Austin, 1975: 99—100). Die illokutief kan ons ook verklaar as die taalhandeling wat die spreker se intensie bevat.

In die derde plek is daar die perlokutief (“perlocution”). “Saying something will often, or even normally, produce certain, consequential effects upon feelings, thoughts, or actions of the audience, or of the speaker, or of other persons: and it may be done with the design, intention, or purpose of producing them … We shall call the performance of an act of this kind the performance of a perlocutionary act” (Austin, 1975: 101). Die perlokutief is die handeling van die aangesprokene/gehoor n.a.v. ‘n taalhandeling, d.i. die effek of konsekwensie (“effects or consequences”, Austin, 1975: 105 e.v.) van die illokutief by die hoorder/gehoor. Die illokutief “(is) producing consequences” in die vorm van die perlokutief (Austin, 1975: 116). Austin verduidelik die verskil tussen die illokutief en die perlokutief met ‘n eenvoudige voorbeeld: “for example we must distinguish ‘in saying it I was warning him’ from ‘by saying it I convinced him, or surprised him, or got him to stop'” (1975: 109). Daar is ‘n verskil tussen “the act (our saying something) and its consequences (which are usually not the saying of anything)” (1975: 111). Die perlokutief kan dus nie-verbaal wees (vgl. ook 1975: 118), buite die taal self lê. Dit is ‘n baie belangrike waarneming vir die literatuur, veral deurdat die nuwere Literatuurwetenskap hom in ‘n baie groot mate besig hou met die (literêre) perlokutief, in die RESEPSIE-ESTETIKA, in die sosiale en MARXISTIESER literatuurbeskouing, in die DEKONSTRUKSIE, om ‘n paar te noem.

Austin verduidelik opsommenderwys die verskil tussen die lokutief, illokutief en perlokutief soos volg: “We first distinguished a group of things we do in sying something, which together we summed up by saying we perform a locutionary act, which is roughly equivalent to uttering a certain sentence with a certain sense of reference, which again is roughly equivalent to ‘meaning’ in the traditional sense. Second, we said that we also perform illocutionary acts such as informing, ordering, warning, undertaking, & c, i.e. utterances which have a certain (conventional) force. Thirdly, we may also perform perlocutionary acts: what we bring about or achieve by saying something, such as convincing, persuading, deterring, and even, say, surprising or misleading. Here we have three, if not more, different senses or dimensions of the use of a sentence or of the use of language” (1975: 108—109).

Nog saakliker opgesom: “Thus we distinguished the locutionary act (and within it the phonetic, the phatic, and the rhetic acts) which has a meaning; the illocutionary act which has a certain force in saying something; the perlocutionary act which is the achieving of certain effects by saying something” (Austin, 1975: 12).

Austin se spraakhandelingsteorie is verder uitgewerk deur J.R. Searle (1969). Dit is nuttig om Searle se teorie kompak weer te gee soos dit saamgevat is deur Pratt (1977: 80—81). Pratt gee ‘n opsomming van Searle (1969) se klassifikasie van die soorte of kategorieë taalhandeling:

  1. “representatives: illocutionary acts that undertake to represent a state of affairs, whether past, present, future or hypothetical, e.g. stating, claiming hypothesizing, describing, predicting, telling, insisting, suggesting, or swearing that something is the case
  2. directives: illocutionary acts designed to get the addressee to do something, e.g. requesting, commanding, pleading, inviting, daring
  3. commissives: illocutionary acts that commit the speaker to doing something, e.g. promising, threatening, vowing
  4. expressives: illocutionary acts that express only the speaker’s psychological state, e.g. congratulating, thanking, deploring, condoling, welcoming
  5. declarations: illocutionary acts that bring about the state of affairs they refer to, e.g. blessing, firing, baptizing, bidding, passing sentence.
  6. Finally, a speaker who performs an illocutionary act may also be performing a perlocutionary act; that is, by saying what he says, he may be achieving certain intended effects in his hearer in addition to those achieved by the illocutionary act. By warning a person one may frighten him, by arguing one may convince, and so on.”

Let wel: “in addition to” – is weer ‘n belangrike waarneming vir die literatuur: enige leser kan ‘n handeling uit die taal na die werklikheid deurtrek.

Kom ons nou tot ‘n gebruik van Austin se taalhandelingsteorie vir die literatuurwetenskap, moet ons dadelik sê dat sy uiteensettings nie altyd ewe helder en steekhoudend is nie. Tog is die drieledigheid van sy taalhandelingsteorie baie diensbaar vir die literatuurstudie, sy onderskeiding van die lokutiewe, illokutiewe en perlokutiewe taalhandelinge, met binne die lokutief weer die nuttige drie onderskeidinge van die foniese (eintlik praat hy van fonetiese), fatiese en retiese.

Die eerste persoon wat die taalhandelingsteorie gebruik het om die aard van die literatuur te probeer verduidelik, is Richard Ohmann (1971). Vir Ohmann het die literêre werk nie werklik “illocutionary force” nie. Die illokusionêre taalhandeling van die literêre werk is “quasi-speech acts”. “The writer pretends to report discourse, and the reader accepts the pretense. (…) A literary work is a discourse whose sentences lack the illocutionary forces that would normally attach to them. Its illocutionary force is mimetic … A literary word purportedly imitates (or reports) a series of speech acts, which in fact have no other existence (Ohmann, 1971: 14). Ek haal verder uit Ohmann aan: “since the quasi-speech acts of literature are not carrying on the world’s business … the reader may well attend to them in a non-pragmatic way, and thus allow them to realize their emotive potential. In other words, the suspension of normal illocutionary forces tends to shift a reader’s attention to the locutionary acts themselves and to their perlocutionary effects” (1971: 17). Langs die weg van die taalhandelingsteorie het Ohmann teruggekom op die ou bekende MIMETIESE teorie, op Kant se opvatting van die kwasie-bewering in die literêre werk en op die RUSSIESE FORMALISTE en veral Praagse STRUKTURALISTE se siening dat die literêre werk die aandag op die taalbeweging self in die teks vestig.

As mens Ohmann se toepassing van die taalhandelingsteorie lees, kan jy die vraag stel of Austin en sy dissipels ons enigsins verder gebring het as wat ons reeds was. Ja, wel. Al het hulle die reeds gangbare opvattings bevestig, is dit nou linguisties gemotiveer en bevestig, spraakhandelingskundig verhelder, en meer as dit: dit is nou met baie fyn onderskeiding verduidelik, en hulle teorie het meer gebruikswaarde vir die literatuurstudie as wat Ohmann onderskei.

Austin, en van sy navolgers, het hoofsaaklik met kort sinne gewerk en het nagelaat om na die literêre werk as taalhandeling te kyk. Tog kan ons uit die taalhandelingsteorie belangrike gevolgtrekkings vir die literatuur maak.

Die groot waarde van die taalhandelingsteorie is dat dit in die eerste plek daarop gewys het dat die taalgebruik handeling kan wees in die literêre werk.

Vir die onthalwe van die literatuur sou mens graag gesien het dat Austin duideliker onderskei het tussen die konstatief as “statement”, wat as waar of onwaar beoordeel kan word, en die konstatief as “merely report”, “merely descriptive”, om sy eie woorde te benut wat hy in ‘n ander verband gebruik. Alle konstatiewe het nie met die problematiek van waar of onwaar te make nie, sekerlik nie in literêre tekste nie, bv. as Van Wyk Louw sê: “Die jaar word ryp in goue akkerblare”. Austin se definiëring van die konstatief is toepaslik op die literatuur waar hy sê: “With the constative utterance, we abstract from the illocutionary (let alone the perlocutionary) aspects of the speech act, and we concentrate on the locutionary (aspects): … With the performative utterance, we attend as much as possible to the illocutionary force of the utterance…” (1975: 144—145).

So ‘n siening van die konstatief stem ooreen met Searle se nuttige term “representative(s)” Literêre werke is dikwels bloot representatief. ‘n Ander handige term vir die literatuuromskrywing is Searle se “expressives” – veral lg. geld dikwels vir die literêre werk. Die gedig, maar ook die ROMAN en DRAMA is dikwels die konstateer van “a state of affairs”, of “the speaker’s psychological state”, omgesit in taalhandeling. Die fout wat ons nie moet begaan nie – daarteen waarsku Austin-Searle se teorie ons duidelik genoeg – is om handeling te verstaan as noodwendig perlokutief of selfs noodwendig illokutief. In die formulering van Searle kan ons sê dat die leser aan die literêre, bloot lokutiewe of selfs illokutiewe taalhandeling “addisionele” perlokutiewe of pragmatiese gebruike kan toevoeg – in sy hoedanigheid as leser, die leser wat van die literatuur ad hoc-gebruiksliteratuur maak. Baie literêre werke leen hulle hoegenaamd nie daartoe om na een of ander kant toe operatief te wees of as waar of onwaar bewering(s) (“statements”) gelees te word nie. In sy primitiewe vorm wys die literatuur dit duidelik uit: “poetry as nonsense”, die POÉSIE PURE, die foniese gedigte van Boerneef, Van Ostaijen, Engelman, Gezelle, die wiegelied. Laasgenoemde is nogal ‘n illustratiewe soort geval: as iemand die wiegelied sou gebruik om ‘n kind daarmee aan die slaap te maak, dring die leser “addisioneel” ‘n operatief (of wel ‘n perlokutief) aan die gedig as wiegelied op – iemand sou trouens ‘n kind (of student) met Germanicus aan die slaap kon maak. In ernstiger toon: baie inkantasies kan sowel lokutief as perlokutief gebruik word. Ek kan ‘n inkantasie lees as poésie pure, of die toordokter kan dit gebruik as beswering, die offisier kan dit gebruik vir militêre motivering.

Mens sou die term konstatief dus vir die literêre werk kon gebruik “as just saying something”, dus nié in die sin van bewering (“statement”) wat aan die norme waar/onwaar getoets hoef te word nie. Die literêre werk kan “merely a report”, deskriptief wees, en rapportering hoef literêr nie net rapportering van die aanskoulike te wees nie – in die literatuur is dit meestal rapportering van die onaanskoulike.

Ons kan afstap van die term performatief en terugkeer na Austin e.a. se terme lokutief, illokutief en perlokutief, wat hoogs bruikbaar is vir ‘n beskrywing van die literêre werk.

Om mee te begin, kan ons die literatuur sien en waardeer as blote lokutiewe taalhandeling. Binne die lokutief is daar Austin se handige onderskeidinge van die foniese, fatiese en retiese taalhandelinge. Baie literêre werke is foniese taalhandelinge. DADA het dalk die beste bewys gelewer dat die literêre werk pure lokutief kan wees, en dan wel fonies-lokutiewe taalhandeling, of die poésie pure,1 soos in die werk van die reeds genoemde Gezelle, Leopold, Gorter, Van Ostaijen, Engelman, Boerneef, in ‘n mate Uys Krige, en baie Franse digters sedert die 19e eeu. Maar buite enige -isme om was daar nog altyd lokutiewe poësie, en dit sal altyd so bly. Of die literêre werk kan faties wees: ‘n (spelende) handeling met woorde, met hulle betekenisse, ‘n spel met die SINTAKSIS en VERS, met die versreël, ‘n spel met enige middel van die taal, met alle middele van die taal, met die blote strukturering daarvan. Dalk is Boerneef ‘n goeie voorbeeld van fonies-fatiese taalhandeling. Die RYM is ‘n pragtige voorbeeld van fonies-fatiese taalhandeling. Derdens kan die literêre werk, as lokutiewe taalhandeling, gesien word as reties. Dit kan “sin hê/ wees”, sonder dat dit illokutief of perlokutief hoef te word. In ‘n groot mate is die poësie van Breytenbach, met sy geïntensiveerde fonies-semantiese “proefnemings”, reties van aard.

Die literêre werk, steeds gesien as niks meer as lokutiewe taalhandeling nie, kan gewoon waardeer word as ‘n struktuurhandeling – vroeër, in ‘n ou gevestigde terminologie, sou ons gesê het dit is struktuur-“spel” of struktuur-“skepping”. Dit gaan in die literêre werk (altyd) primêr daarom dat dit as lokutiewe taalhandeling iets sê in taal, nie om illokutief ‘n intensie of “bedoeling” uit te spreek nie, en meestal glad nie om ‘n perlokutief, ‘n toepassing in die werklikheid te word nie. Die literatuur as lokutiewe taalhandeling vra meestal nie primêr dat daar iets mee gedoen moet word nie. Austin-Searle se formulering: “to perform a speech act”, kan met ‘n effense verstelling vir die literatuur so herformuleer word: om literatuur te maak “is to perform a literary structure”. Die literêre werk is ‘n taalperformans. Die literêre werk kan beskryf word in dieselfde formulering waarmee Searle die taalhandelingsteorie van Austin verder gevoer het: om literatuur te skryf “is engaging in a (highly complex) rule-governed form of behavior” (1969: 12). Op nog ‘n ander manier kan ons Searle (en Austin) se woorde effens verstel en sê: “To make an utterance (lees: to write a poem, novel, drama) is to perform an act” (lees: “is to perform a literary structure”). Die “sê” van die literêre werk kom daarop neer om ‘n literêre taalstruktuur te doen, in die gedaante van die gedig, roman, drama, ens.

Hoewel die literatuur, alle literatuur, primêr lokutief is, kan die literêre werk egter (“addisioneel”) illokutief wees: dit kan een of ander intensie hê, of uitspreek. Wat ons in die konvensionele terminologie die didaktiese literêre werk noem, of die literêre werk met tendens of strekking, of wat ons met ‘n nuwere term PRAGMATIESE literatuur noem, kan ons in die terminologie van Austin as die illokutiewe literatuur aandui.

Ten opsigte van hierdie soort literatuur sit ons weer met merkwaardige verskynsels:

Eerstens: waar ons weet, uit die teks self of andersins, dat ‘n literêre werk illokutief wil wees, soos bv. Multatuli se Max Havelaar, of as ‘n BETROKKE of ‘n geëngageerde werk wil deurgaan, soos ‘n roman van A.P. Brink of ‘n gedig van Breyten Breytenbach, kan dit nogtans gelees word as lokutiewe literatuur, vir die prag van die pou se stert, om Multatuli se beeld te gebruik.

Tweedens: die illokutiewe van die literêre taalhandelingsproduk, die intensie van die literêre werk, kan op die literêre werk self as taalproduk gefokus wees. Die literêre werk kan ‘n illokusionêre taalhandeling wees wat soos Gorter se Mei intendeer om “louter niets dan lieflijkheid” te wees, om ‘n taalhandeling te wees wat aan sekere formele en konvensionele literêre eise wil voldoen. Die illokutiewe van die literêre werk kan, merkwaardig, die intensie wees om ‘n taalhandelingstruktuur te skep – ‘n outo-illokutiewe taalhandeling, outomorf, of, om ‘n term van Eliot te gebruik, outotelies. D.J. Opperman het in een van sy opstelle die lokutiewe taalhandeling wat in homself voldoende is, goed verduidelik met die volgende voorbeeld: met die ondervinding wat Totius beleef het met die dood van sy twee kinders, gaan hy gedigte skryf. Hy gaan nou, soos Opperman (1959: 146) dit noem, ‘”n speletjie aan: hy soek na rymwoorde, wat rym op ek? … trek, wek; op blom? … kom, som, dom, gom. Hy soek na woorde vir die ritme en maat … Die speletjie met die rymwoorde, maat en strofes kan hom verby die werklikheid en waarheid, verby sy oorspronklike bedoeling na ‘n nuwe werklikheid en waarheid voer …”

Dit stem ooreen met die teorie van die Praagse strukturaliste, selfs met die veel ouer teorie van Kant, dat die literêre werk tevrede is om die aandag op homself te vestig; die literêre werk se intensie is dan terminaal: dit lê in homself; die literatuur wil dan nie instrumenteel tot iets anders wees nie.

Uiteindelik is daar egter ook ‘n perlokutiewe beskouing of hantering of lesing van die literêre werk. Met ander woorde: die literatuur kan gelees en gebruik word met die oog daarop om een of ander doel in die werklikheid daarmee te bereik, om dit toe te pas, om dit pragmaties te hanteer – opvoedkundig, polities, religieus, terapeuties, hoe ook al. Die leser kan A.P. Brink se Kennis van die aand gebruik om revolusie te stig, as hy wil, of homself daardeur laat oprui, óf hy kan ewe goed, as hy Totius se ouerlike ervaring i.v.m. die dood van geliefde kinders deel, Passieblomme lees tot troos, of weggee tot troos aan iemand anders. Máár, die perlokutief word dan deur die leser aan die literêre werk geheg of as ‘t ware opgedring; om dit juister en presies te stel: die literêre perlokutief is ‘n lesershandeling, ‘n lesersbydrae. Vir die literêre Resepsie-estetika is dit ‘n belangrike kennisname of uitgangspunt.

Of die literêre werk gaan lei tot perlokutiewe handelinge, hang van die leser af. Dit is die leser wat persoonlik die werk sus of so toepas, die handeling deurtrek tot in die werklikheid buite die teks, wat iets wil bereik deur die literatuur se taalhandeling, wat ‘n pragmatiese handeling tot die primêre taalhandeling van die literêre werk toevoeg, dit omsit in ‘n andersoortige handeling as die lokutiewe of illokutiewe. Die literêre perlokutief is so oud soos die literatuur self.

‘n Literêre werk kan vir enigiets gebruik of selfs misbruik word en vir enigiets as ‘n toepassing gebruik word, net soos ‘n beroemde skildery van Rembrandt as handelsmerk gereproduseer en gebruik kan word, of as reklame vir een of ander produk, vanaf ‘n sigaret tot ‘n motor. Maar die literêre werk hoef niks anders te wees nie as performans, as lokutief, d.w.s. as ARTEFAK. Wat Austin van sekere illokusionêre taalhandelinge sê, geld met name vir die literatuur: “… many illocutionary acts are not cases of trying to do any perlocutionary act; for example, to promise is not to try to do anything” (Austin, 1975: 125).   ,

Om terug te keer tot die ander uiterste van die perlokutiewe hantering van die literêre werk, nl. die lokutiewe lees: baie lesers lees fonies, of faties, of reties, of al drie, maar nietemin lokutief. Hulle lees vir die klankstrukture, vir die taalhandelingspel, vir die taalstrukture, en met goeie reg. Van Herman Goiter het ons die getuienis dat hy, wat self digter was, Griekse kore fonies-lokutief gelees het. Dit is ‘n empiriese feit dat baie lesers lees, en waarderend lees, sonder dat hulle ten volle (reties) verstaan wat daar staan. Dit is wat Eliot (1953: 238) moes bedoel het toe hy gesê het “poetry can communicate before it is understood”, eenvoudig omdat die kommunikasie van die literêre werk nie net semanties is nie. Selfs die geskoolde leser lees dikwels eers fonies (en dit strook met Van Wyk Louw se uitspraak in Random eie werk (1970) dat die digter hoofsaaklik met die oor komponeer), en daarna faties, en nog later, eers na deeglike analise, reties.

Onder die literêre werke neem die drama ‘n heel besondere plek in, deurdat dit oor die algemeen die meeste tot die illokutiewe gedisponeer is, die GENRE is wat die meeste dwingende aspekte vir ‘n perlokutiewe bantering het. Maar selfs die drama hoef, literêr gesien, niks meer as lokutief te wees nie, en daar is dramas, veral dié wat moeilik opvoerbaar is, wat eerder LEES– as speeldrama is, soos Germanicus, Periandros van Korinthe, Van Eeden se Lioba, Vondel se Gijsbrecht van Amstel, en baie ander, miskien ook Die heks van Leipoldt. Wat veral belangrik vir die drama is in Austin e.a. se taalhandelingsteorie, is dat hierdie siening dit goed duidelik gemaak het dat die taal handeling is, en dat die drama nie net fisieke handeling is wanneer en soos dit opgevoer word nie, nie van akteurs afhanklik is om in handeling omgesit te word nie, maar dat dit selfs as leesteks nog altyd handeling is, taalhandeling. Vir die drama veral geld wat Austin van die taalhandeling gesê het: dit is “(the) performance of an act in saying something as opposed to performance of an act of saying something” (Austin, 1975: 99; vgl. hierbo).

Hoewel Austin sy teorie nie self toegepas het op die literatuur nie, verwys hy tog na die literatuur, waar hy sê performatiewe is soms “hollow and void”: “I mean, for example, the following: a performative utterance will, for example, be in a peculiar way hollow or void if said by an actor on stage, or if introduced in a poem, or spoken in soliloquy … Language in such circumstances is in special ways … used not seriously, but in ways parasitic upon its normal use – ways which fall under the doctrine of the etiolations of language … Our performative utterances, felicitous or not, are to be understood as issued in ordinary circumstances” (Austin, 1975: 22). In ‘n voetnoot sê hy weer eens: “We … must bear in mind the possibility of ‘etiolation’ as it occurs when we use speech in acting, fiction and poetry, quotation and recitation” (1975: 92, voetnoot 1).

Austin se term “etiolation” vir die literêre taal is sekerlik nie ‘n gelukkige nie, maar die bedoeling is duidelik: die literêre werk is ‘n taalhandeling, sonder dat dit in die werklikheid perlokutiewe konsekwensies hoef te hê. Die literêre teks is m.a.w. ‘n taalhandeling wat geplaas is in ‘n ongewone of anormale konteks, met sy eie reëls,2 wat hom nie werklik performatief of operatief maak nie maar ‘n afskaduwing of mimese daarvan is.

Ook Austin se formulering “used not seriously” i.v.m. die literêre taalgebruik moet gekwalifiseer word: die literêre werk kan, selfs as dit puur lokutief is, in alle opsigte ‘n taalhandeling in alle erns wees; dit kan die erns van “sterfbedwoorde” hê, om ‘n term van N.P. van Wyk Louw te gebruik, selfs sonder dat dit tot die perlokutiewe lei, sélfs al is dit dan die erns van die outomorfisme, die erns van die illokutiewe intensie om ‘n táálhandelingstruktuur te skep. Gaan lees mens wat betrokke skrywers soos A.P. Brink en Breyten Breytenbach in alle erns met die literêre werk bedoel, dan is Austin se “etiolation” nog meer mis, maar wat hy klaarblyklik bedoel, is dat die anormale of ongewone literêre situasie die illokutief en perlokutief in die literêre teks mimeties maak, bv. waar A en B in ‘n drama ‘n woordgeveg aangaan en die een die ander dalk doodsteek, of waar die liriese ek sê: “Ik ben een blomme”, of waar die verteller in ‘n verhaal sê: “Ik zal u iets van den kleinen Johannes vertellen. Het heeft veel van een sprookje, mijn verhaal, maar het is toch alles werkelijk zoo gebeurd” (my kursivering).

Austin se taalhandelingsteorie gee ons insig in die appellatiewe krag van die hy of ek wat die literêre gebeure aanbied in die literêre werk. “If I utter the words ‘I bet …’, I do not state that I utter the words ‘I bet …’ but I perform the act of betting; and sincerely, if he says he bets, i.e. says the words ‘I bet’, he bets. But if I utter the words ‘he bets’, I only state that he utters (or rather has uttered) the words ‘I bet’: I do not perform his act of betting, which only he can perform: I describe his performances of the act of betting …” (Austin, 1975: 63). Hiervandaan kan ons verder gevolgtrekkings maak oor die krag van die vertellersinstansies in die literatuur, die krag van FOKALISERING, die vertellers- en personeteks of die direkte versus die indirekte rede, die erlebte Rede (vgl. NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE), die rame in die RAAMVERTELLING. Austin het ons die insig gegee om taalhandelingskundig (en nie psigologisties nie, soos dit soms die geval is) te onderskei tussen die verskillende NARRATOLOGIESE waardes van die onderskeie vertelwyses. Sy teorie verklaar ook taalkundig waarom die dramatiese DIALOOG soveel handelingskrag het, en waarom die deskriptiewe, konstatiewe beriggewing of epiese verslaggewing, d.w.s. die verhalende gedeeltes in dramas soos Vondel se Gijsbrecht van Amstel of die vertellersgedeeltes soos N.P. van Wyk Louw se VERSDRAMA Dias, die dramatiese handelingspatroon onderbreek of verswak.

Hoewel Austin en sy navolgers die eerste wetenskaplikes was wat die taalhandeling uitvoerig uitgewerk het, is hulle nie die eerste persone wat van die taal as handeling gaan praat het nie. Reeds het Anton Reichling in sy Het woord uitvoerig op die taal as handeling ingegaan, op “de taalklank als handelingsindex” en op “het woord als handelingsmiddel” en “het woord als gebruiksteken”. Dit is die moeite werd om Reichling saam met of eerder nog voor Austin te lees. Reichling het daarop gewys dat as jy, sê maar aan tafel sit en die botter wil hê, nie jou buurman in die ribbes hoef te pomp en na die hotter te wys nie. Jy kan gewoon sê “botter (asseblief)”, en jy kry die botter. Die taalhandeling, het hy uitgewys, begin al by die kind. As die dogtertjie sê “pop”, dan het sy ‘n handeling uitgevoer om die pop aangegee te kry.

Daar staan, ten slotte, ‘n uitstekende uiteensetting in Roman Ingarden se hoofstuk “Functions of language in the theater” in The literary Work of Art (1973: 391—392), waaruit ek graag ‘n insiggewende gedeelte aanhaal. Wat Ingarden in hierdie hoofstuk van die taal as handeling sê, geld nie net vir die drama nie, maar ook vir die LIRIEK, en vir die prosawerk. Die verskynsel wat hy “self-influencing” deur die taalhandeling noern, en wat hy aan die drama illustreer, geld ook vir die roman of kortverhaal, en met name vir die liriek: die gedig is ‘n taalhandeling ter wille van die lirikus self, beter gesê: vir die gedig self. Dit gaan in die taalhandeling, wanneer twee mense met mekaar praat, of aan mekaar sou skryf, soos Ingarden aantoon, nie noodwendig om die ánder persoon nie maar om die spreker self. Alte waar vir ‘n dramatiese monoloog soos Leipoldt se “Oom Gert vertel”, Van Wyk Louw se “Die hond van God”, vir dramas, maar ook vir gedigte en romans, veral in die geval van die sg. erlebte Rede:

“There is a special consequence of the feet that men speak to each other and, in doing so, manifest their own thoughts and experiences; this is the self-influencing of the speaker by his ‘expression’ of himself. First of all, our thoughts, and frequently our decisions as well, ripen in the speaking. They unfold in the words that are uttered and take on developed form in them … Speaking with another is a kind of thinking ‘out loud’ which we ourselves hear and of which we can be much more conscious than when we merely think something to ourselves without having to externalize it in verbal form … By speaking with another person, our thoughts, and we ourselves, ripen. This becoming-conscious what is achieved in speaking often has the effect of suddenly making one sensitive and awake to one’s own errors, thus inducing one to make the first step toward an internal transformation which, without this self-expression; would perhaps not as easily be attained.

Our love is unripe and incomplete as long as it does not find some verbal expression, no matter how laconic. But basically this concerns all our feelings and attitudes: whether friendship or enmity, admiration or contempt, they want to be expressed, and only in this expression do they attain their ultimate fulfillment. In their fulfillment, however, the definitive formation of the given person is also effected; he, too, is ultimately formed, or he matures into a good or bad figure. In a play we are fundamentally witnesses to this sort of maturation of a person, though it need not necessarily be understood as positive growth or improvement. If, for example, we follow Peer Gynt’s fate, we see how, in the various situations and discussions, he slowly ripens in his peculiar empty soul until at the end, in his last form, he is revealed to be barren. In a life of silence, without the frequent verbal encounters with other people, without the consequences of every discussion and the action effected in each discussion, he would not have been able to discover himself and to arrive at his tragic truth.”

Wat ons in die gedig, roman, KORTVERHAAL of drama aanskou, is dikwels, met goeie reg, wat ‘n pragmatiese tyd ook al mag sê, niks meer nie as die skouspel van die taalhandeling. Sekerlik is daar deur die eeue talle skrywers gewees, vanaf Homeros met sy bewondering vir die skouspel van die ontstaan van Achilles se skild, tot vandag toe, wat lokutief of illokutief primêr ingestel is op die taalhandeling, daardie taalhandeling waarvan Ingarden praat, en Robbe-Grillet. Daar is skrywers wat van taal ‘n gestalte maak soos Peer Gynt, of ‘n “Beiteltjie”-gedig, wat fonies skouspelagtig is, as melopoia, om ‘n term van Pound te gebruik, of as phanopoia, soos in Van Wyk Louw se beeld van die beiteltjie wat die aarde oopkloof in twee stukke – gelukkig net by wyse van skouspelagtige taalhandeling. ‘n Mens hoef egter nie die soms nadruklik illokutiewe aard en die perlokutiewe resultate van die literatuur (waaronder ‘n pedagogiese o.m. val) te ontken om sy lokutiewe aard te benadruk nie. Dit is alleen waar dat die omgekeerde meestal aan die orde is, nl. die pragmatiese kyk wat die lokutiewe aard van die literatuur graag ontken.

(Vgl. PRAGMATIEK (LITERÊRE) en LITERATUUR.)

Die belangrikste aanvullende bronne by Austin (1975) is Searle (1969 en 1971) en Pratt (1977). Kyk ook Alston (1970), Fowler (1971), Mooij (1979) en Parkinson (1970); Ohmann (1971) pas Austin se teorie toe op die literatuur.
Verwysings

Dit is merkwaardig hoe die literatuur en skrywers self die teorie meestal vooruit is. Die teorie van Mukařovský dat die literêre werk (poësie) die aandag op die taal self vestig, is al vroeg in die 19e eeu deur die voorstanders van die poésie pure verkondig, en lank voor en onafhanklik van die Russiese Formaliste en Praagse strukturaliste het die Nederlandse digters Van Ostaijen en Nijhoff gesê dat die literêre taal a se gebruik word en dat die struktuur van die literêre werk self kommunikatief is. So ook het die sg. nuwe paradigma van die Resepsie-estetika en gedeeltelik van die Dekonstruksie (sonder dat dit (h)erken word, meestal) al aan die begin van die eeu sy oorsprong by Ingarden.

Vir die literêre “reëls” geld dieselfde as wat Pratt (1977: 80—81) van die taalhandeling in die algemeen gesê het: “For speech act theoreticians, ‘speaking a language is engaging in a (highly complex) rule-governed form of behaviour’.” (Vgl. Searle, 1971: 12.)

 

Bibliografie

Alston, W.P. 1970. Meaning and use. In: Parkinson, G.H.R. (ed.). The Theory of Meaning. Oxford: Clarendon Press.

Austin, J.L. 1975. How to do Things with Words. Oxford: Clarendon Press.

Eliot, T.S. 1932/1953. Dante. In: Eliot, T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.

Fowler, R. 1971. The Language of Literature: Some Linguistic Contributions to Criticism. New York: Barnes Noble.

Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art. Evanston: Northwestern University Press.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Random eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Mooij, J.J.A. 1979. Wat is literatuur? In: Mooij, J.J.A. Tekst en lezer: opstellen over algemene problemen van de literatuurstudie. Amsterdam: Polak & Van Gennep.

Ohmann, R. 1971. Speech acts and definition of literature. Philosophy and rhetoric, 4(1).

Opperman, D.J. 1959. Kuns is boos! In: Opperman, D.J. Wiggelstok. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Parkinson, G.H.R. (ed.). 1970. The Theory of Meaning. Oxford: Oxford University Press.

Pratt, M.L. 1977. Toward a Speech Act Theory of Literary Discourse. Bloomington: Indiana University Press.

Searle, J.R. 1969. Speech Acts: An Essay in the Philosophy of Language. Cambridge: Cambridge University Press.

Searle, J.R. 1971. What is a speech act? In: Searle, J.R. The Philosophy of Language. Oxford: Oxford University Press.

 
T.T. Cloete